
Môre sluit die aansoeke vir die pos van Nasionale Boekeredakteur en die aanloop hiertoe was inderdaad vurig en gevarieerd. Dankie veral vir die deelnemende stemme aan hierdie uiters belangrike gesprek. Nogtans is dit interessant om te sien hoe die toon van die bydraes sedert Maandag verander het. Uiteraard het die eerste bydraes gefokus op die implikasies van Media24 se besluit ten gunste van ‘n superredakteur, maar spoedig het daar ‘n gevoel begin ontstaan dat eie perde voor eie wa ingespan sal moet word ten einde iets uit skrywersgeledere tot stand te bring wat na hul belange sal omsien.
Ook ek is van mening dat hierdie beoogde aanstelling nié deur die Media24-base hersien gaan word nie; veral omrede Tim du Plessis dit byvoorbeeld nie eens nodig geag het om op enige van die skrywes wat aan hom gerig was, te reageer nie.
Nee – ek’s bevrees dat ons moet aanvaar dat daar geen herbesinning by Media24 hieroor gaan wees nie. Dit is ‘n besigheidsbesluit met ‘n lang aanloop sonder aansien of lojaliteit; selfs nie eens teenoor hul eie bestaande boekeredakteurs se poste wat hierdeur in gedrang gebring word nie. Hulle is immers aan niemand buiten hul aandeelhouers ‘n verduidelik verskuldig nie.
Dus vermoed ek dat Breyten, en ander, se voorstel ten gunste van ‘n vakbond en verbandhoudende Skrywersfonds die pad vorentoe is; na alle waarskynlikheid is dit iets wat al lankal nodig is. Boonop, al herbesin Media24 tóg oor hul voorgenome aanstelling, is daar dan altyd die verdere voordeel van ‘n instansie wat op deurlopende manier sal omsien na skrywersbelange. (Dit gebeur immers net té gereeld dat skrywers hoed-in-die-hand uitgelewer staan by die agterdeur van markdinamika binne ‘n amperse monopolistiese literêre sisteem. Hemel, is dit dan nie die skrywer se skryfwerk wat hierdie industrie in stand hou en voed nie?! Waarom moet die skrywer dan die heeltyd pasoppens loop teen marginalisering en sywaartse stuwing?)
Nietemin, die vraag bly: hoe vorentoe met die voorgestelde plan van aksie ten gunste van ‘n vakbond en verwante Skywersfonds? Afgesien van voorstelle wat reeds gemaak is deur Breyten Breytenbach en andere, kan hier myns insiens dalk ook gekyk word na bestaande oorseese modelle; in dié verband is die Vlaamse Fonds voor de Letteren dalk ‘n goeie voorbeeld. Maar is dit haalbaar? Nie net gaan dit fondse verg nie, maar ook voltydse administratiewe personeel …
Vir jou kennisname volg die VFL se reglemente onder aan vanoggend se Nuuswekker. Veral die opmerking oor diversiteit verdien pertinent aandag, gesien in die lig van Media24 se gewraakte voorneme tot sentralisering.
***
Sedert gister is Melanie Grobler se fotobeeld geplaas. En dan het Andries Bezuidenhout ook ‘n blog geplaas oor die mynwerkers in Welkom. Ag, jinne. En dit is waar ek gebore is en waar ek groot geword het. Hoe smag my murg en kraakbene nie nou na daardie troostelose wêreld nie!
Maar nou ja, so is dit.
Mooi bly.
LE
Het Vlaams Fonds voor de Letteren is een Vlaamse Openbare Instelling (VOI), opgericht op 30 maart 1999 en actief sinds 1 januari 2000.
Missie
Het VFL steunt de Nederlandstalige letteren en de vertaling in en uit het Nederlands van literair werk in de brede zin van het woord. Op die manier helpt het de sociaaleconomische positie van Vlaamse auteurs en vertalers te verbeteren.
Beleid
Het VFL-beleid is gericht op de ondersteuning van creatie, productie, presentatie en omkadering. Hiertoe verleent het VFL subsidies, informatie en documentatie. Het VFL organiseert en financiert ook projecten, samenwerkingsplatforms en andere initiatieven.
Kernbegrippen: kwaliteit, professionaliteit en diversiteit
Kwaliteit is het belangrijkste criterium in het beleid van het VFL: bewuste aandacht voor vernieuwing, lef, durf, literair avontuur en authenticiteit.
Het VFL subsidieert projecten die blijk geven van een professionele aanpak met aandacht voor objectieve positionering in het literaire veld, zelfevaluatie en effectmeting. Ze moeten mee het imago en de plaats van literatuur en professionele literatuurbeoefenaars in de kunstensector versterken.
Diversiteit in het literaire landschap is cruciaal. Het VFL besteedt extra aandacht aan de verschuiving, vervaging en uitwissing van grenzen tussen genres en is alert voor experimenten met nieuwe media. Er moet ook diversiteit zijn in doelgroepen en ingezette middelen.
@ Johan Swarts , Dis ‘n baie interessante skakel. CreateSpace is n Amazon.com maatskappy waar jy in n japtrap met behulp van hul aanlyn sagteware jou boek kan publiseer (met ISBN ) en dit is dadelik te koop op Amazon.com Geen kostes vir jou nie hulle neem net hul deel van enige verkope wat gedruk word soos bestellings geplaas word. (eboeke sowel as papier)
Nee hulle is nog nie dood nie, maar dit was nie die kwessie nie. Die aantal resensies per boek in Afrikaanse koerante is beslis minder, en die ruimte vir boeke (in koerante) is ook minder. Interessante skakel; dankie!
So. Is die boeke al dood?
Nee. Hulle is nie.
Terloops: http://www.nytimes.com/2011/10/17/technology/amazon-rewrites-the-rules-of-book-publishing.html?_r=1&pagewanted=all%3Fsrc%3Dtp&smid=fb-share
Ek stem saam met Marlise t.o.v. die baie lesers wat nie by rekenaars kan uitkom nie, maar die ander vrees wat opduik is ‘n onge -ergdheid wat onder nog ‘n groep lesers bestaan. Dis niks nuut nie en sal nooit verdwyn nie, maar soos jy sê Louis, die poësie sal sekerlik die hardste geslaan word. Na vele prate, soos ‘hulle’ sê, op voetsoolvlak, klink dit vir my asof die swye oor die nuwe redakteur meer te doen het met radeloosheid, as met wag-en-kyk.
Iemand het die interessante opmerking gemaak dat Media-24 miskien iets in die mou voer deur juis dié persoon aan te stel as Boekredakteur, wat in die algemeen gesien word as die een wat op haar eentjie daarin geslaag het om INSIG finaal oor die wal te stuur.
Nouja.
Om uit te vind wat die plan sou wees sal mens seker maar moet wag-en-kyk. En natuurlik het ek nou met die brokkie nuus my eie kanse vir enige resensies vorentoe in onse driemaal eenmalige boekblaaie finaal gekelder. Sou dit werklik ‘n verlies wees?
Charles, die forum is steeds beskikbaar vir openbare gesprekvoering oor die onderwerp, maar dit wil voorkom asof daar nie veel belangstelling is nie.
Stilte is immers ook ‘n antwoord.
Persoonlik beskou ons dit as ‘n ramp vir die digkuns, want dit is die genrè wat die hardste hierdeur getref gaan word.
Maar nou ja, dit wil voorkom asof die meeste kommentatore op dié stadium ‘n wag-en-kyk-houding inneem.
Of is dit gods-water-oor-gods-akker?
Ten slotte – vanweë jou slotopmerking vermoed ek dat jy lanklaas besoek gebring het aan die webblad. Gaan kyk gerus by dié skakel: https://versindaba.co.za/2011/03/25/johann-de-lange-wen-2011-hertzogprys-vir-poesie/
Neem Versindaba nog deel aan die openbare bespreking oor die aanstelling van Elmari Rautenbach, of het die gesprek volgens die inleidende stuk by dag 4 opgehou? Laat ons tog nie met die diskoers onder mekaar ophou nie, want die superbylae sal dit nie kan hanteer nie.
En namens die stil Versindaba uit die hart geluk aan Johann de Lange met die welverdiende GROOT prys!
Ons lees ook koerante via die internet. Dis hoe ek die NY Times lees en The Guardian.
Ons praat hier oor iets heel anders. Solank as wat daar nog drie afsonderlike susterkoerante gedruk word, vra ons vir drie afsonderlike boekeblaaie. Net soos een sport- of sakeblad nie nasionaal almal kan bedien nie. Daar bestaan verskillende behoeftes en kwessies.
En, diep sug, daar is vele lesers wat net koerante koop.
1. http://www.engadget.com/2011/03/15/online-news-overtakes-paper-and-nearly-half-of-it-is-mobile/
2. http://www.un.org/ecosocdev/geninfo/afrec/vol24no4/social-media-boom.html
Wakkerskrik, vriende.
’n Vraag om aan die ope brief aan die grootbase toe te voeg, moet dalk wees: Hoekom word ’n nasionale boekeredakteur as ’n goeie idee gesien nadat nasionale redakteurs vir die kunsblaaie en die bylae onderskeidelik reeds uitgeprobeer is en misluk het?
STEEDS OOR DIE MOONTLIKE BOIKOT
Naomi Bruwer van LitNet het nou ook ‘n deel van die gesprek op hierdie interne platform by hulle gelaai. Kyk by:
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_custom&cause_id=1270&page=boekeredakteur
******************
Vrye Woord het reeds onderneem om die nuwe superredakteur dop te hou oor resensiekeuses. As die mediabase onderneem om ‘n verskeidenheid sienings te publiseer, moet hulle dit waar maak. Lees gerus Crito se binnekring-inligting oor wat werklik gebeur op LitNet se forum.
Op grond van die debat tot dusver is die oorspronklike vrae van Vrye Woord aan Media24 se topbestuur aangepas en sal dit nou aan hulle gestuur word omdat dit lyk asof die superredakteur ‘n uitgemaakte saak is. Die ope brief word gestuur aan mnr. Abraham van Zyl, uitvoerende hoof van Media24, met afskrifte aan mnre. Peet Kruger en Tim du Plessis.
Die vrae is die volgende:
1 Wat is die motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? Hoofsaaklik “beter gehalte”
in ‘n gesentraliseerde blad, soos ons meegedeel word? As dit ook besparing is, hoeveel word werklik bespaar?
2 Is meerstemmigheid in literêre besprekings belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer, behalwe deur die
keuses van die superredakteur wat sekerlik nie telkens drie resensies gaan publiseer nie?
3 Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming in die drie streke van die dagblaai belangrik en wat gaan nou
daarvan word?
4 Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die m
oontlike bespreking van ’n publikasie kan skuil?
5 Gaan daar naas die superredakteur ook nou ’n uitgesoekte groepie superresensente wees wat volkome objektief
alles kan beoordeel sodat almal landwyd hulle oordeel in (gewoonlik) ‘n enkele resensie moet aanvaar? Kortweg:
Sal hulle dus in die posisie wees om ’n publikasie te kan “maak of breek”?
6 Gaan die verskeidenheid huidige literêre bylaes nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe
alles van alles vanoor die land sal vertel?
7 Daar is waardering vir Rapport se boekebylaag as ‘n bykomende besprekingskanaal (hoewel talle nuwe boeke nie
bespreek word nie), maar is Huisgenoot soos dit tans lyk, ook enigsins ‘n realistiese alternatief, soos ons meegedeel is?
Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word in
hierdie plan vir ’n superredaksie betrek. Ons as skrywers is meestal onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers
se vleuel. Ons het die reg om op antwoorde aan te dring.
Vrye Woord sal almal op hierdie forum ingelig hou oor die korrespondensie.
HUISGENOOT AS ‘N ALTERNATIEWE RESENSIEPLATFORM?
Marga Collings voel dat ek Huisgenoot onnodig negatief beoordeel het. Sy skryf o.m.:
Jy mag onthou dat ek in my bydrae tot die debat verwys het na verskillende “registers” in die bespreking van boeke.
Ek het spesifiek aan Huisgenoot gedink. Ek dink dit is werklik die moeite werd vir jou om eers na daardie boekeblaaie
te kyk voordat jy kwetsende uitlatings maak. Die blaaie is uitstekend. Ja, dis nie akademies nie, en dit moet ook nie
so wees nie. Maar al die belangrike Afrikaanse boeke word daarin bespreek, op ‘n toeganklike en sinvolle manier.
En net so sterk soos ek oor die boekeblaaie in die drie dagblaaie voel, só sterk voel ek daaroor dat Huisgenoot se
boekeblaaie ’n belangrike rol vervul en ongelooflik baie doen vir die Afrikaanse letterkunde en skrywers.
Die blaaie word met liefde en toewyding saamgestel deur Elna van der Merwe, voorheen van Boeke-Insig.
’n Kundige en ervare en wydbelese boekjoernalis, dus.
Ek het Marga reeds bedank vir haar belangrike perspektief en die tydskrif gaan koop, die eerste keer in jare.
Toe ek slegs ‘n arikel (geen resensie nie) oor ‘n Engelse nie-fiksieboek (oor die band tussen ‘n vrou en haar hond) kry, het ek ‘n hele stapeltjie tydskrifte in die veearts se spreekkamer deurgeblaai. Ek kan nie een
bespreking van ‘n Afrikaanse boek vind nie. Dit wil nie sê dit verskyn nooit nie. Ek moes in my soektog eers in die nuutste uitgawe by Steve en sy herwonne skelmpie, en Rudi en sy onherwonne liefling Corlea reg van die voorblad af verby kom.
Ek dink darem dit was uit my snedige verwysings duidelik dat ek na die sensasiebehepte tydskrif verwys en nie ‘n oordeel oor die boekeblaaie self uitgespreek het nie. Ek het immers geskryf ek het jare laas die tydskrif gekoop en sou dus nie oor die blaaie kon oordeel nie. Oor die sensasie daarin word ons gereeld deur die dagblaaie ingelig en hoef nie Huisgenoot te koop nie.
