Andries Bezuidenhout. Ek loop vir Hennie Aucamp in die Tankwa-Karoo raak

Bly in die Tankwa-Karoo Nasionale Park oor. Dis een van Suid-Afrika se nuutste natuurreservate. Huur ʼn ou plaashuis wat alleen op die vlakte staan. Dis doodstil. Skryf iets wat in my kop kom draai neer:

jy’t vir stilte gevra
s
ê die stilte
hoe dan nou
as die stilte jou pla?

Teen sononder pluk ek my kamera uit.

Mooi lig. Later die aand, met ʼn paraffienlamp as lig, lees ek deur die inligtingbrosjures. Dit het die tipiese instruksies wat die bestuurders van sulke reservate insluit: “Dear Guest… We do hope that you enjoy your stay… If you have accidentally broken anything, please be so kind as to report the item at the office and make a payment for replacement…” Ensovoorts.

Maar teen die einde van die inligtingstukke, wat in ʼn plastiekomhulsel is, kom ek op die volgende af:

Drie stemmings in die Tankwa

ʼn Herfsboom staan asof gevoed
Diep, worteldiep, deur grond en bloed
Blaar na blaar ʼn goue vlam
In sidderende Pinkstergroet.

Nagwind

Die nagwind span sy wurgkoord
Om hoeke van my huis
Maar ek sing “Ruwe stormen…”
Hoog bo die swart gedruis

Winterboom

Vlermuise is in blinde vlug deur boom gestuit
En hang nou swart en lapperig,
ʼn laaste najaarsbuit.

Dis natuurlik Hennie Aucamp. Toe ons die sleutel teruggee by die kantoor, vra ek oor die gedigte in die inligtingsbrosjure uit. “Ek het dit ingesit,” sê die vrou agter die toonbank, “sodat mense kan sien dat daar darem al gedigte oor ons verlate plek geskryf is.”

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Ek loop vir Hennie Aucamp in die Tankwa-Karoo raak”

  1. engemi ferreira :

    Sien die juweeltjie nou eers raak, Andries, maar ek glo dit sal hou tot by 24/12/2011: beide jou én Hennie se beelde

  •