Die jaarlikse prys vir die swakste seksbeskrywing is pas bekend gemaak en volgens ‘n berig op The Guardian se webtuiste gaan dié twyfelagtige eer vanjaar aan die Ierse skrywer, Rowan Somerville, vir sy roman The shape of her. Dit is Somerville se tweede roman en dié werk het sommer ‘n hele aantal passasies gelewer wat hom vir dié prys se kortlys bestem het. Volgens die beoordelaars was dit egter die sin “like a lepidopterist mounting a tough-skinned insect with a too blunt pin he screwed himself into her” wat aan hom die prys besorg het.
Ander passasies uit The shape of her wat spesiale vermelding gekry het, was die gedeelte waarin Somerville pubiese hare beskryf as synde “like desert vegetation following an underground stream”. Ook die volgende: “He unbuttoned the front of her shirt and pulled it to the side so that her breast was uncovered, her nipple poking out, upturned like the nose of the loveliest nocturnal animal, sniffing the night. He took it between his lips and sucked the salt from her.”
Tot sy krediet het Somerville dié prys met die gepaste decorum in ontvangs geneem: “There is nothing more English than bad sex, so on behalf of the entire nation I would like to thank you,” het hy glo vanagter die mikrofoon kwytgeraak.
Die “Bad Sex Award”, wat deur wyle Auberon Waugh ingestel is, is die eerste keer in 1993 toegeken met as oogmerk om die aandag te fokus op “crude, tasteless, and often perfunctory use of redundant passages of sexual description in contemporary novels, and to discourage it”.
Tradisioneel word dié prys toegeken aan literêre fiksie, maar volgens The Guardian het die beoordelaars vanjaar heelwat druk ervaar om vir die eerste keer ook ‘n nie-fiksie titel op hul kortlys te plaas, te wete Tony Blair se memoir The journey. Volgens die pleitbesorgers is dit veral die beskrywing van Blair en sy vrou, Cherie, se samesyn op die nag van 12 Mei 1994 wat hom ‘n volslae gunsteling vir dié prys sou gemaak het: “I devoured it to give me strength. I was an animal following my instinct.”
Nou ja, toe. ‘n Mens kan dit nie verhelp om te wonder watter onlangse Afrikaanse roman vir ‘n soortgelyke prys in aanmerking behoort te kom nie … My nominasie sou beslis die volgende passasie uit Alexander Strachen se Dwaalpoort wees: “My hande het agter haar rug ingevat. Ek het haar hard teen my opgetrek. Maar sy het haar onder my greep uitgedraai. Sterk en glad soos ‘n geelvis. Die gewriemel van haar lyf. My wragtig omgerol en bo-op my gaan lê. Haar hande nou op my skouers.” En net drie reëls verder: “Toe vat sy haar hande skielik weg. Sy het hulle weerskante van my kop op die kussing neergesit, haar elmboë reguit gemaak en haar bolyf hoog van my bors afgelig soos ‘n kobra wat gaan pik.”
Sela. Van geelvis tot kobra in die bestek van drie-en-dertig woorde.
***
Sedert gister is al wat bygekom het, die fotobeeld van Zandra Bezuidenhout.
Geniet dit, en ook die dag wat in jou hand gegee is.
Mooi bly.
LE