Ek hoef seker nie my minagting vir Huisgenoot se sensasiejoernalistiek te motiveer nie. Enige kombinasie van Steve+Joost+Jurie+seks word ‘n voorbladskandaal. Die is ‘n ontsaglike vervlakking van Afrikaanse joernalistiek in ‘n tydskrif waarin bekende skrywers eens gepubliseer het. Dit spoel boonop oor na die
dagblaaie wat tou staan om die sappige opskrifte oor te neem, met verdere verwysing na Huisgenoot, omdat hulle weet hoe dit hulle eie verkoopsyfers ook opjaag.
En ja, ek het geskryf die kombinasie “hoge literatuur” en die hedendaagse Huisgenoot is lagwekkend.
Daar kan sekerlik nie van ernstige lesers verwag word om die blad te koop om alternatiewe of aanvullende literêre sienings te kry nie. Ek dink na my verkenning steeds so, want ek kon niks daarvan vind nie.
Ek het respek vir Marga se oordeel en wil dit duidelik stel dat ek nie ‘n mening oor die boekeblaaie self of die gewaardeerde rol van Elna van der Merwe uitgespreek het nie. Ek is sedert die tagtigerjare bekend as een van die eerstes wat akademiese artikels oor die belangrikheid van populêre literatuur geskryf het en ek moes die reglement vir die eerste ATKV-prys vir “goeie, gewilde literatuur” (destyds so genoem) opstel.
Laat ons wat so oor verskraling besorgd is, dus juig oor enige verbreding van die literêre toneel waar dit wel daadwerklik gebeur. NB en Lapa gee deesdae populêre leesstof op groot skaal uit en dit is reg so.
Ek aanvaar natuurlik ook dat almal wat Huisgenoot lees, nie swak smaak het nie! Ek het dit in die eerste plek teen die swak Son-tipe joernalistiek wat van die voorblad af oorheers. Dit maak die tydskrif vir enige
ernstige leser onaantreklik. Daar is egter wel enkele goeie artikels en hulle uitgebreide bylae vir jonger lesers is seker goed genoeg om dit ‘n “gesinstydskrif” te maak.
As dit net nie vir die rolmodelle se rondrol in die bed was nie! Is dit reg om die jeug met sulke snert groot te maak? Is die verkoopbare beeld wat gaan oorleef dié van die Springbokkaptein en held Joost wat beter
snuif en buite-egtelik rondhop as wat hy kan skop en uitgee? Of van die pampoenheld Steve terug in die arms van sy skelmpie? Is hierdie soort goedkoop sensasie, kompleet met foto’s van “gelukkiger dae”, regtig
vir Afrikaanse lesers die topprioriteit?
Die hemel help ons.
Marga, jou argument hier verdien grondige besinning!
Beste Gerrit
Nee, ek verwar nie strategie met uitkoms nie. Ek dink net nie dat ’n boikot-strategie die uitkoms sal bewerkstellig wat enigiemand wil hê nie.
Wanneer ’n vakbond staak, is die bedoeling dat die betrokke maatskappy/organisasie só seer te maak dat verliese gely word deurdat produksie verminder of heeltemal ophou. Die koerante kan voortgaan en sál voortgaan. Al wat sal gebeur, sou resensente staak, is dat mense wat minder kundig is die resensies op die boekeblaaie sal skryf, dat die boekeblaaie minder relevant word en minder lesers trek. Dit sal eindig not with a bang, but with a whimper.
Groete
Marga
Beste Marga, dankie vir jou helder betoog. My vraag: verwar jy dalk nie strategie met uitkoms nie?
Dink aan ’n staking wat deur ’n vakbond onderneem word. Die bedoeling is om mense se werk te behou of hulle beter lone te laat kry. Daarom word gestaak. Gestel nou iemand sou redeneer dat die staking ’n teenstrydigheid is: Die vakbonde se hele geveg gaan om beter lone, maar nou verloor hul lede geld deur die staking; hulle wil hê hul lede moet aanhou werk, maar nou weier hulle om te werk. Dit sou tog nie ’n geldige argument wees nie? Die doel met die staking is om die werkgewer verliese te laat ly sodat hulle afsien van beplande afleggings of sodat hulle lone verhoog. Meestal werk dit.
Dis myns insiens ook hier die logika: As geen gerespekteerde resensent meer wil resenseer nie, verloor die koerant se boekeblad (nie meer boekeblaaie nie …) alle geloofwaardigheid, en daardeur sal die koerante skade ly. Die doel is om hulle van hul besluit te laat afsien.
’n Vakbond bereik nie sy doel deur met goeie argumente die base te probeer oortuig nie (die base sal sê: “Ons hoor julle”, en dan gewoon aangaan om te doen wat hulle in elk geval beoog het om te doen). As die literêre wêreld dink hulle kan met argumente en pleidooie Media24 oorreed om nie ’n nasionale boekeredakteur aan te stel nie, kan hulle nou maar ophou probeer. Dit sal ’n mors van energie wees. Dis seker ook ’n opsie, maar dan moet dit duidelik wees dis waarop besluit word: Ons teken protes aan, maar ons gaan lê.
Gerrit
Er, dit moet ‘one-eyed undertaker’ wees, nie ‘undertaken’ nie; en ‘eenogig’, nie ‘enogig’ nie… Ek wag nou al jare om hierdie aanhaling te gebruik, dan spel ek verkeerd!
@Joe
As jy mooi lees, sal jy oplet dat ek reeds my hulp aangebied het 😉
Johan, jy het gelyk dat ‘n pragmatiese ingesteldheid net ‘n bonus kan wees in hierdie debat.
Ek dink dit is egter belangrik om weer te fokus op waaroor die debat eintlik gaan: die amalgamering van die boekeblaaie van Die Burger, Beeld en Volksblad; die probleme wat dit skep; en welke oplossings daar bestaan met die huidige stand van sake. Ek is seker almal sal saam met jou die Futuristiese Dans van Oorwinning doen. Jy wil blykbaar graag hê almal moet let op die papierlose en boomryke toekoms waarin ons onsself reeds bevind, en hoewel dit nodig is om van hierdie verwikkelinge bewus te wees, moet hierdie gesprek dalk nie onpragmaties uitkring nie.
Kom ons sê argumentsonthalwe dat alles binnekort net via die internet en derglike kanale gaan gebeur. Dagblaaie soos Beeld sal waarskynlik dan mos voortbestaan in e-vorm, al is dit dalk drasties anders van hulle papiervorm. Dieselfde geld vir Die Burger en Volksblad. Dit los steeds nie die probleem op van die afdomming d.m.v. een Führer-redakteur en -boekeblad nie. Ek is seker ek hoef teen hierdie tyd nie uit te brei oor waarom dit sleg is dat die boekeblaaie saamsmelt nie. Die negatiewe invloed hiervan op die literêre sisteem is al goed opgesom deur verskeie deelnemers.
Ek stem ook saam dat kompetisie vir die bestaande Media24-monopolie (durf ek dit sê?) oor die Afrikaanse media goed sal wees. Ons moet ook erken dat daar wel goeie redes aan te voer is waarom sulke kompetisie nog nie tot stand gekom het nie. Dit beteken egter nie dit is onmoontlik nie, en hier het jy weer gelyk: die internet is ‘n ideale plek daarvoor.
Daar is egter genoeg argumente wat daarop dui dat die koerant se tyd NOG NIE uitgedien is nie (ten spyte van die tegnologiese utopie wat jy skep). Skat Dawson in sy interessante blog nie ook dat dit werklik eers oor ‘n dekade of wat finaal gaan wees nie? Die feit dat mense graag Facebook en Twitter via hulle selfone raadpleeg, beteken nie hulle lees ook iedere oggend Beeld en so nou en dan Mail & Guardian via hulle selfone nie. Die meerderheid tech-savvy jongmense (en ouer mense) het ongelukkig nie ‘n MA in Afrikaans nie. So is dit maar. Die sosio-maatksaplike kwessies is veel meer kompleks as dit.
Jy skryf in reaksie op Heidi: “Ek stel voor jy raadpleeg iemand by Naspers, AVUSA, Caxton of INM oor die nuutste AMPS of Nielsen-statistieke vir Suid-Afrika. Hulle sal jou vertel dat gedrukte koerante stadig maar seker aan die uitsterf is.”
Nou en? “Stadig maar seker aan die uitsterf” is nie dood nie, en wat op die afsterwe volg sal bou op wat dood is – dus is dit seker relevant om ook besorg te wees oor sake in die hier en nou (al vrek ons en die papierpublikasies met elke sekonde wat verbytik). Ek verkies om nie konstant te hoop op more nie, maar darem ook bewus te wys van die hede. Hoe funksioneel die verkoopstatistieke waarna jy verwys is, is natuurlik iets waaroor daar erg hare gekloof kan word. Onthou jy nou weer hoeveel mense lees een eksemplaar van die Huisgenoot? Verkoop- en verspreidingstatistieke maak nie die maatskaplike kwessies waarop Heidi wys ongedaan nie.
Soos Desmond sê: ons kan seker ooreenkom om hieroor te verskil, en kom ons beweeg aan. Dit is in ieder geval glad nie funksioneel om heeltyd vir almal te vertel hoe oningelig, verkeerd, oudmodies en onfuturisties hulle is as dit nie bydra tot die gesprek nie. ‘n Pragmatiese ingesteldheid moet tog lei tot meer as net cultural quips, quotes en sarkastiese gegiggel.
@Johan – “And the one-eyed undertaken, he blows a futile horn” – ja, dis weer Bob Dylan! Ons sal nog sien wie die enogige ondernemer in hierdie verhaal is, en wat futiel was en wat nie, maar intussen verskil ek nie so veel van jou wat die alternatiewe betref nie. Maar ek is maar ‘n sakker vir losers en lost causes… Dankie vir die skakels.
@Desmond – Maar dit is futiel. Ek bedoel nie hiermee dat dit nie ‘n edel stryd is nie. Inteendeel. Soos ek egter verstaan, is die besluit lankal reeds deur Media24 geneem. Behalwe as ‘n klaer in ‘n bestuurspos by Naspers sit, gaan die klagtes op dowe ore val.
Natuurlik! Ek verskil nie van jou wanneer jy skryf dat ‘n mens soveel moontlik dinamika op papier sowel as in die kuberruim wil hê nie. Ek verkies bloot om pragmaties hieroor te dink. ‘n Besluit is geneem. Ons het geen seggenskap in daardie besluit nie. ‘n Mens kan kla, of jy kan oplossings probeer vind.
Onthou, daar is twee maniere om maatskappye te kry om iets te doen. Die eerste een is om hulle te boikot. Myns insiens is dit egter kinderagtig en teenproduktief – nie genoeg mense gaan omgee hieroor nie. (Behalwe dalk as julle Deon Maas kan kry om te skryf oor die Sataniese dood van die boekeblaaie.) Die tweede manier is om met hulle te kompeteer en hulle as ‘t ware te dwing om ‘n beter produk uit te bring. Dis tog hoe die vrye mark werk?
Of daar nou drie boekeblaaie of tien boekeblaaie is – as dit in die besit van een maatskappy was, was dit nooit regtig diversiteit om mee te begin nie.
@Heidi – Jy dink verkeerd. Rekenaar != internet. Vra gerus die petroljoggie of jou huishulp volgende keer of hulle Facebook op hulle selfoon gebruik. Jy mag dalk net verras word.
Dit is. Ek stel voor jy raadpleeg iemand by Naspers, AVUSA, Caxton of INM oor die nuutste AMPS of Nielsen-statistieke vir Suid-Afrika. Hulle sal jou vertel dat gedrukte koerante stadig maar seker aan die uitsterf is. (Die uitsondering is natuurlik legendariese publikasies soos The Voice en Die Son. Hulle sirkulasiesyfers groei.)
As jy ‘n futuristiese streep weg het, kan jy gerus ook hierdie lees: http://rossdawsonblog.com/weblog/archives/2010/10/launch_of_newsp.html
@Johan. Weereens, wat die moontlikhede van die internet betref is ek en ek dink meeste ander dit eens met jou. Natuurlik — hier sit ek nou op die internet (en ek het netnou nogal Die Burger se boekeblad aanlyn besoek…).
Ek verskil maar net wanneer jy skryf: “Die besluit om dit te beëindig kan seker as hartseer gesien word, maar dis hulle s’n om te neem. Om daaroor te kla, is futiel.” Ek dink dit gaan oor meer as boekresensies, dat die besluit nie sommer maar net hulle s’n is om te neem nie, en dat openbare debat en protes (wat jy “kla” noem) nooit heeltemal futiel is nie.
Solank daar koerante bestaan is daar geen rede waarom hulle nie ook goeie koerante kan wees nie. Wie ook al die nuwe redakteur gaan wees, mens wil hoop dat daardie persoon so veel as moontlik sal doen om binne die nuwe beperkinge ‘n boekeblad sal bedryf wat so dinamies as moontlik is. Op papier en in die kuberruim.
Maar ons kan seker ooreenkom om hieroor te verskil!
‘n Naarstige vasklou aan dooie bome is nou nie juis iets waarvoor ek baie tyd het nie. ‘n Liefde vir die letterkunde, daarenteen, is iets waarvoor ek respek sonder end het.
Dit het jy geskryf.
Dis waarom ek jou daarop wys: ‘n boek is ook ‘n dooie boom…
@Johan: Jy dring aan op “harde data” en sê dan: “Al dink ek die meeste van julle se oorspronklike standpunte is heeltemal uit voeling met die werklikheid om julle, het ek waardering vir die motief daaragter.” Kan jy dalk met “harde data” aan almal bewys waarom hulle uit voeling is met die werklikheid? O, askies, ek sien jy “dink” net so.
Jy maak die aanname dat resensies eerder op die internet as in die gedrukte media tuishoort gebaseer op jou persoonlike voorkeure: “Trouens, dit maak vir my as jong lat met ‘n 1 GHz-verwerker in my gatsak veel meer sin. Ek wil graag in ‘n boekwinkel staan, ‘n boek se strepieskode met my selfoon skandeer en dit dan via Google nagaan. Dan wil ek resensies daaroor in Afrikaans sien, dit daar en dan op my foon lees en ‘n besluit maak oor of ek die boek wil koop of nie.”
Jy voer dus nou aan dat daar – omdat jy persoonlik resensies slegs op die internet wil raadpleeg – daar nie eintlik ’n plek is vir resensies in die gedrukte media nie.
Ek verstaan nie eintlik waarom jy dit nodig ag om vir die gesprekvoerders hier te sê dat hulle nie weet wat om hulle aangaan nie. Niemand voer tog aan dat daar nie resensies op die internet beskikbaar moet wees nie? Dit gaan tog hier om ’n gehoor te betrek wat so wyd as moontlik is, vir verskillende mense met verskillende voorkeure van hoe en waar en wat hulle lees. Jy sê dan ook:
“Dit help nie om te maan dat daar mense is wat nie die internet het nie. Ek weet dit. Hulle weet dit. Naspers weet dit. Naspers weet egter ook dat daar derduisende mense soos ek (en, vermoed ek, Pieter) sal wees in die nabye toekoms. Dis onrealisties om van hulle te verwag om vir die minderheid voorsiening te maak.”
Verstaan ek jou reg dat jy dan nou aanvoer dat die internet die gedrukte media kan vervang (ten minste insoverre dit resensies betref) omdat mense wat ’n voorkeur het vir die gedrukte media binnekort in die minderheid gaan wees?
Dit is tog nie gebaseer op “harde data” nie? As iemand wat feite bo bespiegeling stel, weet jy sekerlik dat slegs 15,7% van Suid-Afrikaanse huishoudings in 2007 ’n rekenaar had? En jy weet seker dat slegs 7,3% van huishoudings toegang tot die internet had? En ook dat die gemiddelde Suid-Afrikaner in 2007 ’n bedrag van R2800 per maand verdien het? Ja, dit verbyster my regtig dat ons nie almal met ons 1 GHz-verwerkers in ons gatsakke rondloop nie. En dan weet jy seker ook dat slegs 15% van Suid-Afrikaners in 2007 meer as R12 000 per maand verdien het.
Dalk moet jy bietjie jou foon uit jou gatsak pluk en begin kyk wat werklik aangaan. Of los die aiFoun vir ’n rukkie en gaan sit op ’n bankie, waar jy die verskeidenheid mense van Suid-Afrika kan sien.
@Desmond – Syfers, ja. Ek sal byvoorbeeld graag wil weet hoeveel mense lees die boekeblad, hoeveel word daardeur aangespoor om ‘n boek aan te skaf en hoeveel stel hoegenaamd belang in verdere akademiese diskoerse oor ‘n betrokke werk.
Ek vermoed die getalle is veel laer as wat julle dink.
@Joan – Jy’s onoplettend. Ek het nie geskryf dat ek iets teen ‘n liefde vir dooie bome het nie, maar eerder dat ek nie baie tyd het vir ‘n “naarstige vasklou aan dooie bome” nie.
Papier is nie besig om uit te sterf nie. Daar sal vir jare nog etikette rondom blikkies in supermarkte, plakkate teen lamppale en idees in notaboekies wees. Dis absurd om te dink dat digitale media dit moet vervang.
Dieselfde geld vir digbundels en romans. Al kan hulle tans op Kindles en iPads gelees word, ewenaar hierdie toestelle nie die gemak van ‘n gedrukte boek nie. Jou iPad wil nie gekrap of gevou word nie. Jou iPad kan nie gebruik word om ‘n muskiet die hiernamaals in te stuur nie. Jy kan nie jou iPad in sonlig gebruik nie. Jy leen nie sommer jou iPad aan ‘n vriend uit nie. Battery-aangedrewe toestelle raak soms onaangenaam warm. Batterye raak pap. Die blote tactile feedback (Engels sê dit vir my die beste) van bladsye wat omgeblaai word, kan nie gedigitaliseer word nie. (Nog nie, in elk geval.)
‘n Boek is nie slegter as ‘n .PDF nie. Trouens, ‘n boek is beter.
Dieselfde argument kan egter nie vir ‘n boekeblad en sy handjievol resensies gemaak word nie. Resensies word anders verbruik as die boeke wat hulle bespreek. Dit pas net so goed, indien nie beter nie, op die internet. Trouens, dit maak vir my as jong lat met ‘n 1 GHz-verwerker in my gatsak veel meer sin. Ek wil graag in ‘n boekwinkel staan, ‘n boek se strepieskode met my selfoon skandeer en dit dan via Google nagaan. Dan wil ek resensies daaroor in Afrikaans sien, dit daar en dan op my foon lees en ‘n besluit maak oor of ek die boek wil koop of nie.
Nadat ek die gedrukte boek gekoop en gelees het, sal ek graag self daaroor iets wil skryf op my blog en sodoende bydra tot die gesprek rondom die teks.
Dit help nie om te maan dat daar mense is wat nie die internet het nie. Ek weet dit. Hulle weet dit. Naspers weet dit. Naspers weet egter ook dat daar derduisende mense soos ek (en, vermoed ek, Pieter) sal wees in die nabye toekoms. Dis onrealisties om van hulle te verwag om vir die minderheid voorsiening te maak.
Dis sinloos om naarstig vas te klou aan iets wat binnekort gaan sterf. Daardie iets was nooit enigiemand anders as die groot kokkedore by Naspers s’n nie. Die besluit om dit te beëindig kan seker as hartseer gesien word, maar dis hulle s’n om te neem. Om daaroor te kla, is futiel.
Dit maak tog veel meer sin om nuwe infrastruktuur vir gesprekke rondom die Afrikaanse letterkunde tot stand te bring, nie waar nie?
Dit sal ‘n hartseer dag wees as ek oor ‘n paar jaar “Breyten Breytenbach” Google en daar steeds weinig van waarde oor hierdie legende (ek probeerie gatkruipie, Breyten – jy’s werklik besonders) se oeuvre aanlyn beskikbaar is.
Benewens Afrikaanse boeke is die gedrukte en elektroniese nuusmedia die belangrikste manier waarop Afrikaanse intellektuele en lesers kommunikeer. Die Afrikaanse intellektuele wêreld is oor dekades hierdeur in stand gehou en verruim. Agt jaar gelede was die boekeblaaie van Beeld, Die Burger, Die Volksblad, Rapport en Insig (later Boeke-Insig) nog hiervoor beskikbaar. Dit is aangevul deur radioprogramme van Daniel Hugo, televisieprogramme van onder andere Hettie Scholtz en enkele letterkundige joernale. Die boekeredakteurs van hierdie koerante en tydskrif was invloedryke figure en het ’n beduidende rol in die Afrikaanse intellektuele lewe gespeel. Sedertdien het hierdie aanbod verminder, hoewel enkele elektroniese media soos LitNet uitgebrei het en Versindaba bygekom het. Die diversiteit van menings het dus verskraal en dit is verder aan bande gelê deur een of twee redakteurs wat nie veel belangstelling vir hulle werk gehad het nie.
Dit is interessant dat die debat oor die über-redakteur of herren-redakteur juis in die elektroniese media gevoer word en grootliks deur die gedrukte media geïgnoreer word. Die rede hiervoor is moontlik juis die groot diversiteit van menings in die elektroniese media en die gebrek daarvan in die gedrukte media.
Die koerante in die Media24-groep het oor die jare ’n trotse en onaantasbare posisie in die Afrikaanse intellektuele wêreld opgebou. Ek kan nie daarvan getuig dat Protea Boekhuis stiefmoederlik deur die gedrukte media, en spesifiek Media24-koerante, behandel is nie. Inteendeel, Protea het oor die jare heen net die grootste ondersteuning en aanmoediging van die verskillende boekeredakteurs gekry. Selfs in so ’n mate dat een hoof van ’n uitgewery die adjunk-redakteur van Die Burger oor die vingers getik het oor die goeie blootstelling wat Protea (synde opposisie) in dié blad kry. Hierdie blootstelling was broodnodig vir ’n uitgewery wat twaalf jaar gelede nie bestaan het nie, maar wat nou en dan saam met die groot honde kon blaf.
Daar is prakties gesproke maar drie beduidende Afrikaanse uitgewers van letterkundige werke oor: NB-uitgewers, Protea Boekhuis en Lapa. Waar sou ons wees as hierdie drie uitgewers besluit dat Afrikaanse boeke die beste gedien kan word deur hulle kragte saam te snoer in een enkele Afrikaanse uitgewery wat Afrikaanse letterkunde as ’n “spesialisering namens al drie uitgewerye behartig” en met ’n “mandaat om ’n verskeidenheid van stemme en sienings te bevorder”?
So ’n stap sou tog die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde inlui.
Daar verskyn gereeld Afrikaanse boeke wat by een uitgewery afgekeur is en deur ’n volgende aanvaar is. ’n Hele paar bekroonde werke (te veel om op te noem) sou andersins nie deur die mat van onafhanklikheid ondervang word nie en gevolglik nooit die lig sien nie.
Weens die gebrek aan diversiteit is die dood reeds in die pot vir die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Die enkele geskiedenis is in die verlede keer op keer verpulp of as uitskot verkoop. Word dit nog ooit deur akademici aangehaal en aan watter universiteit word dit ooit voorgeskryf?
Met hierdie besluit hoop ek nie dat die dood vir Afrikaanse literêre kritiek ook in die pot is nie. Een van die onmiddellike gevolge sal wees dat nóg minder digbundels gepubliseer word omdat die meeste digbundels nie gepubliseer sou kon word sonder die aandag wat dit in die gedrukte media kry nie.
Iets anders: Wat dink julle van Rapport se maandelikse boekebylae? Dit pla my dat daar elke maand so min nuus en resensies oor Afrikaanse boeke in is. En dan gebeur daar wat met Louis Esterhuizen se jongste bundel gebeur het – dit word eers geresenseer omtrent ‘n jaar nadat dit verskyn het, en dan in ‘n baie klein en kort kolommetjie. Dink julle nie Rapport skeep Afrikaanse boeke af ten koste van wêreldliteratuur nie? Dit pla my al lankal. As ek oor wêreldletterkunde wil lees, doen ek dit op die internet. En wat my betref kan Rapport se boekebylae maar die kortprosa deur lesers laat waai asook die strokiesprent en in daardie plek meer oor Afrikaanse boeke plaas.
Johan jou sarkastiese reaksie op Litnet was ongevraag, want dit beduiwel die saak wat ons probeer aanspreek. Niemand ontken die mag of belang van die internet nie. Intdeendeel. Ons is net onrustig oor die wyse waarop hierdie besluit geneem is. En dat een boekeredakteur ‘n besluit kan neem met slegte gevolge vir ‘n boek?
Dink jy iemand soos Breytenbach sou die debat begin het as dit nie ter sake was nie? ‘n Liefde vir letterkunde beteken sekerlik ‘n liefde vir boeke en weet jy as boeke nie bemark word nie, mag daar dalk minder boeke wees.
Daar is mense – anders as jy – wat nie toegang tot die internet het nie. Ons wil sowel koerantresensies as webresensies lees.
En hierom is uitgewers, skrywers, dosente, boekliefhebbers onrustig. Hierom is ons in jou woorde “up in arms”. ‘n Figuur soos Breytenbach behoort tot die internasionale skryfgemeenskap en hy het eerste die foutiewe denke uitgewys. ‘n Liefde vir dooie bome is nie iets waarvoor jy respek het nie. Ek neem aan jy lees dus nie boeke nie?
By die skakelstring aan die regterkant van die hoofblad is daar by “indekse” ‘n opskrif wat sê: “Lyste”. Daar is ‘n oorsig van alle digbundels wat die vorige dekade verskyn het, met skakels na die vernaamste resensies. Ek kan egter nie aanspraak op volledigheid maak nie, aangesien die meeste resensies NIE MEER op die internet beskikbaar was nie. Trouens, indien jy op die skakels soos aangedui kliek, gaan jy vind dat heelwat van hulle nie meer aktief is nie.
Vir navorsings- en bewaringsdoeleindes bied die internet helaas NIE die beste opsie nie. Daarvoor het jy dokumentasiesentra en Nasionale Biblioteke nodig waar relevante publikasies en dokumente in bewaring gehou word.
Die internet vervul ‘n ander funksie.
Myns insiens is daar dus ‘n behoefte aan albei: een vir oombliklike en direkte kommunikasie en/of oordrag van inligting, en ‘n ander vir die bewaring van tekste.
Verdermeer – die verskraling van resensieruimte gaan nie noodwendig die hoofstroom-publikasies affekteer nie, aangesien daar heelwat ander bemarkingsmiddele beskikbaar is om die boek te bemark. Dit is die belangrike nismark-boeke wat normaalweg nié goeie verkopers is nie en derhalwe nié by ‘n groot uitgewer verskyn nie, wat die swaarste getref gaan word. Ook is die meeste van dié publikasies selfpublikasies en beskik die outeur derhalwe nié oor verteenwoordigers wat sy publikasie by boekwinkels kan gaan bemark, of oor fondse om te adverteer nie.
Resensies is in só geval daardie boek se enigste kans op blootstelling en reklame.
Ten slotte – net gister het ek ‘n goeie voorbeeld hiervan beleef: ‘n ouerige dame kom staan met groot huiwering voor die toonbank; in haar hand ‘n verfrommelde knipsel van ‘n resensie oor ‘n boek wat oor Voortrekkervroue handel. Selfs vir my as boekhandelaar wat nogal hard werk om op hoogte te bly met alle publikasies, was dié boek se bestaan nuus. Maar gelukkig het die boekredakteur kontakbesonderhede van die skrywer onderaan die resensie geplaas en op dié manier gaan ek darem in staat wees om ‘n besonderse dame se begeerte na ‘n bepaalde boek gestand te doen.
En nee, sy beskik nie oor internet óf e-pos nie; daarom kon sy nie self die boek direk by die skrywer bestel nie.
Myns insiens is die publikasie van ‘n boek ‘n geloofsdaad. Ek is egter bevrees dat boeke soos die een waarna ek hierbo verwys, danksy die nuwe bedeling, geen kans op sukses gaan hê nie.
@Johan Swarts: Bedoel jy nou harde data om te bewys dat boeke minder blootstelling gaan kry in die koerante agv hierdie besluit?; of harde data om te bewys dat Media24, soos baie ander mediakonglomerate w^ereldwyd, al hoe minder geld en ruimte afstaan aan kritiese en besinnende diskoers (waarvan boekresensies en -besprekings maar een voorbeeld is)?
Mediakonglomerate besit nie net koerante nie, en is dus ver van ‘dooie bome’ wat eienaarskap van informasie en diskoersruimtes betref. Ek dink dit is uit voeling met die werklikheid om te dink die brave new virtual world van ‘n steeds klein, dikwels baie mobiele elite het alle beprekinge van tyd en ruimte, alle grense en papier, tot die ashoop van die geskiedenis verdoem. Dit is nie die geval nie: en Groot Media, soos jy in Tim du Plessis se stuk sal lees, weet van die digitale commons daarbuite, en hulle sal hulle bes probeer om dit ook te besit en te begrens. So nee, kritiek op hierdie kwessie is net oudmodies en w^reldvreemd as ‘n mens iewers in die 1990’s vasgeval het en dink die geskiedenis, politiek en ideologie is alles ook oudmodies.
Wat die eersgenoemde betref: mense soos Gerrit Brand het wel met harde historiese data vorendag gekom: ‘n tendens van afskaling wat die sluiting van Insig-Boeke en die boekeblad in BY ingesluit het. Dit is om hierdie redes dat mense Media24 se verduidelikings nie aanvaar het nie. Insig-Boeke het tog nie gesneuwel omdat dit dooie hout was nie? Of ja, dit het: omdat die winsvrate ‘dooie bome’ op ‘n manier definieer wat min te make het met die verhaal van tegnologiese vooruitgang wat jy dalk wil vertel. Dis ‘n siniese verhaal, en die logika onderliggend daaraan saai verwoesting nie net op boekeblaaie nie, maar oral waar daar nog sprake is van gemeenskaplikheid en openbare funksies en belange.
Of soek jy net statistiek as harde data? Onthou tog, die ekonome bewys ook met statistiek dat die neoliberale kapitalisme stadigaan besig is om almal ryk en gelukkig te maak!
But having said that: ek deel jou opinie dat alles darem nie donker en doodslag is nie –die goed wat jy voorstel is belangrik en dinamies, en jou soort energie is die regte ding op die regte tyd en al daai. Maar ek dink wat jy voorstel en voor staan kan werk self SONDER ‘n kritiek op die kritiek!! Groete, desmond
Van die os op die jas – ek is bereid om handjie by te sit RE: ‘n Afrikaanse webtuiste vir resensies.
Nes Pieter Odendaal is ek ook ‘n onlangse uitbroeisel van ‘n departement Afrikaans & Nederlands. Al dink ek die meeste van julle se oorspronklike standpunte is heeltemal uit voeling met die werklikheid om julle, het ek waardering vir die motief daaragter.
‘n Naarstige vasklou aan dooie bome is nou nie juis iets waarvoor ek baie tyd het nie. ‘n Liefde vir die letterkunde, daarenteen, is iets waarvoor ek respek sonder end het.
Louis & Marlise het my besonderhede. Kontak my gerus.
‘n Vinnige vragie, as ek mag: is hier enigiemand wat met harde data vorendag kan kom om hul standpunt te staaf?
Miskien is dit dan ‘n bykomende rede om maar liewers by die toekomstige verskraalde boekeblaaie (of blad) verby te hou: dat oom Riempies en Broer Gawerjal nie in die versoeking gelei word om ‘n boek soos die Stofding te wil aanskaf nie, want die dichotomie tussen vóór en ná bewerasie sal beslis op die plek besleg word. Dis nou maar net een van die eienskappe van literatuur, oral en altyd, dat nie alles tot almal kan spreek nie. Verder as dit is dit ‘n aangeleentheid van ‘funksie’ en dalk ‘smaak’ en nie noodwendig ‘gehalte’ nie. Ek wil met Desmond Painter saamstem en daarmee so skuinsweg Pieter Odendaal se vraag probeer beantwoord: “Ons soek die internet EN beter koerante.” Dit mag kondisionering wees (en verstarring) maar ek kry nog meer stimulering uit woorde op papier as selfs dieselfde woorde in die kuberruim. Net soos ek miskien ‘n meer primitiewe bevrediging kry van ‘n kunswerk op doek of papier as van videokuns.
Vergun my om dit toe te lig met ‘n polities verkeerde en onrein illustrasie. Dis die storie van die kêrel wat dikwels snags oor die muur geklim het om by die nonne uit te kom. Elke oggend moes die nonne aantree en die py lig vir ‘inspeksie’ deur die abdis. Die een oggend het die kêrel hom verslaap en hy moes toe noodgedwonge vermom in ‘n nonnekleed ook in die gelid kom staan. Die abdis het voor hom te staan gekom en met uiterste ontsteltenis die onverwagse lid of akkedis betrag en met ‘n dun stemmetjie gevra: “En DIT, suster?” “Nee, moeder (was die antwoord), dis nog van die ou soort wat mens met die slinger moet opwen.”
Oom Riempies het dit self vir my vertel.
Dankie vir die helder pleidooi, Marga, as uitgewer stem ek absoluut saam. Ek wil graag ‘n diversiteit van resensies in koerante sien, nie minder resensies nie.
Ja, presies dit Desmond: ons soek die internet en die gedrukte media wat alle fasette van die boekewêreld bevorder en bekendmaak in AL die koerante met hulle eie kundige boekeredakteurs om besluite te neem.
Marlise, jy het ‘n punt — die internet gaan die gedrukte koerant nie binnekort vervang nie. Ons soek die internet EN beter koerante. Gelukkig sal oom Riempies en Broer Gawerjal-hulle darem waarskynlik nie belangstel in die nuwe Breyten Breytenbach nie. 🙂 (Dis ‘n grap, hoor, regtig, wees my genadig!)
Ek kan nie anders as om saam te stem met Marga & Joan se uitgangspunte nie. Ek kan ook nie ‘n boikot ondersteun nie. Die skade aan uitgewer en skrywer sal onteenseglik enorm wees. En die koerante sal voortbestaan. Omdat ek die ouetehuis waar my ma is dikwels besoek weet ek hoe hierdie tantes in haar vriendekring se koppe werk. Nie een van hulle is rekenaarvaardig nie en kan ook nie uit hulle klein pensioene bandwydtes en laptops bekostig nie, praat nie eens van om op hulle ouderdom nou die vaardigheid aan te leer nie! Soos duisende ander (jongmense ook, van alle rasse) wat eenvoudig te arm is in hierdie land. Hulle koop die koerant. Veral Maandag en Saterdag s’n. Hulle sirkuleer dit onder mekaar. Hulle lees die boekeblad, ywerig, hulle wil ingelig bly. Hulle bestel ‘n boek as die resensie sê dis ‘n goeie boek.
Net so sal oom Riempies op Riemvasmaak of waar ook al sy koerant lees en sy boeke bestel, want prof Hannes Hoekom het vertel dis ‘n mooi storie hierdie, maar as prof Hoekom vertel dis ‘n goor storie, dan wonder hy nou of hy die boek dan moet aankoop of nie. Dan bel hy vir Broer Gawerjal op Garsfontein om tog te kyk in sy koerant wat sê hulle oor Attie van Heerden se nuwe boek met die titel Duskant Bewerasie. Want daar is tog seker nog ‘n mening soos dit altyd mos was, en hy was dan so in sy noppies met die vorige boek van Attie. Oom Gawerjal vertel, maar oom Riempies raak nou hoogs ontsteld want Gal lees vir hom dan dieselfde resensie voor oor die foun. Kan jy nie maar op jou kompertjie kyk nie, vra oom Riempies dan. Nee, dit kan nie, die server is af en buitendien het hy nie tyd nie, sy Sparwinkel wag, hy moet gaan blikkieskos tel en seker maak dat die chicken wings nie weer geresaaikel het nie. Oom Gal het nie ooghare vir boeke nie. Buitendien het skirminkels sy winkel verlede week gerob. Vra Sus Sysie in Muizenberg, beveel hy aan, sy het ‘n komputertjie waarmee sy speel. Maar teen daai tyd het oom Riempies maar besluit dat hy liefs anderkant die bewerasie bly en nie duskant nie. Nog ‘n oproep gaan net sy foun se rekening opstoot. En Sysie sal haar net verêrre vir hom soos laas. Prof Hoekom weet tog seker waarvan hy praat…
Diegene wat hierdie polemiek as histeries of oordrewe afmaak, mis ‘n belangrike punt. Die mag van die internet word nie ontken nie. Vaderland, hierdie debat word deur die internet gedryf. Boeke moet verskillende resensies kry en koerante is helaas meer gesaghebbende ruimtes as die internet waar enige persoon ‘n idee kan neersit. Ons praat van ‘n afskaling van ruimtes binne ‘n koerant wat deur boeklesers gelees word wat nie internetvaardig is of glad nie ‘n rekenaar besit nie. Toe ek begin resenseer het in 1980, het Die Vaderland onbeperkte ruimte gehad. Dit het gevou, omdat die koerant gesluit het. Hierna het ek gesien hoe resensies ingekort is van 1000 woorde tot 550 woorde. Dit gaan nie net om ons die skrywers nie. Dit gaan om ‘n hele netwerk: uitgewer, leser, dosent, student, leeskringe – oor ‘n argief van vele menings. En oor ‘n kulturele gesprek. En dit moet in ag geneem word. Ek is ‘n koerantleser. Kulturele blaaie hef op so tussen die banale nuus deur. Wanneer ek reis, besoek ek Die Burger via die internet. Net om agterna wanneer ek die harde koerant lees te besef hoeveel het verlore gegaan. Ek dink diegene wat hierdie reaksie as oordrewe afmaak, ken gewoon nie die geskiedenis nie. Of dink elke blog of uitspatsel op die internet het gesag.
As uitgewer wil ek graag my opinie lug oor die beoogde skrywersboikot van die boekeblaaie. Ek stem saam met Joan Hambidge en Louis Esterhuizen dat dit nie die roete is om te volg nie.
Die protesaksie teen die aanstelling van een nasionale boekeredakteur het die behoud van ’n diversiteit van sienings oor boeke ten doel gehad. Baie van die skrywers in die debat het juis geargumenteer ten gunste van ’n verbetering van die boekeblaaie, d.w.s. vir méér, nie minder nie. Dit het daarom gegaan dat iets tot stand gebring, of ten minste behou moet word. Wat ons eintlik wil hê (en dit is waaroor die hele argument éíntlik moes gegaan het) is drie volwáárdige boekeblaaie.
Maar uiteraard wil mens dan resensies op daardie bladsye hê. Ek kan nie sien dat daar enigsins ’n moontlikheid van ’n positiewe uitkoms is as skrywers weier dat hulle boeke geresenseer word en resensente ophou resenseer nie. T.s.v. die groei van die internet, en die belangrikheid van webwerwe soos Litnet en Versindaba vir resensies van literêre werke in Afrikaans, bly die Afrikaanse dagblaaie belangrik en is dit vir baie Afrikaanssprekendes die primêre bron waar hulle van nuwe boeke hoor en resensies daarvan lees. Al wat ’n (suksesvolle) boikot tot gevolg sal hê, is dat té veel lesers nie gaan weet van die verskyning van boeke nie. En as goeie resensente nie meer beskikbaar is nie, sal daar rondgeskarrel moet word om ander mense te vind om te resenseer en is daar ’n wesentlike risiko dat die kwaliteit van die boekeblaaie agteruit gaan.
Moet lesers en skrywers dus nou aktief van mekaar vervreem word? En waar laat dit uitgewerye wat nie net boeke wil maak nie, maar hulle ook wil verkoop? En skrywers, vir wie boekverkope nét so belangrik is? Hoe gaan ons skrywers se belange bevorder en buitelandse regte verkoop as daar geen swaargewig-resensies is wat ’n aanduiding kan gee van die positiewe ontvangs van die boek in die plaaslike mark nie? Wil ons nou die vervlakking van boekeblaaie aanhelp?
Die doel van die hele protesaksie was tog sekerlik om iets positiefs te probeer bewerkstellig; nie om sake te vererger en ‘n volskaalse oorlog tussen skrywers en koerante aan die gang te sit nie? Ek dink werklik mens moet ‘n manier probeer kry om versoening teweeg te bring, eerder as om nog meer in die proses te vernietig.
PS – Is iemand nie dalk ‘n statistiek-boffin nie? Dit sal interessant wees om te sien hoeveel Afrikaanse literêre werke in die afgelope sê maar 5 jaar verskyn het, hoeveel van hierdie bundels geresenseer is, waar die resensies verskyn het en hoeveel lesers gemiddeld elk van die resensies gelees het. Sodoende sal ons ordentlik kan sien hoe ‘n groot invloed Media24 se besluit op die landskap van die resensiekunde behoort te hê en of al die kritiek teen die voorgenome aanstelling geldig is.
Breyten
Ek is jammer as dit voorbarig klink (dit doen seker – jy het immers al 50 meer somers as ek beleef), maar ek dink dat die kwalitatiewe onderskeid wat jy tussen gedrukte en elektroniese tekste maak nie geldig is nie. Natuurlik is daar ‘n groot klomp strooi op die internet, maar indien die regte filters in plek is, is die web ‘n bevrydende ding waar woorde nie meer vasge-druk hoef te word nie – die vloeibare baarmoeder van die virtuele wêreld skenk geboorte aan ‘n oneindige aantal nakomelinge.
Mag ek vra wat presies jy met die sin “Wat op papier neerslag vind gee nog steeds ‘n ander beslag” bedoel? Anders, ja. Maar geskrewe en virtuele tekste verskil nie noodwendig in terme van gehalte/klankrykheid/betekenisdigtheid nie nie. En koerante raak weg – oor ‘n week is daai resensie iewers in ‘n swartsak of deel van ‘n laerskoolkind se papier-maché-taak of op die vloer van ‘n pondok in Gugulethu. Resensies wat op die net verskyn, is baie meer bestand teen wind en weer as koerantresensies.
Toegegee, ons leef in ‘n land waar die internet nie so toeganklik is as in eerstewêreldse lande nie, maar daar is verskeie projekte in die pyplyn wat ons met die res van die wêreld via onderwaterkabels sal verbind. Dit sal beteken dat die internet binnekort aan baie meer Saffers teen ‘n baie goedkoper prys beskikbaar sal wees.
Ek is nie besig om Media24 se besluit goed te praat nie, maar ek dink tog dat dit nodig is om ernstig te begin besin oor die digitalisering van resensies (ag, en sommer ook literêre tekste in die algemeen). Die reuk van papier is bewelmend, ja, en rekenaarskerms ruik na puisiegesig IT-assistente, maar in die reeds bedreigde posisie waarin die letterkunde haarself tans bevind, sal ons moet herbesin oor die formaat waarin ons beide primêre en sekondêre literêre tekste wil versprei sodat ons meer oë kan bereik.
Ek is mal oor die innuendo van “geslote e-pos-briefwisseling” en “e-poslyste wat hulle onder mekaar rondstuur”, maar die snaakste van alles was hierdie stukkie retoriese voetwerk: “Hulle wil skynbaar hul werke weerhou van resensering en sal weier om bydraes te lewer. Dis verstommend, in ag genome die Afrikaanse skrywers se trotse geskiedenis van verset teen sensuur en selfsensuur.”
Hiermee die berig in Beeld en Tim du Plessis se standpunt. Breyten se foto was daarby, ook op die voorblad-aankondiging.
Skrywers wil boikot
Breyten Breytenbach. Foto: Loanna Hoffmann
Neels Jackson
Die digter Breyten Breytenbach het gister ’n skrywersboikot teen die koerante van Media24 uitgeroep oor ’n plan om ’n gesamentlike boekeblad vir drie van die groep se dagblaaie te skep.
’n Groep Afrikaanse skrywers het vandeesweek in ’n geslote e-pos-briefwisseling tussen skrywers en literêre figure, asook op literêre webwerwe, uitgevaar teen dié besluit deur die redakteurs van Beeld, Die Burger en Volksblad.
Die skrywers sê die besluit kom neer op ’n “verskraling” en ’n “afdomming” deurdat dit die verskeidenheid van stemme oor Afrikaanse letterkunde sal verminder.
Die redakteurs sê een boekeblad met ’n heeltydse redakteur wat boeke-inhoud lewer vir boekeblaaie, vir die koerante se digitale platforms, vir die nuusblaaie en vir die diepte-bylae By skep groter verskeidenheid en beter gehalte.
In sy brief aan Die Burger het Breytenbach gister gesê: “Ek wil u (egter) vriendelik, maar ferm versoek om vanaf hierdie dag onder geen omstandighede ’n resensie van my werk te publiseer nie en ek sal dit waardeer indien u die boodskap ook kan deurgee aan u susterkoerante.
“Ek verdien nie my brood in hierdie land nie en ek weet dat die situasie veel pynliker moet wees vir skrywers wat nie ander opsies het nie. Nogtans wil ek ander skrywers aanspoor om hulle medewerking, aktief of passief, van u te weerhou.”
Die literêre kommentator en digter Joan Hambidge het vroeër op die internetjoernaal Litnet gesê literêre figure is bekommerd daaroor dat een boekeredakteur wat oor die boekeblad van drie koerante besluit, ’n boek kan kelder deur dit bloot te ignoreer of resensente te kies wat byltjies te slyp het.
Sy het nietemin twyfel uitgespreek oor die sukses van ’n skrywersboikot. Mnr. Abraham van Zyl, uitvoerende hoof van Media24-koerante, het gister by navraag gesê die besluit van die redakteurs is geneem met die oog op inhoudsverbetering.
Maar in sy e-pos aan Die Burger sê Breytenbach dis duidelik die woordvoerders “wat probeer verduidelik, het g’n benul van die boekewêreld nie”.
Breytenbach meen dis dalk goed “dat die skille nou as’t ware van ons oë val en dit glashelder is dat Media24 nie enige aanspraak kan maak op die bewaring van kultuurgoedere of die bevordering van vrye en ontginnende en uitdagende denke nie”.
Dr. Gerrit Brand, voormalige boekeredakteur van Die Burger en nou teoloog aan die Universiteit van Stellenbosch, het eerste ’n boikot geopper.
Hy het gister gesê dit het tot dusver gemengde reaksie ontlok.
Van Zyl het gister gesê as die voorstel van een boekeredakteur nie werk nie, kan redakteurs dit heroorweeg.
Media24 is die eienaar van Beeld.
Hokaai, die hoofdoel is om ’n beter diens te kan lewer
2011-03-04 21:57
Tim du Plessis
Redakteur van Beeld
Die besluit om een boekeblad vir Beeld, Die Burger en Volksblad te skep, is gesamentlik geneem deur die redakteurs van die drie dagblaaie. Die hoofdoel is ’n beter diens aan die kopers en lesers. Hulle is ons primêre belangehouers.
Tans het die drie dagblaaie elk ’n eie boekeblad, maar geeneen van die drie kan ’n heeltydse boekeredakteur met ’n ruim begroting vir resensente en medewerkers bekostig nie.
Ons reken ons kan beter vaar met saamgegooide hulpbronne.
Só kan ons ’n heeltydse boekeredakteur aanstel, wat dit as ’n spesialisterrein namens al drie koerante behartig, met ’n behoorlike begroting om medewerkers van hoë gehalte te werf.
Die voorbereiding van ’n weeklikse boekeblad sal net ’n deel van die nuwe posbekleër se pligte vorm. Saam daarmee moet die nuwe redakteur boeke-inhoud doelgerig en vindingryk op ons koerante se digitale platforms beskikbaar stel. Hoekom?
Want die toekoms is digitaal, bepaald vir inhoud oor die wêreld van letterkunde en boeke. Maar daardie toekoms moet gekoördineerd binnegestap word.
Verder moet die nuwe boekeredakteur op ’n vaste grondslag nuus en artikels lewer vir By en vir die nuusblaaie van die hoofkoerante.
As gevolg daarvan sal meer boeke-inhoud ’n groter verskeidenheid Afrikaanse mense bereik as net die hand vol (en hulle is regtig min) wat tans elke week Beeld, Die Burger en Volksblad se boekeblaaie lees.
Hierteen het ’n groep Afrikaanse skrywers nou in opstand gekom – in e-poslyste wat hulle onder mekaar rondstuur en op literêre webwerwe.
As al die geskryf tot ’n argument gebring word, sê die skrywers hulle glo die besluit gaan daartoe lei dat minder stemme en sienings gehoor gaan word.
Terwyl Beeld, Die Burger en Volksblad presies die teenoorgestelde in die oog het. Die mandaat aan die heeltydse boekeredakteur sal wees om ’n groter verskeidenheid van stemme en sienings te bevorder. Die digitale sfeer, met minder ruimtebeperkings as koerantblaaie, leen hom ideaal daartoe.
’n “Eie” boekeblad vir Beeld, Die Burger en Volksblad is nie die enigste manier om ’n veelheid van stemme te verseker nie – trouens, verdienstelike publikasies bly gereeld ongeresenseer in die huidige bestel.
Die skrywers laat dit klink asof die Afrikaanse letterkunde sal vergaan as drie “halfdag-boekeblaaie” opgaan in een “voldag-boekeblad” met ’n heeltydse kampvegter wat boeke-inhoud aandryf oor al die gedrukte en digitale platforms heen. Terwyl ons doel die verbetering van die huidige bestel is.
Enkele Afrikaanse skrywers het ook begin dreig dat hulle die nuwe boekeblad sal “boikot”.
Hulle wil skynbaar hul werke weerhou van resensering en sal weier om bydraes te lewer. Dis verstommend, in ag genome die Afrikaanse skrywers se trotse geskiedenis van verset teen sensuur en selfsensuur. So ’n boikot sal nie sommer slaag nie.
Dis opmerklik dat Beeld se kopers en lesers nog nie van hulle laat hoor het nie. Hulle wag seker om te sien wat die nuwe bedeling gaan bied. Dis reg so. Die laaste sê sal aan hulle behoort.
Insgelyks. Natuurlik behoort daar so veel kamers moontlik in Vader Literatuur se bôrdienghuis te wees! Maar hulle kan nie slegs virtueel wees nie. Wat op papier neerslag vind gee nog steeds ‘n ander beslag. (Jammer vir die onbedoelde rym – dit het vanself opgedag. ‘Betekenis’ het ‘n neiging om in klankkamers te vernag. Soos bergies onder ‘n struik.)
Pieter, ek dink nie die kritiek self is ‘n oorreaksie nie: Media24 verdien die kritiek, en kritiek werk nie juis as dit halfhartig is nie. Maar ja, ‘n mens kan die veranderende medialandskap en die moontlikhede wat die internet bied (en die alternatiewe wat reeds bestaan) uit die oog verloor. Dis lankal, wat openbare diskoers betref, nie meer of die koerant of niks nie. Die inisiatief wat jy hier bo beskryf is baie interessant; ek sien uit om meer te lees!
*verdere, natuurlik. Alhoewel ek hou van “verdure”, wat as Engelse woord die konnotasie van groener weivelde het. 🙂
Onthou net dat hoewel ons hierdie debat op die internet voer, is daar talle lesers wat net koerante lees. Ons moet dit nie uit die oog verloor nie.
Ek volg hierdie debat vir die afgelope paar dae met groot belangstelling, en kan nie help om te dink dat almal darem maar besig is om bietjie te oorreageer nie. Ja, die nasionale boekeredakteur sal lei tot ‘n verlies aan diversiteit wat betref resensies wat in die susterskoerante verskyn, maar ek dink werklik nie die dagblaaie het dieselfde mag as wat hulle 20 of 30 jaar gelede gehad het om lesersopinies te bepaal nie. Die internet is in elk geval besig om die resepsie van nuwe publikasies te domineer en oor ‘n paar jaar gaan internettoegang in Suid-Afrika baie makliker beskikbaar en goedkoper wees as vandag. Johan Swarts verwoord die hele boekeredakteur-debakel die beste vir my: http://gormendizer.co.za/2011/03/03/dood-van-die-griffelaars-gedagtes-oor-die-amalgamasie-van-afrikaanse-boekeblaaie/
‘n Meer humoristiese weergawe van dieselfde argument het gister op Litnet verskyn:
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=99739&cause_id=1270&cat_id=166
Heidi, ek hou baie van jou kommentaar, veral die deel oor hoe ons versigtig moet wees dat ons nie met hierdie protesaksie maar net weer oor ons eie Afrikaanse mishoop wil regeer nie nadat ons gehelp het om by te dra tot die einste hoop. (Wel, jy stel dit nie so nie, maar dis hoe ek daaroor dink.) Ons moet ‘n ruimte skep waar resensies oor enige en alle Suid-Afrikaanse literatuur kan verskyn sodat ons kruisbestuiwing op ‘n literêre vlak kan bevorder. En ek hou baie van die voorstel rakende ‘n resensieblad wat homself slegs vir die plaas van aanlynresensies moet beywer.
Om hierdie redes is dit vir my aangenaam om SLiP aan ieder en elk bekend te stel. SLiP (die Stellenbosch Literary Project) is ’n inisiatief wat vroeër vanjaar deur Prof. Leon de Kock van die US se Departement Engels geloods is met die oog op die bevordering van Suid-Afrikaanse letterkunde in al haar uiteenlopende gedaantes. Ek dien tans as webmeester en inhoudsredakteur vir ons webblad, http://www.slipnet.co.za, wat later hierdie maand “live” gaan. Ons gaan ‘n soortgelyke formaat as https://www.versindaba.co.za volg, alhoewel ons onsself nie gaan beperk tot ‘n enkele taal of ‘n enkele genre nie. Gaan lees gerus ons “manifes” op http://www.slipnet.co.za. Ons het ook ten doel om as ‘n soort aanlyn-argief te dien vir alle resensies wat oor enige Suid-Afrikaanse literêre publikasie verskyn.
Hiermee nooi ons dan ook resensente uit om resensies op SLiPnet te plaas. Ons is besig om op die oomblik fondse te bekom sodat ons binnekort kan begin om ons resensente te betaal, maar tans kan ons slegs ‘n kopie van die geresenseerde teks as vergoeding aan die betrokke resensent verskaf.
Ek dink nie dat SLiP nou skielik al die probleme netjies gaan oplos nie, maar ek dink dat dit ‘n belangrike bydrae kan lewer om te verseker dat hoë-gehalte resensies oor Afrikaanse publikasies steeds gereeld verskyn.
Vir enige verdure inligting, stuur asseblief ‘n e-pos aan info@slipnet.co.za
Ons is ook op Facebook onder “Slip Stellenbosch”.
PS. Ek gaan binnekort blog oor SLiP en wat ons alles vir die jaar beplan.
‘n Webruimte uitsluitlik toegewy aan resensies & artikels rondom Afrikaanse boeke & skrywers sal ‘n fantastiese begin wees. Die tegniese kant hoef nie uitermate kompleks te wees nie, daar is trouens diensbare ‘templates’ wat gebruik sou kon word. Dit word dan ‘n kwessie van befondsing & ‘n klein personeel om dit te behartig.
***
Breyten, ek haal metafories hoed af vir jou besluit, & terselfdertyd wens ek so ‘n drastiese stap was nie nodig nie.
Hallo almal
Tim du Plessis antwoord op my ope brief aan hom dat Beeld more ‘n nuusberig sal publiseer waarin hulle
standpunt gestel word. Ek sal dit aanstuur.
Joan voel dat ‘n boikot in beginsel goed is, maar dat dit in die praktyk nie sal werk nie. Skrywers sal hulself in die voet skiet. Individuele skrywers en resensente moet natuurlik self besluit, maar dan moet hulle ook aanvaar dat dit my, Breyten en ander se besluit is om nie met die nuwe superbedeling saam te werk nie. ‘n boikot kom natuurlik eers ter sprake nadat die pad van redelike onderhandelings gefaal het. Volgens alle aanduidings is ons nou wel daar.
Mens is jammer dat die nuwe Superman-redakteur met of sonder ‘n wyer boikot die slagoffer gaan wees in ‘n onwerkbare bedeling, maar dit is na soveel waarskuwings ook sy/haar eie keuse.
Charles
As uitgewer – wat buite die NB-sambreel val -moet ek hier my stem voeg by die van die skrywers. Dit was nog nooit maklik vir ons wat Afrikaanse boeke en tydskrifte maak, buite die warm gemeenskap van die Media24-stal nie. Ons weet waarvan julle praat.
Die aanstelling van een boekeredakteur is slegs n verdere stap in die eenduidige Afrikaanse stem wat al lank klink uit die mond van een oorheersende Afrikaanse meadiamaatskappy. En dit gaan oor meer as boeke – dit gaan oor die persepsies wat geskep word oor en vir Afrikaanssprekendes – maar dit daar gelaat.
Maar hier gaan dit om boeke en ek is bevrees dat daar meer nodig gaan wees as boikotaksies en verset van skywers, hoewel dit al ‘n stap in die regte rigting is. Die oplossing is verskeidenheid: meer as een mond. Iemand/iets waardeur ‘n oop gesprekke aangewakker kan word, wat verskeidenheid toelaat – iewers iemand wat uithaal en wys.
En hoewel die elektroniese media deels ‘n oplossing bied, is die probleem daarmee, -soos Heidi dit goed uiteengesit het – dat baie lesers steeds hulle vertroue in koerantresensies plaas – veral die lojale Afrikaanse lesers wat ingeskakel is by sosiale leesaktiwiteite. Kyk maar wat kan een negatiewe resensie in Burger aan ‘n boek doen!
Dalk moet julle ook daaraan dink dat daar wel Afrikaanse tydskrifte en uitgewerye buite Media24 bestaan wat waardevolle insette kan lewer.
Maritha Snyman
Beste Louis, ek steun die inisiatief van ‘n Afrikaanse skrywersorganisaise volkome. Ek sal graag deel daarvan wil wees, al bly ek in Pretoria. Dit moet net meer as praat wees. Handelinge, aksie is nodig.
Sterkte met al die reëlings.
Mooi Kaapse dag vol son.
Groete,
Cas
Sjoe, ‘n belangrike gebaar.
Ek is bevrees die res van ons sal dit moet volg. (Dis natuurlik maklik vir my om te sê terywl ek nie op hierdie moment ‘n boek het wat pas gepubliseer is nie.)
Miskien kan die volgende bespreek word by die voorgenome vergadering by Louis se winkel in Stellenbosch: Dat Versindaba solank resensente aanstel wat gratis gesamentlik die gebruik van veelvoudige resensies kan vervul vir die boeke wat tans op die rakke kom – om sodoende die skade aan hierdie boeke deur verlies aan resensies effens te verminder. (?)
Charl-Pierre Naude
Kollega’s,
Inderdaad is daar besluite wat ons gemeensaam moet neem en ander wat ons elkeen vir hom- of haarself moet uitmaak. My omstandighede is anders as dié van meeste van julle s’n, so moenie dink ek probeer katte aanjaag kraal toe nie. Ek het eintlik ook nie enige illusies gehad oor Media24 nie. Wat ek nou doen is seker bowendien wat mens “‘n swaardsteek in die water” kan noem, want dis nie asof my bundels toegegooi is onder resensies nie! Maar vir wat dit werd mag wees, en vir julle informasie, hiermee die afskrif van ‘n brief wat ek so pas aan Die Burger gestuur het. Ek hoop hulle plaas dit.
Groete,
BB
***
Geagte redakteur,
U is sekerlik bewus van die uitgebreide debat wat ontketen is, tot dusver net op webtuistes, van Media24 se besluit om voortaan slegs een oorkoepelende über boekeredakteur te hê vir al julle koerante. U sal dan gesien het dat die oorgrote meerderheid skrywers wat toegetree het tot die gesprek bitterlik ontsteld is en dat die gevolgtrekking gemaak word, myns insiens tereg, dat dit ‘n inkrimping van kulturele ruimte gaan beteken en ‘n jammerlike standaardisering van resepsie.
Dit was duidelik dat die woordvoerders wat namens Media24/Naspers probeer verduidelik geen benul het van die implikasies vir die boekewêreld nie. Aan die een kant is dit seker goed dat die skille nou as’t ware van ons oë val en dit glashelder is dat Media24 nié enige aanspraak kan maak op die bewaring van kultuurgoedere of die bevordering van vrye en ontginnende en uitdagende denke nie. Op pad na die skynbaar onomkeerbare bestemming van slegs één Afrikaanse dagblad is die literatuur en die Afrikaanse denkwêreld seker ook al lankal nie meer een van u kernbemoeienisse nie. Dis u goeie reg – dis trouens besluite gedryf deur korporatiewe logika – maar dit sal goed wees as die maskers van geveinsheid en pretensie sak en ons ten minste nie die Orwelliaanse dubbelpraatjies hoef aan te hoor nie. Dit sal ook goed wees indien u maatskappy nie ‘n Stalinistiese stilbly en gehoorsaamheid afdwing op u medewerkers wat die eerste geraak gaan word deur die korporatiewe besluite nie.
Daar is min wat ‘n individuele skrywer kan doen om sy misnoeë te betoon. Ek wil u egter vriendelik maar ferm versoek om vanaf hierdie dag onder geen omstandighede ‘n resensie van my werk te publiseer nie en ek sal dit waardeer indien u die boodskap ook kan deurgee aan u susterkoerante. Hierdie is ‘n persoonlike besluit. Daar was geen oorleg met my uitgewers nie. Hulle het my nog altyd baie goed behandel en ek is jammer as hierdie gebaar hulle goeie werk ter bevordering van my boeke ongedaan maak. Ek vertrou egter dat hulle my besluit sal verstaan.
Ek verdien nie my brood in hierdie land nie en ek weet dat die situasie veel pynliker moet wees vir skrywers wat nie ander opsies het nie. Nogtans wil ek ander skrywers aanspoor om hulle medewerking, aktief of passief, van u te weerhou. Ons sal eenvoudig ander opsies moet vind om ruimte te skep vir die voortsetting van daardie uitwisseling van idees en drome en vrese en prestasies wat essensieel is vir die weerbaarheid van bewussyn en bewusmaking in enige taalgemeenskap.
Die uwe,
Breyten Breytenbach
OPE BRIEF AAN TIM DU PLESSIS
Beste Tim
Aangesien jy aanvanklik via my met woordwerkers geskakel en sedertdien nie geantwoord het nie, het ek die vrymoedigheid om ‘n opvolgbrief te skryf. Ek wil herhaal dat ek glo jy en jou medebesluitnemers waarskynlik die beste bedoelings met ‘n superredakteur gehad het, maar dit is nou duidelik julle verkoop glad nie die idee aan skrywers en ander woordwerkers nie.
Jy kan hierdie interne meningswisseling en dié op LitNet en Versindaba volg, maar ek wil jou verseker dat ek selfs na raadpleging nog van geen woordwerker gehoor of gelees het wat die voordele en verruiming kon insien nie. Daar is wel enkelinge soos Kerneels wat voel ons moet kyk hoe ons die beste van ‘n slegte saak kan maak. Maar dit bly ‘n slegte saak, hy stem saam.
Dit is duidelik dat ‘n volskaalse boikot deur skrywers en resensente nou ophande is. In ons soort groepering van woordmense moet redelikheid en oorreding altyd oorheers, maar natuurlik slegs indien dit werk. Daar is geen teken dat dit werk en die superredakteur nie aangestel gaan word nie. As julle voel ons is onredelik, moet julle die heeltyd in gedagte hou dat Breyten bloot toevallig op julle advertensie afgekom en opgetree het, en ons geensins geraadpleeg is nie. Topbestuurders van ons skrywers se eie NB-uitgewers het nie eers geweet nie.
Die Vrye Woord-drukgroep kan geensins namens alle woordwerkers praat nie, maar ons is bereid om ‘n daadwerklike protesaksie en selfs boikot verder te help koordineer. In my eerste skrywe op LitNet het ek reeds kernvrae oor die nuwe stap aan Media24 gestel en hulle het nie verdwyn nie – hulle sal steeds gestuur word. Die verset val dus nie uit die lug nie.
Media24 het oor jare heen tientalle van my resensies in julle koerante gepubliseer en ‘n aantal van my boeke laat bespreek – alles dinge waarvoor ek baie waardering gehad het omdat dit ook ‘n groter diens aan die letterkunde was. Ek wil dit nou egter onomwonde stel dat ek nie bereid is om as skrywer of resensent enigsins met die superredakteur saam te werk nie. Dit afgesien van enige boikot.
Ek skryf bv. op die oomblik op eie inisiatief vir Beeld aan die bekendstelling van ‘n boekie oor Suid-Afrikaners in Nederland, Huis in de Mauritsstraat. Een huis voor Zuid-Afrikaanse studenten in Utrecht. Daar is nie ‘n sneeubal se kans in Libië dat die superredakteur dit sal plaas nie. Hy/sy gaan nie ruimte/tyd/insig/lus vir so ‘n onbenulligheid hê nie.
Ek hoor by iemand uit julle binnekringe dat die aanstelling ter wille van besparing en ervaring waarskynlik iemand uit julle binnekringe sal wees. Dit sal dus nie te veel trauma en drama veroorsaak om die hele projek te laat vaar nie. Miskien moet julle luister na die baie ernstige versoek van julle belangrike medewerkers en meningsvormers, die skrywers.
Laat vaar die verskralende plan en bou eerder julle boekeredaksies uit. Daar is argumente geopper dat julle sodoende meer sal bespaar! En drie streke se talle betrokkenes by boeke gelukkig sal maak, beginnende by lesers. Niemand wil graag glo Mammon is vir julle belangriker as ‘n kernaspek van kultuur en die Afrikaanse geesteslewe nie.
Groete, steeds baie vriendelik
Charles
Die polemiek het Sondag begin. Danksy Breytenbach en Charles Malan wat help bestuur het. Daar was al baie reaksie: veral Kerneels Breytenbach het as oud-uitgewer en skrywer perspektief gebring. Onthou julle almal die boekwinkel wat onder by Media24 gestaan het en vervang is deur ‘n soesji-tafel?
Is ons nou soesji?
Ek dink nie ‘n boikot van resensies is die pad om te loop nie (die wat dit wil doen, sal ek respekteer), maar as dosent weet ek hoe belangrik die resepsie van ‘n boek is: skeefgetrek, verkeerd, of watookal.
Ons moet eerder probeer om ‘n gesprek met Tim du Plessis aan te vra, soos wat ons al met uitgewers kon ontmoet oor ons tantième. Onthou julle hoe het Braam de Vries jare gelede ons attent gemaak oor knoeiery met bloemlesings en met armdrukke ons regmatige persentasie opgeëis het?
Hierdie is ‘n keerpunt, meen ek. Die hewige debat bewys daar is iets waaroor almal onrustig is. Ons weet dat die media-base moet fyntrap om koerante aan die lewe te hou. Maar, ‘n kulturele lewe is iets meer as wat ‘n mens kan “meet”. Jy kan dit dikwels eers agterna begryp. Iemand het al opgemerk ‘n mens skryf resensies om geld te maak? Hanou! Hokaai! FineMusicRadio beskou ek as liefdesdiens. Net soos spertye en woordbeperkinge eise stel aan die skryf van ‘n bespreking – al spoeg Crito gif daarop.
Die Afrikaanse letterkunde had nog altyd ‘n veelheid van stemme – dwars, aweregs, middel-in-die-kol- maar ons het nog altyd ernstige literatore gehad. En lewendige polemieke.
Sukses word nie aan geldmaak gemeet nie. En dis hierdie dwase gedagte wat waarskynlik inspeel op besluite oor die sentralisering van ‘n boekeblad.
As iemand wat onder andere ook aan die kasregisterkant van sake staan, kan ek nie akkoord gaan met hierdie voorgestelde boikotaksie nie. Daar bestaan ‘n definitiewe en direkte band tussen blootstelling dmv resensies en verkope; iets wat die Media24-opperhoofde nie (meer) snap nie. Hoekom die lesers en uitgewers straf in dié verband? Dit is immers nie deur hul toedoen wat hierdie ongelukkige situasie ontstaan het nie. Ek besef dat dit ‘n mens se natuurlike reaksie is omdat jy kwaad is, maar dit is geen oplossing nie.
Hierdie probleem lê op ‘n heel ander vlak. Laat my nogal dink aan die ou NP-partypolitiek wat die heeltyd bakens verskuif het deur die opposisie se beleid oor te neem en hul dan as “vernuwend” voor te hou. Uiteindelik staar jy bankkrotskap in die gesig soos toe die NP selfs ‘n wit ANC wou wees en gevind het dat hulle totaal irrelevant geword het.
Myns insiens moet ‘n mens jaloers waak oor juis dit wat jou van jou opposisie onderskei en “uniek” maak. Die sogenaamde “pers koei”-beginsel. Media24 is die afgelope jare reeds besig om na die laagste gemene deler af te skaal ten einde nuwe markte (= markte van hul opposisie) te betree. In dié proses verloor hulle hul bestaande (en lojale) lesers onder belofte van ‘n “nuwe” mark. Dit is wat met De Kat en Insig gebeur het, myns insiens. En nou ook met hul dagblaaie wat bedreig voel deur die suksesse van die Son-fenomeen.
Sensasie is wat koerante verkoop, glo hulle. Maar sensasie duur ook net solank soos die volgende nuusflits; en daaroor word daar in iedergeval in alle media gerapporteer. Soos iemand vir wie ek enorme respek het, eenkeer vir my gesê het: Daar bestaan baie maniere waarop jy bankkrot kan speel. Hierdie is een voorbeeld daarvan.
Dus – nee. Nie ‘n boikotaksie wat mense en instansies wat nie skuldig is hieraan gaan affekteer nie. Maar teen die booswigte direk en persoonlik. Weier om hul koerante te koop. Dieselfde nuus kan in iedergeval in enige ander koerant (of op die internet) gelees word. Hoekom moet ons lojaal aan hul koerante bly? Net omdat hulle Afrikaans is?! Hul lojaliteit jeens Afrikaans staan immers tussen aanhalingstekens. En daardie aanhalingstekens is dollar signs.
Protes en boikot gaan nie in hierdie verband werk nie.
Daar sal gewoon mindere ligte (of sommer net ‘n redaksielid by Sport of Sake) aangestel word om belangrike boeke te resenseer. Ons sal ‘n ander manier moet vind om hierdie moeilike probleem op te los. Vir my is die erns van die saak die volgende: ‘n Boekeblad is ‘n spesialisblad. Dit moet deur kundigheid gedryf word: ‘n intellektueel nuuskierige persoon sonder persoonlike vendettas, wat ook ingelig is oor die onderstrominge / groeperinge / bendes en wat bereid is om soos ‘n Sonja Loots in te spring wanneer daar ‘n omstrede kwessie aangespreek moet word.
In beginsel dink ek ‘n boikot is goed – op ‘n praktiese vlak gaan skrywers net hulself in die poot skiet.
Joan
Langenhoven het mos voor in sy boeke laat druk: “Geen resensie gevra nie”, of so iets. (Ontevredenheid oor resensente is nie iets nuuts nie!) Ek dink nie die koerant het hom daaraan gesteur nie. (Dan weer: Langenhoven was die einste koerant se gewildste rubriekskrywer!) ‘n Mens kan ‘n koerant natuurlik nie verhoed om jou boek te resenseer nie – dis in die openbare domein. Maar miskien sou die blote versoek al ‘n sterk boodskap uitstuur, en saam met die weiering om resensies te skryf, kan dit die nodige impak maak. Die koerant sal natuurlik weer ander mense kan kry om te resenseer, maar as elke letterkundige naam van belang onbeskikbaar is, sal dit natuurlik alle geloofwaardigheid wegneem.
Ek moet egter nie te grootbek wees nie. Ek het lanklaas enige boekresensie geskryf en die boek self moet nog gebeur! Soos Breyten oor homself geskryf het, is my woorde in hierdie verband dus goedkoop. Dis iets wat skrywers en ander letterkundiges moet besluit.
Partykeer skrik ek vir die mal gedagtes wat by my opkom …
Gerrit
Beste Breyten en Gerrit,
Wel, oukei, as ons gaan met Gerrit se plan dan moet ons dit ordentlik doen.
Dit is beslis EEN modus operandi.
Ek stel dan voor: nie slegs moet alle resensente hulself onttrek van resensies nie, maar almal van ons wat skrywers is moet versoek dat ons komende boeke nie gerensenseer word onder die superredakteurvaandel nie. En ons moet dit bedoel en saamstaan.
Dus, as Media24 hiermee voortgaan, moet alle Afrikaanse skrywers en resensente soos een man/ vrou hulself hieraan onttrek. Dit moet so ‘n groots moontlike boikot wees. Boikotte maak die boikotters ook in die korttermyn seer, maar daar is min dinge wat al so suksesvol was in medium en langtermyn.
Na aanleiding van Hennie Aucamp se skrywe:
Sal ons, die geringes en lig-gewigtiges wat aan die buitenste rant van die lyf van groot meningvormers randfladder heelaas nou soos molle ondergronds in duistere gange self na die helder lig van vernuwende denke moet gaan soek? [Die vraag wat mens jouself afvra is waarheen nou?] Het die lees van resensies en skrywersdebatte in koerante nie ‘n gerieflike en gemaksugtige patroon geword nie. Wat verg dit van ons om drie koerante oop te slaan en ons dan te verheug in al die geskrywery oor boeke wat ons liefhet? Gaan ons uitgewis word onder die sweepslag van een [baster] baas wat die slagspreuek van Media24 op sy voorkop dra? Oral om ons heen kan ‘n legio van oplossings gevind word. Ons, die geringe boek-verslaafdes, wat ons weldra weereen in terra inconita sal bevind, wil weet of daar karteerders is wat bereid is om vir ons, wat wil lees en skryf en droom oor boeke, ‘n nuwe pad na die helder waterval te vind. Melanie Grobler
Ek sien dis net die groot kokkedore wat tot dusver hieroor gepraat het, en dan ook net op die internet. Sover my kennis strek, het daar nog nie een brief of meningstuk hieroor in die gedrukte media verskyn nie, wat seker ook nie verbasend is nie. Ek wil enkele opmerkings maak uit die perspektief van die “gewone” boekleser (wat nie ’n student, akademikus of skrywer is nie) van ernstige literatuur.
1) Joan Hambidge wys op die verskillende behoeftes van verskillende streke: “Die Afrikaanse leser in Bloemfontein het ander leessmake as die een in Kaapstad. Ek weet: ek resenseer vir sowel Volksblad as Die Burger. ‘n Gewaagde aanhaling word o.a. geduld in Die Burger, maar nie in Volksblad nie.”
Dit is ’n geldige punt. Dit beteken egter nie dat selfs die huidige stelsel goed genoeg is nie. Ek ken ’n klompie ouer mense (wat nie rekenaargeletterd is nie) wat almal in verskillende dele van die land bly. Elke week bel hulle mekaar sodat hulle oor die foon vir mekaar die resensies wat in die verskillende dagblaaie verskyn het, kan voorlees. Want anders sit elkeen met net twee resensies (op die meeste): die dagbladresensie en die Rapport-resensie. Nou kan hulle soms selfs vier resensies oor een boek lees. En uiteraard vertrou hulle die menings van sommige resensente meer as dié van ander. En hulle koop nie die Huisgenoot nie.
2) Vandag het Kerneels Breytenbach die idee van ’n webtuiste geopper. Hoe meer platforms daar beskikbaar is, hoe beter, so ek dink min mense sal kan fout vind met hierdie idee. Maar kan internetplatforms die rol van die gedrukte media in Suid-Afrika vervang?
Nee. Daar ís mense wat belangstel in boeke wat nie rekenaargeletterd is nie. Daar is mense in Suid-Afrika wat hulle geld op boeke eerder as op bandwydte wil spandeer. Daar is mense wat nie geld het vir boeke of koerante of internet nie, wat die koerant by die werk lees en dan die boeke wat bespreek word, by die biblioteek gaan trek – al moet hulle dan ’n paar maande wag.
Die vraag is dus: wat wil hierdie protesaksie bereik? Wil ons net ons eie middelklas-intellektuele orde handhaaf, of wil ons juis meer mense bereik? Meer mense opgewonde maak oor letterkunde?
3) Breyten Breytenbach stel ’n Skrywersunie voor. Dit loop natuurlik die gevaar om (soos die kwessie van Afrikaans) gekaap te word vir spesifieke ideologieë. Daar is hoeveel Afrikaanse kultuurorganisasies of organisasies wat spesifiek Afrikanerbelange op die hart dra. Ek soek ’n organisasie wat hulle beywer vir alle inheemse tale, vir alle Suid-Afrikaanse letterkundes, wat moedertaalonderrig in al die inheemse tale wil bevorder, wat intellektuele gesprekke in al die inheemse tale aanmoedig. ’n Organisasie wat nie net sê dis ons reg om meer as een resensie van ’n Afrikaanse boek te sien nie, maar een wat sê dis ons reg om meer as een resensie van boeke in alle inheemse tale in Suid-Afrika te sien. Een wat erken Afrikaans is wel in ’n beter posisie as ander tale en daardie tale help ophef sodat Afrikaans ook van sy toekoms verseker kan wees. Een wat nie net op sy eie Afrikaanse mishoop sit nie, maar uitreik na ander Suid-Afrikaanse skrywers en letterkundes en idees.
4) Gerrit Brand sê vanoggend dat ons nie Media24 moet probeer “befonds” nie. Hy stel voor lesers en resensente boikot die boekeblaaie. Goeie plan. Maar, selfs as dit suksesvol is, moet ons tevrede wees daarmee dat Media24 seggenskap het oor al hierdie kwessies in Afrikaans? Of het dit in elk geval tyd geword om te besin oor die funksionaliteit van ’n monopolie? Gaan ons almal net tevrede terugsit indien Media24 hierdie idee sou terugtrek?
Dit is dieselfde Vinger, of dan ‘n reïnkarnasie daarvan, wat ons in die ou dae van P.W. Botha gekry het. Dit ontspring aan dieselfde mentaliteit, & dit het gesuip aan dieselfde bors.
Ek wil saam met Breyten beklemtoon dat ons in ons soeke na ‘n oplossing nie die oorspronklike woede moet verloor nie, of die teiken waarteen dit gerig is nie. Die hovaardige & dikwels minagtende houding jeens Afrikaanse skrywers is iets wat nie net gedwee aanvaar behoort te word nie. Skrywers is die brood & botter van die bedryf, & verdien beter van dié wat geld & mag uit hulle handearbeid verkry het. Daarom, hoe radikaal dit ook al met die eerste oogopslag klink, dink ek Gerrit se oproep tot ‘n resensie-boikot verdien besinning. Dis nie asof enige resensent (altans nie dié wat ek ken) ‘n bestaan daaruit maak of daarvan ryk word nie. Dis sakgeld, of betaal vir ‘n ekstra ietsie hier & daar. Die fooie is pateties, & báie resensente doen dit uiteindelik vir ‘n goeie saak. Wel, die bestuurders van daardie Goeie Saak het nou vir skrywers & resensente die middelvinger gegee. Moenie daardie Vinger uit die oog verloor nie.
Op die ou end sal dit die Afrikaanse koerante wees wat in die proses meer gaan verloor — ek praat nou nie van geld nie, maar van legitimiteit, geloofwaardigheid, maatskaplike en kulturele relevansie. Ek stem saam met Hennie Aucamp se stelling dat Media24 dit nie goed bedoel met die boek nie, maar nie dat die Oop Gesprek oor boeke verby is nie. Die gesprekke wat die laaste paar dae net op hierdie enkele webblad gevoer is, was al klaar oper en meer welluidend as enigiets wat op ‘n gewone boekeblad geakkomodeer kon word. ‘n Mens moet dit, soos Breyten s^e, nie uit die oog verloor nie!
Breyten, ek hoop jy word spoedig gevra om ’n resensie te skryf! Laat weet maar as jy Ashton-toe ry …
“Criticism may not be agreeable, but it is necessary. It fulfils the same function as pain in the human body. It calls attention to an unhealthy state of things.”
Winston Churchill
Moenie dat die belangrikheid en potensiaal van sterk en toeganklike webtuistes vir resensies en ander boekenuus, gespesialiseer of nie, ondergeploeg raak in ons uiting van geregverdigde woede teen die siniese en uiteindelik dikvellige besluite van die mediabase nie. En moenie dat ons die goeie voorbeeld van juis so-iets, ek praat nou van Versindaba, uit die oog verloor word nie. Kyk hoe baie het Louis-hulle vermag met min hande! Is daar nie iets te leer nie?
Hierdie is inderdaad ‘n skeidingsmoment, ‘n soort katalisator wat skrywers kan aanspoor om groter en vryer te dink as die beperkings en (valse) oorwegings van die Monopolie. En op hierdie manier ook weer betrokke kan raak by groter maatskaplike oorwegings. Want die hef aan of die smeltkroes waar allerlei ongemaklike begrippe uitgesweet sal moet word, lê eintlik nog voor. In so ‘n situasie sal dit belangrik wees dat individue en skrywersgroepe vreesloos en darem hoorbaar kan praat, en juis nie slegs as ‘gedulde’ versiersuiker op die belangekoek van ‘n mediareus wat seker in elk geval meer as 80% van sy finansiële belange in die buiteland genereer en beskerm nie.
Gerrit,
ek weet nie of jy ‘n soettand het nie, maar ek is bereid om Ashton toe te ry en vir jou ‘n blik van die beste jêm te gaan haal vir hierdie sterk mondvol gesonde verstand.
Jy maak ‘n absoluut geldige punt. Te lank was daar ‘n soort bloedskandelike inteling tussen Afrikanerbedrywe en skryf- of kultuurmense. So asof taal en denke en bevraagtekening en innoverende intellektuele of filosofiese soeke werklik erns vir hulle sou wees. Ons behoort feite onder die oë te sien. In die ou dae het van ons gesê dit maak nie ‘n dêm saak of P.W. Botha ‘n nie-rassis is nie; wat tel is dat hy geforseer moet word om op te tree asof hy dit is – en, wie weet? – miskien sou daar mettertyd ‘n inhoud kon kom om die vorm aan te vul. Dieselfde geld tans vir die belangrikheid om die swart nasionaliste soos Manyi aanmekaar met stokke – desnoods konstitusioneel – by te kom.
Dus: boikot! (Ek praat maklik, was nog nooit ‘n resensent nie, is nooit gevra nie en sou dit ook nie wil doen nie…)
Die gedagte van ‘n skrywersmondstuk is aanvullend – maar wel noodsaaklik, sodat skrywers nie altyd onverhoeds betrap word nie en hulle griewe en belange hopelik met meer impak gekanaliseer kan word.
Groete,
Breyten
Jammer ek antwoord nou eers jou vraag, Marlise. Daar is inderdaad ‘n hele paar Nederlandse webtuistes wat in resensies spesialiseer. Ek dink egter dat die een wat die beste as voorbeeld vir so ‘n inisiatief kan dien, is BOEKENDINGE.
Hulle is by die volgende skakel:
http://www.boekendingen.nl/wp-nieuws/
Gerrit, absoluut reg. Die ideologiese maneuver is om ons te probeer oortuig daarvan dat daar werklik geen geld is nie; of dat ‘onbekostigbaarheid’ ‘n soort onafhanklike gegewe is. ‘Begrip’ en ‘hulp’ is, om nou Kundera buite konteks aan te haal, ‘to be the brilliant ally of one’s grave diggers’! Die ideologiese maneuver BENODIG hierdie respons vir sy mistifikasie om te werk.
Daarom hou ek van die alternatiewe idees wat Kerneels en Marlise mee kom hier bo. ‘n Mens moet jou amper verbeel daar is geen Afrikaanse dagblaaie nie; so waarheen nou met resensies? Myns insiens is daar ruimtes, maniere, kulturele produsente; daar is boeke, daar is lesers. ‘n Mens moet jou nie blindstaar aan jou vyande nie.
Dit is met afgryse wat ek kennis geneem het van die advertensie vir ‘n Nasionale Boekredakteur deur Media24.
