Andries Bezuidenhout. Die geskiedenis hou stil waar die voorstede begin

Dis Harry Kalmer wat my van Denis Hirson se bundel Gardening in the dark vertel het. Toevallig loop ek dit nou die dag raak, by die Boekehuis in Aucklandpark, en koop dit dadelik. Ek het Hirson jare gelede in aksie gesien, toe hy uit ander mense se werk voorgelees het met die bekendstelling van sy bloemlesing van Suid-Afrikaanse poësie Lava of this land. Dit bly een van my gunsteling versamelings Suid-Afrikaanse digkuns.

Ek onthou Petra Müller het in ʼn onderhoud genoem dat dit enige digter se droom is om ten minste een reëltjie te skryf wat vir ewig sal bly staan, of só iets. Denis Hirson se s’n, dink ek, kom uit die gedig “The long distance South African”. (Hy noem dit self ‘texts’, eerder as gedigte.) Dit handel oor die arrestasie van sy pa, Baruch Hirson, en hoe dit familie later die land verlaat met sy vrylating uit die tronk. Ek haal ʼn kort stukkie daaruit aan:

It is 1964 and my father is arrested. He neither dies nor is he there. His shadow dents the cushions of every chair. Outside, children dive-bomb swimming pools, dogs barb the air with their din. History stops where the suburbs begin.

ʼn Gewone gedig sou seker met meer tradisionele enjambement gewerk het, om die rym te beklemtoon. Maar die uitleg van die gedig, soos gewone prosa, werk juis vir my, omdat die rym effe meer subtiel ingeweef word. As Agamben beweer dat die enigste verskil tussen prosa en poësie enjambement is, maak hierdie gedig selfs daardie stelling problematies.

History stops where the suburbs begin. Hoe waar is dit nie! Selfs in Suid-Afrika in die 1960s. Miskien verál in Suid-Afrika in die 1960s. Maar nee, dis ook nie so nie, want die geskiedenis hou stil waar die voorstede begin.

Aanhaling uit:

Denis Hirson. Gardening in the dark (Jacana, 2007), p. 8.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •