Philip de Vos. Hoe om op ‘n mooi manier wraak te neem

(illustrasie: Cora Coetzee)
 
Oor al die menige dekades wat ek leef en beef, was ek nog altyd bekend vir my vriendelikheid en vir my goeie maniere. En dit was alles aan my ma te danke – amper sê ek dit was haar skuld – want om te ordentlik te wees, is nie altyd die beste ding op aarde nie.
 
Dit help tog alte deeglik om so nou en dan vies te word: Barbie Dolls se koppe af te breek en teen jou bure se voordeur te skop.

Maar – ek is ordentlik grootgemaak: Ek kan nou nog al die boeke van die Ou Testament opsê en ek weet steeds wat die voornaam is van Moses se vrou en selfs die naam van sy suster. En so ordentlik is ek grootgemaak, dat my ma in die Cricketstraatdae in Bloemfontein selfs my naels elke oggend geborsel het en vol Johnson’s Babapoeier gestrooi het vir die oggend se naelsinspeksie van die Sub B-klas – en ja, my naels was áltyd die mooiste en my maniere ook tot daardie dag in 1983 toe ek my vir ——- vervies het.

En daardie verviesery het toe gelukkig deel van my tweede boek geword en dit was op die ou end veel goedkoper as wat dit sou wees as om na ’n psigiater toe te moes gaan en te sê: “Ek het my vir ’n vroumens vervies!

En wat kry mens in ruil? ’n Rekening vir R700 en ’n voorskrif vir Valium.

Hoe ek vir ——- ontmoet het, weet ek nou nog nie. Ek was destyds ’n operasanger en sy was, óf ’n groot operaliehebber, óf dalk het sy self op ’n keer in die plaaslike operakoor gesing. Ek kan glad nie meer onthou nie.

Maar hoe dit ook al sy – daar beland ek toe om een of ander rede by haar Sondagmiddag soirees.

In haar netjiese woonstel in een van Kaapstad se voorstede het sy haar gereelde byeenkomste gehad. Of sy self so in haar skik was, met haar woonadres, kan ek nie meer so goed onthou nie, maar ek onthou tog so vaagweeg dat sy ’n CA-nommerplaat vir haar kar gehad het, in plaas van CY – die voorstad waar sy gewoon het. Wat dit ookal sou beteken?

En as jy aankom in daardie netjiese woonstel waar jy selfs van die vloere af kon eet – so skoon was dit, was jy dadelik bewus van die vars blommerangskikkings en sagte Richard Clayderman-musiek diskreet op die agtergrond. En al met die vier mure langs is stoele op ’n ry gerangskik en op elke stoel ’n netjiese persoon met skoon vingernaels. Dit was mans, mans, mans net waar jy kyk. En van die sagte bedeesde gesprekke afgelei was hulle een en almal net so operabesot as sy, en was dit ’n sagte gefluister van die groot name: Renata Tebaldi en Joan Sutherland, en die grootste van hulle almal: Maria Callas – La Divina!

En êrens in die middel, soos ’n groot termietkoningin het  ——- gesit – geklee in ’n tabberd wat een van haar volgelinge vir haar ontwerp het. En groot is die regte woord, want ——- was GROOT, selfs groter as party van haar akoliete mansvriende.

En as hulle klaar gepraat het oor opera, was dit ballet se beurt en nou was die gesprek oor Margot Fonteyn en Rudolf Nureyev met daardie mooi kuite van hom.

Toe om een of ander rede het ek kontak met ——- verloor, maar tog êrens verneem dat daar nou ’n regte man in haar lewe gekom het – ’n wewenaar – en nie lank daarna nie was hy en ——- man en vrou.

En toe op ’n oggend, kry ek ’n telefoonoproep van ——- en herken ek haar onmiddellik aan haar sonore diep altstem: “Wil jy nie Sondagaand by my en my man kom eet nie? Christine Basson van Egoli-faam is een van ons geëerde gaste …” En daarna rits sy nog ‘n paar belangrike name af, onder andere die naam van ’n plaaslike operasangeres.

Vir ’n oomblik was ek ietwat verbaas, want ek het nie eens geweet sy ken ander vroumense nie. Toe ek egter vra: “Mag ek vir Peter ook saambring?” kom die teenvraag: “Wie is Peter?” en my onmiddellike antwoord: “Ons woon al die afgelope drie jaar saam.”

Vir ’n paar oomblikke was daar ’n ysige stilte, toe daal ——- se altstem ’n oktaaf laer en sê sy haar finale sê: “Liewers nie!” en ploeps! sit sy die telefoon daar anderkant in Bellville neer, terwyl ek hier in Fresnaye, Kaapstad ietwat verdwaas staan.

Hoe nou gemaak, want ek was nog altyd baie, baie ordentlik.

Dus gaan ek maar na die Kaapstadse stadsbiblioteek toe en doen ek vir die heel eerste keer in my lewe ietsie onordentlik.

Dit was in die dae voor rekenaars en plaas daarvan om net ’n knoppie te druk om inligting te verkry, gaan staan ek voor een van die biblioteek se bruin kaste met klein laaitjies vol kaartjies waar boeke volgens die Dewey-sisteem gerangskik is,  en soek ek die woordjie etiket en met ’n pen in die hand het ek elke boektitel wat oor hierdie onderwerp in die Wes Kaap beskikbaar was neergeskryf.

En met die lysie in my sak is ek terug huis toe en het voor my tikmasjien gaan sit en begin tik:

Vir onthaaldoeleindes is die onderstaande lys boeke onontbeerlik. Om opsporing daarvan in ’n biblioteek te vergemaklik, het ek die kodenommer van elke boek tussen hakies aangedui.

  

  

Nooit het ek weer vir ——- gesien of van haar gehoor nie, maar vergeet het ek beslis nie. En waarom sy nooit my brief beantwoord het nie, weet ek ook nie, miskien is dit die feit dat ek die Engelse woord Etiquette verkeerd gespel het met 2 t’s in plaas van een – en sy was immers ’n vrou wat haar nie eintlik met analfabete opgehou het nie.

In 1985 het ek oor ’n naweek ’n kinderstorie geskryf. Wolfgang Amadeus Muis oor ’n aaklige pretensieuse meisiekind van agt wat alle muise gehaat het en op die ou end by die jaarlikse eisteddfod deur muise oorval word net voor sy Chopin se Ballade no 3 in A-mol majeur, Opus 47 vir die gehoor kon speel. En ek moes natuurlik ’n naam vir hierdie meisiekind bedink. Toe gee ek maar vir haar die naam van my gewese vriendin.

“Dis toe dat ——- besluit om te kyk wat met die binneste van haar klavier verkeerd is. Die gehoor in die stadsaal sien hoe die krulkopdogtertjie van die klavierstoeltjie afklim. Toe sien hulle hoe sy buk om die onderste klap van die klavier oop te maak. Toe sien hulle hoe 278 muisgaste – plus Wolfgang Amadeus, natuurlik en sy ma en sy pa en sy boeties en sy sussies: Anna en Bettie en Chris en Danie en Emma en Frans en Gert en Hendrik en Ina – by die klavier uitpeul en bo-oor haar stroom.

“MUISE!” gil ——-.

En was daar muise! Daar was grotes. Daar was kleintjies. Daar was oues. Daar was jonges. Daar was vettes. Daar was maeres. Daar was muise tussen haar vingers. Daar was muise op haar neus. Daar was muise agter haar ore. Daar was muise in haar skoene. Daar was muise in haar hare. Daar was muise onder haar rok. Daar was muise, muise, muise, net waar jy kyk …”

Ja, ek mag miskien destyds toe ek in Sub B was die mooiste en skoonste naels in die hele skool gehad het en die ordentlikste maniere op aarde, maar nou – soveel jare later – as iemand my so nou en dan vies maak, is ek ek nie meer so ’n nice persoon nie en hulle word naam en al, net soos dié van ——- ’n karakter in een van my boeke …

 

 

 

 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Philip de Vos. Hoe om op ‘n mooi manier wraak te neem”

  1. Hoop my naam word nooit een van karakters nie Philip! Ons almal sal in ons spoor moet trap!

  2. Anton Stoltz :

    Gewonder hoekom jy ter stond die onderwerp verander het by die aanhoor van —- se naam. Giegiegiegie…!!

  3. Damaris Loubser :

    O Vrek!!!! En ek was al ‘n karakter in een van jou boeke, en ek het ook in die operakoor gesing ….. maar ek het nooit in CY gewoon nie. Jou lieflike ding ek omhels jou sommer hier van Pertoors af, want ek kry elke keer jou inskrywing en geniet dit so. Ons het al EEN geheim, so ek dink ek sal hierdie geheim ook met jou deel.

  4. Lona Gericke :

    Ai, Philip daar is darem net een soos jy! Vreeslik geniet; moet tog nie ophou gesels nie!

  5. Tildie Williams :

    Knap gedaan Philip! En uiters beskaaf daarby 🙂

  6. Johnnie Autard :

    Ek bibber om te dink watse karakter ek in een van jou verhale gaan wees of wat met my gaan gebeur!!!

  •