Vandeesmaand groet ons drie van ons vaste bloggers, te wete Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal en Jo Prins. Aldrie het versoek om weens werksdruk die tuig neer te lê; iets waarvoor ‘n mens uiteraard begrip het.
Charl-Pierre en Bernard was van die begin af by die webblad betrokke en het saam met die ander deelnemende bloggers daartoe bygedra dat die aanvanklike vestiging van die webblad op die internet so suksesvol verloop het. Met hul eiesoortige aanslag het hulle sommer vinnig vir hulself ‘n stewige aanhang gevestig en etlike belangrike bydraes gelewer. In dié mate dat van hul bydraes reeds oorgedra is na die “essays“-blad waar dit behou sal word vir latere lesers en/of navorsers.
Aangesien dit vir ons as redaksie enorm belangrik is om verskeidenheid, sowel as gehalte bydraes, te handhaaf, het ons Jo Prins vroeër vanjaar genader om as blogger betrokke te raak. Ten spyte van ‘n veeleisende beroep het hy ingestem en tussen die geharwar van werk en gesin deur daarin geslaag om eweneens eiesoortige en dikwels hoogs vermaaklike bydraes te lewer.
Ons kan nie anders as om dié drie bloggers te bedank vir hul onbaatsugtige deelname en lojaliteit jeens die digkuns in die algemeen en hierdie webblad in die besonder nie. Maar, hopelik is dit darem ook nie die einde van hul betrokkenheid nie, aangesien aldrie laat blyk het dat hulle wel nog insetsels sal stuur vir plasing na gelang van tyd en voorkeur.
In sy cheerio-blog, wat hy gister geplaas het, maak Charl-Pierre die opmerking dat hy glo dat dit ‘n gesonde beginsel is om die battery bloggers te roteer. Daarom is dit dan dat ons reeds, danksy dié drie here se vroeë en konsidererende kennisgewing, hul plaasvervangers kon werf. Twee van hulle, Pieter Odendaal en Marlies Taljard, het dan ook reeds hul eerste aflewerings geplaas. Voorts hoop ons om binne enkele dae die derde (en dalk vierde) toevoegings aan te kan kondig.
A luta continua! Die stryd duur voort …
***
Afgesien van die inskrywings waarna ek hierbo verwys kan jy vanoggend ook nog ses voorheen ongepubliseerde gedigte van Fanie Olivier lees en ook ‘n nuwe vers deur Joan Hambidge.
Aan die blogkant van sake is daar ‘n nuwe bydrae deur Pieter Odendaal om te geniet.
Mooi bly.
LE
Baie dankie aan die drie veelkantige en uiteenlopende bloggers wat ons op vele kopreise geneem het ver bo die banale alledaagse verbruikers wêreld. Baie dankie aan Louis en Marilise dat julle Versindaba propvol pitkos en uitdagings geskep het en steeds nuwe lewe daarin sit. Dis die enigste webwerf wat ek elke week besoek- en as ek tyd het elke dag. Dis so ‘n fees! Mag julle groei en gedei en mag nuwe poetiese sterrestelsels na julle vernoem word as rigtingwysers vir die toekoms.
Was lekker om ‘n “deelnemende bogger” te wees!
😉