Borders pak hul boeke weg

Borders Bookstore

Borders Bookstore

Presies ‘n jaar nadat hul Britse filiale deure toegemaak het, het die Amerikaanse boekhandelreus, Borders, volgens ‘n berig op The Bookseller se webtuiste aansoek om likwidasie gedoen aangesien hulle nie in staat is om hul skuld van bykans 1.2 miljard dollar te delg nie. Die rede wat hiervoor aangevoer word, is hul volgehoue onderprestasie weens die wêreldwye ekonomiese krisis; ‘n situasie wat reeds verlede jaar al probleme met hul betalingsbalans veroorsaak het.

Maar, volgens New York Times se beriggewer is die toedrag van sake in hoofsaak weens hul eie wanbestuur: “The troubles of Borders are rooted in a series of strategic missteps, executive turnover and a failure to understand the digital revolution – problems in many ways of Borders’ own making.” Ook Michael Norris, senior analis by Simba Information, het dié siening ondersteun: “They overexpanded. They just had the mentality of, ‘If we open a new store, the growth will happen.’ ” Michael Soures van Standard & Poor was darem meer simpatiek: “The book retailing industry is very challenging right now. We’ve had significant transformation. Bookstores have gradually been losing their prominence, and the U.S. market is oversaturated in terms of the number of retail stores. So that trend will likely continue as e-books gain more prevalence in the market.”

Volgens die berig het Borders groot verliese gely het met hul onsuksesvolle poging om ‘n alternatief tot Amazon se gewilde elektroniese leser, die Kindle, te bemark. Ook hul interverkope het enorme verliese gely binne ‘n uiters mededingende mark.

Dit wil egter voorkom asof Borders tans met die ander kettingreus, Barnes & Noble, onderhandel ten gunste van ‘n amalgamasie. Maar of Barnes & Noble kans sal sien om ‘n instansie wat só diep in die rooi sit, aan boord te neem, is ernstig te betwyfel. Intussen is daar reeds begin met personeelvermindering. Borders, wat in 1971 deur die broers Tom en Louis Borders in die staat Michigan tot stand gebring is, beskik tans oor 650 winkels en bied werksgeleentheid aan sowat 19,500 mense.

Maar nou ja. Geoordeel aan hul besigheidsbord (foto) wil dit voorkom asof hulle die afgelope jare in vele opsigte probeer diversifeer het; ook meer onlangs met hul onsuksesvolle pogings om die eise van die nuwe tegnologie aan te spreek. En moontlik is dit juis dié gebrek aan fokus wat tot hul ondergang aanleiding gegee het, want hoe gereeld gebeur dit nie dat wanneer jy alles vir almal probeer wees, jy só dikwels uiteindelik niks vir niemand is nie …

Of wat praat ek nou?!

***

Sedert gister het daar drie nuwe bydraes bygekom: Philip de Vos het ‘n stuk geplaas oor Karel Schoeman; Vrouwkje Tuinman besing in haar stuk by Wisselkaarten die voortreflikhede van die klavier terwyl Amanda Lourens ‘n oortuigende pleidooi lewer ten gunste van ‘n oop gesprek oor o.a. die letterkunde.

Ten slotte is dit vir ons aangenaam om bekend te maak dat die derde resensent wat haar by ons paneel van drie aansluit, Heilna du Plooy is. Terselfdertyd het sy ook ingestem om voortaan as blogger aan die webblad deel te neem. Sy sal binne enkele weke met haar bydraes begin.

Inderdaad opwindende vooruitsigte.

Mooi bly.

LE

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •