Verlede week het ek die nuutste uitgawe van Poëziekrant ontvang en ai, watter vreugde is dit nie om twee prominente artikels deur Jooris van Hulle oor Afrikaanse digters daarin raak te lees nie! Die een wat dadelik die oog vang, is die omvattende onderhoud wat hy met Daniel Hugo gevoer het; ‘n onderhoud wat oor 6 bladsye strek en ryklik met foto’s en aanhalings verfraai is. Pronkwerk, inderdaad.
Die tweede artikel deur Van Hulle waarmee hierdie uitgawe spog, is ‘n bespreking van die keur uit Antjie Krog se gedigte wat verlede jaar in Nederland verskyn het met die titel Hoe zeg je dat (2009: Podium.) Die vertalings is deur Robert Dorsman gedoen en betrek in hoofsaak dieselfde tematiese indeling as wat met die Afrikaanse keur Digter wordende gevolg is. (Nog iets wat my by dié bespreking getref het, is die pragtige woord wat as titel gebruik word en gewis beskrywend is van Krog se digkuns: Kwiksilwersingend.)
Dit is met dank wat ons vanoggend die onderhoud wat Jooris van Hulle met Daniel Hugo gevoer het, kan plaas. Dit word met die vriendelike vergunning van Willy Tibergien, redakteur van Poëziekrant, gedoen en is beslis die lees werd.
As lusmaker, die volgende:
‘Mijn belangstelling voor de Afrikaanse poëzie heb ik eveneens aan mijn vader te danken. De manier waarop hij kon citeren uit de humoristische en volkse verzen van A.G. Visser…. Een intrigerend dichter, die A.G. Visser, die mij blijvend heeft beïnvloed door de manier waarop hij met de taal speelde en grapjes uithaalde in zijn gedichten. Aan de Universiteit van Stellenbosch ben ik Afrikaans gaan studeren. Nederlands was een verplicht onderdeel van de opleiding.”
En dan veral, in reaksie op ‘n vraag na liefdespoësie en die belang daarvan: ” … Maar liefdesgeluk is spijtig genoeg een zwakkere en minder betrouwbare prikkel om poëzie te schrijven dan melacholie en verdriet. Daarom is het vanuit dichterlijk oogpunt nodig dat er (ook) pijn is. Pijn garandeert de ‘zuiverheid’ van de poëzie: ‘sorgelose liefde lei maklik / tot onversorgde verse: die digter / gooi woorde rond, dekadent / soos ‘n ryke sy geld strooi // maar sodra die liefde instort / begin die digter op sy woorde let/ (…). In een van haar gedichten zegt Elisabeth Eybers zelfs tegen de geliefde: ‘Gaan weg dat ek oor jou kan skryf’. Nu, ik ben wel nog niet bereid mijn persoonlijk geluk te offeren aan de gulzige god van de poëzie. De grootste uitdaging voor een dichter bestaat erin oer-emoties als liefde, haat, jaloersheid op een unieke, nieuwe manier te beschrijven. Als hij daar niet toe in staat is, is het beter dat hij zwijgt.'”
As kopknik plaas ek vanoggend onder aan hierdie Nuuswekker ‘n toepaslike vers wat eweneens in die onderhoud opgeneem is. (Terloops, vir inligting oor die Poëziekrant – en hoe om dit te bestel – kan jy gerus gaan inloer by die Poëziecentrum se webtuiste.)
Jooris van Hulle se artikel oor Antjie Krog se keur sal later vandeesweek geplaas word.
***
Sedert gister het daar vier nuwe blog-inskrywings bygekom: Chris Coolsma skryf oor jazz en Kees van Kooten se vertalings van Billy Collins, Charl-Pierre Naudé plaas ‘n skakel na ‘n belangrike rubriek van hom wat in Beeld verskyn het oor anti-intellektualisme, Philip de Vos trakteer ons op ietsie meer persoonlik, en Pieter Odendaal weef 180 flardes kommentaar ineen tot ‘n indrukwekkende gedig …
Sommer ‘n stewige noot om die week mee in te lei. Geniet dit.
Mooi bly.
LE
Nog ‘n liefdesgedig
my liefste lief, hoe maak ‘n mens
‘n liefdesvers uniek? so spesifiek
dat dit alleen op jou kan dui?
want besing ek – met alle respek –
die lyne van jou bors of dy
sien elke geletterde skarminkel
hoe sy meisie net vir hom uittrek,
en sê ek dat jy blond is soos kerswas
is daar ‘n paar miljoen vroue
wat perfek by dié beskrywing pas
-‘n gedig is skaars ‘n foto of skildery-
verstaan jy nou dat ek liewer stilbly?
en kyk: ‘n verliefde digter wat swyg
dit, my liefste, dit is uniek
(c) Daniel Hugo (Uit:Die twaalfde letter, 2002: Protea Boekhuis)
Die idee van ‘n fotokamer vir foto’s van digters toe hulle jonger was is baie oulik en ek sien daarna uit om die foto’s te sien. Maar ek dink naakfoto’s van digters sal nog groter aftrek kry. Oorweeg dit asseblief. Dit sal bewys dat ons digters nie bang is om grense oor te steek nie. Ek wag in spanning.