Nou ja toe. Daar brand my kantoor amper af. Ek werk in die RW Wilcocksgebou in Stellenbosch — nie juis ‘n mooi gebou nie, maar vir sommige mense wat hier lees dalk bekend omdat dit destyds die Departement Afrikaans en Nederlands gehuisves het. Die lesingsale is nog steeds uitgerus met sulke lelike rooi sitplekke van nagebootste leer, maar die Departement Afrikaans en Nederlands is al seker tien, twaalf jaar gelede na die werklik lelike BJ Vorstergebou toe geskuif (Oeps! Ek bedoel die Lettere A-gebou, of so iets — ek praat nog steeds van die BeeJay; ou Vorster verdien die skunnige innuendo en die naam pas boonop by die fakulteit se kwasi-cool pretensies en die wydverspreide voorkoms van paai-politiek…)
Sielkunde het dus ingetrek waar Afrikaans en Nederlands voorheen was, en in daardie gebou (onthou, ou Wilcocks was selfs mos ‘n befaamde sielkundige, en een van die navorsers wat by die Carnegie Commission se verslag oor die armblankevraagstuk betrokke was) het ons lank en gelukkig saam met Geskiedenis en die Internasionale Kantoor gefunksioneer. Tot Vrydag. Die dak en die derde verdieping is totaal verwoes, en ek het nie ‘n idee watter skade daar aan my eie kantoor op die tweede vloer, en aan my boeke en papiere in besonder, aangerig is nie. Ons is nog nie toegelaat om te gaan kyk nie, maar as jy langs die gebou staan kan jy sien my kantoorvensters is baie nat van binne…
Gelukkig het ek my skootrekenaar by my gehad, want anders was ek nou by ‘n sielkundige. Ek wil eerder nie dink aan die verliese wat die historici gely het nie. Ek was ‘n paar dae gelede in Albert Grundlingh se kantoor, en dit was ‘n doolhof van jare se opgegaarde papier, dokumente en boeke. Tragies is deesdae ‘n goedkoop woord, maar nogtans: tragies. En dit het maar ‘n paar minute geneem vir daardie vuur om te vat wat hy wou vat.
@Leon: dankie! Ons sou eers vandag toegang tot die gebou verkry het, maar moet nou wag tot Vrydag. Heelwat van my kollegas se rekenaars en skootrekenaars is nog in hulle kantore; ek het darem nie daardie bekommernis ook nie!
@Marlise: hulle weet nog nie wat presies die oorsaak was nie, maar dit was waarskynlik ‘n ongeluk, en waarskynlik het dit iets te make met die feit dat daar ten tye van die brand aan die gebou gewerk is — hulle was besig om ‘n hyser te installeer om die gebou vir rolstoele toeganklik te maak.
Ek hou duim vas Desmond!
Marlise, ons sou vandag toegelaat gewees het om in te gaan, maar dit is uitgestel tot Vrydag — die gebou is nog nie veilig verklaar nie. Ons mag ook net twee middelslagbokse vol goed verwyder… Ek hoop maar vir die beste!
Jimmel Desmond, dis darem ‘n verskriklike terugslag hierdie – ek hoop daar is nog dinge in jou kantoor wat behoue gebly het. Hou ons op hoogte. Ek voel veral so jammer vir die Geskiedenis departement. Dis mos uiters traumaties as alles daar uitgewis is. Is julle al toegelaat om binne te gaan? Wat was die oorsaak – brandstigting?
Hel, Desmond. Ek hoop die US het baie goeie versekering. Pollyanna hier: Dink aan die boeke wat jy met die geld kan koop. Helaas, sonder die aantekeninge wat jy in die kantlyn gemaak het so deur die jare. Ek hoop daar’s iets te redde uit daai kantoor met die trane in die vensters.