Oor die werksaamhede van Poetry International Web het ek al dikwels berig; onlangs nog oor die besonderse manier waarop Wilma Stockenström se digkuns aan die internasionale poësieliefhebber bekend gestel is. Nou blyk dit egter volgens ‘n skrywe wat van Liesl Jobson, redakteur van die Suid-Afrikaanse domein, ontvang is, dat PIW tans met ernstige finansiële probleme te make het aangesien Hivos-NCDO, een van hul vernaamste borge, hul bydrae vanjaar met 60% gesnoei het. Dit beteken ‘n verlies van 67,000 euro.
Volgens PIW se skrywe wat aan bepaalde domein-redakteurs uitgestuur is, beoog hulle om dié verlies te verhaal deur twee internasionale digters minder na die jaarlikse fees in Rotterdam te nooi, ‘n opvoedkundige projek te kanselleer en dan 15 minder bydraes vanuit ses lande te finansier. Die lande ter sprake is: Zimbabwe, Suid-Afrika, Colombië, Indië, Indonesië en Iran. Die implikasie hiervan is dat daar slegs een verdere bydrae oor die Suid-Afrikaanse digkuns vir hierdie jaar in die vooruitsig gestel kan word.
Waarom juis dié ses lande geïdentifiseer is vir afskaling, word egter nie gesê nie. Trouens, dit maak hoegenaamd nie sin nie; veral vanweë die feit dat Colombië en Indië nie net oor ‘n magdom digters beskik nie, maar ook omrede hulle dinamies bydrae tot Poetry International Web. ‘n Mens kan wel vermoed dat die aantal internet-besoeke aan dié ses domeine waarskynlik ernstig afsteek teenoor dié van ander lande en daarom dat daar by hulle besnoei word.
Nietemin, addisionele befondsing vir voortgesette plasings is dus ‘n gegewe. Op Book SA formuleer Liesl Jobson haar pleidooi soos volg: “The challenge to fund ongoing publications of South African poetry is not, ultimately, the responsibility of the Dutch government. There is, to repeat Njabulo Ndebele, a need for increased innovation and sophistication as we seek alternative solutions to keep South African poetry thriving on home soil and represented internationally. Depending on the success of the quest for financial support, this may be the last issue for a while. Is it too much to hope that before another R100 million is spent on a National Youth Development Agency World Festival of Youth, some funding could be channelled into keeping the country’s poetry in good health?”
Inderdaad. ‘n Mens kan maar net hoop dat ons binnekort kan berig dat ‘n oplossing vir hierdie finansiële belemmering gevind is en dat Liesl kan voortgaan met die besonderse werk wat sy as promoveerder van die Suid-Afrikaanse digkuns op die internasionale verhoog vermag.
***
Nuwe bydraes om vanoggend op te fokus, is Frances Lubbe se interessante stuk oor die straatkuns in London; dit terwyl die lente in aantog is in die ander halfrond. En dan vertel Pieter Odendaal op sy blog meer van ‘n nuwe webblad genaamd Stellenbosch Literary Project, of te wel SLiP, wat eersdaags gaan begin funksioneer.
Ten slotte herinner ek ook alle gepubliseerde skrywers aan die vergadering môremiddag by Protea Boekwinkel in Stellenbosch. Die vergadering begin om 16:30 en dit gaan handel oor die moontlike stigting van ‘n skrywersorganisasie.
Geniet die naweek wat op hande is. Ons hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE