Desmond Painter. Opsy, opsy, opsy!

O jitte, ek het lanklaas geblog… Ek was onlangs vir ‘n paar dae in die Drakensberge (ek en twee kollegas werk aan ‘n boek, so dit was ‘n gefokusde, uitputtende ‘writing retreat’ — OK, daar was darem ook tyd om lang ente te stap, in bergpoele te swem en om laatnag in Underberg se kroeg uit te hang…) en sedertdien sukkel ek om op datum te kom met my werk. 

LitNet en Die Burger blaas in my nek oor resensies wat laat is; Wits en UKZN oor eksterne evalueringsverslae van tesisse wat laat is; SARS, Edgars, die tuindienste en die munisipaliteit oor betalings wat laat is; my department oor bydraes tot volgende jaar se studente-inligtingstukke wat laat is; die universiteit se kantoor vir navorsingsontwikkeling oor ‘n befondsingsverslag wat laat is; studente oor referentverslae wat laat is; ‘n kongreskomitee waarop ek dien oor terugvoer wat laat is… OK, ek’s laat! Ek voel al soos daai ou in Herman van Veen se song: ‘Opzij, opzij, opzij/ maak plaats, maak plaats, maak plaats/ ik heb ongelofelijke haast!’

In stille protes teen dit alles het ek intussen darem ook begin lees aan die dikste boek op my huidige leeslys: Roberto Bolano se 2666. Wel dit sal hulle wys, die mense wat so op my tyd jag maak! Hier is ‘n paar fotos, net om te bewys my storie is warerig. Die eerste een is vroegoggend in die berg geneem; die tweede een wys my en my twee medepligtiges (Martin Terre Blanche en Kevin Durrheim) in een of ander grot in die berg; en die derde is natuurlik laatnag in Underberg se plaaslike watergat geneem. Ek kan nie onthou deur wie nie…

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •