
Jan Rabie het na Kreta, waar hy 30 maande gewoon het, verwys as die “klipwieg” van Europa en die Westerse beskawing. Die Minoïese nalatenskap, oral te sien op die eiland, skep inderdaad die indruk van ‘n byna ondeurgrondbare historiese en kulturele kontinuïteit. Maar Kreta was nog altyd eintlik meer kruispad as vestiging – ‘n gebied van hibriede identiteite nog voor die begrip “hibriditeit” in die postkoloniale teorie modieus geword het; ‘n plek van invallers en vlugtelinge; ‘n sone van besettings, vestigings en hervestigings.
‘n Mens sal verskoon word as jy dink Kreta se enigste besoekers is die massas toeriste wat jaarliks op haar strande toesak. Die nasionalistiese preokkupasie met die ideologie van een kultuur, een taal en een godsdiens is hier meestal net so vanselfsprekend as elders in Europa, en alledaagse, toeristiese sowel as amptelike voorstellings van Kreta is dat dit eksklusief Grieks was, is, en altyd so sal wees. Tog is daar benewens die jaarlikse kom en gaan van toeriste ‘n ewe aktiewe verkeer van ongedokumenteerde migrante (in die openbare diskoers, ‘onwettige’ migrante), asook politieke vlugtelinge en asielsoekers.
Somige van hierdie hoopvolle ongedokumenteerdes steek die verraderlike Middellandse See oor in bote van Noord-Afrika, op pad na verskillende bestemmings op die Europese vasteland (daar is al na die Middellandse See verwys as die grootste Europese massagraf sedert die Tweede Wêreldoorlog…); ander, en die meeste van diegene vir wie Kreta die bestemming is, kom van plekke soos Albanië, Bulgarye en Sirië – en ander lande op die suid-oostelike periferie van die Europese Unie (EU).
Sommiges kom met die idee om te bly; ander steek die grens, of meervoudige grense, meermale oor in komplekse, dikwels seisoenale patrone van transnasionale beweging. Die belangrikste rede vir hulle ingewikkelde, dikwels gevaarlike passate – soms op hulle eie, soms georganiseer deur sindikate – is die beskikbaarheid van werk in die toerismebedryf, konstruksie of landbou. Duisende word aangekeer en gedeporteer (die grens word immers geïntensifiseer, eerder as ondermyn, in ‘n multinasionale Europa waar elke deelstaat verantwoordelikheid aanvaar vir elke ander deelstaat se grens), maar ‘n groot groep word nie-amptelik en sonder dokumente deurgelaat.
Eerder as totaal gefortifiseer, volg die grens ‘n differensiële logika wat ‘n fyn aanvoeling toon vir die arbeidsbehoeftes in die onmiddellike omgewing. Ongedokumenteerde migrante bevind hulle dus in ‘n soort skadu-ekonomie wat ‘n goedkoop ooraanbod van arbeid beskikbaar maak aan taverne-eienaars, boere en boukontrakteurs, sonder dat enige maatskaplike voorregte en sekuriteit of kulturele en politieke verteenwoordiging in ruil aangebied word.
Die amptelike nie-verteenwoordiging of onsigbaarmaking van ongedokumenteerde migrante beteken dat hulle dikwels uitgelewer is aan ander, meer venynige soort voorstellings – byvoorbeeld, die manier waarop die media en politici hulle verbind aan die morele panieke oor georganiseerde misdaad en, deesdae veral, internasionale terrorisme. Hierdie kortsluiting in die politiek van verteenwoordiging kan natuurlik toegeskryf word aan die feit dat politieke verteenwoordiging steeds grootliks binne die parameters van die nasiestaat bedink word.
Selfs welwillende intervensies volg meerendeels ‘n nasionalistiese logika: migrante moet geïntegreer word in die heersende nasionale kultuur. Die probleem is egter dat hierdie soort reaksies nie tred hou met die manier waarop ongedokumenteerde migrasie, soos die gedereguleerde vloei van kapitaal, ‘n outonome, transnasionale proses geword het nie. Die nasionalistiese raamwerk, of dit nou eksklusief of inklusief is, faal dus as ‘n politieke verbeelding wat ongedokumenteerde migrante, en eintlik ons almal, van voortgesette verteenwoordiging en openbare deelname aan ‘n politieke gemeenskap (eerder as private deelname aan ‘n suiwer ekonomiese gemenebes) in ‘n globaliserende, post-nasionalistiese wêreld kan verseker.

Terwyl Europa aan die eenkant deur uitbreiding as geopolitieke streek vergroot, bevestig en gefortifiseer word, word dit aan die anderkant ook juis in die nuwe grensgebiede toenemend gedesentreer en vloeibaar gemaak. En dit is juis die Suid-Ooste, tradisioneel op die periferie van Europa, wat op hierdie manier die middelpunt geword het van transnasionale bewegings en, meer grondliggend, Europese selfdefinisies.
Wat ek hierbo oor Kreta gesê het, geld dus ook Griekeland, Slovenië, Suid-Italië, Turkye en ander, waar die rituele dramas van grensbeheer, nagtelike oorgange, deportasies, vlugtelingkampe, en die informele arbeidsmark plaasvind. Dit is hier, eerder as as in die ekonomiese en ideologiese hart van die EU, waar die betekenis van Europa, grense, burgerskap, en van politieke gemeenskap opnuut bedink kan word.
Presies hoe ‘n post-nasionale politieke gemeenskap sal lyk, en of begrippe soos “burgerskap”, “internasionale menseregte” of “gemeenskap” nog enige drakrag het, is nie altyd meer duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat migrasie toemenend aangespreek en verhef word tot ‘n strydpunt vir diegene in Europa wat soek na ‘n regverdiger globalisering en die definiëring van ‘n ander politiek. Dit is ook die toetssteen vir pogings om anders (lees: post-nasionaal) te begin dink oor dinge soos minderheidsregte, rassisme en anti-rassisme, burgerskap, politieke gemeenskap en die rol van die media.
Die vraag waarmee ons gelaat word, is dit: Hoe moet ons ons posisioneer in ‘n markfundamentalistiese wêreld waar plek toenemend opgehef, grense noodwendig oorskry en gerelativeer, en die rol van nasionale politiek vereng word tot die bied van polisiëring en militêre eerder as maatskaplike sekuriteit? ‘n Wêreld, met ander woorde, waar nie net wegdoenbare produkte nie, maar ook wegdoenbare gemeenskappe, plekke, omgewings en lewens geskep word.
Desmond, volgende keer as jy daar is as gas van die diktator, kritiseer hom in die publiek en laat ons weet oor die estetika.
Leon, net ten slotte: Judt is eintlik ‘n goeie naam om hier te noem. Hy lewer ewe skerp kritiek (in ‘n boek soos Ill fares the land) op aspekte van die hedendaagse politiek-ekonomiese bedeling as op Hobsbawm se soort kommunisme.
Waar ek van Wysneus verskil, is wanneer dit klink asof hy voorgee dat die ideologiese lyne vandag maklik getrek kan word tussen ‘n soort vanselfsprekende politiek-ekonomiese orde aan die een kant, een waaroor daar absolute konsensus onder die verligtes bestaan, en die naiwe, wereldvreemde idees van ‘linkses’ aan die ander kant.
Dinge is meer kompleks; en mens hoef maar net Judt en ander redelik gematigde kritici soos Zygmunt Bauman of Richard Sennett te lees om te sien wat ook skrikwekkend is aan die gevolge van ‘n soort ‘markfundamentalisme’, die privatisering van alles, en die aftakeling van sekuriteit, openbare ruimtes en dies meer.
Judt dring aan op die hernuwing, en heraktivering, van progressiewe ideale; die heraktivering van dit waarna mense soos Breyten Breytenbach dikwels ook na vewys as prosesse van ‘verbeelding’ en ‘herverbeelding’. Sommige pogings om die hede en die moontlike toekoms te herverbeel, meer volhoubaar, leefbaar, inklusief, mooi te prbeer maak, kan natuurlik skrikwekkend wees; nie alle idees is goeie idees nie.
Maar die punt is, dink ek, dat ons in ‘n tydvak leef waar dit noodsaaklik geword het om baie dinge fundamenteel te herdink. Nie net politieke en ekonomiese dinge nie, byges^e: die wetenskap dwing ons immers ook om ons onsself, ons mens-syn, te herdink. Nuwe praktyke, kenissisteme, woordeskatte maak ander moontlikhede; ander maniere om mense, groepe, gemeenskappe te wees.
En dis dalk juis hier waar die ‘estetiese’, die ‘etiese’ en die ‘politieke’ weer in gesprek (moet) tree? En waarom dit juis interessant is om in ‘n konteks soos hierdie wat aan die digkuns gewy word, oor hierdie soort goed te praat?
O ja, Wysneus, die kwessie van transnasionale beweging, migrasie en mure is darem meer kompleks as wat jy in jou laaste paragraaf wil toegee. Maar nou ja, ons tuisgemaakte ‘raft’ dobber al weer baie ver van die digkuns af…
Leon: jou punt dat ‘n mate van materiele welvaart, of ons klasseposisies as jy wil, ons op ‘n manier vrymaak om hier te sit en ginnegaap eerder as om in die son te swoeg: natuurlik. Dit is waar.
Wysneus, ek noem Ha-Yoon Chang se boek nie om sarkastiese of, er, wysneuserige redes nie; Chang maak op ‘n manier die soort punt wat jy hierbo maak, so ideologies is hy moontlik in jou’kamp’; en dit is juis wat sy kritiek op spesifiek aspekte van die hedendaagse, noem dit dan maar ‘neo-liberale’ kapitalisme, baie interessant maak. Die boek is tans orals in die boekwinkels, en dit lees lekker.
En regtig, ek verstaan net so min hoe mense Havana vir Miami kan verlaat, as wat ek verstaan hoe hulle Kaapstad vir Perth kan verlaat!! In beide gevalle is die plek van herkoms veel, veel beter!! 😉
My droom is om terug te keer Havana toe (ek was in 2005 daar vir ‘n paar weke) voor die eerste McDonalds op die seefront opgerig word. En dis ‘n estetiese eerder as ‘n politiek-ekonomiese begeerte!
Wat vir ‘n naam Hobsbawm, anyway? Lilliput, Blefuscu, Brobdingnag, Balnibarbi, Luggnagg, Glubbdubdrib… Hobsbawm.
Leon, jy praat my taal, maar wat my so verkeerde kant toe vryf van daai aanhaling is dat ‘n vrye samelewing (ek weier om die Marxistiese smeerwoord ‘kapitalisme’ te gebruik, aangesien ek geen kapitaal het nie) nie “the pursuit of personal happiness through the attainment of material assets” is nie, maar dat die ideaal is “the pursuit of personal happiness through whatever moral and legal means they choose, including the pursuit of material assets, should they so choose.” Die ironie is dat dit juis kommunisme en sosialisme is wat materialisties is, waar wie wat het so belangrik is dat dit die staat se taak is om die gelykop te verdeel.
In ‘n vrye ekonomie besluit elkeen wat vir hom waardevol is, en rig sy lewe dienoorkomstig in. Elke kunstenaar doen tog nie net wat kommersieel mees winsgewend is nie. Die wat dit wel doen boet dikwels die agting van ander kunstenaars in, wat dalk nie meetbaar is nie, maar van groot waarde is. Vrye samelewings betrek juis nie-materiële aspekte by individuele prys-besluite.
Desmond, ek het nie die 23 dinge geken nie, maar het vinnig daarna gekyk. Moet sê dat dit moeilik is om selfs ekonomie as ‘n harde wetenskap te beskou, inaggenome die divergerende interpretasies afhangende van die ideologie van die ekonoom. (Verskoon die spelling, eks effe dronk). Neem ook in ag dat daar geen suiwer vrye ekonomie is nie, meeste moderne westerse ekonomieë is hibriede stelsels. Daarom is die finale oordeel van ‘n gegewe stelsel dalk om voete te tel. Ek neem aan dat as mense in hul derduisende die Atlantiese oseaan trotseer om van Kuba na Miami te beweeg, is dit beter in Miami.
Die vrye samelewings bou mure om mense uit te hou (waarmee ek terloops nie noodwendig saamstem nie); die samelewings waar ‘n komitee van verligtes regverdigheid afdwing bou mure om mense in te hou. ‘Nuff said.
Desmond ja, Hobsbawm (ek het gedurig moeite om sy naam te spel!) was nie ‘n karikatuur nie, maar sy stelling in die onderhoud met Ignatieff was beslis nie ondeurdag nie. Ek vind sulke sienswyses skrikwekkend. Jy haal hom ook aan: “If the only ideal for men and women is the pursuit of personal happiness through the attainment of material assets, then humanity is a dimished species.” Die feit is bloot dat materiele welvaart aan baie mense die geleentheid besorg om hul horisonne te verbreed (om nou so ‘n geykte term te gebruik) instede van om daagliks te moet swoeg en sweet om ligaam en siel bymekaar te hou. Ek het ‘n suspisie dat elkeen van ons wat aan Versindaba deelneem dit JUIS kan doen weens ‘n mate van materiele welvaart – so nie sou ons van soggens vroeg tot saans laat moes werk soos die geval was nie te lank gelede nie.’n Strewe na welvaart is wel by baie mense die enigste oorweging, dalk die by meeste, en as dit so is, nou ja, dan is dit beslis nie die staat se plig om persoonlike geluk aan sy burgers te besorg nie. Die geleentheid vir life, liberty and the PURSUIT of happiness is wat die staat daar moet stel – en as baie mense dan nou wel op die ou end lives of quite desperation leef dan is dit hulle saak en nie ‘n nanny state se taak om iets daaraan te doen nie. Oftewel, die staat moet (breedweg gestel) ‘n gesonde ekonomie daarstel (met als wat daarmee saamgaan soos vryheid van spraak, beskerming teen uitbuiting ens) maar dit is dit.
Ek het ‘n groot bewondering vir Judt, wat ‘n jammerte dat hy amiotrofiese laterale sklerose gekry het, hy het nog baie prioduktiewe jare gehad.
Ek vind Ignatieff se politiek ietwat simplisties, maar nou ja, dis verkiesingstyd en dan word beloftes wild rondgegooi en hy is in daardie opsig niks anders as enige ander politikus nie. Van sy sg intellektuele agtergrond is daar vir my maar min te bespeur.
Leon, Ignatieff is nogal ‘n interessante figuur; ek het ‘n roman van hom hier iewers. Tony Judt, ‘n sort getemperde lefty in sy later jare (hy is onlangs oorlede), is ewe krities oor Hobsbawm se standpunt; hy bewonder Hobsbawm as historikus en mens, maar sien sy onwilligheid om in absolute terme met sy kommunistiese verlede te breek as ‘n morele tekortkoming. Die stuk wat Wysneus aanhaal is berug, en laat Hobsbawm redelik sleg lyk. In sy outobiografie, Interesting Times, en in die onderhoudbundel The New Century, word ‘n meer komplekse prentjie egter geskets; en verduidelik hy sy durende intellektuele en emosionele verbondenheid aan die kommunisme beter.
In The New Century skryf hy byvoorbeeld so oor sy kommunisme: “Do I regret it? No, I don’t think so. I know very well that the cause that I embraced has proved not to work. Perhaps I shouldn’t have chosen it. But, on the other hand, if people don’t have any ideal of a better world, then they have lost something. If the only ideal for men and women is the pursuit of personal happiness through the attainment of material assets, then humanity is a dimished species.”
Ek probeer nie voorgee Hobsbawm is foutloos, blaamloos en so aan nie; maar hy is beslis meer as net ‘n karrikatuuragtige ‘Stalinis’.
Wysneus, ek wil nie kommunisme verdedig nie; dit sou in elk geval nie eerlik wees nie, ek is immers glad nie ‘n kommunis nie. Ek het vannaand digbundels en Seattle koffie gekoop in Cavendish Square!
Van my opmerkings gister was tong-in-die-kies bedoel — soos die een oor die Kubaanse revolusie wat nog ‘n sukses gaan uitdraai! Tog, nie alle vorme van ‘linkse’ politiek is kommunisme nie; selfs wanneer mense weer gaan kyk na skrywers soos Marx et al om te dink oor die wereld, om woordeskatte te ontwikkel waarmee mens verandering en so aan kan bedink en verwoord. Ek stel belang in daai soort ding.
Ek het nogal aan jou gedink toe ek onlangs ‘n boek lees van Ha-Joon Chang, 23 Things they don’t tell you about capitalism. Wat dit interessant maak is dat Chang wel ‘n kapitalis is, en glo dit is steeds die enigste werkbare sisteem. Sy kritiek op die neoliberale manier van dink en doen kan dus nie so maklik afgemaak word as naiwe linkse gedroom nie. Ken jy dalk die boek? Jy sal dit dalk interessant vind.
