Op Facebook noem iemand dit “die lekkerste job in die wêreld”, maar in wese kan dit ‘n verdere knou vir die boekbedryf, en veral die letterkunde, wees. Dit is nou Media24 se pos vir ‘n Nasionale Boekeredakteur wat in gister se Rapport geadverteer is.
Breyten Breytenbach het sy ontsteltenis soos volg in ‘n persoonlike skrywe aan ‘n aantal skrywers geformuleer: “Soos julle weet adverteer Media24 tans die pos van Nasionale Boekeredakteur – oorkoepelend vir Die Burger, Beeld, Volksblad, By – met ‘voorkeur aan kandidate uit die aangewese groepe’, wat dit ook mag beteken. Die bedoeling is om een persoon te hê wat dan die kitaar gaan slaan vir al die boekeblaaie. Die rede vir die sentralisering en afskaling is seker ekonomies, maar ek dink dis ‘n dom rede […] Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.”
Die sluitingsdatum vir aansoeke is reeds eerskomende Vrydag, 4 Maart.
Maar waarom is hierdie ontstellende nuus? Soos almal weet het die boekeredakteur van ‘n bepaalde publikasie volle seggenskap oor watter boeke geresenseer gaan word; watter resensente betrek word en hoeveel woorde aan sodanige resensie toegestaan word. Ten slotte ook oor die uitleg en waar op die blad die resensie geplaas word. En binne die raamwerk van ‘n klein letterkunde soos ons s’n kan dit katastrofiese gevolge inhou indien dié mag in die oordeel van één persoon geplaas word. Verdermeer is dit ‘n feit dat ‘n digter, byvoorbeeld, kan hoop op ongeveer ses resensies: op die vier reeds genoemde nuusblaaie van Media24, plus resensies op webtuistes soos LitNet en Versindaba. Hoe nou gemaak indien die boekeblad vir ‘ekonomiese redes’ gedupliseer word vir die Media24-publikasies? En, soos ons almal weet, is die mening van ‘n resensent gewoon net ‘n leesverslag … ‘n Negatiewe (of minder entoesiastiese) resensie kan dus verdoemend vir ‘n boek wees aangesien daar nie genoegsaam ‘korrektiewe’ ingebou is in só ‘n bestel nie.
Myns insiens is verskeidenheid die sterkpunt van ons klein bedryf; as sulks iets wat jaloers beskerm moet word. Hierdie verskraling van aanbod in die hand van ‘n Nasionale Boekeredakteur is daarom iets wat ten sterkste beveg moet word, want dit maak nie saak hoe bekwaam die persoon is wat uit ‘die aangewese groepe’ aangestel gaan word nie: dit gáán die fondasie waarop ons letterkunde en verwante boekbedryf reeds wankelend staan, verder uitkalwer.
Goeie nuus is darem dat daar tans ‘n protesaksie hierteen van stapel gestuur word. Indien jy dus teen dié beoogde aanstelling beswaar wil maak, kan jy gewoon die protes-formulering onderaan hierdie Nuuswekker in ‘n e-pos kopieër en dit stuur na: aansoeke@rapport.co.za En onthou – die sluitingsdatum is 4 Maart 2011. Hou ook gerus vir LitNet dop; volgens ‘n ingeligte bron gaan hulle via ‘n mini-seminaar kapsie maak.
***
Maar terug na die webblad. Sedert Vrydag is Cas Vos se bundel Duskant die donker / Before it darkens by boekwinkels afgelewer. Ter viering hiervan plaas ons graag die onderhoud wat met die digter hieroor gevoer was. Nog ‘n besonderse onderhoud is die gesprek wat Carina van der Walt met Joke van Leeuwen gevoer het. Joke is die voormalige stadsdigter vir Antwerpen en vorm deel van vanjaar se Woordfees-program. Terselfdertyd kan jy ook in Buiteblik Carina van der Walt se stuk oor die belang van stadsdigters in Nederland en België lees.
Ten slotte – in Joan Hambidge se verskamer is daar ‘n nuwe gedig van haar om te geniet.
Mag dié week ‘n plesierige affêre wees.
Mooi bly.
LE
Beswaarskrif
As mense betrokke by die skryfwêreld wil ons ten sterkste beswaar maak teen die inisiatief van Media24 om die regulering van resensies in die Afrikaanse koerante toe te vertrou aan ‘n enkele Nasionale Boekeredakteur. Vir die literatuur is ‘n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ‘n verstarring. Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.
Beslis nee! Waarom moet die kunste afgeskeep word? Dis ongehoord om vir Media 24 toe te laat om slegs ‘n enkele Nasionale Boekeredakteur aan te stel. Ons Literators, studente en lesers sal vir seker daaronder ly.
Afrikaans sal armer raak. Ek maak beswaar.
Die boekgesprek is die oopste intellektuele gesprek wat ons het. Die aanstelling van een algemene boekredakteur, soos voorgestel, sal ‘n ernstige afplatting van die algemene intellektuele gesprek tot gevolge hê – ‘n afplatting wat reeds soos ‘n swam woeker, hier en oorsee.
Ek sprek my groot beswaar daarteen uit.
Die skrywersgemeenskap sal in ieder geval, so ‘n personasie nooit aanvaar nie. Hulle sal wegloop van ‘n firma waar een boekredakteur die mening beheer na ‘n ander firma waar dit nie die geval is nie.
Petra Müller
Petrus Foffiekeker, ons leer graag, so jy kan darem gerus net verduidelik watter aspek van die ou sakie so onbenullig is: is dit resensies? boeke? letterkunde? taal? eienaarskap van die media? die openbare domein? openbare diskoers? diversiteit? All of the above?
Ek het lanklaas so ‘n klomp slim mense tekere sien gaan oor so ‘n onbenullige ou sakie.
Amen, Marga.
Charles, die ou storie van swakkergehalte-boekeredaksies en -resensies koop ek nie. Daar is mense wat uitstekende werk doen en hulle verdien ons ondersteuning. Maar ek vermoed ek weet wie sulke dinge vir jou vertel! Dit net ‘n persoonlike gedagte …
Beste Marga,
Dankie.
Jy is reg.
Hopelik gaan hierdie saak nou hersien word. Dis duidelik dat ‘n aanstelling van so ‘n redakteur nie gaan deug nie.
Marga, jou woorde is musiek in die ore van baie van ons wat by julle publiseer. Jy wys op die gebreke in die belangrikste argumente om sentralisering te regverdig, in die besonder:
Hoeveel word nou eintlik “bespaar” as die belange van die Afrikaanse letterkunde en geesteslewe opgeweeg word?
Hoe kan die superredakteur seker wees die superresensent wat ‘n enkele boek gewoonlik ‘n enkele keer moet bespreek, het die vermoë en toerusting om ‘n werklik gebalanseerde superresensie te skryf? Gaan die volgende Eilande of die eerste Harry Potter-manuskrip ook aanvanklik afgemaak word?
Uiters belangrik, eintlik van die opperste belang: die verskraling van die reeds ontoereikende literêre diskoers. Dit gaan letterlik vir die superredakteur onmoontlik wees om alle stemme en streeksbelange wat tans ter sprake is, te akkommodeer, al is hy/sy hoe versiende en ingelig.
Huisgenoot is doodgewoon vir ernstige lesers irrelevant, Afrikaanse sepies en films oor boeke is oulik en mens sien nie neer op daardie mark nie, maar op watter vlak moet die diskoers nou eintlik beweeg? In Nederland het ek ervaar hoe gewone lesers besield meeleef met selfs die wêreldletterkunde, dikwels beskikbaar in Engels, maar in Nederlands vertaal. Is die Afrikaanse “literêre” diskoers nou uitgelewer aan voorbladberigte oor die nuutste skinderboek oor Steve, Joost, Jurie of wie ook al kitsreklame wil hê? Want hulle verkoop vir seker kopieë, selfs van ‘n monolitiese, “gesaghebbende” boekebylaag.
‘n Ervare redakteur van bylaes (weer, geen naam nie omdat ek namens niemand praat nie) bel my om juis ‘n belangrike aspek in die debat te noem wat tans te min aandag kry: gehalte. Die gehalte van boekeredaksies, dus moontlik ook resensies (meestal deur akademici) en die groter diskoers het volgens hom sigbaar versleg. Wat kan of gaan nou eintlik verbeter as die superredakteur oorneem? Die talle versekerde nadele is reeds gelys.
Marga, jy was selfs voor die begin van die openbare debat al betrokke om ten minste bepaalde uitgewers se besorgdheid oor die nuwe bedeling uit te spreek. Dankie daarvoor, en dat ons voel jy is aan skrywers en lesers se kant. Vrye Woord het geen aksie teen die media of Media24 nie, hulle is in talle opsigte ons bondgenote, maar ons kan nie oor ‘n ooglopende onreg stilbly nie. As ‘n ingeligte bestuurder soos jy al die gevaarligte kan sien flikker, moet daar darem seker boontoe ook mediabestuurders ook wees wat moontlik voor ‘n aanstelling oor die superredakteur kan herbesin? Watter dapper siel sal vir so ‘n brandende stoel kans sien? Vrye Woord onderneem om hom/haar met ‘n arendsoog dop te hou oor allerlei keuses en besluite.
Vriendelike groete
Charles
Media24 en Tim du Plessis moet werklik glo dat boekmense (skrywers, lesers, resensente, literatore en uitgewers) onder ‘n Grootbroerkalkoen uitgebroei is!
Marga Collings slaan die spyker op die kop. In haar reaksie wys sy op al die probleme. Resensies as korreksies, resensies bedoel vir uiteenlopende leesgehore, die beduiweling van klein uitgewers wat ‘n niche-mark bestuur en dat daar verskillende lesers binne verskillende streke leef met verskillende behoeftes.
En ek herhaal: vir die navorser (en daar is steeds studente wat MA’s en PhD’s skryf), is ‘n resensie goud werd. ‘n Argument kan opgebou word teen ‘n ander lesing en die verskillende diskoerse wat bestaan, is van belang.
Tans begelei ek ‘n student wat skryf oor Olga Kirsch en die resepsie van haar werk en die insigte van Daniel Hugo, is van enorme belang. En dit is ook fassinerend om te sien hoe ouer literatore dikwels in die kol was en ‘n gedig kon raak-lees sonder al ons jargon.
Soos een van my skrander studente vanoggend in ‘n e-pos opgemerk het: dit is 1 Maart, nie 1 April nie. Net so min as wat ‘n sport- of sakeblad gesentraliseer kan word, kan ‘n boekeblad in ons diverse, ingewikkelde, meervlakkige land uit een mond praat.
Nou ja, Tim du Plessis praat van die nuwe boekeredakteur as die “kampioen” … Interessante beeld.
Gerugte oor die vermindering van die drie boekeblaaie in die Afrikaanse dagblaaie – Beeld, Die Burger en Volksblad – tot een nasionale boekeblad is reeds lankal in omloop, en binne die groep is daar ernstige gesprekke oor die saak gevoer. Ek het dus gehoop dat daar van die plan afgesien is – totdat die pos vir die nasionale boekeredakteur geadverteer is.
Media24 en Naspers het oor die jare heen groot geld uitgee aan borgskappe tot die voordeel van Afrikaans: die kunstefeeste, literêre pryse, befondsing van belangrike publikasies wat nie sonder publikasiesteun die lig sou kon sien nie, noem maar op. Ek was nog altyd trots daarop om te werk vir ’n groep wat wonderlike en belangrike dinge doen, baie daarvan sonder dat Naspers/Media24 noodwendig erkenning daarvoor eis of kry, en dat dit gedoen word tot voordeel van Afrikaans en boeke.
Maar juis in hierdie konteks maak dit dan nie sin dat die boekeblaaie verminder word nie. Mens neem aan dat dit gaan om kostebesparing – die koste van twee salarisse, resensiefooie – maar in die konteks van miljoene rande wat gespandeer word tot voordeel van Afrikaans pas só ’n stap om ’n relatief klein besparing te maak, nie in nie.
Ek dink die persepsie is dat mense net een koerant lees, net een resensie sien, dus hoekom bodder met meer resensies. Maar die effek van net een swak resensie (en daarmee bedoel ek nie negatief nie, maar ’n swak gekose resensent vir ’n spesifieke boek, of ’n verkeerde lees van ’n boek, of die volstaan by een lees/interpretasie terwyl ’n ander een net so geldig kan wees) is vernietigend vir ’n skrywer/boek. Ek dink bv. aan die eerste, negatiewe resensie van Eilande destyds, wat gekorrigeer is deur ’n verskeidenheid ander resensies. En daar is soveel ander voorbeelde!
Nog ’n effek daarvan: die verskraling van die reeds ontoereikende diskoers oor die letterkunde, en dan veral die Afrikaanse letterkunde. Die feit dat uitgewers minder resensies het wat hulle kan gebruik om die internasionale regte van ’n boek mee te verkoop. Die feit dat die keuse van titels wat geresenseer word, moontlik beïnvloed mag word deur hulle vermoë om tot die hele land se bevolking te spreek. Sal boeke oor wandelpaaie in Mpumalanga voortaan geresenseer word? En sal die boekeredakteur dink dat ’n roman deur ’n bruin Kaapse skrywer miskien nie by die hele land se Afrikaanse koerantlesers byval sal vind nie? Wie weet?
Natuurlik gee Huisgenoot nou ruimte vir boeke, wat nie voorheen die geval was nie. En daar is Rapport se boekebylaag, wat ook relatief nuut is. Maar die resensies in die dagblaaie is nódig, en is geskryf vir ’n ander leser as dié van Huisgenoot. Al die verskillende registers waarin oor boeke geskryf word is belangrik, maar die resensies in die dagblaaie was nog altyd ’n belangrike voedingsaar tot die ernstiger diskoers oor die letterkunde en veral die Afrikaanse letterkunde, en ons sal veel armer wees as daardie gesprek nou verder verskraal word.
Marga Collings
1 Maart 2011
Eloise (nogtans iemand wat ek respekteer en dus nie persoonlik gemik nie) se argument klop om verskeie redes nie met wat reeds genoem is nie.
Een wanvoorstelling moet ek egter pertinent uitwys: Die idee dat Rapport se boekebylaag ’n toevoeging is, is misleidend aangesien dié bylaag in die plek gekom het van die tydskrif Boeke-Insig, wat deur die maatskappy gesluit is ten spyte van die feit dat dié tydskrif alle gestelde teikens gehaal en selfs oortref het. Destyds is belowe dat die nuwe bylaag tot verbetering sou lei. Dit het nie gebeur nie. Inteendeel. Dink nou verder terug: Boeke-Insig het in die plek gekom van Insig wat toegemaak is. In die tyd voor daardie ingrypende besluit is Insig, oorspronklik ’n gerespekteerde intellektuele blad, doelbewus vervlak en verskraal, wat juis tot sy ondergang gelei het. In die laaste fase voor sy ondergang het dit nie veel anders as Huisgenoot gelyk nie (en onthou dat Huisgenoot op sy dag ’n publikasie was waarin Eugene Marais sy meesterwerke gepubliseer het – hoe drasties kan afdomming nie wees nie!). Die tendens is duidelik.
En dan By: Ek het dit al geskryf, maar herinner graag weer daaraan: Toe ek Francois Smit as boekeredakteur by Die Burger opgevolg het, was daar ’n weeklikse boekeblad in By wat soms twee of selfs drie bladsye beslaan het. Dit het beteken dat, naas die weeklikse boekeblad in die hoofkoerant, daar ’n addissionele ruimte vir boekresensies was: meer geresenseerde boeke, dus. Halfpad deur my boekeredakteurskap het die By-redaksie, met stilswyende goedkeuring van die hoofredaksie, besluit om daardie boekeblad af te skaf. As daar nou beoog word om dit trug te bring is dit verblydend, maar om voor te gee dat dit ’n groot nuwe stap vooruit is, is misleidend. Daar was nooit ’n ekstra of groter of magtiger boekeredakteur nodig om daardie blad te hanteer nie. Die enigste rede hoekom dit tans nie bestaan nie is dat dit teen die boekeredakteur se sin afgeskaf is.
Die vermeende vordering bly dus steeds agteruitgang. Ek stem ook saam met Charles dat “sinergie” (al klaar ’n sinistere term) ’n alte ekstreme vorm begin aanneem as uitgewers begin om koerante se besluite oor boekeblaaie, ná oorleg met die einste koerante, openbaar te verdedig.
Gerrit
Vergewe my: Kyknet? Verfilming van Afrikaanse boeke? Nou-nou word ons dalk wysgemaak dat sepies ook die Afrikaanse boek bevorder, omdat daar boekbekendstellings hier “afspeel”.
Ons praat oor resensies. Oor iets heel anders.
Oor die resepsie van ‘n boek deur ‘n redakteur wat kundig moet wees oor die boek se raklewe, wie is die regte resensent, oor is dit ‘n boek vir “ons lesers”, is dit bedoel vir Jan-en-Alleman of vir die literator?
OOR HOE ‘N BOEKEREDAKTEUR DIE KRITIESE PROSES KAN MANIPULEER.
Oor hoe alles verskraal en verloeder. Lees weer Wiilie Burger se bydrae vir die fokus op populisme en maklik verteerbare boeke.
Eloise, dankie vir jou breedvoerige verduideliking wat eintlik Tim se skrywe beaam. Dit is verblydend om van jou as hoof te verneem die uitgewersgroep by wie soveel van ons publiseer, dra die belange van boeke en skrywers op die hart. Aan die ander kant is dit verontrustend dat uitgewers en media so uit een mond praat, asof daar nie uiteenlopende belange en menings is nie. Hoeveel tel ons as julle skrywers se mening eintlik as ons nie vooraf oor die superredakteur geraadpleeg of in kennis gestel is nie?
Jy en Tim ontvang ook die korrespondensie tussen hierdie groep en dit is nie nodig om te herhaal nie, ook nie die breedvoerige argumente op LitNet en Versindaba nie. Nie een van julle twee se skrywes help om die ergste besware te besweer nie – inteendeel. Hoe kom julle verby die feit dat ‘n veelheid van stemme in drie streke nou verskraal word tot tot ‘n enkele blad? Hoe kom julle daarby verby dat die mag nou by een superredakteur as die enigste hekwagter gesentreer word?
Gerrit Brand is as oudredakteur ervare genoeg om die onderskeie probleme met die ou en nuwe bestel te kon uitwys. Pleks van die basiese knelpunt van toegewyde, voltydse boekeredakteurs vir die ander streke soos vir Die Burger, is hier nou ‘n maklike kortpad. Ekonomies maak dit vir die media sin, maar kultureel is dit onvermydelike verarming.
Mens wil graag aanvaar julle as uitgewers wil toesien dat julle boeke wyd bekendgestel word. Hoe gebrekkig die huidige stelsel ook al is, daar word minstens in drie streke na verskillende lesers- en bekendstellingsbelange omgesien. Joan Hambidge wys op die belangrikheid van verskillende streeksbehoeftes en resepsieverslae. Uiters belangrik is Breyten Breytenbach en Willie Burger se grondliggende besware dat die openbare ruimte vir ‘n ope, kritiese diskoers nou heeltemal beperk word of selfs kan verdwyn. Alles hang eintlik net van Grootbroer Redakteur af.
Jy en Tim wys op die onafhanklike “alternatiewe” boekeblaaie van Huisgenoot en Rapport. Hoge letterkunde in Huisgenoot – ekskuus? Hoeveel ontvangers hiervan lees die gemorsblad? Ek wil nie daarmee gesien word nie en sou baie jare lank al nie droom om dit te koop nie. Rapport se boekeblad is uiters skraal en die bylaag gee relatief min aandag aan “belangrike” werke. Daar is ook geen “diskoers” nie. Ons hoop kan glad nie op hierdie alternatiewe gevestig word nie.
Hoe rooskleurig jy en Tim ook al die toekomstige prentjie voorsien, die bedeling onder nie nuwe superredakteur voorsien, die uiteinde is voorspelbaar en onafwendbaar. Hierdie almagtige persoon sal presies weet wie watter boek mag/kan resenseer, hoe die diskoers moet lyk en gehanteer word, wat vir die verskillende streke en lesersgroepe soos leeskringe relevant is en hoe om te verseker dat ‘n verskeidenheid resensies oor dieselfde boek verskyn. Inderdaad ‘n almagtige siener!
Eloise, waar daar wel verruiming gaan wees, sal ons dit natuurlik toejuig. Op die oomblik sien ons met grondige argumente net verarming. Niemand bevraagteken die toewyding van Afrikaanse redakteurs en uitgewers nie, maar daar is aantoonbaar ‘n gebrek aan ‘n groter visie en veral befondsing waar verruiming letterlik by drie koerante met voltydse boekeredakteurs en talle stemme ingestel sou kon word. Nietemin, dankie vir jou tyd en aandag aan die saak.
Beste Charles
Ons as uitgewers deel uiteraard die skrywers se besorgdheid oor enige verskraling van aandag aan Afrikaanse boeke en daarom het ek, toe die advertensie vir die nasionale boekeredakteur onder my aandag gekom het, dadelik met Abraham van Zyl (hoof van Media24-koerante) gepraat. Hy het op sy beurt ’n gesprek met my en Tim du Plessis gereël wat verduidelik het (sien die stuk hierbo wat ook aan jou gestuur en op LitNet verskyn het) wat die plan is en wat die doel met die plan is. Ek verstaan dat Tim jou ook gebel het.
Naspers het ongeveer twee jaar gelede twee nuwe boekbylaes (ten volle gesubsidieer) begin by Rapport en Huisgenoot. Waar daar dus in die verlede Beeld se boekeblad, Volksblad se boekeblad, Die Burger se boekeblad en Rapport se boekeblad was, sal daar nou in die toekoms een boekeblad (vir die drie dagblaaie), Rapport se boekeblad, Rapport se boekebylaag, Huisgenoot se boekebylaag, gereelde boekverwante bydraes in By, heelwat stukke op die internet en meer in die nuusblaaie van die dagblaaie wees.
Die nasionale boekredakteur sal geen jurisdiksie hê oor Rapport se boekeblad of boekebylaag nie en ook geen beheer hê oor Huisgenoot se boekebylaag nie. Rapport en Huisgenoot is beide publikasies met groter sirkulasie as enige van die drie dagblaaie. Dit is tog ’n verbetering en verruiming, nie ’n verskraling nie. Daar word verder ook heelwat geld spandeer om Afrikaanse boeke te laat verfilm, soos die onlangse verfilming deur kykNet van “Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom”. Dié projek om Afrikaanse boeke wat voorgeskryf is (of voorskrywingspotensiaal vir skole het) te verfilm, gaan voort. Die nuwe boeke is reeds gekies en die draaiboeke word tans geskryf.
Dit is dus nie ’n doelwit van Naspers of Media24 om aandag aan Afrikaanse boeke skade te doen nie – eerder die teendeel.
Eloïse
Die skrywer en kunskritikus John Berger: “The new order claims to rationalise and modernise production and human endeavour.
In reality, it is a return to the barbarism of the beginnings of the industrial revolution, with the important difference, this time round, that the barbarism is unchecked by any opposing ethical consideration or principle. The new order is fanatical and totalitarian.”
Vir my lyk dit ook belangrik dat die totale vermindering van die uitgewersbedryf in ag geneem moet word.
‘n Boek word gekeur, geproeflees, versorg, bemark – vir een resensie in ‘n nasionale dagblad?
Wat van Leeskringe?
Studente en navorsers wat verskillende resepsies van ‘n boek benodig?
Maar soos Breyten uitwys: daar word ‘n besluit geneem sonder om kundiges te raadpleeg.
Joan
Een van die wesenskenmerke van die ‘siniese kapitalisme’ van hierdie tye is natuurlik die idee van ‘n soort voortdurende (finansiele) krisis: dan kan jy enige aandrang op ordentlike kontrakte, sekuriteit, lojaliteit, maatskaplike verantwoordelikheid (nie die ‘gemeenskapsdiens’ wat maar net massabemarking is), oorlegpleging en onderhandeling afmaak as onredelike, werklikheidsvreemde eise: ‘kom ons wees realisties’ is die groot slagspreek. En dan word daar geslag!
Soos Gerrit aandui, ‘nie bekostigbaar nie’ beteken in die diskoerse van groot ondernemings gewoonlik: ‘ons wil nie daarop geld spandeer nie’; nie: ‘daar is geen geld nie’. Daar is geen geld HIERVOOR nie; en die rede is omdat HIERDIE nie meer belangrik genoeg is nie. Natuurlik sal Media24 wil h^e ‘n mens moet DINK dit is nog vir hulle belangrik, want die idee van ‘n Afrikaanse gemeenskap maak tans seker nog ekonomies sin — as ‘n ‘mark’.
En is dit nie juis merkwaardig hoe hierdie elit^ere geldgryp sigself vir legitimasie beroep op ‘die wil van die mense’ nie?! Hoe kleiner die groepie is wat ryk word, hoe groter, lyk dit my, word die verbeelde gemeenskap wat ideologies aan mens voorgehou word as die eintlike agente in hierdie proses!
‘n Mens moet hulle ten minste dwing om eerlik te wees oor hulle prioriteite; nie toe te laat dat hulle dit aankondig as iets waaroor hulle nie eintlik beheer het nie; as bloot ‘n reaksie op ‘n krisissituasie.
Beste Gerrit,
Baie stewige en oortuigende redenasie, te meer omdat dit op deurdagte ervaring berus. Dankie. Interessant – die onbevraagtekende magsaannames van iemand soos Tim: dat mens kan wegkom met holle denke, dat mens dit nie eens oorweeg het (en nog steeds nie) om met belanghebbendes (huidige boekeredakteurs, uitgewers, ‘n aantal resensente…) oorleg te pleeg nie sodat almal dan voor ‘n fait accompli gestel word, dat mens dit nie nodig ag om die werklike redes – tog seker ekonomies? – te bespreek nie. Praat van korporatiewe kultuur! Dit sal natuurlik ook lol as die krummelsuigende literêre gemeenskap sou begin dink hulle is geregtig op meer konsiderasie!
En dan daarby die sinisme! Is dit werklik so dat die lesersvolk slegs goedkoop sensasie wil lees, dat ‘n duisend strontvretende vlieë per ‘demokratiese’ definisie nie verkeerd kan wees nie? Soos iemand dit reeds uitgewys het, en ek was toevallig in Pretoria en het dit self gesien: vorige week, met die noorde van ons kontinent in ligtelaai en terwyl betogers soos vlieë afgemaai word, word die hele voorblad van Beeld gewy aan die wêreldnuus van die heer Hofmaaier se swiets van snyfie. Ter aanvulling, darem, was die tweede hoofberig die storie van die twee ‘lieflinge’, die snikkendes, wat nie meer wil saamsing nie. Wat is nou die verskil tussen die kragdadige korrupsie van ‘n Malema en die morele verval (en totale irrelevansie as nuusdekkers) van die eerlikes wat besluit hoeveel spasie word aan wat in Beeld afgestaan?
Mens wil nou nie jou siel gaan versondig nie (myne is lankal volledig sondig), maar is dit dan nie bietjie dik vir ‘n daalder dat ‘n nederige magsvraat ons sulke snert kom opdis sonder om te lag nie?
BB
In die huis van die mediavader moet daar baie boekeredakteurs wees.
Gerrit, as die mense met wie jy hier argumenteer so redelik, pragmaties en welwillend teenoor kuns en boeke is as wat hulle graag sal wil voorgee, sou hierdie skrywe van jou die laaste woord oor hierdie saak gewees het!
My reaksie hieronder in kursief. Let wel, ek het respek vir Tim en niks hiervan is persoonlik teen hom gemik nie.
>>>Tans het Die Burger, Beeld en Volksblad elk ’n “eie” boekeblad – maar geeneen van dié drie publikasies kan ’n heeltydse boekeredakteur met ’n ruim begroting vir resensente en medewerkers bekostig nie. (Twee van hierdie boekeblaaie word tans deeltyds behartig deur mense buite die kunsredaksie; die derde een is ’n lid van die kunsredaksie, maar met ander kunsverpligtinge buiten net boeke.)
My kommentaar: die “ander verpligtinge” van Die Burger se boekeredakteur (dit was my opset ook) behels die skryf van inhoud vir die Kunsblad – in my geval was dit byvoorbeeld teaterresensies, maar ook boekenuus. Die “ander verpligtinge” word hier vermeld om te suggereer dat niemand tans voltyds aan boeke aandag gee nie, sodat dit dan kan lyk asof die enkele nasionale pos ’n verbetering is: van ’n boekeredakteur met ander verpligtinge na een sonder ander verpligtinge. Die boekeredakteur se hooftaak was egter nog altyd, en is steeds, die bestuur van die weeklikse boekeblad, die skryf van boekenuus, die voer van onderhoude met skrywers en so meer.
Die feit dat die ander koerante nie so ’n voltydse boekeredakteur het nie, is nie ’n soort natuurlike gegewe (soos die feit dat meeste mense twee arms het) nie, maar die gevolg van die feit dat boekeredakteursposte wat vakant geraak het (byvoorbeeld toe Elfra Erasmus bedank het) nie deur die betrokke koerante gevul is nie. Die arm is afgekap. Daar is doelbewus besluit dat dit nie meer die moeite werd is om sulke mense in diens te hê nie. Sedertdien word die werk wat by daardie koerante voorheen deur voltydse boekeredakteurs gedoen is met die een arm deur ander joernaliste behartig. Die gevolg daarvan is in laer gehalte te sien – nie omdat die mense wat dit doen onbekwaam is nie (alles behalwe), maar omdat hulle nie hul volle aandag, tyd en energie daaraan kan gee nie. Die nuwe plan beteken nou dat selfs daardie enkelarms moet waai. “One green bottle …” Wat behoort te gebeur, is dat die noordelike koerante weer voltydse boekeredakteurs kry (wat ook maar teater- of fliekresensies kan skryf!).
>>>Ons reken ons kan beter vaar met saamgegooide hulpbronne.
Jammer, Tim, maar dis korporatiewe speak. Die werklikheid is: waar daar meer mense betrokke is, gaan daar nou minder betrokke wees. Noem dit “hulpbronne saamgooi” (“Double, double, toil and trouble”) as jy wil, maar om dit anders te frame verander nie die feite van die saak nie.
>>>So kan ons ’n heeltydse boekeredakteur aanstel wat dit as ’n spesialisterrein namens al drie koerante kan behartig,
Tans het Die Burger se ’n boekeredakteur en die ander net stukkies boekeredakteur …
>>>met ’n ruim genoeg begroting om medewerkers van hoë gehalte te werf.
Toe ek boekeredakteur was (en ek glo nie dis nou anders nie), was daar reeds ’n begroting om gehalteresensente te betaal – by elkeen van die koerante. Wat is dus nuut aan so ’n begroting? Is die idee dat die drie begrotings nou “saamgegooi” word?
>>>(Die beoogde bedeling raak nie die selfstandige boekeblaaie van Rapport en Huisgenoot nie. Hulle gaan onveranderd voort.)
Dié persoon se pligstaat sal so lyk:
· 50% van sy/haar werk is die voorbereiding van ’n gesaghebbende, toeganklike boekeblad vir Die Burger, Beeld en Volksblad;
· 20% van sy/haar tyd moet gaan aan die skep van inhoud op die digitale platforms, sosiale media ingesluit;
· 30% moet gebruik word om op ’n vaste grondslag twee keer per maand boeke-inhoud te lewer vir die Saterdagbylae By, asook – belangrik – vir die koerante se nuusblaaie.
