
Nou ja, kyk. Noudat die groot hond van die werf gejaag is, kom al die keffertjiers uit om te speel. So lees ek die volgende aardskuddende stuk oor die gewese diktator Hosni Mubarak op ‘n webtuiste genaamd Dailykos raak. Die anonieme skrywer daarvan, ene Mole333, het dit naamlik oor die arrestasie en verhoor van ‘n staatsamptenaar, Mounir Said Hanna, in 2009. Hanna het glo ‘n satiriese vers oor Mubarak geskryf en is toe tot drie jaar tronkstraf gevonnis en ook met 100,000 Egiptiese pond beboet. Volgens die Los Angeles Times se berig van daardie tyd het Hanna se broer aansoek gedoen om versagting jeens sy broer se ‘hoogs kriminele’ daad: “Mounir started writing poetry less than two years ago,” het hy aan die Losa Angeles Times se beriggewer gesê. “I know that later on he started writing poems about social issues like unemployment and the rise of prices, but he didn’t mean to criticize the president. His poems were not officially published and were only read by a handful of friends anyway.”
Ten spyte daarvan dat die vers inderdaad nêrens verskyn het nie, het dié pleidooie op bot ore geval. (Hanna is glo deur ‘n kollega aan wie hy die vers by die werk gewys het, verkla.) Nietemin, die gewraakte vers is toe wel in Engelse vertaling as deel van die Los Angeles Times se berig gepubliseer en dit lees soos volg:
Shine, shine whom you shine on all of us
Shine, shine whom you shine wherever you go
No one can shine like you shine
You made people feel confused and lost
You made people feel happy and lost
Sjoe. Waarskynlik is die vers meer kragtig in Arabies, maar waaragtig, indien Mubarak se ego hierdeur bedreig is, moet hy uit die pad bly van vlieë, want húlle het immers g’n respek vir niemand nie … Maar kom ons stel Mole333 en sy poging tot uittarting eerder self aan die woord: “Under Egyptian law, insulting the president can land the offender in jail for up to three years. Well, Hosni Mubarak, I will insult you and call you the world’s wussiest and most cowardly dictator if you can’t take a few lines of mild criticism from some pencil pusher. And you know what? There’s not a damned thing you can do about it. In fact, here is my little mediocre poem criticizing Hosni Mubarak (written in 5 minutes for your amusement). And baby Mubarak can’t stop me from posting that poem for all to see:
Mubarak Mubarak Mubarak
Hosni Mubarak
Call him names and he cries…
Cries cries cries like baby Mubarak
What country can be led
By a child like Mubarak?
You call him names and he cries…
And all Egypt hangs its head in shame.
One Egyptian writes a poem
And Mubarak cries like a baby.
One Egyptian poet must sit in jail
Just so baby Mubarak won’t have to cry.
Sug. Ten spyte dat ‘n mens aangegryp is deur die tragiese absurditeit van Hanna se arrestasie, is dit ernstig te betwyfel of Mubarak hoegenaamd van dié militante sluipskrywer se poging tot verkleinering gaan kennis neem, of daardeur geaffronteer gaan voel. (Sy poging laat my nogal dink aan die man wat in die donker vir ‘n meisie geknipooog het. Hy weet hy het dit gedoen, maar helaas, sy is salig onbewus daarvan.)
Hoe ook al. Veel belangriker as Dailykos se poging tot aanstigting, is die amptelike webblad vir die Arabiese Netwerk vir Menseregte. Gaan kyk gerus en bring jouself op hoogte indien dié onderwerp jou interesseer.
***
Goeie nuus is dat Alfred Schaffer op pad terug na Suid-Afrika is. Sy laaste aflewering vanuit Amsterdam, met die gemengde gevoelens wat so ‘n skuif tot gevolg het, is gister geplaas. Dan het Pieter Odendaal ook ‘n besonder treffende verslag gelewer oor die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuutste bundel wat verlede week by die Breytenbach-sentrum in Wellington plaasgevind het.
Ten slotte is daar ook nuwe gedigte deur Piet van Rooyen en Christine Barkhuizen le Roux in hul onderskeie verskamers om te geniet.
Geniet dit alles en mag hierdie middel-van-die-week-dag plesierig verloop vir jou.
Mooi bly.
LE