Pieter Odendaal. I wandered lonely as a mushroom cloud – dagboek van ‘n semi-digter

Detail uit Untitled - Stuart Cairns

Detail uit Untitled - Stuart Cairns

29 November

 

Vanoggend weer die trein Muizenberg toe gevat vir my weeklikse tutorsessie  met ’n chef wat volgende jaar graad 12 Skeinat wil skryf. Iewers op ’n stasie het ’n blinde met ’n kitaar opgeklim. Hy’t Koos Doep se Gebed in Xhosa begin sing. Hier en daar het ’n gesette vrou begin saamsing en skielik was ek in ’n gedig gewees. Die treintrok het al singende voortgebeur tussen wingerde en fabrieke deur. Ek het saggies in Afrikaans begin saamsing en skaamgekry dat ek nooit die moeite gedoen het om Xhosa te leer nie. Een of ander poephol het “I’m on a boat motherfucker” kliphard op sy selfoon begin speel sodat ons skielik teen hom moes kompeteer. Na ’n minuut of wat het die blinde man tou opgegooi en by die volgende stasie uitgeklim. Daar was ’n paar klingelende sente in sy bedelbeker.

30 November

Gradex se opening saam met vriende in die kunsdepartement bygewoon. Al die finalejaarskunsstudente het uitgestal om hul bymekaargemaakte kennis oor die taal van beelde ten toon te stel. Daar was ’n klomp middelmatige pogings gewees wat óf gedrup het van sentimentaliteit óf geskree het van onsubtiliteit. Maar die werke van Stuart Cairns en Abri de Swart het my laat stilstaan. Cairns werk met swart en wit collages wat hy soms subtiel met teksgedeeltes laat saampraat. Sy indrukwekkendste werk, Untitled, bestaan uit verskeie los velle papier waarop hy onder andere figure geplak het wat sterk aan 1940’s Film Noir herinner. Die figure is egter almal koploos en saam met die gebruik van beelde uit die stad kry Cairns dit reg om ’n meditatiewe werk te skep wat kommentaar lewer op die anonimiteit van depressie en eensaamheid in ’n gemeganiseerde, moderne stad. Ek het aan Opperman se “Negester en Stedelig” gedink. Die literêre intertekste wat hy gebruik, dra sterk tot die atmosfeer van die werk by. So is daar byvoorbeeld ’n aanpassing van ’n bekende Wadsworth-gedig wat bo-op ’n afbeelding van ’n ontploffende atoombom aangebring is:  “I wandered lonely as a mushroom cloud”. 

The Father - Abri de Swart

The Father - Abri de Swart

Abri de Swart se werk is weer onbeskaamd kitsch. Hy gebruik kleurvolle uitknipsels en origami om Bybelse tablo’s uit te beeld. Sy kortfilm oor die laaste avondmaal, For what we have received, is veral treffend en sy triptiek van die drie-enige God,The Father,The Son and the Holy Ghost, spook snags by my.     

 

1 Desember

Vandag verby die bouterrein by Eikestad Mall gestap. Die man wat in die glaskajuit van die hyskraan werk, het ’n rooi vlag met ’n wit vigsstrikkie aan die geel kolom van die hyskraan vasgebind. Van daar bo af kan hy sekerlik die hele Stellenbosch sien. Ek wonder wat hy sou sê oor die nuwe mall wat Stellenbosch netjies in twee gaan verdeel: Aan die een kant lê die Universiteit met sy imponerende geboue en akkerbome waaraan groen geld groei; aan Birdstraat se kant is die vis-en-tjips winkels, die Afrikane se one-stop-shops en De Braak waar bergies smiddae in die son bak. Eikestad Mall was altyd ’n bymekaarkomplek vir dié skisofreniese Stellenbosch gewees.

Ek het Daniel Hugo se Komrij-vertalings vandag begin lees en dink lank na oor die gedig “De straatjongen”:

 

Hij paradeert met ketting, mes en stok:

Geweld is maar een saak van lusteloosheid.

Hij slaat en steekt ook wel, liefst na een slok.

Hij mist – beseft hij vaag – de ware boosheid.

 

Een vrouw passeert hem. Hij versnelt zijn pas.

Een dorre tik. Hij triomfeert, de held.

Maar zijn gevoel is al weer stof en as

Wanneer zij als een zak valt, uitgeteld.

 

Hij wou zo graag dat golven bloed en slijm

En darmen uit de dame zouden wellen,

Die hem vervolgens iets van het geheim

Van zijn gehate slaap zouden vertellen. 

© Gerrit Komrij 

2 Desember

Weer ’n bietjie akkordeon geoefen – ek het ’n ligblou Frontalini vir my 21ste by my ouers gekry. My vingers sukkel nog blind om die regte akkoordknoppies aan die linkerkant te vind. Later in Aandklas saam vriende gekuier. Die een vriendin is ’n uitruilstudent van Harvard wat pas haar graad in Antropologie voltooi het. Sy vertel ons van ’n vriend wat sy meestersgraad in Biblioteekkunde gekry het. Hy kan glo bloot na die tipe papier en die band van enige boek kyk en dan vir jou sê in watter dekade en gebied die boek gebind is.

Terug by my woonstel maak ek Leroux se Een vir Azazel klaar. Die boek het ’n rooi hardeband-omslag en vergeelde blaaie. Voorin sien ek dat die boek voorheen aan ene Meneer M.J. Louwrens behoort het.  Motte het sommige van die bladsye beetgekry.  Ek lees bladsy 110 hardop voor waar dr. Johns sopas die krane in die kamer van bieg oopgedraai het en ’n oorverdowende gesuis en mistigheid die kamer vul. Die stotterende Demosthenes H. De Goede kan vir die eerste keer praat:

 

En meteens voel hy dat sy tong los is, dat suiwer, helder woorde, wat hy nie kan hoor nie, sy alleenheid en vrees beskryf. Speurdersersant Demosthenes H. De Goede – op daardie presiese oomblik dat hy vrees voel soos hy dit nog nooit gevoel het nie, waar hy in hierdie onderwêreld veg teen ’n vyand wat hy nog nooit teëgekom het nie – raak tydelik ontslae van daardie gebrek wat hom sy hele lewe lank belas het. Sy silwer tong formuleer sy angs in die heerlikste taal; hy beskik meteens oor ’n vermoë wat hom nog altyd ontsê is: om helder uiting aan sy diepste gevoelens te gee. Op hierdie oomblik van onuithoudbare lyding beleef hy ook sy diepste wensvervulling en sy grootste triomf. Daar is selfs ’n tyd dat hy in sy folteringskrete die lyding verwelkom ter wille van die nuwe vryheid van spraak. Maar dit duur nie lank nie. Stadig maar seker word die angs ondraagliker en word hy gewoond aan daardie begeerde vryheid. Hy is besig om sy siel kontant te verkoop aan die bose gees en hy strompel verwild in die kamer rond om die kontak tot niet te maak. Al skreeuend, tastend en vreesbevange val en stamp hy teen die mure en pype totdat hy die krane bereik wat hy met ’n laaste kraginspanning toedraai.

© Etienne Leroux

 

 

 

 

3 Desember

My klavier het vandag in Stellenbosch aangekom. Toe ek ses jaar oud was het ek aan my ma se rokspante getrek en vir ’n klavier gevra. Niemand in ons familie was rerig musikaal gewees nie, behalwe vir Oupa Lucas wat so ’n bietjie kon sing. My ouers het vir my ’n ou en donker klavier met ingeboude kershouers gekoop. Sommige note se ivoorlagies was afgedop en agt of nege note kon glad nie speel nie. Ek het getrou begin om te oefen en het kort voor lank ’n konsertjie vir my gesin gehou. Vir die volgende 12 jaar het ek elke dag klavier gespeel .  

Toe ek Stellenbosch toe trek, moes die klavier ongelukkig in Bloem bly. My pa het egter so ’n maand gelede besluit dat die klavier na drie jaar se stofvergader hier by my hoort. My ma het my eergister gebel terwyl sy in my ou kamer in Bloemfontein gestaan het voor die leë plek waar my klavier altyd was. Sy’t gehuil en gesê dat sy vir die eerste keer besef het dat ek nie weer terugkom huis toe nie.

Die Yahama-klavier wat nou oorkant my lessenaar in my woonstel staan, is nie dieselfde een as die een waarop ek begin het nie, maar my liefde vir musiek en klavierspel het nie verander nie. My ouers kom hierdie week Stellenbosch toe vir my gradeplegtigheid en ek oefen dat dit bars. Ek dink ek gaan weer vir hulle ’n konsertjie hou.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •