Pieter Odendaal. Metafore as die katalisators van visioenêre versinsels – ‘n finalejaarsopstel

Paul Ricoeur

Paul Ricoeur

Ricoeur is een van my gunsteling kontinentale filosowe omdat hy enersyds dié ouens se kenmerkende poëtiese skryfstyl en voorliefde vir allesomvattende teorieë deel en andersyds hul dikwels ongegronde veralgemenings met ‘n analitiese noukeurigheid uitbalanseer.Verlede jaar moes ek ‘n filosofie-opstel vir Dr. Louise du Toit skryf oor Ricoeur se idees oor metafore en dit op ‘n spesifieke gedig toepas. Ek het Breytenbach se onvergeetlike “nagmaal” uit Die ysterkoei moet sweet gekies. Gister kom ek toe weer op die opstel af en as gevolg van my jeugdige waagmoed en ‘n gebrek aan idees vir ‘n nuwe blog het ek besluit om dit hieronder te plaas.

Metafore as die katalisators van visioenêre versinsels: ‘n Ondersoek na Ricoeur se opvatting rakende die hermeneutiese belang van metafore

Hierdie opstel sal poog om te wys waarom metafore as die “katalisators van visioenêre versinsels” herbeskryf kan word deur Ricoeur se opvatting rakende die hermeneutiese belang van metaforiese taalgebruik uiteen te sit. Die onderskeid tussen semantiek en semiotiek sal as ‘n wegspringpunt dien om Ricoeur se taalfilosofie in voëlvlug te behandel waarna die voorregsposisie wat hy aan die gebruik van metafore binne taal toeskryf, ondersoek sal word. Die bespreking sal deurgaans toegelig word met verwysings na Breyten Breytenbach se gedig “nagmaal”.

Volgens The Oxford Companion to Philosophy is semiotiek “[the] general theory of signs” (2005: Sv. ‘semiotics’), terwyl semantiek verstaan word as “the general study of the interpretation of signs, and in particular the interpretation of the sentences and words of languages” (The Oxford Companion to Philosophy 2005: Sv. ‘semantics’). Vir Ricoeur verteenwoordig semiotiek en semantiek twee verskillende benaderings tot taal. Hierdie onderskeie benadering behels die volgende:

Ricoeur definieer semiotiese entiteite as tekeneenhede, as blote “distinctive and oppositive units within specific systems: phonemes within phonological codes, morphemes or sememes within lexical codes, syntactic forms of rules within syntactic systems” (1991: 66). Hierdie tekeneenhede word slegs op grond van hul verskille tot ander elemente in die onderskeie sisteme gedefinieer en hou geen verband met ‘n buite-linguistiese werklikheid nie – hulle funksioneer slegs intralinguisties. Verder beklemtoon Ricoeur dat daar ‘n eindige hoeveelheid tekeneenhede is omdat die onderskeie tekensisteme geslote is en dat die tekeneenhede van spesifieke kombinatoriese reëls gebruik maak om ander tekeneenhede te vorm. So word ‘n handjievol foneme byvoorbeeld ingespan om leksikale eenhede te vorm. Soortgelyke beperkings geld vir die leksikale en sintaktiese semiotiese sisteme (Ricoeur 1991: 66).

Aan die ander kant definieer Ricoeur semantiese eenhede as die betekenisdraers van taal. Die kleinste semantiese eenheid is nie die morfeem of die woord nie, maar die sin (Ricoeur 1978: 135). So lank as wat woorde in woordeboeke skuil, is hulle bloot leksikale entiteite wat deel uitmaak van ‘n semiotiese sisteem. Hulle verkry eers betekenis wanneer hulle as die logiese subjekte of predikate van ‘n proposisie funksioneer (Ricoeur 1991: 69). Hierdie semantiese eenhede vorm dan ook die boublokke van diskoers, waar diskoers verstaan word as unieke en konkrete taalgebeurtenisse wat binne spesifieke kontekste plaasvind. Beide dialogiese situasies en geskrewe tekste word deur Ricoeur as diskoers geklassifiseer, siende dat sinne die boublokke van beide vorm. Voorts identifiseer hy vier eienskappe van diskoers, by name diskoers as gebeurtenis, diskoers as ‘n versameling proposisies, diskoers as handeling en diskoers as betekenisvolle taaluitinge met verwysing (1978: 136-137).

Eerstens is diskoers ‘n gebeurtenis wat, anders as die blywende semiotiese sisteme van taal, verskyn en verdwyn. Diskoers het ‘n vervlietende aard, maar kan terselfdertyd as dieselfde gebeurtenis heridentifiseer word. Tweedens bestaan diskoers uit sinne wat deur ‘n proposisionele struktuur gekenmerk word, naamlik ‘n “inner opposition between a pole of singular identification […] and a pole of general predication” (1978: 136). ‘n Sin uit Breytenbach se gedig sal hierdie eienskap goed illustreer: “jou ribbe dy en trek” (r. 7 – Sien Addendum). Hier is “jou ribbe” die subjek, of die “pole of singular identification”, terwyl “dy en trek” die predikaat, oftewel die “pole of general predication” is. Die aangesprokene se ribbe is ‘n spesifieke entiteit, terwyl die “dy en trek” ‘n aksie is wat ook op ander subjekte van toepassing gemaak kan word en daarom algemeen is. Die derde eienskap van diskoers behels dat dit ‘n handeling is. Diskoers bestaan nie net uit proposisies nie, maar ook uit intensies agter hierdie proposisies. Die spreker van die gedig konstrueer nie net proposisies nie, hy wil ook iets met die proposisies bereik (meer oor die doel van poëtiese tekste later). Laastens word diskoers ook gekenmerk deur betekenis (“sense”) en verwysing (“reference”). Die betekenis van ‘n sin lê vir Ricoeur in die “immanent design of discourse” (dit wat gesê word), terwyl die “verwysing” van ‘n sin die vermoë is om na ‘n ekstralinguistiese werklikheid te verwys (1978: 137).

Uit die bogenoemde bespreking is dit duidelik dat diskoers altyd ‘n kontekstuele gebeurtenis is. Hierdie konteks waarin taaluitinge plaasvind behels vir Ricoeur die volgende: “[It] is not only the linguistic environment of the actual words, but the speaker’s and the hearer’s behaviour, the situation common to both, and finally the horizon of reality surrounding the speech situation” (1991: 70). Ons sal later sien wat hierdie konteks behels as dit by die lees van ‘n gedig kom wat besaai is met metaforiese taalgebruik. Vir nou is dit voldoende om die volgende te besef: Aangesien diskoers gekenmerk word deur die uniekheid van die konteks waarbinne dit plaasvind en die kontekste waarbinne diskoers kan plaasvind volgens Ricoeur onuitputbaar is (1991: 69), kan diskoers as die oneindige gebruik (die semantiese eenhede) van beperkte middele (die semiotiese entiteite) beskryf word (Ricoeur 1991: 65).

Ricoeur verkies ‘n semantiese analise van taal omdat dit hom in staat stel om die belang van metafore te ondersoek. Indien die kleinste semantiese eenheid die sin is, beteken dit dat metafore slegs in die konteks van ‘n sin betekenis verkry en dat ons daarom metafore as deel van diskoers moet klassifiseer. Hierdie klassifikasie roep egter twee belangrike vrae op, naamlik hoe metafore beteken en waarna metafore verwys.

Die eerste vraag is die vraag na die verklaring van metafore. As antwoord hierop beskou Ricoeur verskillende modelle waarvolgens metafore beteken. In die tradisionele retoriek word metafore bloot beskou as proposisies waar sekere woorde met ander vervang is. Volgens hierdie model sal Breytenbach se metafoor “die wimpers [is] die heinings om die geslote kloosters van die kykers” (rr. 2-3) bloot oorgeskryf kan word as “die wimpers is daardie liggaamsdeel wat om die oë voorkom” (of iets in dier voege) sonder enige betekenisverlies. Hierdie retoriese model vereis ook nie dat die basiese eenheid van betekenis die sin is nie, omdat die vervanging van woorde oënskynlik geen verlies aan betekenis tot gevolg het nie. Ricoeur maak sterk beswaar teen hierdie teorie en kontrasteer dit met I.A. Richards se sogenaamde “tension theory”. Op grond van dié teorie is metafore slegs betekenisvol as proposisies (en is hulle betekenis daarom slegs terug te vind in die konteks van die sin as ‘n geheel) en onstaan die metafoor as ‘n eenheid tussen die “tenor” en die “vehicle” (in hierdie geval die “wimpers” en die “heinings om die geslote kloosters van die kykers”). Die metafoor kan dus nie gereduseer word tot ‘n blote vervanging van woorde nie, omdat die metafoor onstaan in die spanning, die wisselwerking tussen die “tenor” en die “vehicle”.

Hierdie spanning tussen die “tenor” en die “vehicle” van die metafoor onstaan as gevolg van afwykende predikasie, dit wil sê ‘n afwyking van die logiese verband tussen die logiese subjek (“vehicle”) en predikaat (“tenor”) van ‘n proposisie wat veroorsaak dat die letterlike betekenis van die proposisie ineenstort (Voetnota 1). Om weer Breytenbach as ‘n voorbeeld te gebruik: Die metafoor van wimpers as die “heinings om die geslote kloosters van die kykers” bied weerstand daarteen om letterlik geïnterpreteer te word. ‘n Mens wil amper vra: “Hoe kan wimpers heinings wees? En hoe is oë kloosters?” Bogenoemde ongemaklikheid wat ontstaan by die verstaan van metafore noem Ricoeur ‘n “violation of the code of pertinence” (Degenaar 1992: 69). Hierdie soort gepastheidsoortreding dwing die leser om óf by die letterlike betekenis van beide logiese subjek en predikaat te hou en sodoende die metafoor onsinnig te verklaar, óf om die logiese absurditeit op te los deur ‘n nuwe betekenis aan die subjek toe te voeg en sodoende die metafoor te verduidelik (Ricoeur 1978: 141). Hier sien ons dus reeds hoe metafore in hul oënskynlike logiese absurditeit as katalisators optree wat ons aanspoor om hul betekenis elders as in die letterlike betekenis van die proposisie na te volg.

Ricoeur voer aan dat Max Black en Beardsley se konsepsie van ‘n “system of associated commonplaces”, oftewel die “range of potential connotations” van woorde, reeds help om die werking van nuwe metafore te verklaar. Breytenbach se metafoor “die ruiker van jou nek” (r. 24) sal as ‘n voorbeeld vir die bespreking dien. Volgens Black en Beardsley se modelle besit die predikaat ‘n “system of associated commonplaces” waaruit die leser ‘n konnotasie kies, waarna sy hierdie konnotasie toevoeg tot die reeds bestaande konnotasies van die subjek. Die konnotasies wat aan die predikaat kleef, dien daarom as ‘n soort kollig: “This implication-system […] does not only select, but brings forward aspects of the principal subject” (Ricoeur 1978: 140). Die betekenis van die metafoor ontstaan dus in die interaksie tussen die predikaat en die subjek. Toegepas op Breytenbach se gedig, werk die proses as volg: die konnotasies van “ruiker” behels, onder andere, om lekker te ruik en om lewendig te wees, en om slegs ‘n kort leeftydperk te hê. Deur hierdie konnotasies toe te voeg tot die konnotasies van die subjek, kan die leser oënskynlik die metafoor verklaar: “die ruiker van jou nek ” beteken dat die aangesprokene se nek lekker ruik en dat die aangesprokene kortstondige sal lewe.

Ricoeur keur hierdie interaksie-teorie van metafore goed omdat dit die informatiewe aard van nuwe metafore erken en sodoende erken dat metafore nie bloot verklaar kan word deur sekere woorde met ander te vervang nie (Ricoeur 1978: 140). Hy het egter steeds ‘n probleem met die feit dat metaforiese taalgebruik op grond van bostaande teorie nie as kreatief beskou word nie aangesien die metafoor geen nuwe betekenis skep nie – die konnotasies van “ruiker” word bloot getransponeer na die konnotasies van “jou nek”.

Ricoeur sou beweer dat ‘n metafoor soos “jy is ‘n vlinder van trillende lig” (r. 13) nie volkome verklaar kan word deur bloot na die reeds-bestaande konnotasies van die predikaat “‘n vlinder van trillende lig” te verwys nie. Volgens hom skep ‘n nuwe metafoor (soos die bogenoemde een) ‘n nuwe semantiese situasie deur ‘n “specially constructed system of implication” te skep (Ricoeur 1991: 78). Die konnotasies van die predikaat word steeds gebruik om hierdie sisteem van implikasie te skep, maar die betrokke sisteem van implikasie word ook ingespan om ‘n nuwe eienskap aan die subjek toe te ken, sodat ‘n nuwe metafoor nie slegs ‘n potensiële konnotasie van die predikaat in die subjek aktualiseer nie (Ricoeur 1991: 79), maar ‘n totaal nuwe betekenis aan die subjek toevoeg: hierdie eienskap van die subjek het tot dusver geen status in taal as sulks gehad nie (1978: 142).

‘n Nuwe metafoor is hierom ‘n ver-sinsel – die voorvoegsel “ver-” beteken voorsien van – omdat die metafoor deur die spanning tussen subjek en predikaat die leser dwing om die subjek van ‘n nuwe “sin” te voorsien. Die metafoor onthul dus nuwe aspekte van die subjek wat tot nou toe geen neerslag in taal gevind het nie: die digter voorsien ‘n sin aan die “jy” wat tot dusver nie bestaan het nie. Hierdie ver-sinsel maak staat op die reeks konnotasies van die predikaat “‘n vlinder van trillende lig”, naamlik broosheid en skoonheid, die gevoel van beweging wat in die woord “trillende” geïmpliseer word en die positiewe konnotasie van “lig” as ‘n noodsaaklike lewensbron. Al hierdie konnotasies werk saam om ‘n nuwe eienskap aan die subjek (die “jy”) toe te ken wat tot nou toe nie in taal bestaan het nie, naamlik die eienskap dat die subjek terseldertyd so lewendig en beeldskoon is dat haar nie-bestaan amper ondenkbaar is, maar dat sy ook, soos alle bewegende dinge, vervlietend is.

In die voorafgaande bespreking sien ons dus hoe die verklaring van nuwe metafore werk deur metafore as versinsels te beskou. Ricoeur beweer verder dat hierdie verklaringsproses as ‘n paradigma kan dien vir die verklaring van tekste in die algemeen. Hy voer die volgende redes aan: Die leser se konstruksie van betekenis word in beide metafore en tekste gereguleer deur sekere leidrade wat in die teks self vervat is (1978: 142). Hierdie konstruksieproses van ‘n teks behels, net soos in die geval van metafore, “the construction of [a] network of interaction which makes of [the] context an actual and unique event” (Ricoeur 1978: 142). ‘n Teks word daarom deur die filtrering van die potensiële konnotasies van die woorde wat daarin vervat is, omskep in ‘n diskursiewe gebeurtenis. Ons sien dus dat Ricoeur se metafoor-teorie van hermeneutiese belang is in so verre dit ons help om tekste in die algemeen die verklaar (om die betekenis van tekste uiteen te sit). Die proses wat betrokke is by die interpretasie van tekste kan ons egter ook help om die interpretasie van metafore van naderby te ondersoek(Voetnota 2).

Die tweede vraag wat ontstaan wanneer ons metafore as onderdele van diskoers beskou, is die vraag na verwysing, wat die vraag na die interpretasie van metafore impliseer. Waarna verwys die “die spieëls” in “die spieëls is blind” in reël 20 van Breytenbach se gedig? Ricoeur beantwoord hierdie vraag deur die problematiek van verwysing in enige teks uit te lig. In dialogiese situasies is verwysing onproblematies omdat die sprekers van ostensiewe verwysing gebruik kan maak om onsekerhede rondom verwysing op te klaar – die sprekers kan eenvoudig met hul vingers aantoon na watter objekte hul proposisies in die dialogiese konteks verwys. In ‘n geskrewe teks word objekte egter bedoel wat nie teenwoordig is nie – die “spieël” is nie teenwoordig in Breytenbach se gedig nie, en tog verstaan ons wat hy bedoel. Ricoeur los hierdie probleem op deur die konsep van ‘n “teks-wêreld” voor te stel.

Hierdie “wêreld” van ‘n teks beskryf hy as “the ensemble of references opened up by texts […]; the nonsituational references […] which […] are offered as possible modes of being, of symbolic dimensions of our being-in-the-world” (1978: 144). Die wêreld van die teks is die ekwivalent van ostensiewe verwysing in dialogiese diskoers, maar anders as in die geval van dialogiese diskoers lê die verwysing van die teks (en van die metafore wat potensieel daarin vervat is) nie agter die teks nie, maar voor die teks (Ricoeur 1978: 144). Die “teks-wêreld” vorm dus die konteks vir die interpretasie van die teks.

Enige teks ontsluit ‘n wêreld wat die leser konstrueer deur die teksgegewens te gebruik. Hierdie ontsluitingsproses is volgens Ricoeur slegs moontlik wanneer die ostensiewe verwysing na die ekstralinguistiese werklikheid opgeskort word (1981: 293). Die wêreld word daarom in hakies geplaas sodat die “teks-wêreld” na vore kan tree. Maar hierdie époche, om ‘n term uit die fenomenologie te gebruik, funksioneer nie as ‘n ontsnaproete uit die wêreld nie – dit bemiddel juis ‘n herbeskrywing van die wêreld as sulks.

So ‘n herbeskrywing vind plaas wanneer die leser haarself in die teks in-lees. Hierdie in-lees behels “making one’s own what was other, foreign” (Ricoeur 1978: 145). Ricoeur bedoel hiermee dat die leser via interpretasie die teks vir haarself toe-eien en daardeur ook haarself interpreteer; die leser maak die teks van toepassing op haar eie lewe deur die verskillende “ways of being” wat die teks ontsluit, te oorweeg as moontlike strategieë waardeur sy op nuwe maniere in die wêreld kan leef. So ‘n verstaan van die “teks-wêreld” wys die visioenêre aard van teks-interpretasie uit, omdat die “teks-wêreld” toekomstige maniere van in-die-wêreld-wees (“being-in-the-world”) uitwys. Die visionêre aard van ‘n teks is veral opsigtelik as dit kom by die gebruik van metafore. Siende dat metafore nuwe betekenisse skep, dien hulle as katalisators vir die ontsluiting van nuwe aspekte in die wêreld. Hulle wys as’t ware nuwe eienskappe in die wêreld uit: die gebruik van metafore is ‘n “deliberate strategy to open up a new way of speaking about the world” (Degenaar 1992: 70).

Toegepas op die Breytenbach-gedig, beteken dit dat die leser se verwysing na haar onmiddelike omgewing opgeskort word wanneer sy “nagmaal” lees, wat haar in staat stel om ‘n “teks-wêreld” te ver-sin waarin ‘n slapende geliefde aangespreek word. Hierdie geliefde word herinner aan haar sterflikheid (“jy leef / ‘n oomblik” (rr. 5-6)) deur die gebruik van verskeie metafore: sy is “‘n kelk van lig” (r. 4), “‘n vlinder van trillende lig” (r. 13), in haar “knabbel [haar] karkas reeds” (r. 14); haar nek is ‘n ruiker (r. 24). Hierdie metafore voorsien nuwe sin aan die aangesprokene en die liefde-situasie deur haar sterflikheid te beklemtoon. Wanneer die leser die teks vir haarself toe-eien, wys die teks ook die moontlikheid aan haar uit om anders in die wêreld te leef, om haar sterflikheid en die tydelikheid van haar verhoudings met ander uit te wys en sodoende haar daarop in te stel om anders teenoor haar geliefdes op te tree(Voetnota 3). Dit is egter belangrik om daarop te let dat die gedig nie volgens hierdie proses van toe-eiening voorskriftelik optree nie. Die gedig hou bloot alternatiewe leef-moontlikhede aan die leser voor.

Ter afsluiting kan ons Ricoeur se teorie rakende metafore opsom deur na metafore as die “katalisators van visioenêre versinsels” te verwys. Metafore kataliseer die skep van nuwe betekenisse deurdat hulle skynbare logiese absurditeite tussen die subjek en die predikaat van ‘n proposisie teweegbring. Die nuwe betekenis wat uit die katalisasieproses ontstaan is ‘n versinsel wat bydra tot die teks-wêreld van ‘n gedig. Hierdie teks-wêreld word deur die leser gekonstrueer tydens die interpretasieproses, wat op sy beurt weer lei tot self-interpretasie aan die kant van die leser deurdat die versameling versinsels waaruit die gedig bestaan dien as ‘n visionêre model vir potensiële wyses van in-die-wêreld-wees. Metafore is om hierdie rede van fundamentele belang aangesien hulle die kreatiewe potensiaal van alternatiewe bestaansmoontlikhede ontsluit.

Addendum

nagmaal

slaap nou, vooroorgebuk intens asof luisterend na ons geheime bed

die wimpers ontspan versluier die gebalde oë, heinings

om die geslote kloosters van die kykers

saamgekolk in een helder tregter van leef, ‘n kelk van lig

die skree van lewe, die pyn van wete, jy leef

‘n oomblik

jou ribbe dy en trek, die riwwe vlees oor jou skedel

die hare wat boor deur bloed en verstomp teen been

dit vyl die sekonde tot ‘n kreet van genot, nou

as dit winde reën by luik en deur

die donker wag:

slaap nou, vooroorgebuk intens asof luisterend na die riemslae

van jou bloed, jy is ‘n vlinder van trillende lig

en in jou knabbel jou karkas reeds

(as ook die bloed sal dik        as ook die bleek sal blou)

(bene deur jou vlees knak      wit kraaie met katoë jou derms pik)

(hulle lomp kuikens voed in die nes van jou maag)

… jou kadawer en my kadawer

die son word klein, daar’s roes in die klawer

die spieëls is blind

die donker bol die ruite

net ons hare kruip langer

dis die groen nag sonder stert

slaap nou, ek druk my neus in die ruiker van jou nek

hoe ryp, hoe bedwelmend die geur, die reuk van lewe

jy leef

jy is ‘n delikate blom van polsende ivoor

jy is diep soos ‘n katjiepiering           stil soos ‘n varkoor

slaap nou, roer, jy breek die lig met jou hande

hoe narkoties is die walms in dieptes van jou hals

vir jou offer ek hierdie hande vol lug, neem

eet       drink               leef

neem ook my hande               en die sap van my lyf

lag nogeens in jou drome       my blom          my vrug

hoor jy nie? hoe kou die nag aan die dak

© Breyten Breytenbach, Ysterkoei-blues (2001: 43-44).

Bibliografie

Breytenbach, B. 2001. Ysterkoei-blues: Versamelde gedigte (1964-1975). Kaapstad: Human & Rousseau.

Degenaar, J.J. 1992. “Imagination and Myth” in South African Journal of Philosophy 11(3): 67-74

Ricoeur, Paul. 1978. “Metaphor and the Main Problem of Hermeneutics” in The Philosophy of Paul Ricoeur: An Anthology of his work (eds.) Charles E. Reagan & David Stewart. Boston: Beacon Press.

Ricoeur, Paul. 1981. Hermeneutics and the Human Sciences (ed.) John Thompson.

Cambridge & New York: Cambridge University Press.

Ricoeur, Paul. 1991. “Word, Polysemy, Metaphor: Creativity in Language” in A Ricoeur

Reader: Reflection and Imagination (ed.) Mario J. Valdes. Toronto and Buffalo: University of Toronto Press.

The Oxford Companion to Philosophy. 2005. Sv. ‘semantics’ & ‘semiotics’. New York:

Oxford University Press.


Voetnotas

1. Aangesien Ricoeur verskillende teorieë beskou (elk met hul eie terminologie), gebruik hy verskillende terme om na diesielfde semantiese verskynsels te verwys. Voorts sal ek slegs die terme “logiese subjek” en “predikaat”, wat na die onderdele van ‘n proposisie te verwys, gebruik om verwarring te voorkom.

2. Die onderskeid tussen verklaring (“explication”) en interpretasie is ‘n belangrike onderskeid in die hermeneutiek. Ricoeur onderskei tussen hierdie twee terme deur die onderskeid tussen betekenis (“sense”) en verwysing (“reference”) te gebruik. Verklaring bemoei sigself met die vraag na die betekenis van tekste terwyl interpretasie saamval met die verwysing van tektste.

3. Die moontlikheid bestaan natuurlik dat hierdie “teks-wêrelde” gendered is, aangesien daar geargumenteer kan word dat die gender van die leser ‘n rol kan speel in sy/haar toe-eiening van die teks. Die bestek van hierdie opstel laat egter nie verdere spekulasie in hierdie rigting toe nie.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Pieter Odendaal. Metafore as die katalisators van visioenêre versinsels – ‘n finalejaarsopstel”

  1. Joan Hambidge :

    Die ruiker van jou nek verwys myns insiens nie net na die kortstondigheid van die lewe en dat die nek lekker ruik nie, maar na ruiker in die sin van boeket, “bunch of flowers”.

  2. Pieter Odendaal :

    Joan, ek het myself seker nie duidelik uitgedruk nie. Die begrip “ruiker” beteken natuurlik “boeket”, maar my bespreking van Beardsley en Black se metafoorteorie fokus op ‘n spesifieke seleksie van ‘n begrip se konnotasies (in hierdie geval van “ruiker”), en nie op al die konnotasies van ‘n begrip as sulks nie. Natuurlik kan ons ook ander konnotasies of assosiasies van die begrip “ruiker” identifiseer en dan op die sinsnede “van jou nek” van toepassing maak: Die geliefde se nek het dalk ‘n soortgelyke vorm as die lang stele van ‘n ruiker, of dalk is die geliefde se vel die kleur van frangipani’s. Die doel van my voorbeeld was nie om ‘n omvattende lys van die potensiële konnotasies van “ruiker” wat na “nek” oorgedra kon word te gee nie, maar bloot om ‘n voorbeeld te verskaf van elemente wat in so ‘n “system of associated commonplaces” volgens Beardsley en Black sou kon voorkom.

  •