Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers

Kom, laat ons praat ...

Kom, laat ons praat ...

Aansoeke vir die pos van Nasionale Boekeredakteur sluit vandag en alle aanduidings is dat Media24 onverstoord gaan volhard met hul voorneme. Soos ek met my vorige Nuuswekker berig het, bestaan daar tans ‘n sterk gevoel dat dit nou die tyd is om ernstig te besin oor die moontlikheid van alternatiewe strategieë tot die beskikking van die Afrikaanse skrywer.

Een daarvan is om ‘n organisasie tot stand te bring wat as kampvegter vir die skrywer en haar belange kan dien. Ten einde die moontlikheid van sodanige organisasie te ondersoek, is dit dus nodig om ‘n gespreksgeleentheid hieroor te koördineer, en wel gedurende Woordfees volgende week wanneer daar uiteraard ‘n beduidende getal skrywers in Stellenbosch teenwoordig gaan wees.

Soos versoek, maak ek dan graag hiermee bekend dat die watertoetsvergadering belê is vir Saterdag, 12 Maart, om 16:30 by Protea Boekwinkel in Andringastraat. Hierdie is die enigste tyd wat gemaklik binne die Woordfees se omvattende program pas, omrede daar op daardie tydstip nie veel skrywers elders betrokke is nie. Daarom – indien jy ‘n gepubliseerde skrywer is wat wil saamgesels hieroor, is jy welkom by dié geleentheid; uiteraard sal ‘n mens – veral met die eerste verkennende gesprekke – so verteenwoordigend van die totale letterkunde probeer wees as wat dit maar kan.

Ter wille van konteks: wat behoort die fokus van so ‘n wat-van-dié-of-dááí-praatjie wees? In ‘n persoonlike e-pos het Breyten Breytenbach die waarskynlike agenda soos volg uiteengesit: “Ek dink die byeenkoms moet gaan oor die behoefte aan ‘n skrywersunie wat met gewig kan praat met die ander spelers, skrywers se belange kan verteenwoordig, skakel met ander skrywersgroepe as déél van die burgerlike samelewing, waar nodig vaardighede kan opvorder en aangee, werk vir die daarstelling van meer betroubare bronne (die Ontwikkelingsfonds, bv.), die probleme wat nou akuut geword het (inkrimping van diversiteit, ronddondery deur vet sakebase…) kan aanpak, groter koördinasie tussen die verskillende webtuistes en dalk publikasies kan bevorder, sorg vir meer en beter kennisname van boeke en boekaangeleenthede, kan skakel met die Leeskringe, kore kan saamstel en sorg vir die vervaardiging van krismiskeppies.”

Natuurlik sal so ‘n gespreksgeleentheid op sy eie teiken in sy eie tyd vuur, maar in die breë kan bogenoemde gesien word as die raamwerk waarbinne die gesprek tot stand kan kom. Die vraag bly egter oor presies hoe om gestalte te gee aan hierdie astrante droompie van ‘n nat vuurpyl …

Nietemin, vir jou leesplesier volg M.M. Walters se onvergeetlike vers “Skeepsverslag: Titanic” onder aan vanoggend se Nuuswekker en ja, dit is bedoel as ironiese kommentaar.

***

Sedert gister het daar twee nuwe bydraes op die webblad bygekom. Chris Coolsma het in Wisselkaarten ‘n stuk geplaas oor die kwessie van landskap in die Nederlandse digkuns. En dan het Melanie Grobler ‘n Afrikaanse vertaling van Joyce Carol Oats se gedig “Lorelei” vir plasing ingestuur.

En daarmee is die week tot niet. Geniet die naweek wat op hande is; ons hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

 

Skeepsverslag: Titanic

 

 

Hollanders het die skip beplan, maar dit was

Engelse wat gebou en uiteindelik geloods het –

en almal is tog ou kenners van die water.

Nietemin te veel was die geloof en selfversekering

dat niks hom kon laat sink nie:

het die beskermheer van skepe dan nie self

die projek gewil nie, dié invaar in die donker,

dié wit eiland van lig en glansende weerkaatsing…

 

Agterna gesien, was die toerusting onvoldoende.

Die skokkendste erkentenis: geen verkykers of soekligte.

Maar luukses was volop en uitspattig: marmer-

vuurmaakplekke, dubbele toilette, miniatuurgholfbane,

swembaddens, rye kroeë en hemelbeddens

waarin die rykes kon hoereer, selektief, privaat,

terwyl hul voortvaar na die beloofde land,

hulle skatte veilig in die kluise.

 

Sender van kleiner skepe het gewaarsku:

julle vaar in ʼn gevaarlike seisoen, daar’s ʼn kilte

in die lug, ysberge in die onbekende water

en vol verandering is die warrelende winde.

Maar die luuksereus was doof, sy antennes

ingestel op uitstraal, nie interpreteer nie.

Bowenal wou sy kaptein hom nie laat steur nie,

nié deur kapteintjies wat nie kaarte ken nie.

 

Die ysrots was nie sigbaar in die nag nie

en die staal móés skeur toe dit nie meer kon buig nie.

Chaos het geheers in offisierskajuite -reddingsbote

is nie eens almal neergelaat nie,

wanhopige passasiers het in die see gespring

en dié wat nie die moed had of bly hoop het,

het op die agterstewe saam met die orkes

bly sing: Nader my God by U – onverstaanbaar

sê enkele oorlewendes, omdat die woorde in Afrikaans was.

 

 

(c) M.M. Walters (Uit: Groot Verseboek, Deel 2, 2008: Tafelberg)

 

 

 

 

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers”

  1. Breyten Breytenbach :

    ‘Watertoets’? Met die suurwater wat nou al uit die myne boontoe borrel? As dit Suid-Afrikaanse waters was sou daai ouens op die Titanic seker twee keer gedink het voor hulle spring.

  2. Louis :

    Mmmm … Maar met die kortsigtigheid wat tans deur Media24 se base gedemonstreer word, sou hulle nogtans gespring het. 🙂
    Wie is dit wat gesê het: “Teen die sotheid staan selfs die gode magteloos”?

  3. Breyten Breytenbach :

    Carl Niehaus.

  4. Gisela & Tony :

    These are little more than observations from the sidelines, so to speak.

    1. The idea that readers in the Cape have similar tastes to readers in the Free State may well be inaccurate. If the new super-ed is housed in the Cape, will he/she be travelling regularly to Bloemfontein to conduct market research?

    2. If Media24 is hoping/striving/planning to make more use of electronic media, then they have clearly not been here to see the number of older individuals walking to the nearest Volksblad outlet, to collect their morning paper. Many of these readers do not, in fact, possess PCs or lapstops. One presumes that Media24 intends simply to ignore them?

    2. Media24’s autocratic manner manifest in their proposing to decide who will and who won’t review smacks of the tactics and strategies of a previous regime.

    3. If Media24 decides on who does or doesn’t review, there is little likelihood of new blood coming into the reviewing process. The same names will recur; the same discourses will emerge time and again.

    4. In any case, one has to be extremely careful in the selection of such reviewers in order to avoid a sort of cultural nepotism or a pandering to cliques. It might be the worst kind of fate, to be appointed one of the new reviewers!

    5. After teaching several years in a university business school, I am more than sensitive to a business’s need to recover its costs. But, all too often, such downsizing is a justification for other, sometimes less overt, processes. This may jeoparise each newspapers’ quality.

    6. One can but hope that, given the possibility of this monstrous amalgamation, the newspapers will offer their respective readers a far more substantial book section.