Interessant genoeg was die onderhoudvoerder Michael Ignatieff, tans leier van die Kanadese Liberale Party (een van die drie in opposisie) en midde-in ‘n verkiesingstryd – die vierde verkiesing in 7 jaar en die derde een sedert ons 3 jaar gelede hier aangeland het.
Mense wat verskil oor die onwerkbaarheid en onmenslikheid van kommunisme droom oor ‘n slegter, harder, minder regverdige wêreld?
Was Stalin maar ‘n uitsondering. Ek hoef nie vir jou die parade kommunistiese massamoordenaars te herhaal nie. Jy ken hulle almal, saam met die verskonings hoekom dit daai keer nie gewerk het nie.
As jou kinders aanhou verdwyn moet jy oorweeg dat die bome waaronder hulle speel dalk op Antjie Somers se erf is.
‘In a recent interview, Hobsbawm stated that the horrors of the Gulag did not affect his belief as a Communist. An interviewer asked, “What that comes down to is saying that had the radiant tomorrow actually been created, the loss of fifteen, twenty million people might have been justified?” Hobsbawm’s answer was “Yes”–although he granted that the sacrifice of the murdered millions was “excessive.” ‘
Nee man, Wysneus, Hobsbawm romantiseer glad g’n vir Stalin nie; net soos Jose Saramago hom nie verromantiseer het nie. En Che was mos darem ‘n konsekwente kritikus van Stalin! Subkommandant Marcus? Ook geen rede om Stalin by ‘n gesprek oor hom ook te betrek nie. Dis vuilspel om elke keer ‘Stalin’ te s^e wanneer die kinders ‘n bietjie wil droom oor ‘n beter, sagter, meer regverdige w^ereld! Dis soos om alewig ‘Antjie Somers’ te gil wanneer die kinders laatmiddag onder die bome wil speel!
Neewat Andries, julle praat so lekker tjol, ek wou nie julle redeloosheid inval nie. Ek het buitendien nog sweepslag van die kopskud.
Ek wil julle ook nie verveel met preke oor die waarheid van Smith-Locke-Hayek-Friedman nie. Maar enigeen wat sy oë oophou sien vroeër of later dat sentrale beheer, ten beste, lomp duur en oneffektief is, maar gereeld brutaal moet wees. As een grootte almal moet pas, moet daar nimmereindigende procrustiese aanpassings wees. Selde aangenaam. Mag lok magsliefhebbers; totale mag monsters.
‘n Regering is steeds nodig om ooreenkomste af te dwing en lewe en eiendom te beskerm. ‘n Kragtige, beperkte regering wat slegs die raamwerk skep waarin die samelewing ongemolesteer kan floreer — daaroor kan ek droom. Politiese mag is ‘n nul-som speletjie; ekonomiese mag nie.
En nee, ek dink nie groot maatskappye sal so ‘n samelewing oorheers nie. Daar is niks wat groot maatskappye so vrees soos kompetisie van kleineres nie. Dié dat die groot korporasies so pêllie-pêllie met groot regerings is.
Sien, daar verveel ek jou.
Maar ek dink nie, Desmond, dat iemand Stalin se romantiseerders hoef te romantiseer nie. Dit laat besorgdheid oor die naamloses erg selektief lyk.
Leon, later bietjie meer (ek moet hardloop om die menigtes te gaan toespreek!), maar wat ook al die uitdagings rondom ‘integrasie’ is (en dis ook maar ‘n ideologies gelaaide term: beteken dit maatskaplike en politieke deelname? beteken dit die aanneem van ‘n slegs skynbaar ‘neutrale’ nasionale kultuur ten koste van die eie kulturele agtergrond? ens.), die openbare vernedering van die baie klein minderheid Moslemvroue wat in ‘n land soos Frankryk wel die Burka wil dra, kan net teenproduktief wees. Of so lyk dit in elk geval vir my.
Breyten, ek hoop daar’s sterk ondersteuning vir jou aksie teen Shell se roofbou (ek hou van die woord). Oor alles wat ek en Desmond opvurk moet Wysneus ons dalk nou in die bek ruk. Wysneus?
