Ek luister Steve Earle se Sidetracks in die kar, ʼn versameling songs wat deel was van ander projekte. Een waarna ek terugkeer is “Ellis Unit One”, ʼn lied wat hy vir die film Dead Man Walking geskryf het. Dis geskryf vanuit die oogpunt van ʼn tronkbewaarder, wat later in sy loopbaan betrokke raak by die teregstelling van gevangenes in Ellis I Unit, ʼn tronk in Texas waar die doodstraf toegepas is. Sy pa en oom was ook tronkbewaarders.
Well, my daddy used to talk about them long nights at the walls
And how they used to strap ‘em in the chair
The kids down from the college and they’d bring their beer ‘n all
And when the lights went out, a cheer rose in the air
Daar’s gereeld debatte oor die doodstraf in Suid-Afrika, met die oorgrote meerderheid van mense in die land wat dit ondersteun. Ek is daarteen gekant, maar om een of ander rede voel ek soms nie lus om argumente daarteen te voer nie.
Well, folks just got too civilized
Sparky’s gatherin’ dust
‘Cause no one wants to touch a smokin’ gun
And since they got the injection
They don’t mind as much, I guess
They just put ‘em down at Ellis Unit One
Brixton Barnard, die baskitaarspeler in ons band, die Brixton Moord & Roof Orkes, het ook onlangs ʼn liriek oor die doodstraf geskryf. Maar dit handel oor Suid-Afrika, waar gevangenes van verskillende “rasse” aan dieselfde balk gehang het, maar na aparte begraafplase heen gestuur is; Laudium, Mamelodi en Eersterus, afhangende van die lyk se rasseklassifikasie.
Well, I’ve seen ‘em fight like lions, boys
I’ve seen ’em go like lambs
And I’ve helped to drag ‘em when they could not stand
And I’ve heard their mamas cryin’ when they heard that big door slam
And I’ve seen the victim’s family holdin’ hands
Ek onthou die slag toe ek deur die polisie onder arres geplaas is. “Hoekom bevraagteken julle die polisie?” het die polisieman in my gesig geskree: “Waar kom hierdie ding vandaan dat julle die polisie bevraagteken?” Op die vloer, agter die aanklagkantoor se toonbank, het my vriend Frank gelê, bewusteloos.
Last night I dreamed that I woke up with straps across my chest
And something cold and black pullin’ through my lungs
Even Jesus couldn’t save me though I know he did his best
But he don’t live in Ellis Unit One
Liriek uit “Ellis Unit One”, deur Steve Earle, op Sidetracks, 2008