Heinrich Heine – vertaling in Afrikaans
Heinrich Heine – vertaal deur Peter Louw
Geluk is ‘n verveelde sekskat
Geluk is ‘n verveelde sekskat
en haar besoeke hou sy kort;
sy stryk die hare van jou voorkop,
soen jou haastig en is vort;
terwyl jy gesette mevrou Teenspoed
se swaar omhelsing tevergeefs vermy;
sy sê sy’s glad nie haastig nie,
sit rustig by jou bed en brei.
(Das Glück ist eine leichte Dirne. Heinrich Heine)
‘n Denneboom staan eensaam
Op ‘n noordelike hoogte
staan ‘n bevrore denneboom
onder sneeu en ys begrawe
in ‘n winterslaap en droom
van ‘n verlate palmboom
ver in ‘n suidelike land
wat swyend en onrustig hunker
in die gloeiend droë sand.
(Ein Fichtenbaum steht einsam. Heinrich Heine)
Soene
In my jeug het ek geglo die soene
wat ‘n meisie gee en steel
is deur ‘n oermag voorbestem
wat alwetend alles reël.
‘n Ontmoeting was ‘n visioen,
elke soen ‘n noodlotsdaad;
die meisies priesteresse en
afsydigheid verraad.
Maar soene – het ek duur geleer –
val buite daardie meesterplan;
traak-nie-agtig gryp ek nou
soveel as wat ek kan.
(Ehmals glaubt’ ich, alle Küsse. Heine)
In galerye
In galerye sien mens soms ou skilderye
van ‘n ridder van die tafelronde
met slagswaard, harnas, lans en skild,
aan sy dure eed van plig gebonde.
Maar rondom fladder kupido’s,
hulle terg hom, steel sy lans en swaard,
bind hom vas met blommekettings
en kam die hare van sy ruie baard.
Net so het geil verrukkings
my goeie voornemens verlei
sodat ánder mense noodgedwonge
die gevegte van ons tyd moet stry.
(In Gemäldegalerieen. Heine)
Los nou die vroom gelykenisse
Los nou die vroom gelykenisse,
ons hét die Bybel al gelees.
‘n Paar antwoorde, asseblief!
Of sou dit oneerbiedig wees?
Hoekom moet die regverdige
altyd op die kruisweg ly
terwyl die grynsende oorwinnaar
hoog in die triomftog ry?
Wie se skuld is dit? Tog seker nie
die hemel nie – maar hoekom word dit toegelaat?
Of moet ons die erger moontlikheid oorweeg
van ‘n doelbewuste Goddelike daad?
Dis die soort vrae wat ons vra,
en die onsekerheid duur voort
tot die dood ons monde snoer – maar
wat is dit nou vir ‘n antwoord?
(Laß die heil’gen Parabolen. Heine)
Hoe stadig kruip dit
Hoe stadig kruip die tyd,
walglike waterslak… maar ek,
totaal bewegingloos,
bly op presies dieselfde plek.
In hierdie sel skyn son nóg hoop
om die somberheid te belet.
Nou weet ek dat net die graf
my uit hierdie skimbestaan sal red.
Miskien is ek al dae dood
en is hierdie gekleurde fantasieë
vir wie my koorsige brein snags gasheer speel
net spoke wat om my dans soos wolke vlieë.
Of wellustige geeste van die Pantheon,
saters wat van nimfe gunsies bedel;
is daar vir hulle ‘n geskikter toevlugsoord
as die eggo-grotte van ‘n digterskedel?
Hul mal orgieë langs die vuur,
spookagtige feeste van die lyf,
probeer die digter-lyk se benerige hand
soms in die koue oggend neer te skryf.
(Wie langsam kriechet sie dahin.Heine)
(Geskryf in die laaste jare, toe hy weens ‘n
rugsiekte permanent bedlêend was. – PL)
Puik Peter!