Desmond Painter. Dylan, De Vries, en die Hertzogprys

Abraham H. de Vries

Abraham H. de Vries

As ‘n mens politieke oorwegings rondom die geskiedenis van Afrikaans en apartheid vir ‘n oomblik tersy lê, is die Akademie se grootste versuim wat betref die toekenning van die Hertzogprys aan ‘n Afrikaanse skrywer dalk nie Adam Small nie, maar Abraham H. de Vries. Anders as Small publiseer De Vries nog aktief; die verskoning van ‘die reglemente maak ‘n toekenning onmoontlik’ is dus nie op hom van toepassing nie.

‘n Hele aantal van De Vries se bundels (beslis Die Uur van die Idiote en Nag van die Clown) was as individuele werke sterk genoeg om die Hertzog te verdien; en as ‘n mens na sy oeuvre as geheel kyk (na die kwaliteit daarvan maar ook na die belangrikheid van sy werk in die vestiging van die kortverhaal as ‘n toonaangewende genre in die Afrikaanse letterkunde) is dit werklik absurd dat De Vries nog nooit die ontvanger van daardie prys was nie. Wat moet die man nog doen om te kwalifiseer? ‘n Roman skryf?! 

‘n Keur uit De Vries se “ernstiger” verhale, Die Behoue Huis, het onlangs by H&R verskyn. Ek het vir Die Burger ‘n resensie daaroor geskryf; dit het gister verskyn. In die resensie vergelyk ek De Vries (slegs deels tong in die kies) met Bob Dylan. By beide Dylan en De Vries kry jy daardie “modernistiese” impuls tot eksperimentering, grensverskuiwing en self-vernuwing; maar beide bly “folk” kunstenaars: gewortel in ouer retoriese tradisies en ten diepste verbonde aan die landskappe, karakters en mitologieë van spesifieke plekke.

Ek het nie geweet hulle gaan die Dylan-vergelyking as kop gebruik nie, en ek het vergeet om die koerant te koop voor ek Maandag vroegoggend ‘n vliegtuig na Johannesburg moes haal. Ek was dus erg verras en sommer heel ingenome toe die man in die ry voor my sy koerant by die boekeblad oopslaan, en daar staan dit in dik, swart letters: “Die Bob Dylan van die Afrikaanse lettere”!

Terloops, ek sien Crito skryf op sy blog (ja, ek is egosentries genoeg om te gaan kyk wat Crito oor my skryf…): “Desmond Painter … ken nie sy Dylan nie”. Het jy nou al in jou lewe iets so belaglik soos dit gelees?! Gmf!

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Desmond Painter. Dylan, De Vries, en die Hertzogprys”

  1. Brolloks :

    Hoe kan ‘n mens ‘n ernstige skrywer met ‘n blote entertainer soos Bob Dylan vergelyk? Appels en pere! Wat is die letterkundige meriete van so ‘n “resensie”? Die vergelyking maak De Vries belaglik. Iemand van sy statuur verdien beter. Kon iemand soos Joan Hambidge, wat Lacan en die postmodernisme ken, nie eerder hierdie boek geresenseer het nie? Praat van populisme en verdomming…

  2. Joan Hambidge :

    Brolloks, ek dink die resensie was nogal lekker omdat Desmond Painter probeer het om die verskillende diskoerse in De Vries se werk uit te wys. Die feit dat die resensie mense aan die praat het (gaan kyk maar net na Crito op Litnet se blog) wys dat die resensie slaag. En dis wat ‘n goeie resensie moet doen. Dit moet jou laat nadink! Jy wil die boek dadelik lees. De Vries is sowel kontreiskrywer as ernstige beoefenaar van die kortkuns.

  3. Desmond Painter :

    Brolloks, kom nou, dit is tog duidelik dat ek baie van De Vries se werk hou! Die vergelyking met Dylan is nie ‘n sistematiese een nie; dit is nie ‘n akademiese geskrif nie.

    Ek het bloot ‘n (dalk oppervlakkige)ooreenkoms aangedui, sodat ek iets oor De Vries se werk kon skryf wat ek dink relevant en interessant is. En natuurlik, dit is ook ‘n bietjie van ‘n truuk, ‘n “hook” om lesers mee te lok en hulle aan te moedig om hierdie wonderlike verhale te gaan lees.

    Dis is ‘n keur uit De Vries se werk; die verhale is vantevore almal al geresenseer as deel van die bundels waarin hulle verskyn het. Ek het dus vry gevoel om meer oorsigtelik te skryf; en om ‘n bietjie opwinding te probeer genereer vir ‘n oeuvre wat baie hoog geag word, maar wat nog steeds dikwels oorgesien word wanneer die groot pryse uitgedeel word. So as my Dylan-vergelyking mense bietjie oor De Vries laat dink, goed so!

  4. Desmond Painter :

    PS. Wat is dit met die skuilname?! En Brolloks, jou skuilnaam moes eerder Bittergal gewees het…

  5. Daniel Hugo :

    Brolloks – Bob Dylan ‘n blote entertainer? Kom nou.

  6. Desmond :

    Johann, ek hoor jou — en dis die soort kritiek op ‘n resensie waarmee mens kan werk, anders as die soort ongefundeerde, arbitrere uitsprake waarmee die Critos en die Brollokse gewoonlik kom.

    Natuurlik, daar is meer verskille as ooreenkomste; ek wil in elk geval nie eintlik ‘n vergelykende ding gedoen het nie. Ek wou eerstens ‘n meer interessante manier gekry het om die resensie mee te begin; nie die gewone ‘De Vries debuteer in 1956 met die bundel Hoog teen die Heuningkrans… ens.’ nie. En tweedens wou ek net een aspek van Dylan se loopbaan as ‘n lens gebruik om iets oor De Vries te s^e: by beide lyk dit of hulle iewers in die 1960’s van “volks” na “modernisties” beweeg (swak formulering, maar OK), maar by beide kan mens die eksperimentele goed nie juis waardeer en verstaan sonder inagneming van die manier waarop hulle telkens ouer, meer tradisionele vorme ontgin en heraktiveer nie. Dis maar al.

    Ek verskil oor ‘n paar goed wat jy oor Dylan skryf; maar ek sal later daarop reageer. Dit kan dalk ‘n interessante gesprek oor verskillende soort “folk” (in die letterkunde en die musiek) word.

    Maar mense moet daai ou De Vries bundels weer gaan lees. Ek neem aan ons verskil nie daaroor nie?

  7. Desmond :

    Johann, hy is onvergelykbaar; ek stem saam. Ek het besluit om te skryf wat ek geskryf het juis omdat dit ‘n verrassende, onverwagse vergelyking is om te tref, een wat mens laat glimlag, frons, of nog ‘n keer laat dink oor De Vries. Dit was dalk ;n manier om te s^e: “De Vries is ‘n baie ernstige, baie cool skrywer; herlees hom!!”

  8. Desmond Painter :

    Ek sien Kerneels Breytenbach, op sy musiekblog by LitNet, vind ook nie my Dylan-De Vries vergelyking oortuigend nie. Die doel van so ‘n vergelyking is onder andere om iets na ander, ongewone kontekste te verplaas; om dinge sigbaar te maak in ruimtes waar ‘n mens gewoonlik nie sal verwag om hulle te sien nie; om mense te dwing om anders, of ‘n tweede keer te kyk. The parallex view…

    My vergelyking het in hierdie geval tot gevolg gehad dat ‘n Afrikaanse kortverhaalbundel ‘n bietjie publisiteit in ‘n heel onverwagse konteks kry, in ‘n blog oor rockmusiek. Hierdie herkontekstualisering van ‘n Afrikaanse literere produk alleen regverdig myns insiens al die resensie!! (As ek nou vir ‘n oomblik selfregverdigend kan wees…)

    Sien Kerneels Breytenbach se bloginskrywing hier:

    http://blogs.litnet.co.za/ctb/robert-zimmerman-die-vsa-se-eie-bob-dylan

  9. Breyten Breytenbach :

    Ek dink die saamdink van Braam en Dylan is uitstekend! Die ooreenkomste is tog sekerlik dat albai besonderse woordkunstenaars is met ‘n fyn oor vir die ‘verhaal’, die fantastiese, die ‘gewone mens’. Ek twyfel egter of Braam veel van ‘n sangstem het. (Dylan natuurlik eintlik ook nie.) Maar sy bry is enige dag net so goed soos die Amerikaner se nasale twang.

