Andries Bezuidenhout. Hoekom ek steeds in ʼn rock band speel (flagrante self-promosie)

My naam is Roof en ek speel in ʼn rock band. Sowat ʼn jaar gelede het ek uit die band bedank en my naam terug verander na Andries toe. Ek kon die band egter nie los nie. Nou kan ek my vingers nie vir lank van kitaarsnare af hou nie.

Die plek waar die Brixton Moord & Roof Orkes weekliks rehearse en musiek opneem, is in Johannesburg. In Lynnekom, om die waarheid te sê, nie Brixton nie. We’ve kind of moved on in life. Verlede week het een van ons vir Saartjie Baumann raakgery en volgens berigte sy is steeds in die intensiewe eenheid in Park Lane Kliniek, die swart haarkrul teen haar voorkop vasgeplak met sweet en bloed. Dalk het hulle dit al gewas.

Die bloed is vinnig van die kar afgewas en die duik sommer met die hoek van ʼn baskitaar se amp uitgeslaan. Jy moet net weet hoe om te mik. Langsaan, nie op die duik nie; dit maak dit erger.

Gisteraand het ons voorberei vir Vrydagaand se gig by Steak & Ale in Lyttelton. Ons speel saam met ʼn nuwe band genaamd Die See. Hulle maak op die oomblik nogal golwe in die industrie.

Ek was nie lus vir band practice gisteraand nie. Ek is moeg, moeg, moeg. Ry van Pretoria af Johannesburg toe. Ek is vroeg, vroeg, vroeg. Stop by ʼn winkel en koop wegneemsushi, eet dit met ʼn vurk in die kar. Wat het van my lewe geword? Ek eet wegneemsushi voor band practice met ʼn vurk in die kar. Langs my staan ʼn Coca Cola-trok en luier. Môre kry ek nog drie miljoen vraestelle om te merk.

ʼn Entjie in band practice in onthou ek hoekom ek dit doen. Ek onthou hoekom ek dit doen toe ek van die drie miljoen vraestelle vergeet, van die werkers wat besig is om my kantoor kleiner te maak om meer personeel op die negentiende vloer in te pas, die navorsingsartikel wat ek oor ʼn week moet inhandig, die navorsingsartikel wat ek self nog moet evalueer, die vorms wat ek moet invul sodat die NRF (daar’s seker ʼn Afrikaanse akroniem vir die organisasie, maar wat de hel?) my kan evalueer, my bloeddruk, die kar wat twee duisend kilometer gelede gediens moes wees, my hemde by die lôndrie (ek kry nie tyd om hulle op te laai nie en dra T-hemde werk toe), my graad in kreatiewe skryfkunde wat nou al vir ʼn jaar lank op bakstene staan op ʼn pad iewers tussen Trompsburg en Colesberg, ensofreakingvoorts.

Hiervan alles vergeet ek toe ons Brixton Barnard se nuwe komposisie speel:

Selle loop in serie,
flitslig sukkel met die stroom.
Die battery lek lelik,
daar is ʼn skeur reg oor die soom.

Kabels dans soos kobras,
hul spoeg ʼn vuur, ʼn vonk.
Die skoonheid van dit alles
los my halfpad dronk.

Sal jou liefhê tot die einde van dae.

Die radio vang net suis op,
die TV sien net sneeu.
Tog kyk ek nog aandagtig,
onredelik vasgeboei.

Daar’s ʼn disko op die hoofweg,
net ligte geen musiek.
Hulle dra oranje baadjies,
dis seker retrosjiek.

Sal jou liefhê tot die einde van dae.

© Liriek: Brixton Barnard

 Kyk hier vir ʼn effe siniese weergawe van wat by een van ons vorige gigs in Bloemfontein gebeur het. Dis deur Ruan Scott geskryf.

Foto: Dot Vermeulen

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Hoekom ek steeds in ʼn rock band speel (flagrante self-promosie)”

  1. Desmond Painter :

    Lekker inskrywing, Andries, behalwe dat jy my nou aan die NRF-vorms herinner het wat ek ook hierdie maand moet invul; aan die vraestelle wat ek moet merk; aan die manuskripte en navorsingsvoorstelle wat ek moet evalueer; aan die artikel en resensies wat ek moet skryf… o hel, hierdie was eintlik glad nie ‘n lekker inskrywing nie!! Dankie vir niks!!

  2. Andries Bezuidenhout :

    Hahahahaaaa! Haal daai kitaar uit, Desmond! Ongelukkig kan ek nie hier vertel wat die groupies backstage met jou doen nie.

  3. Desmond :

    Andries, met die trek het ek hoeka my ou kitaar ‘n meer prominente plekkie in die studeerkamer (ek het nou ‘n studeerkamer…) gegee — en ook gedink dis tyd om ‘n nuwe, smaarter een te koop. Ek het hom vinnig getune, en gesien dat ek darem (so gepraat van dinge wat agter toe deure gebeur…) nog ‘n heel gangbare weergawe van The House of the Rising Sun kan speel — en dis omtrent ses of sewe akkoorde! Wat meer het nodig vir kitsroem en groupies! Niks; beslis nie ‘n NRF-gradering nie…

  4. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, as jy ‘n punk band begin, het jy net drie chords nodig. Maar dis dalk te veel. Die band se naam is veel belangriker. Iets soos “Die Traffic Jams”. Vir rock is ses of sewe MEER as genoeg. Wyle Johnny Fourie het mos ges^ mense in rock bands leer nog kitaar speel. Klink of jy al aanbeweeg jazz toe. 🙂 Aan die ander kant, Desmond, moet ‘n mens op spektakul^re wyse voor 30 sterf as jy as musikant ‘n legacy wil laat. Vir my is dit te laat daarvoor, helaas.

  5. Desmond :

    Andries, die voor-30-sterwers het my nog nooit regtig beindruk nie. Ek hou van die strydosse wat oudword in die tuig: Bob, Bruce en kie. Ek verkies ‘n body of work bo ‘n dead body!

  6. Andries Bezuidenhout :

    Ek stem. En hoeveel mooier klink Marianne Faithful nie in die herfs van haar jare nie!

  •