  5. Hennie van Coller :

    Een nasionale boekeredakteur: Uit: Volksblad, 7/3/2011

    Die afgelope tyd was die koerante en letterkundige webwerwe vol van verskillende standpunte oor Media 24 se plan om ʼn nasionale boekeredakteur aan te stel. In felheid staan dit kwalik agter by ander literêre polemieke, soos dié in die jare sestig van die vorige eeu toe die destydse regering begin het met wetgewing rakende sensuur.
    In beide gevalle het skrywers en letterkundiges sterk standpunt ingeneem teen wat hulle gesien het as ʼn vorm van beheer en dus ʼn aanslag op die vrye uitwisseling van idees en as sodanig nadelig vir die Afrikaanse geesteslewe in die breë. Daar is ook ander ooreenkomste tussen die twee polemieke waarna ek later sal verwys.
    In Volksblad van Saterdag 5 Maart verskyn ʼn verklaring van Tim du Plessis “hoofredakteur van Volksblad, Beeld en Die Burger” waarin hy die voordele van ʼn nasionale boekeredakteur uitstippel op ʼn hartlike, inklusiewe wyse. Reeds mnr. Du Plessis se beroepstitel, “hoofredakteur”, is al opmerklik. Dit impliseer ʼn hiërargiese struktuur binne Media 24 waarin redakteurs van die drie dagblaaie ondergeskik gestel word aan ʼn “hoofredakteur” en hul eie onafhanklike besluitneming sodoende aan bande gelê word.
    Waarskynlik maak dit finansiële sin as drie dagblaaie, grotendeels wat inhoud betref, dieselfde lyk, daar dieselfde nasionale byvoegsels is, ekonomiese berigte (en dié oor motors, flieke en televisieprogramme) die verantwoordelikheid van dieselfde “kundiges” is. Só word geld gespaar én bring jy die “bestes” se berigte by lesers uit. Mettertyd sou die proses verder gevoer kon word: één redakteur (én nasionale redaksie) vir al die koerante. In die buiteposte, soos Bloemfontein (en reeds in Port Elizabeth), sou volstaan kon word met ʼn klein groepie medewerkers wat kan berig oor plaaslike sportnuus, skolenuus, egskeidings en sterfgevalle.
    Wat die Afrikaanse kultuur betref, maak dit veel minder sin. ʼn Situasie van “uithoek” en “middelpunt” word geskep waar Bloemfontein byvoorbeeld verlief moet neem met die opinies van “kundiges” uit die sentrum (meestal binne Media 24-denke, Kaapstad). Nou reeds is plaaslike stemme byna onhoorbaar in die nasionale byvoegsels.
    Verskeie van die stellings in mnr. Du Plessis se stuk verdien verdere aandag. Só beweer hy dat met “saamgegooide hulpbronne” daar “ medewerkers van hoë gehalte” gewerf kan word. Die implikasie is duidelik: die huidige medewerkers is nie van hoë gehalte nie! Behalwe dat dit ʼn growwe belediging is, is dit onwaar, veral in historiese verband. Van die belangrikste, mees seminale resensies van Afrikaanse boeke het verskyn in boekeblaaie van klein, koerante met karige hulpbronne.
    ʼn Voorbeeld hiervan is die voortreflike resensies van van Zijl in Die Republikein en F.I.J. van Rensburg, Johann Johl en Charles Malan s’n in die destydse Die Volksblad oor die werk van Etienne Leroux. ʼn Groot “middelpunt”, soos Kaapstad of Johannesburg is geen waarborg van gehalte nie: Rob Antonissen het as hoogleraar aan die klein Rhodes Universiteit in Grahamstad vir dekades die heel beste besprekings van Afrikaanse boeke geskryf en P.D. van der Walt, Dawie Steenberg en Gerrit Dekker, van die ewe klein Potchefstroom, se werk was ook dikwels voortreflik.
    Die nuwe nasionale boekeredakteur sal verantwoordelik wees, só lui dit vir “’n gesaghebbende, toeganklike boekeblad”. Vir jare reeds kla redakteurs en senior joernaliste oor die “ontoeganklike” resensies wat “net vir vakkenners bedoel is”. Meestal is hierdie kritiek onregverdig, omdat boekresensies – anders as nuusberigte – nie vir alle lesers bedoel is nie. ʼn Grondige bespreking van ʼn werk van Van Wyk Louw of Marlene van Niekerk impliseer al ʼn hoë mate van vakkundigheid, ʼn bepaalde diskoers én terminologie. Dieselfde kritici lig egter geen wenkbrou as ekonomiese berigte wemel van begrippe wat slegs ʼn vakkenner begryp nie! Wanneer ʼn motorredakteur ʼn nuwe motor bekendstel sê hy selde bloot dat die motor mooi brul, lekker sit en glad ry. So ʼn bespreking is gewoonlik vol van die mees tegniese terme en besonderhede en dit hinder niemand nie.