As ‘n redakteur van ‘n vaktydskrif oor drama en toneel in Suid-Afrika, ‘n dosent in die teorie van drama en teater, en as ‘n skrywer, wil ek my ook volledig vereenselwig met die weerstand wat tans in skrywersgeledere opbou oor Media24 se die voorgenome regulering van die resensiebedryf deur die aanstelling van een nasionale “hekwagter”, of wat Breyten so mooi verwoord as ’n “über literêre redakteur of raadgewer”.
As plaaslike en regionale verskille nie meer van waarde is nie, wat word dan van debat, van perspektief, van interpetasie – van juis dit wat die kunste anders maak as die meer geregimenteerde wetenskappe of die ekonomie – as daar nie in die media vir sodanige verskille voorsiening gemaak word nie?
En watter boodskap stuur Media24 hiermee vir die die leserpubliek, en veral die nuwe lesers en studente wat die boeke moet koop, lees en bestudeer – om later self nuwe werk te genereer?
Temple
Vriende, ek dink nie ons moet ander rolspelers uit die private sektor vra om Media24 te help nie. Daarmee word erkenning gegee aan Media24 se vals aanspraak dat daar nie geld vir verskillende boekeredakteurs is nie. Dit rol van die geld in Media24; die enigste vraag is hoe daardie geld bestee word, en dit is ’n funksie van prioriteite. Media24 kan en moet van hul plan afsien om te toon dat hul prioriteite reg is.
In Nederland was daar ’n tyd toe die regering begin het om die versorgingstaat terug te rol en ’n beroep op die kerke en ander nieregeringsorganisasies gedoen is om die armes te help opvang. Die kerke het (tot baie se ontsteltenis) geweier om te help omdat hulle gereken het dat hulle daardeur legitimiteit aan die regering se immorele beleid sal help gee. Hulle het aangedring dat die staat sy morele verantwoordelikheid nakom om na die armes en noodlydendes om te sien. Daarvoor het hulle myns insiens meer vir laasgenoemdes gedoen as wat hulle met ’n paar aalmoese sou regkry. Dit beteken ook dat die kerke dan meer kan doen in ander lande waar die armoede en lyding nog soveel erger is.
In SA het ons ’n ander, myns insiens teenproduktiewe, benadering. As die regering sekere belangrike dokumente (byvoorbeeld van die belastingdiens) nie meer in al die amptelike tale beskikbaar stel nie, spring kulturele organisasies in en sê: “Ons sal dit doen. Gratis.” Dieselfde gebeur wanneer wetgewing net in een of twee tale gepubliseer word. Ek bid jou aan! Daarmee word die regering van sy verantwoordelikheid onthef om alle Suid-Afrikaners gelyk en billik te behandel. Op hierdie manier kan goeie bedoelings en bereidheid tot diens die onbedoelde funksie vervul om ’n onaanvaarbare en onverdedigbare gang van sake ekstra momentum te gee.
Nog iets wat ons verkeerd doen, is dat ons alte gou begrip wil toon vir regeringsorgane of private ondernemings wat besluite neem waarmee ons ongelukkig is. “Ons verstaan julle posisie, maar …” Dan het jy klaar die stryd verloor. Groot instansies se beleid word deur magsfaktore bepaal. Die aandeelhouers vra net een ding: meer wins, wat minder uitgawes (minder personeel ens) verg. Die werknemers vra beter lone en werksomstandighede en werksekuriteit, en hul vakbonde baklei daarvoor sonder om die geringste “begrip” vir die base te toon. In die samespel van hierdie en ander kragte moet die bestuur van die instelling dan die nodige toegewings maak en met mekaar balanseer. Wat lesers van die boekeblaaie moet doen, is om keihard daarop aan te dring dat die huidige plan nie uitgevoer word nie en meer nog, dat elke koerant ’n voltydse boekeredakteur moet kry. Geen “begrip” nie, geen afgewaterde voorstelle nie, geen hulp aan die onderneming nie. Dis my mening.
Wat kan ons konkreet doen? Breyten het reeds ’n skrywersmondstuk voorgestel. Dis ’n uitstekende idee. Maar herkou ook hieraan: Gestel alle huidige resensente, en veral die gewigtiges onder hulle, kondig aan dat hulle sal weier om voortaan boekresensies vir enige van die drie dagblaaie te skryf indien die plan van een super-boekeredakteur uitgevoer word. En hulle moet dit bedoel! Dit sal nie net die koerante laat regopsit nie (hulle sal immers geloofwaardigheid verloor), maar ook uitgewers (ingesluit die talle uitgewers buite die Naspers-stal) omdat hulle regstreeks daardeur skade sal ly. Daar is nou ’n verklaring wat ek bereid sal wees om te onderteken.
Gerrit
Die Openbare Verbranding van Boeke is een van die gruwels wat hom al dikwels in die tyd herhaal het, eeue gelede in China; toe in Italië, op aanstigting van Savanarole; en in Nazi-Duitsland.Dit het altyd om politiek en ideologie gehandel.
Die Verbranding van Boeke, dit wil sê van die geestesprodukte van ‘n volk of ‘n kultuur, kan baie vorme aanneem. Die gemeenste vorm van Verbranding is Sensuur, en die allergemeenste vorm van Sensuur is dié wat vanuit eie geledere kom.
Media 24 bedoel dit nie goed met die boek nie. ‘n Meningsblad soos Insig is teen alle pleidooie en proteste van die literêre gemeenskap koelbloediglik opgedoek.
Wat aan die gebeur is, is dat ‘n nuwe diktatuur aan die oorneem is, ekonomies sowel as ideologies. ‘n nuwe Big Brother-sindroom. Daar sal, met net een boekeblad in die land, geen korrektiewe by vals uitsprake oor boeke aangebring kan word nie. Die Oop Gesprek oor boeke is verby. Die Afrikaanse letterkunde gaan sy donkerste periode binne.
Hennie Aucamp
Ja, ek kan jou wel krediet gee vir jou uitgangspunt: LitNet het die infrastruktuur en is gevestig en bekend. Hulle het ook reeds ‘n ruimte wat afgestaan word aan resensies en allerlei ander boekenuus, plus baie advertensies. Hulle kan dit ook nog verder uitbrei. Alles goed en wel, niks fout daarmee nie. Maar tog, voel ek sterk oor ‘n onafhanklike blad daarnaas wat iemand kan dryf & slegs resensies plaas. Google jy ‘n boek dan, sal jy mos wel op so blad ook afkom as daar ‘n resensie is. Hoe meer webtuistes gevestig word vir die Afrikaanse boek, hoe beter word die sigbaarheid van die taal en sy letterkunde. ‘n Waarheid waaraan ek graag glo: as jy alles vir almal probeer wees, dan is jy niks vir niemand op die ou end nie. Daar is baie koeie in die literêre landskap, maar as een van hulle pers is, sal almal dit raaksien. Daarom glo ek een webtuiste vir slegs een ding: resensies.
Marlise, ek sou stem vir en-en-en: webblaaie wat uitsluitlik resensies en liter^ere artikels publiseer sal wonderlik wees; maar die voordeel van ‘n ruimte soos LitNet is weer dat, soos in ‘n koerant, lesers wat nie uit gewoonte of belangstelling na ‘n ‘niche-webblad’ sou gaan nie wel ook blootstelling kry aan resensies en goed — oftewel, dat resensies en boekenuus ook blootgestel word aan sulke lesers.
Ek dink die punt is, en dit is wat Kerneels se skrywe belangrik maak, Media24 se besluit is sinies, waarskynlik ‘n voldonge feit, maar ook sekerlik nie die einde van die w^ereld nie: onafhanklike, alternatiewe en veral elektroniese media maak eindelose kreatiwiteit en improvisasie vandag moontlik: kyk maar wat het julle reeds reggekry met Versindaba: resensies, artikels, blogs en onderhoude het Afrikaanse liter^ere inhoud laat prolifereer; meer ‘produsente’ van idees en menings word betrek (diversifikasie van die liter^ere diskoers); en op die ou end het die webblad ook gefunksioneer as ‘n openbare forum wat hierdie hele debat moontlik gemaak het.
Met ander woorde, Media24 en die papierkoerant is nie die enigste game in town! En dink daaraan: baie van hulle bontspronge, jakkalsdraaie en dolksteke is juis as gevolg van die feit dat hulle WEET hulle is nie meer the only game in town nie. Die klok lui, maar nie vir ons nie.
Kerneels, ek hou van jou idee van ‘n selfstandige webwerf vir resensies oor Afrikaanse boeke. Op so webtuiste kan jy maklik dus drie of meer resensies van dieselfde boek deur verskillende resensente plaas! Iemand moet dit net bestuur en begin daarmee & ‘n borg of twee kry wat dit ondersteun. Die ruimte vir ‘n webwerf en soos vir ‘n program soos WordPress is nie duur nie, maar resensente moet betaal word, uiteraard. Daar is reeds sulke webblaaie in ander lande. Louis jy sal my geheue moet verfris hier, want ek onthou dat jy eenkeer vir my so webtuiste gewys het & ek dink dit was ‘n Nederlandse een, wat SLEGS resensies plaas, en niks anders nie! Vir my was dit nou ‘n wonderlike innoverende oplossing om publikasies onder die die aandag te bring van die lesers. Koerante dien sy doel, ja, maar ek dink dat die digitale media veel wyer strek en groter impak sal hê. So blad moet nie ‘n onderafdeling van ‘n groter webwerf vorm nie, dit moet onafhanklik wees en slegs massas resensies genereer. Hoe lyk dit, wil jy nie maar daarmee begin nie? 🙂
Charles,
Die ideaal is dat daar ‘n onafhanklike forum buite die gevestigde media moet ontstaan. Die praktiese werklikheid van die huidige situasie is dat die geldskieter die kitaarslater is. Jy het geen versekering dat dit nie ook by ‘n onafhanklike forum die geval sal wees nie.
Ek het al self ondersoek ingestel na die moontlikheid van ‘n selfstandige webwerf vir resensies oor Afrikaanse boeke. Dit was nog altyd vir my ‘n droom sedert my dae as boekeredakteur van Die Burger: ‘n Forum wat vry sou wees van gevestigde belange. Vandag besef ek dat die beste moontlike forum daarvoor reeds bestaan: LitNet. If it ain’t broke, don’t fix it.
Ek dink ook nie mens moet enige illusies hê oor die huidige debat en situasie met die boekeblaaie van die Afrikaanse koerante nie. Hierdie protesaksie is een van die beste dinge wat in baie jare gebeur het rondom Afrikaanse boekresensies. Hoe ongemaklik dit ook vir Tim du Plessis mag wees, nóú weet hy en Media24 ten minste wat van hul besluite en aksies gedink word. Dis fenomenale marknavorsing, absoluut gratis. Maar gaan dit hul besluit verander? Ek glo nie. As ek ‘n voorspelling kan waag: Hulle gaan met groot moeite iemand vind wat daardie posbeskrywing kan hanteer. Die proses kan dalk langer duur as wat ons dink. Dis ‘n ope vraag hoe lank so ‘n persoon, uiteindelik aangestel, in die pos sal uithou. Dit sal binne maande nodig wees om nog mense aan te stel om alles te help hanteer. Die druk is op die oomblik baie groot dat Beeld verlos moet word van die verleentheid wat sy Boekeblad geword het. Wanneer hulle oor ‘n jaar hul somme maak, sal hulle vind dat die boekeblad meer kos as wat die drie blaaie hulle verlede jaar saam gekos het. As daardie superredakteur die opdrag rakende die digitale platforms behoorlik uitvoer, gaan daar ‘n volgende protesaksie vir ons ophande wees: Hoe om te sorg dat LitNet ongeskonde en vry bly.
Groete,
Kerneels
BOEDELOORGAWE EN STRATEGIE
Dit is jammer dat die wyd ervare Kerneels Breytenbach grondige argumente teen die superredakteur (so noem hy dit ook) op LitNet opnoem en dan voel ons moet maar gelate aanvaar en kyk wat ons kan red. Hy kom met die pragbeeld van die onvermydelike: “In MBA-taal sou daarna verwys word as die vertikale integrasie van horisontale diversiteit.”
In plein Afrikaans sonder mistifisering sou ons in hierdie geval kon vra: wie kom wie van bo deur die ore by?
Jammer dat dit nie dadelik geblyk het dat ek Charl-Pierre se belangrike boodskap aan my bloot aangestuur het nie. Hy voel soos talle van ons dat iets gedoen moet word, en as dit moet, ook buite Media24-strukture.
Mag ons as skrywers nooit ons drome, visioene en innoverende insigte verloor nie, want dan moet ons vir Huisgenoot begin skryf. Vir hulle boekeblad. Bestaan daar waaragtig soiets – ek het nog nooit probeer loer nie? Is dit moontlik die antwoord?
Maar as ons ernstig oor strategie wil wees, moet ons realisties wees. As ons borge van buite wil kry, wie gaan die poging dryf? Namens wie? Ek stem enige tyd vir bv. die onverskrokke Kandalie, maar wat is haar mandaat, dus namens wie sal sy praat?
Charl-Pierre, jy sal as redaksielid weet die moontlikheid van ‘n amptelike nuwe skrywersorganisasie is al ‘n geruime tyd deur Vrye Woord wyer bespreek en getoets, nou weer deur Breyten geopper. Waar NB se uitgewerye en toe HAUM-Literêr die Afrikaanse Skrywersgilde destyds ‘n volledige infrastruktuur en volle onderskraging gegee het, is uitgewerye deesdae so “vertikaal” ingestel dat dit nie eers ‘n moontlikheid by hulle is nie. Die ondenkbare van omstredenheid is ook te groot – dink bloot ABSA en rugby.
Wie gaan die nuwe infrastruktuur borg? Solidariteit? Indien wel, moet ons juig en ook vabonde van die vakbonde word. Hoeveel van julle het al getoi-toi?
Niks keer ons om die voelers wyd uit te steek nie. Ons kan iemand soos Johan Rupert se aandag trek. Vrye Woord is ‘n lid van die Afrikaanse Taalraad, maar hulle is sover ek weet nie juis skatryk nie.
Ons wag op julle briljante regterbrein-insigte, veral as dit geld inbring en moontlikhede oopmaak.
Beste
Charles