Synde die eerste Nuuswekker vir die nuwe jaar is dit seker nie onvanpas om ietsie oor debutante kwyt te raak nie. So het daar juis in die nuutste uitgawe van Tirade verlede maand ‘n artikel oor ‘debutantenzorg’ deur Nico Dros verskyn. Met reg spreek hy sy kommer uit oor die groot aantal debute wat elke jaar in die Nederlandstalige en Vlaamse letterkundes verskyn; dikwels met belemmering ten opsigte van hul blootstelling en ook erkenning.
Dros vermoed dat die situasie tans benadeel word deur ‘n ooraanbod van debute. Hy verwys byvoorbeeld na die dekade direk na die Tweede Wêreldoorlog toe daar maar 70 titels in totaal per jaar in Nederland verskyn het. Tóé was dit vir alle beroepslesers en kommentators moontlik om relatief maklik op hoogte te kon bly met die totale literêre produksie. “Vandaag is zoiets ondenkbaar. Daarvoor is de stroom boeken te groot. Er is geen criticus die nog kan pretenderen een volledig overzicht van het huidige literaire landschap te hebben. En het zou ook onredelijk zijn om dat nu nog van iemand te verlangen. Maar de beroepslezer kan de literaire boel natuurlijk niet gewoon op zijn beloop laten. Critici moeten een keuze maken, een hiërarchie vormen, een voorlopige canon vaststellen.”
Hierdie seleksie ten gunste van kanonisering geskied natuurlik aan hand van die skrywer se reputasie (wat nie noodwendig met die betrokke teks te make het nie), die uitgewer en die gepaardgaande aanbod van die boek deur middel van flapteks en meegaande reklamemateriaal. Publikasies – veral dié van debutante – wat nie genoegsame ‘woelinge’ veroorsaak nie, ontvang dus in die meeste gevalle net ‘n sydelingse kyk op die media se boekblaaie waar die druk op beperkte ruimte reeds enorme druk op die boekredakteurs plaas: “In deze chaotische literaire omgeving is het debuut extra kwetsbaar. Het wordt steeds moeilijker een titel van een nieuwe auteur zichtbaar te maken in de media, en daarmee ook voor de boekhandel.”
En ja, natuurlik is dit iets waarop ons bedag moet bly in ons eie situasie. Die afgelope jare vorm debuutbundels ‘n indrukwekkende 15 – 20% van ons totale poësieproduksie en dit is veral die gevestigde uitgewers wat hier ‘n pluimpie verdien vanweë die waagmoed wat hulle so dikwels aan die dag lê met die uitgee van nuwe digters. Voorts lewer voetsoolpublikasies soos Nuwe Stemme, studentepublikasies (Penseel, byvoorbeeld) en natuurlik die Versindaba-fees, belangrike bydraes om ontluikende digters aan die poësieliefhebber bekend te stel. Trouens, daar verskyn waarskynlik min bundels van digters wat nie reeds aan die poësieliefhebber bekend is nie. Eweneens speel die indrukwekkende aantal skryfskole aan universiteite en bekwame uitgewers-redakteurs ‘n bepalende rol in die voorbereidende skoling van ‘n nuwe digter.
Dít alles in ag genome skep ‘n gunstige klimaat ten opsigte van ontvangs én blootstelling.
Laat ons dus dankbaar hande klap en uitsien na al die nuwe toevoegings tot ons digkuns vanjaar. Reeds weet ek van drie debutante en ook verskeie bundels deur ons meer gevestigde digters wat binne enkele maande op die rakke gaan wees. Met ‘n rits indrukwekkende publikasies gaan hierdie jaar myns insiens ‘n gróót een vir ons digkuns wees.
***
In aansluiting by bogenoemde plaas ons graag die omvattende oorskouing van verlede jaar se poësie-produksie deur Joan Hambidge. Aan die blogkant van sake is daar nuwe bydraes ontvang deur Marlies Taljard en Andries Bezuidenhout, terwyl daar in die verskamers ‘n nuwe klompie gedigte deur Fanie Olivier geplaas is.
Ten slotte kan jy gerus by Essays gaan inloer waar ‘n bydrae deur Charl-Pierre Naudé geplaas is. Die titel van sy essay is “Mistastings oor taal bedreig Afrikaans se oorlewing” en dit het vroeër as rubriek in Beeld verskyn.
Lekker lees en mag die eerste week van die nuwe jaar ‘n plesierige een wees.
Mooi bly.
LE