Synde middel-van-die-week-dag en drie dae sedert die bekendmaak van Media24 se begeerte na ‘n Nasionale Boekeredakteur, is dit seker gepas om bestek te neem van die gesprek soos dit tans daaruit sien. Alhoewel die aanvanklike voorneme ‘n griefskrif was wat deur alle besorgde skrywers onderteken en aan Media24 gestuur moet word, het die gesprek vinnig ontwikkel tot ‘n veelkantige en konstruktiewe besinning oor wesenlike vrese en bekommernisse in skrywersgeledere.
Maar wat is die hoofpunte van die gesprek soos dit op die oomblik daaruit sien?
Breyten Breytenbach, wat die gesprek Sondag met sy omsendskrywe geïnisieer het, se aanvanklike beswaar kan steeds as kapstok dien vir die meerderheid kommentare: “Vir die literatuur is ‘n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ‘n verstarring. Op ‘n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ‘n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer. ” Vir Breytenbach gaan dit primêr oor die intellektule verskraling. As teenwig stel hy ‘n vakbond voor ten einde ‘n “republiek van lettere” te vestig, asook nuwe asem vir gehalte publikasies soos Tydskrif vir Letterkunde en ‘n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds – ‘n siening wat ook deur ander deelnemers gedeel word.
Gerrit Brand se bydraes, synde ‘n oud-boekeredakteur, is eweneens van belang. Vir hom, sowel as vir Marga Collings, Willie Burger, en ander soos Joan Hambidge, gaan dit in die eerste plek oor die verlies aan veelstemmigheid wat ‘n Nasionale Boekeblad noodwendig tot gevolg sal hê: “Dit gebeur dikwels dat een redakteur ‘n boek uiters negatief beoordeel terwyl ‘n ander dit aanprys, dat een hierdie aspek uitlig en ‘n ander iets anders,” het Gerrit Brand onder andere geskryf. “Vir ‘n lewenskragtige literêre kultuur is dit absoluut noodsaaklik. Die feit dat Media24 baie naby aan ‘n monopolie op die publikasie van resensies in Afrikaans en oor Afrikaanse boeke het, en die enigste koerante besit wat nog hoegenaamd so iets soos regte boekeredakteurs het, beteken dat die verantwoordelikheid op dié sakeonderneming (wat deur Afrikaans ryk geword het) rus om toe te sien dat ‘n ryk, diverse literêre gesprek aan die gang gehou word.”
Vele ander toevoegings het gevolg, met Charles Malan wat telkens die verskillende gesigspunte met ‘n behendige swaai van die karwats bymekaarbring. En toe, uiteindelik reageer Tim du Plessis; in wese met die silwer randjie van ‘n gerustellende belofte: “Gun ons ‘n bietjie ruimte om ‘n nuwe benadering te volg. Ons moet vernuwend en pragmaties wees binne die perke van wat ons kan bekostig. Kortom, ons beoog boeke-inhoud van ‘n hoër gehalte na ‘n wyer gehoor – in ons dagblaaie, in By en op die digitale platforms. ‘n Verruiming dus, geen verskraling nie.”
Die reaksie hierop was egter nie gunstig nie: “Ek aanvaar graag dat jy die heil van die letterkunde op die hart dra en die beste bedoelings het,” het Charles Malan op sy verduideliking geantwoord, “maar niks wat jy skryf, besweer die beswaarmakers se ergste vrese nie. Ja, ja, vir verskeidenheid en meer blootstelling, maar wat van die kernbesware: minder stemme oor die letterkunde en meer gesentraliseerde mag, in hierdie geval by ‘n enkele persoon? Wat van die verskeidenheid aanbiedings deur verskillende koerante wat nou gaan verdwyn?” Ook Eloïse Wessels se toetrede – met ‘n soortgelyke uitgangspunt as Tim du Plessis s’n – kon nie daarin slaag om die “beswaarmakers” se “ergste vrese” te besweer nie.
Intussen het LitNet se mini-seminaar oor die onderwerp ook Maandag ‘n aanvang geneem en reeds is daar besonder sterk bydraes deur al die prominente gespreksgenote in hierdie belangrike debat gelewer. Veral LitNet se anonieme sluipskrywer genaamd Crito se bydrae het my oog gevang. Na ‘n lang uiteensetting, wat daarop neerkom dat ‘n verskeidenheid stemme in die resensiebedryf ‘n noodsaaklikheid is, verklaar hy (?) sy pessimisme oor dié aangeleentheid: “Die rede vir my pessimisme lê in die onlangse geskiedenis van die drie oggendkoerante se boekeblaaie – die verhaal van vervlakking en agteruitgang. As Tim du Plessis vir my sê dat hy hierdie agteruitgang wil stuit, sal ek meer gerus voel, maar dit is ongelukkig nie die geval nie.” Crito sluit sy (haar?) bydrae af met die volgende stelling: “Mens weet nie in watter mate die linkerhand weet wat die regterhand doen in Media24 nie, maar dit is seker veilig om aan te neem dat NB-Uitgewers nie opgewonde is oor die vooruitsig van ‘n verdere vermindering van resensies van hul boeke nie. Hopelik sal hulle nie stilbly in hierdie debat nie – terwyl daar nog tyd is om te keer. Want om heeltemal eerlik te wees, NB-Uitgewers en sy Afrikaanse skrywerskorps, verreweg die grootste van al die plaaslike Afrikaanse uitgewerye, gaan die grootste verloorders wees as hierdie ontwikkeling toegelaat word om voort te gaan. Is dit dus enigsins in Media24 se belang om dit te doen? Ek glo nie.”
So, die skeidslyne is getrek met gewigtige bekommernisse aan deuse kant en goedbedoelende gerusstellings aan daardie kant. Maar hoe nou verder? Die aansoeke vir die pos van Nasionale Boekeredakteur sluit oormôre en daarna is die aangeleentheid in die hande van direktiewe boontjietellers wat waarskynlik meer op hoogte is met die inhoud van Business Day as die publikasies waaruit hulle hul dividende verdien.
Vir jou leesplesier – en ook om darem nie die digkuns uit die oog verloor nie – volg ‘n enigsins profetiese gedig deur die Nederlandse digter Norbert de Belile onder aan vanoggend se Nuuswekker.
***
Sedert gister het daar net een bydrae bygekom in die vorm van Marlies Taljard wat die vierdie aflewering in haar reeks oor Rooshoek se poësiekerk geplaas het.
Gelukkig is daar darem heelwat belangrike kommentare om jou leestyd mee te verwyl. En neem deel; dit is ‘n belangrike gesprek hierdie.
Mooi bly.
LE
Hij is een dichter.
Aan tafel neemt hij
van alles wat onbreekt
en glimlacht bij zoveel
overvloed.
© Norbert de Belile
Dis onregverdig teenoor ons skrywers om slegs een boekeredakteur aan te stel vir Media 24. Ek sluit aan by almal wat beswaar maak.
Ek het reeds gesê wat ek wou sê – nie dat ek dink dit gaan veel help nie. Dit lyk of hulle net eenvoudig sal voortgaan daarmee.
Het ‘n idee – hoekom staak al die Afrikaanse uitgewers nie hulle gratis boeke aan koerante nie. Dan kan Louis hier op Versindaba ‘n webwerf net vir boekresensies stig. Dan stuur die uitgewers die boeke na hom toe en kan hy dit uitdeel vir resensies – dan kry ons steeds verskillende menings oor nuwe boeke – en dan hoef ek nie langer koerante te koop daarvoor nie.
Louis, ek vra maar net . . .
Ek wil ook graag my kommer uitspreek oor een nasionale boekredakteur vir die Afrikaanse koerante: In my lang uitgewersloopbaan het ek gesien hoe die forum vir boekbesprekings deur die jare verklein: daar verskyn soveel minder indringende resensies van ’n Afrikaanse boek as ’n dekade of twee gelede. Dat die forum vérder gaan verklein, is vir my erg kommerwekkend. En dat ’n boek en skrywer se sukses dalk gaan afhang van één resensie in die onderskeie Afrikaanse koerante, dít vind ek baie onthutsend.
Alida Potgieter
Human & Rousseau
@Charles: Jy skryf: “Niemand wil graag glo Mammon is vir julle belangriker as ‘n kernaspek van kultuur en die Afrikaanse geesteslewe nie.”
Ek WIL dit nie graag glo nie Charles, maar ongelukkig is dit so – dis Mammon wat hier aan bewind is. Dis so eenvoudig soos dit.
OPE BRIEF AAN TIM DU PLESSIS
Beste Tim
Aangesien jy aanvanklik via my met woordwerkers geskakel en sedertdien nie geantwoord het nie, het ek die vrymoedigheid om ‘n opvolgbrief te skryf. Ek wil herhaal dat ek glo jy en jou medebesluitnemers waarskynlik die beste bedoelings met ‘n superredakteur gehad het, maar dit is nou duidelik julle verkoop glad nie die idee aan skrywers en ander woordwerkers nie.
Jy kan hierdie interne meningswisseling en dié op LitNet volg, maar ek wil jou verseker dat ek selfs na raadpleging nog van geen woordwerker gehoor of gelees het wat die voordele en verruiming kon insien nie. Daar is wel enkelinge soos Kerneels wat voel ons moet kyk hoe ons die beste van ‘n slegte saak kan maak. Maar dit bly ‘n slegte saak, hy stem saam.
Dit is duidelik dat ‘n volskaalse boikot deur skrywers en resensente nou ophande is. In ons soort groepering van woordmense moet redelikheid en oorreding altyd oorheers, maar natuurlik slegs indien dit werk. Daar is geen teken dat dit werk en die superredakteur nie aangestel gaan word nie. As julle voel ons is onredelik, moet julle die heeltyd in gedagte hou dat Breyten bloot toevallig op julle advertensie afgekom en opgetree het, en ons geensins geraadpleeg is nie. Topbestuurders van ons skrywers se eie NB-uitgewers het nie eers geweet nie.
Die Vrye Woord-drukgroep kan geensins namens alle woordwerkers praat nie, maar ons is bereid om ‘n daadwerklike protesaksie en selfs boikot verder te help koordineer. In my eerste skrywe op LitNet het ek reeds kernvrae oor die nuwe stap aan Media24 gestel en hulle het nie verdwyn nie – hulle sal steeds gestuur word. Die verset val dus nie uit die lug nie.
Media24 het oor jare heen tientalle van my resensies in julle koerante gepubliseer en ‘n aantal van my boeke laat bespreek – alles dinge waarvoor ek baie waardering gehad het omdat dit ook ‘n groter diens aan die letterkunde was. Ek wil dit nou egter onomwonde stel dat ek nie bereid is om as skrywer of resensent enigsins met die superredakteur saam te werk nie. Dit afgesien van enige boikot.
Ek skryf bv. op die oomblik op eie inisiatief vir Beeld aan die bekendstelling van ‘n boekie oor Suid-Afrikaners in Nederland, Huis in de Mauritsstraat. Een huis voor Zuid-Afrikaanse studenten in Utrecht. Daar is nie ‘n sneeubal se kans in Libië dat die superredakteur dit sal plaas nie. Hy/sy gaan nie ruimte/tyd/insig/lus vir so ‘n onbenulligheid hê nie.
Ek hoor by iemand uit julle binnekringe dat die aanstelling ter wille van besparing en ervaring waarskynlik iemand uit julle binnekringe sal wees. Dit sal dus nie te veel trauma en drama veroorsaak om die hele projek te laat vaar nie. Miskien moet julle luister na die baie ernstige versoek van julle belangrike medewerkers en meningsvormers, die skrywers.
Laat vaar die verskralende plan en bou eerder julle boekeredaksies uit. Daar is argumente geopper dat julle sodoende meer sal bespaar! En drie streke se talle betrokkenes by boeke gelukkig sal maak, beginnende by lesers. Niemand wil graag glo Mammon is vir julle belangriker as ‘n kernaspek van kultuur en die Afrikaanse geesteslewe nie.
Groete, steeds baie vriendelik
Charles
Hiermee wil ek ook my steun voeg by die beswaar teen die aanstelling van slegs een boekeredakteur vir die hele S.A.
Aangesien skryfwerk by uitstek uiteenlopende doelstellings, perspektiewe en uitvloeisels het, vind ek dit stiksienig van die pers om die blootstelling van skrywers, boeke en forums verder te beperk.
Die pers is by uitstek die medium waar die leser kennis kan maak met nuwe werke, en daardeur ook ‘n mening kan vorm of dit die moeite werd sal wees om ‘n werk aan te skaf. Dit is dus publisiteit vir die skrywer, maar ook vir die uitgewer.
Media 24 skiet homself in die voet om hierdie bronne van blootstelling af te sny. Verkope van boeke hou ‘n defintitiewe verband met die blootstelling van werke juis in die dagblaaie. Lesers – dit wat ons graag van ons volk, ons hele volk , wil maak – blaai gretig op die “boekeblad”-dae na die afdeling waar hulle kan sien wat nuut verskyn het.
Ek maak ten sterkste beswaar teen die afskaling van sulke “boekeblaaie” by die verskeie koerante.
Christine Barkhuizen le Roux
Een van die belangrikste bydraes tot hierdie gesprek, myns insiens, het pas by LitNet se mini-seminaar verskyn. Dit is Kerneels Breytenbach se stuk met as titel: “Diversiteit van resensies is van allergrootste belang”. Hierin gee hy ‘n treffende oorsig van onder andere die historiese ontwikelling tot die situasie soos dit tans daaruit sien.
Gaan kyk by: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=99633&cause_id=1270&cat_id=166