Desmond Painter. Lig en donker in Japan

‘What incredible pains the fancier of traditional architecture must take when he sets out to build a house in pure Japanese style, striving somehow to make electric wires, gas pipes and water lines harmonize with the austerity of Japanese rooms…’ Dit is nogal ironies dat my kopie van In Praise of Shadows, Junichiro Tanizaki se (in 1933 alreeds nostalgiese) liefdesverklaring aan Japannese interieure, en spesifiek aan die estetika van die halflig, van die kers en die lamp, nou juis hierdie week afgelewer moes word. Hoeveel huise is nie hierdie week in Japan verwoes nie? Hoeveel mense is nie sonder hulle ‘dwelling’ (‘n mooi Engelse woord) gelaat nie? Hoe kan tradisionele lig in elk geval kers vashou teen neon en atomiese energie… Tanizaki besing ‘n ruimtelike estetika wat toe al besig was om te verdwyn. Hy artikuleer ‘n soort kuns van tuiskoms in die aansig van modernisering se verblindende lig. Hy bewapen homself met ‘n semiotiek van skaduwees. Hy verlaat homself op die sensualiteit van ‘n durende skemer.    

 

Junichiro Tanizaki

Junichiro Tanizaki

Tanizaki was een van Japan se groot twintigste-eeuse romansiers. Hy is in 1886 in Tokio gebore waar hy letterkunde studeer het. Die spanning tussen tradisie en moderniteit was ‘n belangrike tema in sy werk. Van sy bekendste romans is Nyomi (1924), Some Prefer Nettles (1928), Arrowroot (1930), The Secret History of the Lord of Mushashi (1935), The Key (1956) en Diary of a Mad Old Man (1962). Hy is dood in 1965.

Tanizaki het die neonligte in Tokio sien aangaan; hy het die atoombomme oor Hirosjima en Nagasaki sien ontplof. Verblindende lig; donker, onheilspellende skaduwees. Hy het aanvaar dat die modernisering van Japan onomkeerbaar, selfs noodsaaklik was. Maar hy het ook geveg vir ruimtes waarin die halflig nog kon gedy: die estetika van binnenshuise ontwerp, ja, maar ook die letterkunde: ‘I have written all this because I have thought that there might still be somewhere, possibly in literature or the arts, where something could be saved. I would call back at least for literature this world of shadows we are losing. In the mansion called literature I would have the eaves deep and the walls dark, I would push back into the shadows the things that come forward too clearly, I would strip away the useless decoration. I do not ask that this be done everywhere, but perhaps we may be allowed at least one mansion where we can turn off the electric lights and see what it is like without them.’

En vanaand is dit donker oor groot dele van Japan.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •