Rainer Maria Rilke se vyfde Orpheus Sonnet, Deel 11, en Johann de Lange se omdigting.
Cas Vos
Rainer Maria Rilke verbind ʼn reeks sonnette met Orpheus wat sleutels bied om die sonnette te ontsluit. Rilke se sonnette is rondom die Orpheus legende gebou. Die legende is reeds deur hom benut in sy voortreflike Orpheus. Eurydike. Hermes in sy Neue Gedichte (Gedichte 1895 bis 1910) (Rilke, 1996:500-503). Johann de Lange het in sy bundel Wordende naak (1990:25) ʼn Sonnet aan Orpheus met erkenning aan Rilke geskryf.
Hiermee word ʼn deur oopgemaak om op die Orpheus mite te let, en veral op die sonnette van Rilke en de Lange.
Die mite van Orpheus is moontlik (wie weet?) gebaseer op ʼn werklike historiese figuur, naamlik ʼn Trasiese volgeling van die kultus van Dionisius. Die Orpheus mitologie speel ʼn belangrike rol in die verstaan en ervaring van die leefwêreld van die Grieke; veral ook in die beeldhou en skilderkuns (byvoorbeeld Jacopo del Sellaio). Bepaalde kunsvorme strek so ver terug as 470 vC (Bertram, 2005:171). In die musiek is Orpheus verewig deur Jacques Offenbach se komposisie Orphée aux enfers waarvan die première op 21 Oktober 1858 plaasgevind het (Schonberg, 1997:320).
Orpheus is in die Griekse mitologie ʼn beroemde sanger en siterspeler uit Trasië. Hy was die seun van die Muse Kalliope en Apollo (of van die stormgod Oriagros). Met die sjarme van sy musiek het hy wilde diere, bome en selfs klippe aangetrek. Volgens die legende was hy getroud met Euridike, wat later deur ʼn slang gebyt is en gesterf het. Orpheus het dikwels na die onderwêreld gegaan om vir haar terugkeer na die aarde te bemiddel. Hy het Pluto en Persefone, die beskermers van Hades, só met sy musiek bekoor dat hy hulle oorreed het om haar vry te laat. Daar was egter een voorwaarde: hy moes nie (soos Lot se vrou) langs die pad na die bo-wêreld kyk nie. Orpheus het vir ʼn oomblik die voorwaarde vergeet, en na Eurydike gekyk. Hierna is sy vir altyd na die onderwêreld verban.
Orpheus is later deur Bacchante aangeval en verskeur. Een verklaring bied ʼn motief vir die moord deur te beweer dat hy met die vroue se godsdiens ingemeng het; ʼn ander verklaar dit was die wraak van die vroue vir die verbitterde vrouehaat van die sanger omdat hy vir altyd van sy geliefde geskei was. In variasies van die legende blyk dit dat Orpheus se lier onvernietigbaar was, en dat sy kop al pratende op die Hebrus rivier gedryf het totdat dit ten laaste in Lesbos begrawe is. Sy lier is as sterrebeeld aan die hemel geplaas. Op ouer monumente is Orpheus afgebeeld in ʼn Oosterse gewaad met ʼn Frigiese mus, en later in ʼn Griekse gewaad met ʼn lier (Van Reedt, 1994:192; Bertram, 2005:171-173. Vgl. ook Marskschies, 2005:227-253 en Geerlings, 2005:254-267).
Die sonnette van Rilke is ten diepste gedigte van invokasie, hoewel daar duidelike spore van ʼn “diskoers” is (Cohn, 2000:8). Die lees van die gedigte maak dit duidelik dat Rilke hom ten dele met Orpheus identifiseer, terwyl Vera in die skaduwee van Euridike staan (Cohn, 200:8). Dit sou ʼn afsonderlike artikel vra om na te gaan in watter mate de Lange homself met Orpheus identifiseer in sy ander Orpheus gedigte (vgl Nagsweet). Ek het my vermoedens, maar vir eers dit eenkant gelaat.
Ek gee in die gesprek aandag aan Rainer Maria Rilke se Sonnet V, en Johann de Lange se sonnet uit Wordende naak (1990). De Lange gee erkenning aan Rilke deur sy onderskrif.
Rilke se sonnet, asook die een van de Lange, bestaan uit ʼn oktaaf (twee kwatryne) en ʼn sestet ( twee tersines). Ten opsigte van die struktuur van die twee sonnette val dit dadelik op dat de Lange dieselfde rymskema as Rilke volg, behalwe in die eerste strofe. De Lange se eerste strofe volg die rymskema a-a-a-a, terwyl Rilke s’n ʼn a-b-a-b rympatroon het. Die tweede, derde en vierde strofes het die volgende rympatroon: a-b-a-b, a-b-a en a-b-a. Die aantal lettergrepe in die verskillende strofes verskil ook by de Lange in vergelyking met Rilke s’n. Moontlik benut de Lange die eerste kwatryn die a-a-a-a rymskema om deur middel van klank (oo) aan te dui hoe die lig die “die moer instroom”. Die woord “luid” in die vierde reël van die eerste kwatryn versterk die klankmatigheid daarvan. Hiermee word die krag waardeur dit gebeur ook verbeeld.
Die aantal lettergrepe wat Rilke gebruik, wissel tussen nege en tien. Dit is nie by de Lange die geval nie, dit hoef ook nie te wees nie. Wat wel opval, is dat de Lange se laaste tersine uit drie reëls van nege lettergrepe bestaan. Die oogmerk is nie hier om die sonnette tel-tel te ontleed en te vergelyk nie, maar om te wys op die noukeurigheid van die komposisie en die funksionaliteit van albei sonnette. By Rilke sowel as de Lange se omdigting is die ryme dodelik akkuraat en dit laat die leser die wonder van poësie beleef.
Hierdie Rilke sonnette is die begin van sy drie blom gedigte. Op die anemoon sonnet volg een oor die roos en dan word die reeks afgesluit deur ʼn sonnet oor blomme. Ek vind dit jammer dat de Lange nie ook die volgende twee blom sonnette omdig het nie. Miskien moet hy dit tog oorweeg.
Die sonnet van Rilke wat hier ter sprake is, is op 15 Februarie 1922 geskryf (Engel et al, 1996:748). Die sonnette aan Orpheus is deur Rilke opgedra aan Vera Ouckama Knoop, die dogter van een van sy vriende, wat op negentien jarige ouderdom in 1919 aan leukemie dood is. Ironies is Rilke ook op 29 Desember 1926 onder die aanslag van leukemie dood (Cohn, 2000:7). Die sonnette het ʼn besondere openheid en ligtheid, ʼn wind waai deur hulle en die lug is vars vir die asem (Cohn, 2000:5). Rilke slaag daarin om uit homself te beweeg deur middel van die sonnet buite homself te kyk en die ander in sy skoonheid en broosheid raak te sien.
Wat in die sonnette opval, is die verganklikheid en kortstondigheid van ʼn mens se lewe. Op 26 Junie 1914 het Rilke aan Lou Andreas-Salomé geskryf: “Ek is soos die klein anemoon, wat ek eenmaal in Rome in ʼn tuin gesien het. Hulle het bedags so groot oopgevou dat hulle saans nie meer kon toemaak nie. Dit was ʼn verwondering om hulle in die donker grasvlakte te sien, wydoop, steeds nog ontvangend in die oopgesperde kelk, met die drywende nag oor hulle. Ek het so heilloos na buite gegaan” (Engel et al, 1996:748-749).
Inhoudelik is de Lange se sonnet van dieselfde stramien as dié van Rilke gebou. Hy volg die patroon en metaforiek van die Rilke sonnet noukeurig. Die slotstrofe is verrassend: van die anemoon word daar na die mens oorbeweeg. Die eie aard van die anemoon is sy oopheid na bo en buite. Dit kan in gedeeltelike koelte, maar ook in die helder son wees. Moeiteloos ontvang hy. En dan die teenstelling met die mens.
Die beweging is nie gunstig vir die mens nie. Die bestaan van die mens is eerder in teenstelling met dié van die anemoon. “… hou langer”. En dan volg de Lange se siniese en snydende vraag:
“Maar wannéér, in watter soort bestaan,
is elk oplaas oop, & ontvanger?”
Dit is byna ʼn noodkreet na ʼn ander tyd én bestaan. ʼn Versugting dat elk uiteindelik oop, en ontvanger soos die anemoon sal wees. Die anemoon is ook volgens Rilke die besluit en krag van soveel wêrelde (laaste reël van derde strofe). Maar nou is dit nie só nie. De Lange se slotreël verskil van Rilke s’n. De Lange se vraag gaan oor die “elk” om oplaas oop en ontvanger te wees. Volgens de Lange was dit die erotiese aspek van die anemoon/anus, verál versterk deur die slotstrofe wat hom in die eerste plek na dié spesifieke sonnet aangetrek het. Hierdie insig van de Lange versterk net die siening dat omdigting tot ʼn eietydse skepping kan lei.
Rilke se vraag is wanneer is ons uiteindelik oop en ontvanger. De Lange plaas net ʼn ander aksent as Rilke deur die onpersoonlike vorm te kies, terwyl Rilke die eerste persoon meervoudsvorm kies. Ek sou in die lig van die komposisie van die laaste strofe vir Rilke se “ons” kies. “Ons” kom drie keer in dié strofe by Rilke voor.
Dit is boeiend hoe ʼn omdigting die aard en geaardheid van die oerbron kan bewaar, en tog iets eietyds byvoeg. Op dié wyse word die gesprek tussen die traditio (dit wat oorgelewer is) en die eietydse omdigting voortgesit en verryk.
Bronnelys
Bertram, T. 2005. Das grosse Buch der Griechischen Mythologie. Thames & Hudson: London.
De Lange, Johann. 1990. Wordende naak. HAUM-literêr: Pretoria.
Geerlings, W. 2005. Orpheus in der vorkonstantnischen griechisshen Theologie, in Von Haehling, R. (red.), Griechische Mythologie und fruhes Christentum. Wissenschaftliche Buchgesellscahft: Darmstadt.
Markschies, C. 2005. Odysseus und Orpheus – christlich gelesen, in Von Haehling, R. (red,), Griechische Mythologie und fruhes Christentum. Wissenschaftliche Buchgesellschaft: Darmstadt.
Rilke, Rainer, Maria. 1996. Gedichte 1895 bis 1910. Engel, M. et al. Insel Verlag Frankfurt am Main und Leipzig: Regensburg.
Rilke, Rainer, Maria. 1996. Gedichte 1910 bis 1926. Engel et al. Insel Verlag Frankfurt am Main und Leipzig: Regensburg.
Rilke, Rainer, Maria. 2000. Sonnets to Orpheus with Letters to a Young Poet. Translated by Stephen Cohn. Carcanet: Manchester.
Schonberg, H.C. 1997. The lives of the great composers. Norton & Company: New York, London.
Van Reedt, A. 1994. Orfeus, in Ensiklopedie van die Mitologie. Vlaeberg Uitgewers: Vlaeberg.
Cas, baie dankie hiervoor. Alle gebreke in die vertaling is, soos altyd, vir my rekening. My enigste verweer is dat my begrip van Rilke hopeloos ontoereikend was. Sy sonnette aan Orfeus is steeds ‘n byna onbegryplike prestasie & ek hoop iemand wat Rilke se Duits magtig is gee vir ons hierdie sonnette in Afrikaans.
Nes ek hoop iemand kan Lorca se sonnette van die donker liefde ook in Afr vertaal. Ek het dikwels vir Sheila gevra, maar dan het sy altyd gesê sy Spaans is te moeilik. Die dialek vir haar ondeurgrondelik.
Vir jou leesgerief volg die betrokke vers hieronder in drie tale: eers Johann de Lange se vers, gevolg deur Rilke se oorspronklike in Duits en daarna soos dit in die Engels vertaal is deur ene H. Landman.
SONNET AAN ORPHEUS
Rainer Maria Rilke
Spierblom wat die anemoon
met die veldlumier sloom
open tot die lig polifoon
luid die moer instroom,
in die blom-ster stil gespan,
spier wat eindeloos ontvang,
dikwels so volkome oorbeman
dat selfs die sonsondergang
skaars die oopgespreide blom-
blaarrande toe laat gaan:
jy, wat soveel wêrelde besluit en som!
Ons, geweldenaars, ons hou langer.
Maar wannéér, in watter soort bestaan,
is elk oplaas oop, en ontvanger?
(c) Johann de Lange (Uit: Wordende naak, 1990: Haum-Literêr)
Blumenmuskel, der der Anemone
Wiesenmorgen nach und nach erschließt,
bis in ihren Schooß das polyphone
Licht der lauten Himmel sich ergießt,
in den stillen Blütenstern gespannter
Muskel des unendlichen Empfangs,
manchmal so von Fülle übermannter,
daß der Ruhewink des Untergangs
kaum vermag die weitzurückgeschnellten
Blätterränder dir zurückzugeben:
du, Entschluß und Kraft von wieviel Welten!
Wir Gewaltsamen, wir währen länger.
Aber wann, in welchem aller Leben,
sind wir endlich offen und Empfänger?
c) Rainer Maria Rilke
Flower-muscle, that opens the anemone
meadow-mornings little by little,
until the light of heaven’s loud polyphony
pours into its womb of petals,
in the flower-aster’s silence,
tense muscle of endless receiving,
sometimes overcome by such abundance,
that the sleep-sign of evening
is hardly able to give the widely-sprung
petal-edges back to you, then:
you, so many worlds’ power and directive!
We last longer, we the violent ones.
But in which of all our lives, oh when,
will we at last be open and receptive?
c) Rainer Maria Rilke (vertaling: H. Landman)