
Wat doen jy as jy onder die indruk verkeer dat jy Koning van die Mishoop is en dan kom daar ‘n stillerige haantjie uit Springbokland en verskarrel jou na die hopie muiskuttels in die hoek van die hoenderhok? Wel, jy klim op jou muiskuttelhoop en verkondig wyd en syd hoe besonders dié hopie is en kraai ten hemele dat die nuwe aankomeling nie geregtig is op énige hoop nie …
En dit is presies wat die Australiese skrywer, David Foster, gedoen het tydens sy dankwoord toe hy met die Patrick White Award vereer is. Nadat hy vir Patrick White, wat dié toekenning ingestel het met die geld wat hy as Nobelpryswenner ontvang het, ten hemele besing het, het Foster die volgende dwarsklap uitgedeel: “Can you imagine what Patrick would have said of an individual who, having received the Nobel Prize and two Booker Prizes, to a value of around $1.5 million, and who so far from setting anything aside for the benefit of his less illustrious colleagues continues to put his hand up for every literary prize on offer?”
Nou ja, toe. Alhoewel JM Coetzee nie by die naam genoem is nie, bestaan daar tog géén twyfel na wie dié klap gemik is nie. “Well, some people got no class. That could not be said of Patrick White. He was a class act, a generous man and never mind that he had independent means: we can all find ways of spending our money,” het Foster voortgetier en sy bes gedoen om die gehoor daarvan te oortuig dat die groen monster op sy rug niks meer is as ‘n papegaai wat besorgd is oor die stand van literêre verering ‘down under’ nie; aldus die berig op The Australian se webblad: “Foster, 66, also uses his speech to lambast the ‘literary prize-driven circus which today constitutes the literary world’. “Winners are grinners while losers must hope for the Patrick White Award”, het hy glo gesê. Maar wat doen jy indien jy nie iets soos Apartheid het om alles wat verkeerd is op te blameer nie?! Wel, dis maklik. Jy plaas gewoon die blaam op Demokrasie: “The sad fact is, literature does best in aristocracy or theocracy. Democracy is the enemy of art.”
The Australian sluit hul berig af met die volgende lakoniese opmerking: “Coetzee’s most recent book, Summertime, has been a contender in most of Australia’s main literary prizes, and was named best novel at this year’s NSW Premier’s Literary Awards. Foster’s Sons of the Rumour, published at the same time, received generous reviews but has not been as prominent on the prize circuit.”
Uiteraard was Coetzee nie beskikbaar vir kommentaar nie.
As toegif vanoggend, ‘n enigsins poëtiese fragment uit Coetzee se Nobelpryslesing; vanuit ‘n bepaalde perspektief is dit eintlik ‘n gepaste antwoord aan die heer Foster en soortgelyke rakkers: “It seemed to him, coming from his island, where until Friday arrived he lived a silent life, that there was too much speech in the world. In bed beside his wife he felt as if a shower of pebbles were being poured upon his head, in an unending rustle and clatter, when all he desired was to sleep.” (Uit: 20 Years of Nobel Lectures, 2007: pp.54 -55).
***
Sedert gister het Andries Bezuidenhout ‘n nuwe stuk geplaas waarin hy vertel waarom hy steeds in ‘n rock band speel. Graag fokus ek ook jou aandag op ons residensiële resensent, Bernard Odendaal, wat sy nuutste resensie geplaas het oor Martjie Bosman se Toevallige tekens. Onthou sommer ook om die onderhoud te lees wat ten tye van die bundel se verskyning met Martjie Bosman gevoer is, indien jy dit op daardie tydstip gemis het.
Lekker lees en geniet die naweek wat voor jou deur staan.
Mooi bly.
LE