Desmond Painter. Twee koerantlesers: Thailand

Ek en Claire was in Maart, net na die Woordfees en die groot debat rondom die nasionale boekeredakteur, in Thailand: ons het luilekker vakansie gehou in Phuket, totaal oorweldig rondgeloop in Bangkok. Ek mis vanoggend die besige, deurmekaar strate; ek mis die hitte, die swoel gewoel, die vreemde reuke, die vullis; ek mis die skynbaar eindelose inisiatief, die aanhoudende beweeg en geraasmaak van die mense. Ons strate, veral in die voorstede, is in vergelyking so leeg, so skoon, so dood…

Terwyl ek vanoggend vol heimwee gesit en kliek het deur ons foto’s, kon ek nie help om te glimlag toe ek op hierdie twee afkom nie — albei van vroue wat vroegoggend, voor dinge by hulle winkeltjies begin bedrywig raak, rustig sit en koerant lees. Wie is dit nou weer wat op hierdie webwerf geskryf het dis sommer outyds om bekommerd te wees oor ‘n uitgediende ding soos ‘n gedrukte koerant?

Miljoene mense leef soos hierdie twee vroue, en vir hulle is die goedkoopste, gemaklikste bron van inligting nog steeds ‘n stuk papier wat jy op die grond kan oopsprei, en wat jy later kan gebruik om ruite mee skoon te vee of kos in toe te draai. 

Bangkok

Koerantleser: Bangkok

Bangkok (2)

Koerantleser: Bangkok (2)

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •