
Dit sal die manier waarop jy die internet gebruik, transformeer. Dit sal jou belangstellings, jou vriendskappe en jou tydsbesteding beïnvloed. Veral jou tydsbesteding. Jy sal nooit weer verveeld wees nie. Ek begin nou so ’n bietjie soos ’n Glomail advertensie klink, so ek gaan ophou.
Vroeër vanjaar vra een van my vriende vir my of ek al ge-stumble het. Ja, sê ek. Herhaaldelik. Oor klippe en trappe en slapende honde en my eie voete. Ek het al een van my voortande so verloor. Ek was in graad vier gewees en het na pouse klas toe gehol sonder om te kyk waar my voete trap omdat ek (soos gewoonlik) laat was vir klas. My voortand en selftrots was daarmee heen.
In elk geval, my vriendin verduidelik toe vir my wat sy bedoel het: Sy wou eintlik weet of die webblad www.stumbleupon.com al my lewe getransformeer het. Dié webblad is ‘n ontdekkingsenjin en vorm deel van ’n reeks webblaaie wat as web 2.0-toepassings bekend staan; blaaie wat ’n meer persoonlike webervaring bied deur interaktiewe sistemiese vooroordele, interoperasionaliteit en verbruikersgesentreerde ontwerp fasiliteer, aldus Wikipedia. In mensetaal beteken dit dat web 2.0 ’n lekkerder, makliker en slimmer internetervaring aan die verbruiker bied.
StumbleUpon werk so: Na die gratis registrasie selekteer jy jou voorkeure uit ’n lys van meer as 500 onderwerpe. Hierdie onderwerpe sluit antieke geskiedenis, logika, neurowetenskap, binnenshuise versiering, finansiële beplanning, rekenaarprogrammering, skoonheid, substansmibruik, breiwerk, babas, wyn, Shakespeare, poësie, blues musiek, taalwetenskap, linkshandigheid, vreemde vlieënde voorwerpe en ysskaats in, om maar ’n paar te noem. Na jy jou voorkeure gemerk het, laai jy die toolbar af en dan is jy gereed om te stumble. Wanneer die begeerte jou ook al beetkry, kliek jy bloot op die Stumble-ikoon, waarna StumbleUpon jou na ’n lukrake webblad toe vat wat met jou persoonlike belange verband hou.
Jy kan ook die ontdekkingsenjin fine tune deur die gegenereerde webblad te like of te dislike. Sodoende verhoog jy stelselmatig jou kanse om op webblaaie af te kom wat jou interesseer. Verder kan jy ook ander vriende nooi om deel te word van die StumbleUpon-gemeenskap en daardeur jou gunsteling stumbles met hulle deel. Jy kan selfs by belangegroepe aansluit en nuwe mense ontmoet wat oor dieselfde goed as jy opgewonde raak. As Facebook en Wikipedia ’n kind sou baar, sou haar naam sekerlik StumbleUpon wees.
Voorbeelde van webblaaie wat ek via StumbleUpon ontdek het, sluit die volgende in:
Poetry 180 – ’n Web-weergawe van Billy Collins se projek om poësieliefhebbers in Amerikaanse skole te kweek. Die webblad sluit 180 gedigte in wat op leerders gemik is – een vir elke dag van die skooljaar. Die eerste gedig in die versameling volg onderaan.
Anatomical Theatre – ’n Webblad met ’n groot versameling anatomiese wasmodelle.
The early 1900’s in colour – ’n Artikel op citynoise.org wat ’n reeks kleurfoto’s bevat wat in die vroeë 1900’s deur Albert Kahn geneem is.
Magwords – ‘n Interaktiewe aanlyn weergawe van woord-yskasmagnete. Fantasties!
Musipedia.org – ’n Soekenjin vir daardie irriterende naamlose melodie wat in jou kop draal.
Wees versigtig: StumbleUpon het my amper my graad gekos. Dit is hoogs verslawend en tot dusver het niemand nog met ’n kuur vorendag gekom nie. Ek is in elk geval nie seker of ek genees wil word nie.
Introduction to poetry – Billy Collins
I ask them to take a poem
and hold it up to the light
like a color slide
or press an ear against its hive.
I say drop a mouse into a poem
and watch him probe his way out,
or walk inside the poem’s room
and feel the walls for a light switch.
I want them to waterski
across the surface of a poem
waving at the author’s name on the shore.
But all they want to do
is tie the poem to a chair with rope
and torture a confession out of it.
They begin beating it with a hose
to find out what it really means.
©The Apple that Astonished Paris, 1996.
Pieter, hierdie filmpie op youtube tel onder my gunstelinge. http://www.youtube.com/watch?v=xBi7H_KUKqE