Andries Bezuidenhout. Die Boekehuis se einde?

Ek het net nie die energie om ‘n blog hieroor te skryf nie. Gaan lees maar hier.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die Boekehuis se einde?”

  1. Louis :

    Andries, dit wil my voorkom dat dié berig einde-Maart verskyn het … Is dit nie dalk die oorspoel-effek van ‘n Aprilgrap nie?
    Nogtans uiters ontstellend (en tragies) indien dit wel die geval is …
    Louis

  2. Jo Prins :

    Dis geen April-grap nie. Glo my.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Hierdie stuk is geskryf n.a.v. gesprekke en gebeure op Boekehuis se stoep. Die name en gebeure is egter effe verander. Ek wens alles was fiksie. Dis lank gelede in Rapport gepubliseer as rubriek.

    DIE INVAL VAN DIE BARBARE
    Andries Bezuidenhout
    “Die barbare val nooit van buite af aan nie,” sê Amanda. Ons sit op ’n boekwinkel se stoep, drink koffie. Die winkel se tuin is ’n oase in die middel van die stad.
    “Hoe dan so?” wil Werner weet.
    “Beskawings het nog altyd van binne af gevrot. Die barbare buite die hekke is nie belangrik nie. Vervlakking gebeur as mense op hul louere rus, nie meer kans sien vir uitdagings nie,” verduidelik Amanda.
    Werner lag spottend onder sy borselkop. “Amanda, jy’s ’n opperste snob,” sê hy.
    Ek kan sien iets pla Amanda. Iemand kom by die hek in. Dis ’n vrou met ’n dramatiese donkerbril, ’n swart rok en pêrels om die nek. Ek dink nie ek het haar al voorheen ontmoet nie.
    “Haai, dis Pamela,” sê Marina, die boekwinkel se bestuurder. “Pamela, hallo! Hoe gaan dit met daardie kunsprojek waarmee jy besig was?”
    Pamela stap nader en haal haar sonbril af. Sy lyk nou ouer as wat ek eers gedink het. Daar is lyne om haar mond en oë.
    “Eintlik kom groet ek,” sê sy, “môre vlieg ek Sydney toe.”
    “Permanent?” wil Marina weet.
    “Ja,” skerts Pamela, “eintlik is ek verlief op J.M. Coetzee, maar my man weet dit nie. Ongelukkig woon hy in Adelaide, nie Sydney nie.” Sy gee ’n ironiese laggie. Daar’s ’n ongemaklike stilte.
    Ek kan sien wat Marina dink. Nóg een van haar beste kliënte wat die land verlaat. Een minder leser. Een minder mens wat nog geld aan boeke bestee.
    “Ek hou nogal van Sydney,” sê ek in ’n poging om die spanning te breek, “dele daarvan is soos Londen, net met goeie weer. En daar’s ’n wonderlike boekwinkel – Glebe’s Books. Dis in daardie woonbuurt naby Darling Harbour.”
    Marina neem ’n slukkie koffie. Ek sien hoe haar hand bewe.
    Lomp probeer ek my faux pas regmaak: “Dis ’n goeie boekwinkel, maar dit het nie so ’n wonderlike tuin soos hierdie een nie …”
    “Dis gaaf van jou,” sê Pamela, “tot nou toe is almal net kwaad vir my …” Sy haal haar notaboek uit en maak of sy die naam van die boekwinkel neerskryf.
    “Marina, ek is op soek na daardie Gotiese strokiesprent vir my dogtertjie, jy weet, die een …” Pamela en Marina stap by die winkel in en soek tussen die boekrakke rond.
    Amanda gee Werner ’n veelseggende kyk. Sy is ’n lid van die kunsredaksie van ’n dagblad. Daar heers onsekerheid by die koerant. Groot getalle joernaliste word op die oomblik oortollig verklaar.
    “Weet jy wat sê my redakteur nou die dag vir my?” Sy praat met Werner. Dit lyk nie juis asof hy belang stel nie, maar sy druk deur: “Hy sê ek is ’n perfeksionis en ’n puris!”
    “En?” wil Werner weet terwyl hy sy skouers ophaal.
    Amanda se stem word skril: “Hy’t dit as ’n belediging bedoel!”
    Nou trek Werner sy skouers agtertoe, amper asof hy wil opstyg. “Amanda,” sê hy, “ek weet jy’s ontsteld omdat jou maatskappy soveel joernaliste laat loop. Dis jammer dat die kunsredaksies eerste gaan. Maar face dit, gewone mense stel nie belang in filosofie en digbundels nie. Hulle wil vermaak word ná ’n goor dag by die werk.”
    Amanda probeer iets sê, maar Werner is nou skoon driftig: “As iets nie geld maak nie, het dit geen bestaansreg nie. As julle snobs oor boeke wil lees, gaan na die internet. Of as dit jou ogies seermaak om op ’n skerm te lees, bestel self die London Review of Books …”
    Ek sien Amanda word nou bloedrooi in haar gesig. “Hokaai Werner,” swets sy, “wat gaan jý doen as hierdie boekwinkel toemaak omdat al die lesers die land verlaat het? En die Review gaan nie oor Karel Schoeman of Ingrid Winterbach skryf nie! Wat van ’n kulturele lewe in Afrikaans?”
    Iemand kug hardop. Dis ’n man in ’n blou oorpak. “It’s the book delivery from Cape Town,” sê hy, “where do I put it?” Almal maak reg om te beduie, maar skielik lui ’n selfoon in sy agtersak: “Umshini wami mshini wami, khawuleth’umshini wami …” Hy glimlag. “Excuse me,” sê hy en antwoord sy foon.

  4. Desmond Painter :

    Het jy die fliek Barbarian Invasions gesien? Selle ou wat Jesus of Montreal gemaak het. Ek vergeet sy naam nou, maar dis twee van my gunsteling flieke.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek het hulle gesien. Ook “Decline of the American Empire”, wat “Barbarian Invasions” se voorganger is. Van my gunstelinge ook.

  •