Nou ja, toe. Vanoggend pleeg ek onbeskaamd ‘n persoonlike Nuuswekker. Enersyds omdat dit nodig is, maar andersyds ook omrede ek my dit seker van tyd tot tyd mag gun? Nietemin, vandag is dit ons geliefde webmeester se verjaarsdag, en – gesien in die lig van alles wat hierdie jaar in ons lewens gebeur het – wil ek vanoggend alle fluite blaas en alle vlae waarop ek my hande kan lê, laat wapper …
Want ek weet byvoorbeeld wat dit alles van Marlise verg om dié webblad in stand te hou. Ek weet van al die e-posse, die telefoonoproepe en die ure der ure agter die rekenaar om ‘n program wat nie regtig ontwerp is om te funksioneer soos ons wil hê dit moet nie, te “buig” tot hy lyk en rol soos wat ons hom wil hê. Ek weet van haar toegewyde ywer om alles in stand en op datum te hou; selfs te midde van moeilike (persoonlike) omstandighede. Haar vreugde oor bykans alle plasings en ook haar ontsteltenis wanneer daar “probleme” is; hetsy met die webblad of ook tussen bepaalde persoonlikhede.
Daarom kan ek nie anders as om haar namens almal wat plesier het aan hierdie blad, geluk te wens met ‘n mylpaalverjaarsdag nie. Mag die nuwe lewensjaar vir jou ‘n jaar met onverdunde vreugde wees, Marlise.
Vanoggend plaas ek ‘n limeriek wat Philip spesiaal vir jou verjaarsdag gestuur het, en ook ‘n foto vir jou kykplesier; ‘n foto van ‘n rakker wat (reeds) soveel beroering in jou lewe gebring het.
Geniet dit, en ook die verrassing later vandag … (Smaail, smaail, wienk, wienk.)
***
Sedert gister het daar net een bydrae bygekom en dit is deur Vrouwkje Tuinman wat vertel van daardie ongemaklike windstilte tussen twee skryfprojekte.
Dus is dit ook die ideale tyd om terug te lees na vorige plasings wat jy dalk gemis het.
‘n Plesierige dag word vir almal toegewens.
Mooi bly.
LE
Daai lieflike skryfster Marlise
smile en sê heeltyd net: “Cheese!”
Dis nié oor haar baba
genaamd Versindaba.
Dis haar birthday vandag – if you please!
(c) Philip de Vos
Baie geluk Marlise!
Baie, baie dankie aan almal vir julle gelukwensinge!
Ek het beslis die heerlikste dekadente verjaarsdag nog beleef. Die dag was vol verrassings, wat natuurlik begin het by Louis se Nuuswekker en Philip se rympie daarby.
Die hoogtepunt was toe ‘n stretched Limo hier by die huis opgedaag het en ons almal (Louis, sy seun en skoondogter, my seun & kleinseun Xander en twee van my vriendinne) opgelaai het en na ons vriende Piet & Estelle Haasbroek se plasie teen die berghange in Franschhoek vervoer het, waar ons saam met nog ander vriende soos Riana Scheepers en Johann Laubser ‘n maaltyd gehad het, voorberei deur bobaaskok Estelle. Gemsbok-rol en gerookte forel. Die vis vang Piet natuurlik self in sy forelledam. En die bokke skiet hy ook self. Boonop weet hy hoe om ‘n magdom van ballonne op te blaas vir verjaarsdagvroue!
Van die ete het ek geweet en ek kon 12 vriende kies vir ons bergpartytjie, maar van die Limousine het ek niks geweet nie. Was almal se eerste keer ook in so ‘n lange roomyswa. Xander was in vervoering met die ‘ghoooooot kagh’ en het oor almal se skote geklouter. Ons het pienk bruiswyn gedrink agter getinte ruite met Elvis se Jailhouse Rock in ons ore. Ons het aanmekaar gebabbel. Louis het dus ook gereël dat my geliefkoosde 50’s & 60’s musiek gespeel word terwyl ons oor Helshoogte ry. Halfpad teen die berg uit na Piet & Estelle se bergparadys, het die Limo so saam met Elvis se ‘Don’t be cruel’ die gees begin gee. Rookbolle oral! Miskien was die vrag plus bokse vol wyn te swaar…
Die reis is toe verder voltooi met Johann se 4×4 wat natuurlik net soveel pret was. Ons het later die middag aan die einde van ‘n fantastiese verjaarsdagete met Piet se bakkie die berg af beweeg tot onder in die dorp waar die Limo darem weer rookloos reggestaan het. Toe terug na Stellenbosch , die keer te midde van rustige klaviersonates.
Almal toe stil. Vredig en uitverjaar.
Baie geluk, Marlise!
Ek hoop jy word tot in die afgrond bederf, Marlise. Soene en drukke vir jou.
Ja, baie geluk, Marlise!
Hoor! Hoor! Hoor! Marlise, jy verdien al die lof en waardering en bewondering. Sterk stap vorentoe!
Baie geluk Marlise! Mag die dag en die jare vorentoe gevul wees met vreugde.