Bekendstellingstoespraak (Boekbekendstelling: 13 Maart 2011)
– Marthinus Beukes
Teen die duur van nánagstilte en donkerte in
Paradoksale bestaansaspekte of polariteite genereer spanning wat dikwels prikkels vir die digtersambag is om tot balans te probeer dig. Donker en dood plaas die soeke deur kunstenaars na lig en lewe op die voorgrond. In Vos se oeuvre is die drif na balansherstel ‘n deurlopende gegewe. Sy vyf bundeltitels is ‘n sintese van die uitreik na samehorigheid van dispariteite of die verwondering in die nuanses van donker na lig en dood na lewe (én uiteraard is die omgekeerde ook waar).
Duskant die donker – Before it darkens is ‘n titel wat my as leser oorrompel het. Die vooropplasing van tyd in die titel is ‘n belangrike betekenisdraer vir hierdie keurversameling. Dit is immers nog nie donker nie – alhoewel die tyd se voorttik daarheen beweeg. Met die vyf afdelings van die bundel is die belangrikheid van wording, lewe, progressie of bestaansbevestiging met die “Skeppings”-gedig (p.12) die rigtingwyser vir die leser se wandeling deur die kosmos van die woordheelal.
Die vraagstellende ingesteldheid van die openingsgedig (soortgelyk aan Job se worsteltaal) om God se skeppingskrag te verwoord, word met die laaste vers “as suster dood kom” (p.126) bekragtig. Al is die dominante atmosfeer die aanwesigheid van dood of donkerte, is die behoudenis met die afdruk van “haar hande” (p.50) die metafoor van die skepper se drang om te bestendig. Soos wat dit in hierdie gedig verwoord word, is die simbiose tussen manlik en vroulik, verlies en bestendiging belangrik, maar ook die kompleksiteit van lig en donker se velerlei nuanses:
Die man soek na sy vrou
met sy hart se noodlyn langs
tot waar die eensame nagte
soos ooglede oor haar oë gly.
Op die vlaktes
van sy verbeelding vind hy
die afdruk van haar hande.
Maar die titel van hierdie versameling verse beklemtoon nie alleen die belangrikheid van tyd as merker van transformasie nie. Ruimtelike veelkantigheid is eweneens belangrik. Die plek wáár die spreker en aangesprokene, die Skepper en skepsel, die geliefdes, maar in besonder die digter en die gedig sigself bevind, is van waarde. Die gedig wat die titel van die samestelling verse dra (p.40), is ‘n beklemtoning van die elemente wat vir Vos belangrik is, naamlik die intieme ruimte van die geliefdes, die minnaar en beminde se saamwees rondom die tafel van gemeensaamheid.
Voor ‘n vlaag wind
die nag laat kreun
en die bome se koppe hang,
moet ek huis toe gaan
voor ek die spoor verloor.
Vanaand sal ek vir ons tafel dek,
vye en melk en skille aftrek,
rooiwyn uit die kelder se koelte
skink tot jou beker vol vreugde skyn
en my hart ligvoets dans
op die maan se aandrefrein.
Die gedig of digterskap is die amulet teen die naderende donderkte of dood se verskrikking. Soos wat die gedigte uit Vos se vorige bundel, Intieme afwesige, “Aan flarde” (p.54) en “Vere in die wind” (p.56), verlies gemeen het, is die skrywershand hier die herskepper van gebrokenheid. Deur te skryf, poog die digter om vervlietendheid te verdryf met pen en ink. Die vers sal langsamerhand bly voortduur. In dié verband kan die gedig “Nanag” genoem word as illustrasie van behoud:
In hierdie nanag
as slaap my verlaat
soek ek na woorde
slaan my hand
aan ‘n pen
vryf oor wit papier
stilte oor die leegte.
Die punt van my pen
soek en vind ‘n woord,
‘n vers se eerste lig.
Die woord en wederwoord van verlies en vind, dag wat sal breek ná die nag se donderduurte, en die intieme liefde tussen bemindes, besit nie ‘n doods- of sterwensfinaliteit nie. Soos die slotgedig treffend saamvat, is die dood, dus die donkerte wat sal kom, nie ‘n vyand wat gaan vervreem nie, want dit is “suster dood” wat sal kom. In ‘n byna paradyslike aanhoor en voel van die geritsel van die skepper-God se aanwesigheid wat ‘n mistieke kwaliteit verklap, is die berusting dominant en nie weerstandige opstandigheid nie:
ek (sal) god in die aandwind hoor ritsel
en die afdruk van sy liefde sien
sal ek my nog verbly oor die meisie
se jong borste wat trots soos pruime swel;
sal ek jou steeds kan liefhê, liefhê
sal ek jou met my soene die nag in kan lei
en sal jy, myl lief, nog my dieper dors kan les
as suster dood kom
Die opmerklike aanwesigheid van liefdesbeelde in hierdie vers beklemtoon dat die digter en sy geliefde God op mistieke wyse be-leef ten spyte van die sterwensdonkerte. Só sal hulle ‘n hoopvolle nanagvrede binnegaan. Hierdie is nie ‘n vertoef duskant die donkerte wat hopeloos is nie, maar dit dra die kiem van nuwe lewe wat eers tot wasdom sal kom, ná die voltooiing van die lewe- en doodsiklus, in harmonie met skepping en skepper, voltooi is.
Cas, dankie vir hierdie handevol aangrypende verse! Hulle sal tesame met die dinamiese en vitale vertalings deur Leon de Kock, veerkragtig bly en die donkerduurtes deurlééf op die ligte danstrant van die die pen se skeppingsdrif. Met hierdie versameling én vertaling, maar ook met Johann de Lange se insiggewende inleidingsopstel, van Vos se gedigte, is ‘n dinamiese lewensduur verseker. Duskant die donker / Before it Darkens is bevestiging dat digkuns teen die duur van nánagstilte en donkerte vir die lesers van Vos se verse groot vreugde sal bly verskaf.
Marthinus Beukes vat dié uitstekende bundel baie goed saam.