
Verlede week was ‘n week waartydens ek weens bepaalde werksomstandighede maar net rakelings kon kennis neem van dinge buite werksverband. So moet ek tot my verleentheid erken dat ek een van die belangrikste nuusgebeure totaal misgekyk het. En dit is kykNET se Fiësta-toekennings wat verlede Donderdagaand plaasgevind het.
Tydens dié spoggeleentheid is die Woordfees aangewys as die gewildste kunstefees in Suid-Afrika en watter enorme prestasie is dit nie om op dié manier vereer te word te midde van soveel feeste landwyd nie …
Volgens die berig by LitNet het die Woordfeesdirekteur, Dorothea van Zyl, kykNET tydens haar dankwoord bedank vir “hierdie spesiale erkenning (wat hulle) gee aan die rol van feeste om soos vonkproppe die enjin van die skeppende kunste in die land aan die brand te skop”. Tweedens het sy die kreatiewe gees “wat die heelal deurkruis op soek na nuwe skeppende moontlikhede” bedank en oor Afrikaans spesifiek die volgende gesê: “Ons is maar almal dienaars van die Afrikaanse woord. Die Nederlandse skrywer Adriaan van Dis het, nogal in ooreenstemming met ons feestema vanjaar, Elwe en Selwe, Afrikaans nie verniet ‘Nederlands met elfenvoetjes” genoem nie!'”
En ai, ek dog nog altyd dat Nederlands eintlik maar Afrikaans met oprygstewels is …
Nietemin, die volledige lys van pryswenners is soos volg:
- Beste opkomende kunstenaar: Moenier Adams vir sy vertolking in Afrikaaps.
- Beste teaterontwerp: Marthinus Basson vir sy stelontwerp in As die broek pas.
- Beste Fiesta-aanbieder: Bobby van Jaarsveld.
- Beste spel in ‘n solovertoning: Antoinette Kellermann vir haar vertolking in As die broek pas.
- Beste regie: Nicola Hanekom vir Betésda.
- Beste prestasie in klassieke musiek: James Grace vir Around the World in 60 Minutes.
- Gewildste musiekgebeurtenis: Hatfield Karnaval.
- Beste prestasie in ‘n musiekgedrewe produksie: Afrikaaps.
- Beste byspeler: Theodore Jantjies vir sy vertolking in Vaselinetjie.
- Beste vrouebyspeler: Bettie Kemp vir haar vertolking in Dood van ‘n verkoopsman.
- Beste akteur: André Odendaal vir sy vertolking in Magspel.
- Beste aktrise: Antoinette Kellermann vir haar vertolking in As die broek pas.
- Gewildste fees: Woordfees.
- Beste nuutgeskepte Afrikaanse opvoering: Nicola Hanekom vir Betésda.
- Beste aanbieding: As die broek pas.
- Bettie Kemp is bekroon as beste byspeler vir haar spel in Dood van ‘n verkoopsman
Die volledige berig hieroor kan op Nuus24 se webtuiste gelees word en – indien jy dit nog nie raakgesien het nie – kan die volledige Woordfees-program hier bekyk word. En dan moet jy ook nie vergeet van die onderhoud wat onlangs met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder, gevoer was nie.
***
Sedert gister het daar twee nuwe bydraes bygekom. Andries Bezuidenhout soek na ‘n (skaars) roman van Karel Schoeman, terwyl Desmond Painter dit weer het oor Uys Krige se essay oor Manuel Bandeira.
Die ideale tyd dus om in te haal op jou agterstallige leeswerk.
Mooi bly.
LE