Andries Bezuidenhout. Wat van die Britstown Central Hotel geword het

Britstown is op die grootpad van Kimberley af Kaap toe. ʼn Bietjie verder aan, by Victoria-Wes, sluit die pad by die N1 aan. Hier’s dus baie verkeer wat deur die dorp loop. Ons hou stil vir iets kouds en nat en sommer ʼn vinnige middagete ook. Die Trans-Karoo Lodge, soos die plek genoem word, het ʼn oulike koffiewinkel met goeie koffie en items op die spyskaart wat byvoorbeeld brie insluit, ʼn rariteit in hierdie geweste. Aan die ander kant, vele van die klein dorpies waardeur ons gery het, spog nou met ʼn “deli”.

Die tema van hierdie Lodge, met die koffiewinkel, is duidelik Provence, of die suide van Frankryk. Laventelbosse in die voortuin, ʼn winkeltjie met wyn, houtluike voor die vensters. Dis hoe hulle sommige ou geboue in Johannesburg ook opsoup. Ons is hot & bothered die koffiewinkel in, maar toe begin ek na detail oplet. Eers sien ek die eetgerei op die tafel. Voor my lê ʼn pragtige Art Deco-mes, uit Sheffield nogal.

Hm, dink ek, na ek my koppie koffie en item met brie as bestanddeel bestel het. Ek kyk om my rond. In die hoek, teen die plafon, is ʼn mooi Art Deco-detail.

Dis jammer die eienaars van die Lodge het nie daardie tema ontgin nie. Op een van die messe staan: Britstown Central Hotel. So, hierdie Lodge was eens die Britstown Central Hotel. Ek wonder waar is al die oorspronklike meublement heen. Dit lyk darem of die oorspronklike vensterknippe nog hier is.

Ek gaan stap ʼn bietjie deur die Lodge, voorheen bekend as ʼn Hotel, en kom op hierdie pragtige traprelings af. Vintage Art Deco. Ook die trappe self is pragtig. Gelukkig is dit nie onder matte versteek nie.

Buite die Lodge, voorheen Hotel, staan nog een palmboom. Plattelandse Art Deco-hotelle het standaard met twee palmbome uitgekom. Die een moes lankal gesneuwel het.

Die eienaars het ook die vooraansig probeer verander met die toevoeging van luike en ʼn balkon, om die provinsiale Deco-gebou Provensaal te maak. Helaas!

Wat maak ʼn mens van hierdie ombouing? Ek leer om minder pedanties te wees. ʼn Mens moet met suboptimale keuses kan saamleef. As die Provensialisering van die gebou van algehele verval red en darem nie van die traprelings ontslae raak nie, kan die oog verby dit alles kyk en nog die Britstown Central Hotel oproep, met pastelkleure en ʼn Art Deco kroegtoonbank. Maar dan weer, in daardie tyd was daar ʼn bordjie teen die kroegdeur:

“Slegs Blankes Whites Only”

Ek wonder of hulle daarvoor ook ʼn Art Deco lettertipe gebruik het?

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Wat van die Britstown Central Hotel geword het”

  1. Chris Ludick :

    Dankie Andries dat jy my geboortedorp op die map plaas. Hoe onthou ek die “slegs blanke” aanwysings. Ek was nou onlangs daar vir ‘n begrafnis en het in die nou Trans – Karoo Lodge gebly. Die prys is net R140 per persoon sonder etes.

    Die vriendelikheid van die personeel was ‘n bonus veral omdat ek omtrent vir almal uitsluitend Riaan (bestuurder – eienaar) en sy vrou skool gehou het. Hulle’t afval ook bedien. Ek het ook jou skrywe oor Vosburg geniet. Ek lees elke dag wat julle hier skryf en vermag!

  2. Andries Bezuidenhout :

    Chris, en die Trans-Karoo Lodge se koffie is regtig goed. Blykbaar van Nederland, maar ek skat die bone kom van elders.

  •