Andries Bezuidenhout. Die oggendstond se mond

Dinsdag, 14 Desember 2010. Hoe kom ʼn mens tot verhaal ná ʼn jaar soos hierdie? Ek het van werk verander, van woonplek verander, van stad verander. Ek gaan staan op die nuwe woonstel se balkon en kyk hoe die son opkom. “Die oggendstond het ʼn woonstelblok in die mond,” dink ek.

Ek dink aan Antjie Krog se gedig “Verhuising” uit Beminde Antarktika. Ek het dit vroeër vanjaar getoonset as opdrag vir ʼn vertoning oor haar werk:

Intro: Dm  E  X3   Dm  G  C
 Dm                            E
dit blyk toe dieselfde te wees
 Dm                            E
               
daar en hier
 Dm                         E
dieselfde nuus wat deuretter
 Dm             G                    C
dieselfde prys vir melk en brood
 F                    G                         Am
selfs die Volschenkblou van die berg

murmer van ʼn ander somer en verte
 F                G                  Am
dis net saans as iemand klop

dan voel ek – huiwerend voor die dubbelslot –
F                              G             Am
hoe stoot die opstand in my op  X3

Ek voel altyd ongemaklik om gedigte te toonset. Jy ploeg met ander mense se kalwers. Ek het verlede jaar aan ʼn landskap begin werk. Ek het die esel op ons woonstel in Johannesburg se balkon staangemaak en die uitsig begin skilder. Vir ʼn jaar lank het ek dit gelos en toe weer daaraan begin werk, met die esel en die doek in een van die agterkamers. Sonder om weer te kyk hoe die landskap lyk waaraan ek begin werk het, het ek dit voltooi. Ek dink dis klaar, maar ek is nie seker nie.

Uitsig van Palomar Place, Olie op doek

Verlede jaar het ek ook aan ʼn portretstudie van Antjie Krog begin werk. Sommer van ʼn foto af, die een wat hulle op die omslag van Kleur kom nooit alleen nie gebruik het. Ek het dit ook laat staan. Seker vir ʼn jaar, of dalk meer. Hierdie jaar weer daaraan begin werk, sonder om vir die foto te kyk wat ek as model gebruik het. Ek weet nie of dit werk nie. Haar mond het nou ʼn trek van Elizabeth Eybers.

Antjie Krog, Olie op doek

So, 2010 was ʼn jaar van verhuisings en halfvoltooide projekte: ʼn digbundel oor huishoudelike toestelle wat nog aan die wasgoeddraad wapper (het ek onthou om dit in te pak met die verhuising?); ʼn paar onvoltooide akademiese artikels wat tussen niet en nimmer bly hang; gespande linne wat ongeraam teen mure staan – muurblommetjies sonder stele of stelte in olie op doek.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die oggendstond se mond”

  1. Andries, jou blog spreek tot my. Ek het die afgelope jaar my D gekry, getrou, my eerste eiendom gekoop, getrek, met ywer maar redelik onsuksesvol aan akademiese artikels en hoofstukke gewerk, geprobeer om van droedels gedigte te maak, en op die ou end amper my hele kantoor en die helfte van my boeke verloor! En tussen alles deur: blog, blog, blog… Volgende jaar wil ek soos Kepler Wessels maak en die innings KONSOLIDEER! Maar eers moet ek hierdie vervlakste NRF-ding nog afhandel. Daarna rus. En dan wil ek sistematies, een-een, kyk of ek ‘n paar artikels kan klaarmaak. Want ek is blerrie goed met begin; klaarmaak is egter nie my styl nie!

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, van my kant af gaan die NRF dalk maar nog ‘n jaar moet wag. Vrydag vertrek ons Roggeveld en Tankwa-karoo toe. Dan twee nagte in die Lord Milner op Matjiesfontein, ‘n draai deur Seepunt, Weskus toe, daarna ‘n paar besoeke aan ou sendingstasies in Namakwaland (Leliefontein) en die suide van Namibië (Warmbad). Dis nou as alles uitwerk. Maar as dit wel uitwerk, was die jaar die moeite werd. Ek is bly ek woon in Suid-Afrika en dat ek dieseldampe onder die enjinkap op al daai grondpaaie kan genereer.

  3. Desmond Painter :

    Andries, dit alles klink vir my beslis beter as die NRF! (NNS?) Ons gaan volgende week Oos-Kaap toe, maar ek dink ek het genoeg tyd om my aansoek voor middel-Januarie by die universiteit se navorsingskantoor te kry. Ek het ‘n keuse, maar dit word baie sterk aangemoedig dat ons dit doen… Ek ek sal beslis nie nee s^e vir die NRF se jaarlikse geldjies nie!

  4. Desmond Painter :

    Terloops, ek hou baie van jou landskap en jou Krog-portret.

  •