Hierdie is my cheerio-blog. Ek glo dat alles ’n ingeboude horlosie het.
Ek dink ook dat die blogskrywers op Versindaba, wat hier op uitnodiging skryf, afgewissel behoort te word. Ter wille van die spyskaart en (hopelik) ‘n gebalanseerde dieet.
Aan Louis Esterhuizen en Marlise Joubert, die selflose skeppers en bestuurders van hierdie uitstekende, opbouende forum: Dankie vir die geleentheid wat julle my gegun het om my stem te laat hoor. Ek het heerlike momente gehad. Ek hoop Versindaba gaan van krag tot krag.
Dank aan my medebloggers wat my staanplek gegee het. En nie die minste nie dank aan daardie besoekers wat die moeite gedoen het om my blog te lees en ook onderhoudende kommentaar gelewer het. Dankie ook aan die suurgat rakkers wat beledigende en ontersaaklike opmerkings gemaak het, wat dit so moeilik gevind om ‘n rasionele argument te voer. Self sou ek julle nie beter kon beskryf het nie.
Come’s with the territory. Dis jammer, maar soms ruik die plaaslike kweekhuis maar soos ’n toestaanpoep.
En van terrein, of gebied, gepraat. Ek het besluit om, onder meer, meer van my tyd te bestee aan ’n Afrikawye inisiatief waarby ek betrokke is om die digkuns van Afrikane internasionaal bekend te stel. En so kom my (merendeels ryke) tyd by Versindaba tot ’n einde.
By wyse van verdere totsiens wil ek graag my hoed vir twee mededigters lig. Albei het in die tyd wat ek op Versindaba geskryf het, heengegaan.
I.L. de Villiers. Ek het in my lewe my soms daarin verkneukel om I.L. te haat. Vir wat ek gesien het as die verkeerde soort politiek. In sy laaste dae het ek met hom gehelp om sy memoirs te redigeer, en ’n gefolterde, passievolle – maar ook selfinkerende – bestekopnemer leer ken. Memoirs waarmee ek nie altyd saamgestem het nie. Maar elegante, veelkantige herinneringe! Min digters het die digkuns so aan Jan en Alleman gebring soos De Villiers.
En die digter Lucas Malan. Ook heengegaan. Malan kon met sy resonerende, klassieke Afrikaanse ritmes ‘n kraakvars universaliteit bring aan die allerplaaslikste en privaatste van oomblikke. (Die ander kant van plaaslikheid?) Hy het ’n oog gehad vir die vaal klippie wat tot diamant geslyp kan word. Gaan u goed! (Wat, as dit vertaal word, sal lees: Mag die res van ons op behoorlike wyse agterbly, met goeie maniere.)
Totsiens , en dankie vir die visskubbe (saam met die koes-koes).