    Die belang van ʼn literêre resensie is besonder groot binne die hele bedryf van die letterkunde (die “literêre veld”). Nie in die eerste plek as bekendstelling van of reklame vir ʼn nuwe teks nie; veel eerder as ʼn kundige reaksie wat ideaalgesproke vir potensiële lesers van waarde kan wees. Daarom is die goeie resensent iemand wat nederig is, belese is, helder kan skryf én wie se werk voldoen aan etiese vereistes.
    Die resensie is die eerste openbaar-toeganklike reaksie op ʼn boek en navorsing het bewys dat wat uiteindelik van ʼn teks geskrywe word in ʼn literatuurgeskiedenis in der waarheid min verskil van die eerste resensies. ʼn Teks én ʼn skrywer se lotgevalle, hul plek binne die literêre kanon, hou derhalwe in hoë mate verband met die eerste resensies. Daarom is dit so belangrik dat verskeie resensies van dieselfde boek die lig behoort te sien. Dit is gewoon wensdenkery dat die nasionale boekredakteur op gereelde basis meer resensies van dieselfde boek sal plaas, soos Du Plessis impliseer.
    Maar die grootste gevaar met ʼn nasionale boekredakteur en sy spannetjie kenners is dat daar dadelik korte mette gemaak word met diversiteit en relatiwiteit. Tas een van die resensente totaal mis vanweë kwaadwilligheid, onvermoë of totale uitputting, is daar meteens veel minder ander resensies (soos tans) wat as korrektief kan dien. Leipoldt se 1927-opinie dat die goeie boek “op die ou end win”, omdat “goeie smaak hom nie op die duur deur oningeligte kritiek op die dwaalspoor sal laat bring nie” is ongelukkig heeltemal óór-idealisties: goeie boeke word dikwels doodgeswyg, maar veel erger: swak geresenseer.
    ʼn Mens sou baie voorbeelde kon gee van swak; selfs onetiese resensies, selfs deur gerekende resensente. Een voorbeeld is die resensie van Ampie Coetzee van Johann de Lange se digbundel, Die algebra van nood (2009) in Die Burger. Hoewel daar verskeie briewe gepubliseer is waarin die ontoereikenheid van hierdie resensie aangedui is, was die werklike korreksie die resensies van Marthinus Beukes, Zandra Bezuidenhout en Marius Crous in ander koerante en op LitNet. Was daar slegs één boekeblad, sou hierdie bundel, na my gevoel een van die werklik grootstes van die afgelope jare, gebrandmerk gewees het as “onnoemenswaardig”, soos die kop by die Coetzee-resensie inderdaad ook gelui het.
    Dat ʼn sogenaamde knap boekeredakteur ook geen waarborg is dat goeie resensies sal verskyn nie, word óók deur hierdie voorbeeld aangetoon. Een van die huidige sterkste kritici teen die aanstelling van ʼn nasionale boekeredakteur, dr. Gerrit Brand, was destyds die boekeredakteur van Die Burger waarin Coetzee se resensie verskyn het. Sy eie verweer na aanleiding van die fel polemiek was uiters flou. Hy verdedig die bepaalde resensie omdat die resensent een van die voorste kenners van die digkuns in die land is en beweer dat dit by resensies gaan om eerlike opinies en nie om bemarking nie! Maar oor die feit dat ʼn kundige boekredakteur se verantwoordelikheid in die eerste plek is teenoor die boek (en die skrywer daarvan) bly ongesê. Ook en véral dat ʼn “kundige” boekredakteur se werk is om swak resensies nie te publiseer nie.
    Terug by destyds se polemiek oor sensuur. Op besware van literatore (selfs van Van Wyk Louw) is aanvanklik ook gereageer op versoenende wyse met ʼn aanspraak op inklusiwiteit: “kom ons maak dit werk”. Die eerste aanstelling van die supersensor was die gerespekteerde Gerrit Dekker, wat deur Louw persoonlik aanbeveel is by die destydse verantwoordelike minister, Jan de Klerk. Die latere tragiese afloop van die sensuurbedeling met die verbanning van groot Afrikaanse romans soos, Magersfontein, o Magersfontein! en die swak aanstelling van o.a. ʼn Jannie Kruger is ongelukkig ook wel bekend.
    Swak besluite het slegte gevolge. Met die aanstelling van ʼn nasionale boekeredakteur sal dit nie anders wees nie.

    – deur prof Hennie van Coller (Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans; Universiteit van die Vrystaat)

  6. Charles Malan :

    Vrye Woord steek al ‘n geruime tyd voelers uit om te sien hoe ons kan vorder met dit stigting van ‘n organisasie vir skrywers. Ons wil dus graag die inisiatief in Stellenbosch met woord en daad ondersteun. Dit is nou met die superredakteur nodiger as ooit.

    Dit sal egter nie produktief wees om weer bloot ideale te gaan opnoem nie. Konkrete voorstelle is nodig: die heel belangrikste is wie moontlik gaan borg en vir ‘n infrastruktuur sorg. Moontlik is Protea met so ‘n goedgesinde hoof die plek om te begin?

    Wie moet in ‘n loodskomitee dien en wat gaan hulle werkswyse wees? Gaan ons arme siele wat in die noorde verdroog, volledig ingelig word (en daarvoor sorg Versindaba darem voortreflik)?

    Laat ons lesse uit die verlede leer, soos Hennie van Coller aantoon. Ek was in die voorsitterstoel om die Afrikaanse Skrywersgilde met behulp van wyle Patrick Petersen in die Afrikaanse Skrywersvereniging te laat oorgaan. Van die ideaal om hulle met ‘n Kaapse basis na ‘n erkende nasionele vereniging uit te brei het daar net mooi niks gekom nie.

    Dit sal van die grootste belang wees om dadelik soos met die Skrywersgilde aan volledige streeksverteenwoordiging te beplan. Daar moenie weer van ‘n “parogiale Kaapse groep” gepraat word nie! Jaarvergaderings moet om die beurt minstens in die noorde en suide gehou word, maar die Gilde het ook uiters suksesvolle byeenkomste by Mazelspoort buite Bloemfontein gehad.

    Dit is ook belangrik om soos by die Gilde lidmaatskap vir woordwerkers eerder as “skrywers” in die eng sin van die woord oop te gooi. Baie bekende skrywers van nie-fiksie was gewaardeerde lede van die Gilde.

    Onder die inspirerende leiding van Louis en Marlise kan hier ‘n ding gebeur! Mag ons die aksie van ‘n (noodgedwonge) boikot-aksie na positiewe beplanning omswaai. Druk gerus op Vrye Woord se knoppie vir daadwerklike steun. Ons begin reeds met wyer bekendstelling.

  7. Charles Malan :

    ‘N BOIKOT OF NIE?

    Dit is vir Vrye Woord jammer dat die volle debat oor die superbylae nie nie op ons gasheerweb LitNet afspeel nie. Iemand het reeds gesê ons hoef nie te soek na alternatiewe vir ten minste ‘n digitale platform vir die volle spektrum van die Afrikaanse letterkunde nie, want LitNet is reeds daar. Dis inderdaad waar en ons is dankbaar.

    Gelukkig het ons daarbenewens hierdie interne meningswisseling en is daar ‘n baie goeie, vollediger weergawe op Versindaba: https://versindaba.co.za/2011/03/03/dag-4-hoe-nou-verder/#comment-108761 Hoe meer stemme gehoor word, hoe beter.

    Marga Collings en Joan Hambidge het geldige argumente hoekom ‘n boikot teen die nuwe superbylae nie sal werk nie. Let daarop dat niemand nog besluit het daar is formeel ‘n boikot nie, en Breyten en my eie besluite om medewerking te weerhou was op ‘n persoonlike grondslag sonder om iemand te betrek. Naas Charl-Pierre Naudé het nog ‘n bekende skrywer uit Vrye Woord se binnekringe dieselfde onderneming gegee, ook om byvoorbeeld in ‘n kontrak resensie-eksemplare te weerhou en nie onderhoude toe te staan nie (ek kan weer namens niemand praat en noem dus nie ‘n naam nie).

    Ons standpunt was en is dat ‘n boikot eers ter sprake kom wanneer redelike onderhandelings nie werk nie. Daar is een ligpuntjie in die Beeld-berig oor mnr. Abraham van Zyl, uitvoerende hoof van Media24. “Van Zyl het gister gesê as die voorstel van een boekeredakteur nie werk nie, kan redakteurs dit heroorweeg.” Die groot vraag is wanneer en wie gaan besluit dit werk nie.

    Tim du Plessis sê verstandig lesers moet eintlik besluit. Ja, dit gaan ten slotte oor hulle, lesers van koerante en boeke. Ons as woordwerkers is produsente, hulle is die verbruikers. Die volgende vraag is vanselfsprekend wanneer en deur watter lesers die besluit geneem gaan word. Hoe kry hulle ‘n verenigde stem? Daar gaan nie honderde koerantbriewe instroom nie!

    Nicol Stassen het ‘n perfekte argument teen “samevoeging” soos met ‘n superbylae deur ‘n superredakteur. Wat gaan gebeur as die belangrikste uitgewers ook “saamvoeg”? Om een voorbeeld te noem: hoeveel magtige besluitnemers gaan bereid wees om sy Protea Boekhuis se nismark vir digbundels en nie-betalende historiese en ander publikasies met ‘n beperkte oplaag te akkommodeer?

    Lees ook Hennie van Coller se uitstekende historiese ontleding teen sentralisering, maar op die webadres hierbo.

  8. Charles Malan :

    Marlise, as hierdie klompie pêre eers moet besluit of hulle wil hardloop en watter kar om te trek, indien enige, gaan julle kosbare skrywerstyd verspil. Vrye Woord het reeds wyd voorstelle oor ‘n organisasie gevra en alles het dadelik by die elementêre vraag oor logistiek vasgesteek.

    Wie gaan wat doen en veral borg? Versindaba het duidelik ook geïdentifiseer daar is ‘n organisasie nodig, anders was daar nie die vergadering nie. Julle is in die unieke situasie om ‘n wyer groep woordwerkers se stemme te hoor, al is hulle klein. Klein is soveel keer beter. Werk doelbewus daaraan deur mense te nooi, Vrye Woord doen dit reeds namens julle deur die interne e-korrespondensie te gebruik. Die arme LitNet is so oorval dat hulle nou eers met die plasing van Vrye Woord se nuusbriewe bygekom het.

    Wie het nou eintlik perde nodig wat nie dadelik wil hol nie, maak nie saak hoe die kar lyk nie. Gaan DOEN en besluit Saterdag dinge! Talle woordwerkers kyk na julle om die kar aan die rol te sit.

  9. Gerrit Brand :

    “Van Zyl het gister gesê as die voorstel van een boekeredakteur nie werk nie, kan redakteurs dit heroorweeg.” En Charles vra tereg: “Die groot vraag is wanneer en wie gaan besluit dit werk nie?”

    ’n Ander perspektief hierop: Toe die koerantbase so twee jaar gelede besluit het hulle moet personeel aflê om geld te bespaar (aangesien hulle steeds lekker wins gemaak het en nadat hulle eers miljoene op ’n nuwe bedryfstelsel waarvan beter modelle gratis op die internet beskikbaar is bestee het om beter integrasie tussen die gedrukte en aanlyn uitgawes van die koerante te bemoontlik, en nog etlike miljoene om multimediategnologie aan te skaf, net om kort daarna te besluit integrasie en multimedia is nie ’n goeie idee nie, sodat al die miljoene basies in die water gegooi is), het hulle ná baie besinning oor hoe om uitgawes aan personeel te verminder met die briljante idee vorendag gekom om, terwyl hulle op groot skaal bottomfeeders aflê, ’n paar nuwe, meer senior poste te skep. Logies, tog? (’n Bietjie soos “Vuis vir vrede” of “f… for virginity”.) Een van die nuwe poste (behalwe die pos van nasionale redakteur) was dié van nasionale kunsredakteur. Soos verwag kon word, het dit nie gewerk nie. Hoe op aarde kan iemand van een plek af kunsblaaie in drie verskillende provinsies koördineer? Soos ek dinge verstaan, het daardie ding doodgeloop en word elke kunsblad nou weer volledig plaaslik bestuur. Dieselfde het glo met die bylae gebeur: dis nasionaal geïntegreer en daarna weer (in ’n slegter toestand as voor die tyd) aan die plaaslike koerante terugbesorg. Daaruit word nou die afleiding gemaak: Kom ons probeer dieselfde met die boekeblad en “as die voorstel van een boekeredakteur nie werk nie, kan redakteurs dit heroorweeg”. Logies, nè?

    Terloops, dis duidelik dat die huidige protes pyn besorg waar dit moet. Ek verneem dat ’n sekere koerantredakteur laat verlede week ’n spesiale redaksievergadering belê het om gemoedere te kalmeer deur vir sy personeel die besluit oor ’n nasionale boekeredakteur te verduidelik. In die loop van sy verduideliking het hy glo taamlik driftig geraak en onder meer beledigend teen ’n sekere voormalige boekeredakteur uitgevaar. My raad aan dié voormalige boekeredakteur sou wees om dit as ’n kompliment te beskou. Dankie meneer die redakteur!
    G

  10. Joan Hambidge :

    Goed gestel Marga. Ek het ook al ervaar hoe ‘n boekeredakteur gewoon net nie ‘n boek uitstuur nie.
    Charles Malan wys tereg op die onderstrominge in ons bedryf en ‘n boekeredakteur kan ook verkeerde aanstellings maak deur vriende/geliefdes aan te stel. Of met opset vyande teenoor mekaar op te stel vir ‘n ou lekker bietjie opwinding.

  •