  10. Desmond Painter :

    Breyten, ek het as student tuisgegaan by ‘n sangdosent. Ek het soms vir hom gevra: hoe het die lesse/uitvoering vandag gegaan? Dan antwoord hy: hulle het pragtige stemme, maar hulle kan glad nie SING nie! Ek dink altyd Dylan (en dalk Cohen) is die teenoorgestelde: hulle het dalk eienaardige, soms lelike sangstemme; maar hulle KAN sing! (Veral nou dat hulle ouer is, en daai stemme al op plekke deurgeskaaf en aan die uitrafel is…)

    Maar ek het al vantevore op die blog sendingwerk gedoen oor hierdie onderwerp:

    https://versindaba.co.za/2010/11/03/iets-oor-bob-dylan/

    Ek herinner my nou ook dat David Kramer al by geleentheid van De Vries se stories (en dalk van ‘n vers of wat?) gebruik gemaak het in sy liedjies. “Stanley en die Koei” van Hanepootpad is gebaseer op een van De Vries se stories, dink ek. En so ook “Kom, kom, kom” van Eina!, vermoed ek. Dit is natuurlik omdat Kramer al LANKAL besef het De Vries is eintlik onse eie Bob Dylan!!

  11. Breyten Breytenbach :

    En soos byna altyd is Kramer sy tyd vooruit! Dáár is nou ‘n profeet – kranig -wat nie in sy eie land na behore waardeer word nie.

    Jy en jou gasheer het absoluut gelyk om die onderskeid tussen ‘mooistemsin’ en diepsang te tref. Mens dink onwillekeurig aan Lorca se opstelle oor duende. By Flamenco luister kenners aandagtig na die rou en ‘lelike’ sang wat duende aandui.

  12. Desmond Painter :

    Breyten, ja, Kramer is nie net die beste sanger-liedjieskrywer in Afrikaans / Suid-Afrika nie, maar beslis een van die grootste eksponente van sy kunsvorm in die w^ereld.

    Ek het onlangs met Danie Marais hieroor gesels (na aanleiding van ‘n uitstekende onlangse stuk deur Danie oor Kramer in By — hoop jy het dit te lese gekry), en ons het saamgestem: as Afrikaans ‘n w^ereldtaal was, sou Kramer ongetwyfeld in dieselfde asem as mense soos Dylan, Cohen, Paul Simon en ander genoem gewees het.

    Om die waarheid te s^e, op sy beste (luister maar weer na Botteltjie Blou, om maar een te noem), sukkel die name wat ek genoem het maar om kers vas te hou by Kramer. Perfekte komposisies; perfekte, amper bomenslike uitvoerings. Voeg daarby sy ander talente, die musicals en goed, en dit is duidelik: een van groot kunstenaars van ons tyd, in enige taal, in enige land. Besef Suid-Afrikaners dat hy soveel meer is bloot ‘n joviale kitaarslaner?!

    In ‘n sekere sin is dit dalk maar wat ek met die De Vries-resensie wou aandui (ek dink mense fokus darem te veel op die ‘letterlikheid’ en ‘korrektheid’ van my vergelyking!): ‘n mens kan, sonder blik of bloos, hierdie Afrikaanse woordkunstenaars se werke bespreek in die konteks van ikoniese name soos die van Dylan. Waarom op aarde dan nie? Die Afrikaanse letterkunde is nie te onbelangrik, of, ja, te belangrik, om vrye verbande met woordkuns in alle ander kontekste te trek nie.

    Of gaan mense nou wragtie wil ontken dat Marelise die Joni Mitchell van die Afrikaanse lettere is?! 🙂

  •