Ek het as boekeredakteur by Die Burger reeds al hierdie verpligtinge gehad en my opvolger doen ook al hierdie goed. Hier word dit aangebied asof daar nou allerhande opwindende nuwe dinge gaan gebeur. Die “bottom line” (in al sy betekenisse) bly steeds: Waar meer dit nou doen, gaan net een dit voortaan doen.
>>>Die mikpunt is dus ’n boekeblad van hoogstaande gehalte (uit ’n groter poel resensente),
Niks in die huidige opset staan in die pad van gehalte of ’n groter peol resensente nie, so wat word bedoel?
>>>méér boeke-inhoud in By,
Daar was ’n volledige weeklikse boekeblad in By totdat die redaksie besluit het om dit af te skaf …>méér in die nuuskolomme en méér op die digitale platforms.
… as die nuusredaksies meer geneë is om boekenuus te plaas en die nodige middele beskikbaar gestel word om meer digitale platvorms in te span, kan dit maklik bygesit word.
>>>Die gevolg hiervan sal wees dat boeke-inhoud ’n groter verskeidenheid Afrikaanse mense bereik as net die handvol (en hulle is regtig min) wat tans elke week Die Burger, Beeld en Volksblad se boekeblaaie lees.
Hoe staan oorsaak hier teenoor gevolg? Is dit net ek wat dit nie kan insien nie?
>>>Die mandaat van die boekeredakteur sal juis wees om ’n verskeidenheid van stemme en sienings te bevorder.
Is dit nie tans sy mandaat nie?
>>>Niks sal hom of haar keer om bv. ’n tweede of derde mening by ’n resensie van ’n belangrike werk te plaas nie.
Dream on. Die bestuur van resensente is nie so eenvoudig as wat redakteurs geneig is om te dink nie. Let ook op daardie “belangrike werk”, ’n kwalifikasie. En wat van die feit dat verskillende boeke altyd in die verskillende koerante geresenseer is, en daar nou net een lys, deur een persoon saamgestel, sal wees. ’n “Verbreding”?
>>>’n “Eie” boekeblad vir Die Burger, Beeld en Volksblad is nie die enigste manier om ’n veelheid van stemme te verseker nie – trouens, verdienstelike publikasies bly gereeld ongeresenseer in die huidige bestel.
Natuurlik. En in die nuwe opset sal nog meer ongeresenseer bly. Dis eenvoudige rekeningkunde.
>>>Vir die eerste keer sal dié drie titels ’n kampioen hê wat boeke-inhoud sal dryf oor al hul platforms heen. Dit is ’n verbetering van die huidige bestel.
Bewerings bewys nie hulself nie. Waar is die bewyse, die argumente?
>>>Gun ons ’n bietjie ruimte om ’n nuwe benadering te volg. Ons moet vernuwend en pragmaties wees binne die perke van wat ons kan bekostig.
Wat bekostig kan word, is nooit net ’n onafhanklike feit nie, maar ’n funksie van prioriteite. Dat bolwaardige boekeredakteurs nie bekostig kan word nie, beteken doodgewoon dat die base dit nie meer as belangrik genoeg beskou om geld daaraan te bestee nie.
>>>Kortom, ons beoog boeke-inhoud van ’n hoër gehalte na ’n wyer gehoor – in ons dagblaaie, in By en op die digitale platforms. ’n Verruiming dus, geen verskraling nie.
(Tim du Plessis, redakteur van Beeld.)
OPE BRIEF AAN TIM DU PLESSIS
Tim, dankie dat jy die oorwegings van ‘n enkele redakteur met skrywers deel. Ek het nou jou uiteensetting van die nuwe situasie gelees, dit is ook op LitNet, en ek is bevrees dit is nie gerusstellend nie – inteendeel.
Ek aanvaar graag dat jy die heil van die letterkunde op die hart dra en die beste bedoelings het, maar niks wat jy skryf, besweer die beswaarmakers se ergste vrese nie. Ja, ja, vir verskeidenheid en meer blootstelling, maar wat van die kernbesware: minder stemme oor die letterkunde en meer gesentraliseerde mag, in hierdie geval by ‘n enkele persoon? Wat van die verskeidenheid aanbiedings deur verskillende koerante wat nou gaan verdwyn?
Tans is daar ten minste drie resensies oor ‘n “belangrike” werk in julle koerante. Watter waarborg is daar dat die situasie voortgesit gaan word? Al wat jou skrywe van die superredakteur sê, is: “Niks sal hom of haar keer om bv. ’n tweede of derde mening by ’n resensie van ’n belangrike werk te plaas nie.” Daar is dus geen verpligting op hom/haar om meer resensies te plaas nie en jy weet baie goed dit sal nie gebeur nie.
Hoe mens ook al daarna kyk, alle besluitnemingsmag gaan na die superredakteur gekanaliseer word. Ander belangrike oorwegings is reeds deur die ervare Gerhard Brand en ander verwoord.
Tim, ek het begin korrespondeer deur vir jou goeie bedoelings voorbrand te maak en daaroor twyfel ek steeds nie, maar ek is bevrees dat al jou goeie bedoelings nie gaan verhoed dat hierdie bedeling van ‘n superredakteur en gesentraliseerde beheer van ‘n enkele publikasie die hele literêre toneel enorm gaan verarm nie. Moontlik, hopelik, kan julle nog herbesin.
Vriendelike groete
Charles
‘n Ruim begroting? Resensente word in hierdie koerante baie min betaal vir die harde werk wat ‘n resensie eis: jy moet die boek lees, daarna iets skryf en dan kom die blootstelling daarna. Gaan kyk wat die Nederlanders en Amerikaners betaal vir resensies. Almal wat resensies skryf, is besig met ‘n opvoedingstaak. Soms doen jy ook ‘n bespreking verniet (soos vir onafhanklike radiostasies, wat ek as my gemeenskapsdiens sien). As hierdie gesprek meer resensente kan lok om resensies te skryf, sal dit goed wees, maar een oorkoepelende redakteur (ek is bevrees) gaan nie in staat wees om hierdie werk te kan doen nie.
Gestel ‘n negatiewe of onregverdige resensie verskyn: hoe gaan dit reggestel word? Sonder om die persoon wat gevra is te na te kom?
Diverse menings is goed. En verskillende redakteurs wat die kultuur van hul onderskeie leesgemeenskappe begryp. Die Afrikaanse leser in Bloemfontein het ander leessmake as die een in Kaapstad. Ek weet: ek resenseer vir sowel Volksblad as Die Burger. ‘n Gewaagde aanhaling word o.a. geduld in Die Burger, maar nie in Volksblad nie. En ‘n gevoelige boekeredakteur snap dit net soos verskuilde agendas en vetes tussen ‘n skrywer of resensent.
Lesers in die Vrystaat het ander behoeftes en leessmake as lesers in Gauteng of in die Kaap.
Die arme, arme Media24. Dit kan nie maklik wees om as monopolie namens die staat in te moet staan vir ‘n taal op laaste bene nie.
http://m.news24.com/beeld/By/Nuus/Die-verlies-van-ontdek-wie-ons-nog-kan-word-20101112
Tans het Die Burger, Beeld en Volksblad elk ’n “eie” boekeblad – maar geeneen van dié drie publikasies kan ’n heeltydse boekeredakteur met ’n ruim begroting vir resensente en medewerkers bekostig nie. (Twee van hierdie boekeblaaie word tans deeltyds behartig deur mense buite die kunsredaksie; die derde een is ’n lid van die kunsredaksie, maar met ander kunsverpligtinge buiten net boeke.)
Ons reken ons kan beter vaar met saamgegooide hulpbronne. So kan ons ’n heeltydse boekeredakteur aanstel wat dit as ’n spesialisterrein namens al drie koerante kan behartig, met ’n ruim genoeg begroting om medewerkers van hoë gehalte te werf. (Die beoogde bedeling raak nie die selfstandige boekeblaaie van Rapport en Huisgenoot nie. Hulle gaan onveranderd voort.)
Dié persoon se pligstaat sal so lyk:
• 50% van sy/haar werk is die voorbereiding van ’n gesaghebbende, toeganklike boekeblad vir Die Burger, Beeld en Volksblad;
• 20% van sy/haar tyd moet gaan aan die skep van inhoud op die digitale platforms, sosiale media ingesluit;
• 30% moet gebruik word om op ’n vaste grondslag twee keer per maand boeke-inhoud te lewer vir die Saterdagbylae By, asook – belangrik – vir die koerante se nuusblaaie.
Die mikpunt is dus ’n boekeblad van hoogstaande gehalte (uit ’n groter poel resensente), méér boeke-inhoud in By, méér in die nuuskolomme en méér op die digitale platforms. Die gevolg hiervan sal wees dat boeke-inhoud ’n groter verskeidenheid Afrikaanse mense bereik as net die handvol (en hulle is regtig min) wat tans elke week Die Burger, Beeld en Volksblad se boekeblaaie lees.
Die mandaat van die boekeredakteur sal juis wees om ’n verskeidenheid van stemme en sienings te bevorder. Niks sal hom of haar keer om bv. ’n tweede of derde mening by ’n resensie van ’n belangrike werk te plaas nie.
’n “Eie” boekeblad vir Die Burger, Beeld en Volksblad is nie die enigste manier om ’n veelheid van stemme te verseker nie – trouens, verdienstelike publikasies bly gereeld ongeresenseer in die huidige bestel. Vir die eerste keer sal dié drie titels ’n kampioen hê wat boeke-inhoud sal dryf oor al hul platforms heen. Dit is ’n verbetering van die huidige bestel.
Gun ons ’n bietjie ruimte om ’n nuwe benadering te volg. Ons moet vernuwend en pragmaties wees binne die perke van wat ons kan bekostig. Kortom, ons beoog boeke-inhoud van ’n hoër gehalte na ’n wyer gehoor – in ons dagblaaie, in By en op die digitale platforms. ’n Verruiming dus, geen verskraling nie.
Tim du Plessis, redakteur van Beeld.
Natuurlik sal daar goeie en mooi verduidelikings wees dat hierdie eintlik ‘n verbetering is. Maar die punt is dat hierdie saak eintlik nou al ‘n baie lang aanloop het. Destyds, toe Peet Kruger weg is by Beeld om na al die koerante oorhoofs om te sien, was daar al sprake daarvan dat al meer dele van die koerante saamgevoeg gaan word.
As ‘n mens mooi nadink oor die bestaande boekeblaaie oor die afgelope klompie jare, kan mens sien dat die minagting vir die boekeblad by
Media24 nou al ‘n heelwat langer aanloop het.
Miskien kan mens ook nie anders verwag van ‘n koerant wat ‘n voorbladartikel wy aan een sin uit Steve Hofmeyer se blog oor sy liefdeslewe terwyl 200 mense die vorige dag in Tunisië sterf nie.
Die Boekblad in Beeld het oor die afgelope tien jaar geleidelik agteruitgegaan. En dit is nie die skuld van ‘n enkele boekredakteur nie – ek dink Jo Prins doen tans sy bes onder moeilike omstandighede. Maar dit was duidelik – veral sedert die vertrek van Elfra Erasmus – dat die boekeblad nie vir die redaksie van Beeld ‘n baie belangrike saak was nie. Eers is baie lank gesloer om ‘n boekeredakteur aan te stel en in dié tydperk is die boekeblad byna ad hoc saamgeslaan en dikwels was die resensente redaksielede van Beeld.
Die groot kuns van ‘n deeglike boekeblad lê daarin dat die redakteur die regte boeke by die regte resensente kan uitkry. En dit is ‘n vermoë wat kundigheid en kennis verg van talle vakgebiede. Geen joernalis kan dit as ‘n deeltydse taak so tussendeur doen soos wat vir ‘n lang tyd van sommige mense by Beeld verwag is nie.
Waar die Boekeblad ‘n geleentheid bied om lesers te konfronteer met die nuwe idees – hetsy oor politiek, ekonomie, die kunste, die letterkunde, die teologie, die natuurwetenskappe – en die impak van hiedie idees op ons samelewing, het dit die vlak bereik van ‘n “leefstyl”-aangeleentheid. Die Boekeblad was nog altyd die een deel van die koerant wat ‘n belangrike bydrae kan lewer om dalk nog ‘n intellektuele gespreksruimte te kan skep, maar geleidelik is dit oënskynlik willens en wetens verskuif in die rigting van ‘n “demokratiese” blad vir “gewone lesers” wat asseblief nie iets “intellektueels” wil lees nie.
Hierdie doelbewuste verwaarlosing van die boekeblad en ‘n wegbeweeg van enigiets wat dalk nie vir “die gewone leser” prikkelend is nie, was ‘n teken dat al lankal gedink word aan die amalgamering van die boekeblaaie. Met ander bylaes het dit reeds gebeur. Dit is immers ‘n sakebesluit. Minder mense kan nou meer werk gedoen kry. Jy het minder werkers nodig en dit maak die produksiekoste laer.
Redakteurs is onder druk. Hulle bely openlik dat hulle toenemend gemeet word aan die “bottom line”. ‘n Mens kan dus verstaan dat hulle iewers wil sny aan koste. En om slegs een boekeblad te hê, pas in hierdie struktuur. Om koste te sny is natuurlik een manier om te probeer om ‘n onderneming vlot te hou. Die ander is om die inkomste te verhoog. En dit kan redakteurs net doen deur sirkulasie te verhoog. Redakteurs glo dat sirkulasie verhoog kan word deur al hoe oppervlakkiger en al hoe sensasioneler verslag te doen oor alles. Peet Kruger het destyds as redakteur van Beeld volgehou dat te veel ruimte aan resensies van kunsflieks afgestaan word en dat “die lesers” nie daarin belangstel nie.
Daar is ook tydens sy redakteurskap wegbeweeg van kundige resensente na die soort resensente wat kan vertel oor hulle eie indrukke van die flieks (of boeke).
Onder die slagspreuk van “dit is wat die mense wil hê”, is al meer weggeskram van ‘n boekeblad wat ‘n forum van ernstiger nadenke is. Maar die impak daarvan is dat Afrikaanssprekendes wat hoegenaamd belangstel in die intellektuele gesprek, in nuwe idees en die kritiese omgaan daarmee, hulle moet verlaat op die Mail & Guardian of op die Independent. (En dus nie meer oor Afrikaanse boeke dink en lees nie.) Die Afrikaanssprekende gemeenskap verloor die openbare ruimte vir kritiese nadenke en gesprek ten gunste van die sensasio nele, die slagspreukfilosofie. Miskien was die ou volkie nog altyd net daarop ingestel om opgewonde te raak oor rugbyspelers, oor Steve Hofmeyer se sekslewe, oor bylmoorde op witmense. Maar as dit al is wat die koerant ook bied, versterk dit hierdie gevoelens van die volk en stimuleer nog minder tot ‘n kritiese omgaan met die wêreld.
Miskien sou mens nog kon redeneer dat ‘n enkele Sakeblad al die koerante kan dien. (Al sou mens ook daaroor kon redeneer.) Die belangrike punt is egter dat die boekeblaaie in Afrikaanse koerante een van die heel laaste plekke waar, in die openbaar, ‘n gesprek oor idees in Afrikaans gevoer kan word. En as die gesprek nou gereduseer word tot ‘n enkele gesprek, grootliks bepaal deur ‘n enkele almagtige boekredakteur, is dit maar ‘n eensydige gesprek.
Breyten, jy slaan die spyker op die kop. Hoe meer “verduidelikings”, hoe sekerder dat die protes ’n sensitiewe aar raakgeboor het (om metafore gruwelik te vermeng). Goedbedoelende individue gee nie die deurslag in komplekse verskynsels soos groot ondernemings nie. Dié goed het ’n eie lewe. Al waarop hulle reageer, is druk – die risiko om finansieel skade te ly. Weer eens, ek ontken nie dat sekere individue goeie bedoelings mag hê nie, maar daardie bedoelings vorm deel van ’n dinamika wat dit oorstyg en dis daardie dinamika wat teengegaan moet word. Wie ’n spanner in die works wil gooi (soos ons behoort te doen), kyk na die hele masjien, nie na die individuele speke nie, al is dié se hartjie rein.
Vriende, wat Charles hierbo aanhaal, klink vir my na mistifikasie: kom ons neem net een persoon in diens sodat daar dan meer gedoen kan word as wanneer ons meer as een persoon het. Senior verteenwoordigers van groot maatskappy sal nooit erken dat hulle iets wat vir van hul klante waarde het wil afskaal of dat hul besluite tot swakker diens sal lei nie. Hulle sal altyd betoog dat dit juis bedoel is om ’n beter diens te kan lewer. Dis soos bankadvertensies, wat altyd die klem plaas op hoe die betrokke bank in jou as individu en jou besondere behoeftes belangstel – juis omdat presies die teenoorgestelde waar is.
Breyten, natuurlik moet ons waaksaam en soms selfs skepties bly, maar darem seker ook redelik. Die betrokke redakteur wat gebel het, het nie gevra om anoniem te bly nie, maar ek sien bloot nie kans om woorde by sy naam in sy mond te lê nie. Hy het immers onderneem om meer inligting te versprei en daarvoor moet hy eers intern raadpleeg. ‘n Aantal koerante is ter sprake.
Ons kan niks verloor deur hom/hulle kans te gee om meer inligting te verstrek waarop ons dan verder kan reageer nie. Jy is egter 100% reg oor die belangrikheid van druk wat ons hoegenaamd nie hoef te laat vaar op grond van een of meer mededelings vanuit Media24 nie. Ons kan ook wag om te sien hoe dinge in die praktyk werk.
Die minste wat LitNet se miniseminaar reeds reggekry het, was om te wys op die afstootlike gevaar van die sentralisering van mag selfs binne literêre geledere. Toe my sentrum by die RGN in die tagtigerjare met die Afrikaanse Letterkundevereniging begin het, was daar tientalle lede by die meeste universiteite. Sedertdien het die getalle dramaties verminder en mens kan deesdae bekende resensente maklik op twee hande tel. As hulle selfs verder deur deur boekeredakteurs uitgesif moet word, is dit steeds meer nag vir die letterkunde.
Mag LitNet se miniforum steeds as waghond voortbestaan. Hoeveel kundiges is deesdae nog begaan oor die rol van kanonisering, hekwagters, manipulasie van die literêre sisteem, ens.?
Beste
Charles
Nee, Charles, daar sou ek nie saamstem nie. Miskien is hierdie persoon eerlik (hoekom kan hy nie geïdentifiseer word nie? ons moet in ons pasoppens bly vir die Afrikaner establishment se geboortesonde van pêllie-pêllie hand-op-die-hart se “jy wéét mos dis met die beste bedoelings vir die goeie saak”) – of miskien is dit stories vir die slaap, vure doodslaan, heuning om die mond. Niks verhoed Media24 se topbestuur iemande om hulle saak in die openbaar te stel en verduidelik en verdedig nie. Mens móét die Boere altyd uitdryf oor die oop veld: donkerkonkel is in ons gene.
Waarom sou één ûber-redakteur beter en meer weet om boekenuus so wyd soos Media24 se genade oor die leserspubliek te versprei? Doen die bestaande boekeredakteurs dan nie hulle werk nie?
Dus – inteendeel! Ek voel ons moet die druk handhaaf want sonder dit sou ons nie eers hierdie lekseltjie verduideliking gekry het nie. En siende dit ‘n gesiglose topbesturende persoon is hoef ons mos nie bang te wees dat ons hom in die gesig sal vat nie?
BB
Hallo almal
Iemand van die topbestuur by Media24 wat die instelling van ‘n nasionale redakteur help beplan het, het my pas gebel met wat ek hoop verblydende nuus is. Hy verseker my die nuwe pos het geensins verskraling en afskaling ten doel nie, maar juis verruiming. In sy woorde: “Dis ‘n herverspreiding van boeke-inhoud van ‘n hoër gehalte na ‘n wyer gehoor – in ons dagblaaie, in By en op die digitale platforms.” Daar gaan geensins minder resensente gehoor word nie en die “superredakteur” moet juis verseker dat boekenuus beter geïdentifiseer en bekendgestel word.
Die senior redakteur wat my gebel het, het onderneem om meer besonderhede te versprei. Ek vertrou hom nogal omdat hy die letterkunde baie goedgesind is en persoonlik oor sake soos literêre sensuur geskryf het. Ek kan nie verder namens hom praat nie, maar dit is waarskynlik gerade om intussen nie te veel van ‘n veldtog te dryf voordat ons meer eerstehandse inligting het nie. Op die minste is dit ‘n voorbeeld van gebrekkige kommunikasie juis vanuit mediageledere!
Beste
Charles
Dankie vir jou deeglike uiteensetting, Gerrit – en die feit dat jy daarop wys dis deel van ‘n proses van “afdomming”.
Ek verstaan daar is vanaf vandag ‘n miniseminaar oor die aangeleentheid op Litnet. Versindaba het ook stelling ingeneem waarop mens kan voortbou. En Charles Malan fokus ook op ‘n aantal openbare vrae. Ek hoop nog steeds dit kan uitloop op ‘n algemene beswaarbrief gepubliseer deur die koerante: die base is nog meer fyngevoelig (en kleinserig) vir papier as vir kuberwind. Maar intussen sal dit goed wees as jy en ander die debatte kan stook.
By LitNet het die mini-seminaar oor dié onderwerp pas ingeskop. Bydraes wat reeds geplaas is, is dié van Breyten Breytenbach, Charl-Pierre Naudé, Joan Hambidge en Charles Malan.
Gaan kyk by: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_custom&cause_id=1270&page=boekeredakteur
Ek voorsien ‘n verdere gevaar. Reeds is daar onvoldoende bladsyruimte vir die onderskeie boekeblaaie. Die gevolg is dat bepaalde boeke óf nie geresenseer word nie, óf die resensie verskyn eers maande na die boek se verskyning. (Met die uitsondering van die belangriker publikasies, natuurlik.)
Met die konsolidasie onder één Nasionale Boekeredakteur en één boekeblad landswyd gaan dié bottelneksituasie natuurlik erger word.
En soos Media24 hul voorliefde vir rand en sent bo kulturele dinge soos boeke demonstreer is dit net ‘n kwessie van tyd voor uitgewers sal moet betaal om hul boeke (prominent) geresenseer te kry. Dis immers reklame vir ‘n boek, is dit nie?
Of nog erger. Hoe lank voor die besluit geneem word dat boeke uit die Media24-stal voorkeur moet kry bo die publikasies van ander uitgewers?
Nee, die vet weet. Uit hierdie gedoente kan niks goeds kom nie.
Pieter.
Charles Malan het gelyk. Ons veg teen die een Big Brother en dan is die volgende Ou Pappa op ons. ‘n Punt wat miskien ook duideliker gemaak moet word: hoe voel uitgewers hieroor? Al die werk wat in een boek ingaan: manuskrip na keurder na proefleser na redakteur na drukker na bemarker na een nasionale resensie?
Hallo almal
Groot dank aan Breyten wat die onding oopgevlek en iets begin doen het terwyl selfs senior Media24-werknemers by navraag niks geweet het nie! Vrye Woord wil nie met die verloop van die goed bewoorde beswaarskrif en proses inmeng nie (daar is wel ‘n gevoel dat mens dit aanlyn moet kan onderteken), maar wil wel afsonderlik namens skrywers/woordwerkers bepaalde vrae aan Media24 voorlê – juis voordat die superredakteur aangestel is. Die vrae word in die onderstaande bydrae vir LitNet se miniseminaar ingesluit. Alle belanghebbendes word genooi om daarop kommentaar te lewer en vrae by te voeg.
‘N SUPERREDAKTEUR VIR SUPERBESLUITE BY MEDIA24?
Kan ‘n mens glo dat juis die “vrye” Media24 besig is om ‘n byna diktatoriale beheer oor ‘n bespreking van Afrikaanse publikasies in te stel? Dat een persoon namens alle streke en belangegroepe kan besluit byvoorbeeld wie watter boek moet bespreek en watter publikasie meer aandag moet kry?
Die skrywersdrukgroep Vrye Woord wil omomwonde sy teenkanting teen hierdie uiters beperkende maatreël betuig. Watter ander motivering as moontlike “besparing” is ter sprake? Beheer, en waarom?
As meervoudige redaksionele besluite in die streke gaan verval, is dit inderdaad verontrustend vir die hele literêre bedryf. Die Afrikaanse wêreldjie is klein genoeg dat ons nie kan bekostig om enige meerstemmigheid en verskillende sienings oor ‘n bepaalde publikasie te verloor nie.
Naas die resensiebladsye is die huidige verskillende boekebylaes baie waardevol. Gaan hulle almal nou deur die een “gesaghebbende” publikasie vervang word, ‘n nuwe soort Times Literary Supplement?
Hoe kan een redakteur in elk geval weet wat al die onderstrominge in die literêre wêreld is en wie die uitverkorene vir ‘n bepaalde resensie is? Ek was self die slagoffer waar ‘n resensent my oor ‘n bloot persoonlike saak swart gesmeer het en die koerant self sonder my toedoen daarna ‘n tweede, gebalanseerde resensie geplaas het.
Ons veg die heeltyd teen die ANC as Grootbroer – moet ons boonop ‘n nuwe een in Afrikaanse geledere kry? Wanneer leer ons enigiets oor sentralisering, mag en lakens uitdeel? Wie gaan hierdie nuwe superredakteur wees wat alles van almal weet en al die boeke gelees het?
Dit is uiters teleurstellend dat Media24 wat hom vir ‘n vrye en onbeperkte meningsuiting beywer, so ‘n onbesonne ding aanvang om alle besluite oor boekebesprekings na een magtige besluitnemer te kanaliseer. Afgesien van die versoekskrif en miniseminaar sal Vrye Woord ook direk ons misnoë aan die groep meedeel.
Die pos is reeds geadverteer en mens kan helaas aflei die koeël is deur die kerk, maar daarmee het die skrywers en ander woordwerkers nog nie hulle stemme van verset verloor nie. As ons deursigtigheid van ‘n korrupte regering eis, mag ons dieselfde doen met ‘n magtige mediagroep wat soveel belange van ons as woordwerkers soos skrywers hanteer.
Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word in hierdie plan vir ‘n superredaksie betrek. Ons is skrywers onder Media24 en in die besonder Naspers se vleuels. Ons het die reg om op antwoorde aan te dring.
Vrye Woord versoek Media24 dus om antwoorde op die volgende vrae te verstrek:
1. Wat is die motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? As dit besparing is, hoeveel word werklik bespaar?
2. Is meerstemmigheid in literêre besprekings vir Media24 belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer?
3. Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming in streke vir Media24 belangrik en wat gaan nou daarvan word?
4. Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die moontlike bespreking van ‘n publikasie kan skuil?
5. Gaan die superredakteur ook nou ‘n groepie superresensente uitsoek wat volkome opjektief alles kan beoordeel sodat lesers landwyd hulle oordeel moet aanvaar? Kortweg: sal hulle dus ‘n publikasie kan “maak of breek” deur slegs ‘n enkele resensie?
6. Gaan die verskeidenheid literêre bylaes in Media24 se publikasies nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe ALLES van alles op die literêre terrein sal vertel?
As mens dit regkry om een skrywer se stem stil te maak, maak jy dikwels talle s’n stil. Dit werk nie in hierdie geval so nie.
Charles Malan
Die probleem lê myns insiens nie soseer by die mag van die een boekeredakteur nie as by die blote feit dat minder resensies sal verskyn – minder menings oor en perspektiewe op ’n boek. (As voormalige boekeredakteur weet ek die argument in die maatskappy is dat die een boekeredakteur ook meerdere mense kan vra om een boek te resenseer, maar in die praktyk is dit heeltemal onhaalbaar, gewoon omdat dit ’n onmoontlike werklading op die boekeredakteur sal laai.) Dit gebeur dikwels dat een redakteur ’n boek uiters negatief beoordeel terwyl ’n ander dit aanprys, dat een hierdie aspek uitlig en ’n ander iets anders. Vir ’n lewenskragtige literêre kultuur is dit absoluut noodsaaklik. Die feit dat Media24 baie naby aan ’n monopolie op die publikasie van resensies in Afrikaans en oor Afrikaanse boeke het, en die enigste koerante besit wat nog hoegenaamd so iets soos regte boekeredakteurs het, beteken dat die verantwoordelikheid op dié sakeonderneming (wat deur Afrikaans ryk geword het) rus om toe te sien dat ’n ryk, diverse literêre gesprek aan die gang gehou word.
’n Ander dimensie: ek is redelik oortuig daarvan dat die sentralisering van die boekeredakteurskap daarop gemik is om spesifieke werknemers uit te rangeer en hulle vir meer oppervlakkige joernalistieke doelwitte in te span. Daar was al pogings tot laasgenoemde, op grond van ongeldige oorwegings, wat danksy die ingryping van vakbonde (lank lewe die revolusie!) gestaak moes word. Soos ondernemings geneig is om te doen, word ’n ander strategie nou gevolg om dieselfde doel te bereik. Die lus om van sekere mense ontslae te raak het niks met die gehalte van daardie mense se werk te doen nie, maar met ’n toenemende gerigtheid op populisme waarin daar al hoe minder ruimte oorbly vir inhoud wat van mense verwag om hul brein aan te skakel. Dit gebeur nie net met boekeredakteurs nie, maar ook met spesialisjoernaliste op ander terreine. Dis ’n aspek van ’n doelbewuste strategie van “afdomming”. Ek dink die skrywers en die breër literêre geïnteresseerde gemeenskap skuld dit aan bestaande boekeredakteurs om ook vir hulle op te kom.
Gerrit
Kortsigtig, nee, belaglik, onnosel. Besuinig asb. op ander maniere.
Zandra
Een boekeredakteur kan dan alles besluit oor resensies: die persone wat kan skryf, die lengte, die strekking daarvan. Wat dan uiteindelik sal uitloop op die kanonisering (as dit nog van toepasssing is) van dit wat deel word van die ‘Afrikaanse letterkunde’.
Sentralisering is die weg na totale beheer.
Ampie
Onaanvaarbaar. Ondenkbaar. My e-pos is gestuur.
Ek kan nie verstaan hoekom Media24 Crito van LitNet-faam se taak so wil vereenvoudig nie … Dink nou: net een boekeblad landwyd met enkele uitverkore resensente en boeke om dop te hou.
Ernstig, hierdie is ‘n kortsigtige besluit wat geneem word vir koelbloedige redes wat niks met die bevordering (of ondersteuning) van die lettere te make het nie.
Ivan
Ek stem!
Skrywers, dosente, uitgewers, lesers en resensente moet protes aanteken teen die besluit om net een nasionale boekeredakteur aan te stel vir die drie dagblaaie: Die Burger, Beeld en Die Volksblad. Nie alleen verklein dit die debat (en gesprek) nie, maar die volgende is op die tafel:
‘n Skrywer kan dus een resensie ontvang wat die boek maak of breek;
Dosente kry minder resensies van ‘n boek wat navorsing beduiwel en vir studente ook sleg is: dosente verwys studente dikwels na die resepsie van ‘n boek;
Uitgewers se posisie word geïgnoreer deur hierdie kortsigtige besluit, wat boekverkope kan beduiwel;
Lesers se meningsbasis word verklein;
Resensente is ook uitgelewer aan één boekeredakteur wat ‘n magsbasis verkry. Resensies in die susterkoerante was nog altyd ‘n soort regstellende aksie. Word jy hier ingedoen, mag ‘n ander resensent regverdiger oordeel.
‘n Mini-seminaar word op Litnet van stapel gestuur. Reageer daar en in die dagblaaie se briewekolomme.
Almal wat gemoeid is met die Afrikaanse boek moet die stem dik maak.
En die talmende vraag is: is daar navorsing gedoen oor die belangrikheid van dagbladresensies?
Stamp die voete!