
Vanoggend kondig ons die eerste plasing aan in ons nuwe inisiatief genaamd Fotobeeld. En dit is die foto’s wat ons van Piet van Rooyen ontvang het. Maar waarom met so ‘n inisitaief begin op ‘n webtuiste soos Versindaba? Veral gesien in die lig van die Russiese digter,Yevgeny Yevtushenko, se uitspraak: “A poet’s autobiography is his poetry. Anything else can only be a footnote.”
Dit is wel so.
Maar ons leef in snelveranderende tye; verandering wat in ons spesifieke omstandighede ook dikwels met geweld en verguising gepaard gaan. En as dit so is dat ‘n digter by uitstek die getuie van sy tyd is, en dat ‘n digter se gedigte dan eintlik die emosionele landskap van hul skepper karteer, wil ek Yevtushenko graag antwoord by monde van Paul Celan uit laasgenoemde se gedig “Aschenglorie“: “Niemand / zeugt für / den Zeugen.” (Niemand getuig vir die getuie nie.) Of selfs ook met die volgende slotreël uit nog ‘n gedig van Celan (uit die gedigtereeks Atemwende): “Die Welt ist fort, ich muss dich tragen.” (Die wêreld is daarmee heen, ek moet jou dra.)
Is ek nou onnodig morbied? Miskien wel. Die feit is, dat wanneer jy op ‘n fotobeeld soos die van Piet van Rooyen af lees, jy onder die indruk kom van ‘n lewe wat in sy totaliteit geleef is. In sý leefwêreld, maar ook binne ‘n bepaalde tydskonteks. En watter emosies lê nie in dié momente opgesluit nie?! Neem nou byvoorbeeld die foto’s in Album 2 wat in die Kaokoveld en Okavango geneem is in 1973 & 1977; die geskiedenis wat spesifiek dáárdie foto’s agterlê, is enorm. En dit verdien om bewaar te word, is dit nie?
Dit sê immers: Ek was dáár, en ek het dít gedoen. Kyk, hier is ek.
Foto’s. Ons breekwater teen die vergeet.
Dankie vir al die opgewonde reaksie wat ons ontvang het met die aankondiging van dié inisiatief. Ook vir diegene wat meer skepties was; die feit is: Indien ons nie bereid is om ons eie getuienis te bewaar nie, is daar niemand anders wat dit as belangrik genoeg sal beskou om te doen nie.
Daarom – ons wag op jou foto’s indien jou gedigte op hierdie webblad staan.
Laat hulle ‘n gesig voeg by die woorde wat jóú lewe is.
As toegif vanoggend, die gedig uit Piet van Rooyen se verskamer onder aan die Nuuswekker.
***
Afgesien van bogenoemde, is daar vanoggend net een nuwe plasing om aan te kondig: Desmond Painter se stuk oor die ontmoeting tussen Sigmund Freud en Gustav Mahler in Leiden.
Lekker kyk, en veral: lekker lees.
LE
tafereel
uit oorblyfsels van droë stoppellanderye
tussen wit-geblertsde tele-pale
vloek gekwesde kraaie kras
op NG-dominees wat vuisskud
met stompneus-haelgewere
in ‘n eensame buurt vir barmhartiges
sluip nonne onder kaalgeskeerde koppe
vol skuld en kommunale hoop
amegtig van toegesluite deur tot deur
ons self sit met ons mede-kriminele
en skink ons grimmige glasies wyn
die lewe is ‘n maer lokasie-brak
wat grommend tussen tande kwyl
skoppend tussen benewelde vingers
elk se opgewarmde resies-kokkerot
in dun harnasse van garedraad
waar hul met wye pote
padvat oor ‘n tafelblad
diepgekerf in elke stukkie splinterhout
sit hindernisse van ou-vergete momente
van half-vervulde luste, wrewel, boete, haat
ons kloek moedig aan met skril stemme
oorwinning is soet, verliese suur:
tussen hoedende elmboë by elk
knusgepak sy hopie dertig silwerlinge
ons strydwaens jaag verwoed
in die swart gewaad van geestiges
deur moerasse van spoeg en kwyl
en plassies uitgestorte wyn
ons stoele kier op dun pote
terwyl ons diep uit mae lag
onder vloerplanke en agter toegetrekte ruite
piep-verskriklik skarrel rotte
in die donker doolhof van ‘n drein
moeg en mistroostig kom die refrein:
bedelaars steek mekaar met lemme
om laaste korsies brood
iewers in die bouval van’n kerk
steek ‘n swerm bye woedend
‘n spirits-versuipte boemelaar dood
© Piet van Rooyen. Junie 2009.