Andries Bezuidenhout. Lewenslank in die bitter Transvaal

Ek het myself belowe dat ek nooit weer ʼn gedig oor Pretoria of Johannesburg gaan skryf nie. Die grootste deel van my bundel Retoer gaan immers oor die twee stede – Sodom en Gomorra, soos Valiant Swart hulle gedoop het. My hele lewe lank probeer ek al om hier weg te kom. Aanvanklik was ek ʼn Transvaler – toe ek gebore is. Nou bestaan die Transvaal net in stories, gedigte en lirieke. Dink maar aan die einste Valiant:

die brandewyn raas soos ʼn rodeo
met ʼn engel in die saal
sy vra jou naam en trou met jou
hou ʼn groot onthaal
jare daarna is jy eensaam
en grys, met ʼn glas
dis dop-en-dam en deesdae
is die linkerbaan jou baas

jy’s lewenslank in die bitter Transvaal
hier’s ʼn deurnagdiens vir ʼn man soos jy
wonder jy wanneer kom die Oubaas jou haal
is jou huur betaal kan jy vir altyd hier bly
in die Transvaal

Toe verander hulle die provinsie se grense, sny dit in vier stukke op. Op die nuwe grense baklei mense en brand geboue af oor waar hulle wil wees. Bosbokrand. Merafong. Hulle trek die strop nouer met die afgryslike naam Gauteng. My naam is Andries, ek woon in Gauteng. Andries @ GP. Gangster’s Paradise.

Ek staan vanoggend op, maak koffie. Gisteraand oesters en garnale by ʼn plek genaamd “LM in the East” geëet. LM bestaan dus nog, maar nie in Mosambiek nie. Vandag is ek en Irma sewentien jaar getroud. Destyds het Valiant en sy band by ons onthaal gespeel.

Ek skryf nie meer gedigte oor Pretoria nie. Ek betaal my huur op die internet. Ek is nie eensaam nie. Soms is ek selfs dankbaar, al woon ek in Pretoria. Ek neem foto’s van die balkon af.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •