Die meer gereelde lesers van hierdie webblad sal weet dat daar sedert ons vestiging ‘n anderhalf jaar gelede ‘n besonderse alliansie tussen Versindaba en De Contrabas ontstaan het. Trouens, die groter prominensie wat die Afrikaanse digkuns tans in die Lae Lande geniet en ook die beduidende hoeveelheid besoeke wat ons vanuit die Lae Lande registreer, is na alle waarskynlikheid die direkte gevolg van hierdie vennootskap.
Gesien in die lig van ‘n hewige debat wat die afgelope tyd in Nederland en Vlaandere gevoer is oor die afskaling van staatsubsidies aan literêre inisiatiewe, was ons verheug om gisteraand kennis te kon neem van die feit dat ons kollega’s in die ander halfrond befondsing via die Nederlands Letterenfonds vir hul webblad bekom het. In die woorde van Chrétien Breukers, stigterslid en redaksielid van De Contrabas: “Sinds vandaag varen wij weliswaar dezelfde koers, maar worden we daarin financieel onersteund door het Nederlands Letterenfonds. […] Het Nederlands Letterenfonds roemt ons pionierswerk, prijst de manier waarop wij poëzienieuws verzorgen en spreekt de hoop uit, dat onze reactieknop het komende jaar dé manier wordt, om het poëtische debat aan te jagen.”
Inderdaad is dit ‘n groot prestasie vir hulle en ‘n besliste stem van vertroue. De Contrabas, wat gesamentlik deur Chrétien en Jan Pollet bedryf word, was verlede jaar aangewys as die beste literêre webblad in die Lae Lande. Vanjaar moes hulle egter dié kroon afstaan aan De Papieren Man, eweneens ‘n gedugte webblad waarmee ons goeie betrekkinge (op ‘n minder direkte manier) handhaaf. Nietemin, die verskil is dat De Contrabas uitsluitlik op die digkuns gerig is en De Papieren Man op die breë letterkunde.
Daarom is ons saam met Chrétien en Jan bly oor dié aankondiging en bestaan daar by ons géén twyfel dat hulle met dié finansiële kopknik hul webblad weer as die voorste in die Lae Lande sal vestig nie. Dit is gewoon so dat daar (beduidende) onkostes aan die bedryf van ‘n webblad verbonde is. Daarom dat ons eweneens dankbaar is dat ons eie borg, Fonds Neerlandistiek (Suid-Afrika) ons onlangs ingelig het dat hulle hul finansiële steun vir volgende jaar gaan voortsit.
En dít, liewe leser, dien nie net ter motivering nie, maar stel jou ook in staat om meer ambisieuse projekte aan te pak en ánder kanale te open ter bevordering van dit wat ons oorheersende passie is: die Afrikaanse digkuns.
Soos hulle graag in Portugees sê: A luta continua. Die stryd duur voort.
Ter afsluiting, ‘n ander interessantheid. Chrétien Breukers sluit sy berig af met die volgende: “Zo zie je maar weer. Na vijf jaar nooit een onvertogen woord te hebben geuit en alle kerken zorgvuldig in het midden te hebben gehouden, is de kogel door de kerk. Wij danken het Fonds en gaan over tot de orde van de dag.”
En ek het nog altyd gedink dat die uitdrukking “Die koeël is deur die kerk” ‘n eg Afrikaanse uitdrukking is?! Maar nou ja, dit wys jou net … (Nogtans wonder ek of dit dieselfde betekenis het? Dalk kan Chris Coolsma of een van ons ander Nederlandstalige bloggers vir ons duidelikheid hieromtrent gee aangesien ek vermoed dat dié uitdrukking in Afrikaans ‘n meer negatiewe konnotasie bevat as wat dit klaarblyklik hier die geval is.)
***
Graag vestig Nuuswekker vanoggend jou aandag op ‘n besondere essay oor Peter Blum wat Danie Marais die afgelope naweek in Beeld se bylaag “By” gepubliseer het. Die gedig deur C.P. Cavafy waarna in dié essay verwys word, The City, is vanoggend jou leesprikkel hieronder.
Dan het daar ook sedert gister heelwat leesstof bygekom op die webblad: Marlies Taljard het die tweede aflewering geplaas in haar reeks oor die hersirkulering van tekste in Antjie Krog se skryfwerk, Andries Bezuidenhout loop op die huilspore van Hank Williams en Luuk Gruwez vertel van Stefan Hertmans se nuutste bundel. En maak seker dat jy nie Pieter Odendaal se kragtoer, wat hy vroeg gisteroggend geplaas het, miskyk nie …
Indrukwekkende leesstof, inderdaad. So, hê pret daarmee.
Mooi bly.
LE
The City
You said: “I’ll go to another country, go to another shore, find another city better than this one.
Whatever I try to do is fated to turn out wrong and my heart lies buried like something dead.
How long can I let my mind moulder in this place?
Wherever I turn, wherever I look,
I see the black ruins of my life, here,
where I’ve spent so many years, wasted them, destroyed them totally.”
You won’t find a new country, won’t find another shore.
This city will always pursue you.
You’ll walk the same streets, grow old
in the same neighborhoods, turn gray in these same houses.
You’ll always end up in this city. Don’t hope for things elsewhere:
there’s no ship for you, there’s no road.
Now that you’ve wasted your life here, in this small corner,
you’ve destroyed it everywhere in the world.
(c) C.P. Cavafy (Vertaal deur: Edmund Keeley and Philip Sherrard)