Die afgelope maande lees ‘n mens dikwels op die internet van die ontsteltenis rondom verskeie Europese regerings se besnoeiing aan kulturele-begrotings. Luidens ‘n berig op The Guardian se webtuiste wil dit nou voorkom asof die Britse regering ook begin het om dié afskaling van subsidie ten gunste van kultuurprojekte toe te pas.
Die eerste slagoffer hiervan blyk Booktrust, ‘n onafhanklike organisasie wat as oogmerk het om ‘n liefde vir lees onder kinders deur middel van gratis boekpakkies te vestig. Die subsidie op al drie hul programme, Bookstart, Booktime en Booked Up, is opgeskort. Vir die Britse regering beteken dit ‘n besparing van £13 miljoen.
Viv Bird, hoofbestuurder van Booktrust, het gesê dat sy “immensely surprised and disappointed” is met dié besluit en bygevoeg dat gesinne, onderwysers, bibliotekarisse, uitgewers “and many others up and down the country” haar ontsteltenis deel. Volgens The Guardian se beriggewer is Booktrust se doelwitte soos volg: “The charity’s aim is to give everyone the chance to experience what it calls “the delight and power of books and the written word” regardless of income, literacy skills, disability or culture.” Verdermeer is die £13 miljoen subsidie aangewend om ‘n verdere £56 miljoen aan borgskappe en donasies van die uitgewers bedryf en ander korporatiewe vennote te bekom.
Michael Rose, ‘n voormalige kinderboek laureate, het hom soos volg oor dié aangeleentheid uitgelaat: “All they [the government] can talk about are teaching methods. They are not interested in actually putting books into children’s hands. Their idea of education is instruction, top down; they’e not prepared to acknowledge the power of reading for pleasure, even though research shows how much it helps children to achieve at school.”
Nou ja, toe. Hierdie is seker maar net nóg ‘n manier waarop jy kultureel gesproke bankrot kan speel. Gelukkig het ons hier ter plaatse nog nie sulke probleme nie, aangesien ons eie regering nog nie die wenslikheid van leesbevordering as prioriteit kon eien nie. Of wat praat ek nou?!
***
Sedert gister het daar nuwe inskrywings deur Andries Bezuidenhout en Pieter Odendaal bygekom. Andries vertel van die hotel op Britstown, terwyl Pieter dit weer het oor ‘n besonder opwindende internet-inisiatief. By Wisselkaarten het Ester Naomi Perquin ‘n stuk geplaas oor die poësie wat sy saam geneem het na die eiland waar sy ‘n tyd lank in afsondering moes deurbring.
Ten slotte – Andries Bezuidenhout se fotobeeld is ook gister geplaas.
Pure lekkerte, dit alles.
Mooi bly.
LE