@Desmond, nav jou terloopse opmerking oor multikulturalisme, die vraag is na my mening wat daarmee bereik wil word. As dit beteken dat nuwe immigrante na ‘n land hul kulturele identiteit behou, goed en wel, maar dit wil my voorkom asof dit hier in Kanada nie juis ‘n klinkende sukses is nie, in die opsig dat veral die Moslem-immigrante (as ‘n bree veralgemening) nie assimileer nie en nie eers probeer nie. Op daardie manier gaan mens later groepe mense he wat heel apart lewe, geen kontak met mekaar het en niks van mekaar weet nie, baie soos swart en wit in SA. Immigrante uit die verre Ooste, bv die Filippyne assimileer veel beter, maar dit lol maar met die Moslems in daardie opsig.
Manne: julle skrywes maak soveel paadjies oop (amper soos Borges se “Garden of forking paths”) dat ek nou staan en huiwer voor hierdie vurk. Ek wens ons kon bymekaar kom om alles lê te maak. Dit sal sekerlik nie alles oplos nie maar ten minste sal ons ‘n aantal tema’s hê om op in te gaan:
Bourdieu se besonderse ydelheid – miskien toe te skryf aan die feit dat hy nooit as een van die ‘grotes’ in Frankryk gesien is nie (Sartre, Foucault, Barthes et al), uitgesluit gevoel het, uitermate bewus was van sy werkersklasagtergrond. Maar dat van sy konsepte nuutskeppend was is wors;
Die kwessie van sluier aldan nie in Europa / die kwessie van menseregte teenoor ‘multikulturele’ respek van ander se ‘tradisionele’ regte (gelykheid van vroue, bv.)? / die kwessie van die oppergesag van Republikeinse waardes (geen godsdiensbetuiging in die openbaar bv.) voortvloeiende uit die Franse Revolusie / dus eintlik die kwessie van Revolusie teenoor die Liberale;
Die saak van anargisme in al haar vertakkinge – van vakbonde tot outonome tot ouens in swart geklee wat gaan vir die bankvensters tydens betogings;
Kuba;
Kommandant Marcos, die zapatistas – en daarvandaan verder die Glimmende Pad (of juis nié?);
En nog veel meer.
Maar haastig net twee sake. Wat in die myne en met die Aurora mynwerkers gebeur is ‘n kriminele skande. Dat die staat weier om die stropers en aftakelaars (die sg. receivers en Zuma se seun en Mandela se kleinseun in die bek te ruk is ‘n kriminele skande. Van die mynfamilies wat ek daar ontmoet het vertel dat hulle die huis naweke toehou sodat niemand moet sien hulle het niks om te eet nie. Een van die mynwerkers met wie ons gesels het, het nou pas selfmoord gepleeg. In hierdie geval sal ek as anargis van enige hefboom gebruik maak (die maatskappy, selfs staatsinstellings as dit moet) om iets aan die situasie te probeer doen.
En oor Shell in die Karoo. In die struggle jare was sommige van ons betrokke in ‘n “Boikot Shell” kampanje om hulle te forseer om hul bande met die apartheid régime te verbreek. Iets soortgelyks moet weer gebeur. In Junie kom daar ‘n “Afrikaans Fees” in die Trope-Museum in Amsterdam. Ek gaan beslis voorstel aan al die deelnemers – Gert Vlok Nel, Schalk Joubert, Amanda Strydom, David Kramer (hy is reeds aan boord) en die res – dat ons gesamentlik sterk stelling inneem teen Shell met hulle voorgenome roofbou.
S^: “Shibboleth.”
Terloops, ek lees pas die volgende op News24: “Police say a woman has been ticketed in a suburban Paris shopping centre for wearing a face veil, in the first public sanction under a new ban on the garments. Regional police said on Tuesday the 27-year-old was stopped by police in the mall parking lot in the town of Mureaux. She was handed a ticket that requires her to pay a $216 fine or register for citizenship classes within a month. Police say the Monday exchange was brief and calm and the woman was not brought to the police station. France’s ban on veils such as the niqab and burqa came into effect on Monday.”
Geen kwasi-liberalistiese mooispraak oor vroueregte en wat nog kan hierdie soort vernedering goedpraat nie. Thinly veiled racism — pun intended.
Desmond, daai interaksie waarna jy verwys is vreemd ironies. Die jeugdiges doen ‘n beter Bourdieusiaanse (?!) ontleding van onderwys en simboliese dominasie as Bourdieu self en dan probeer hy hulle oortuig van die belangrikheid van verset (waarvoor daar nie veel ruimte in sy eie strukturalistiese benadering is nie). In die hitte van die oomblik ruil hulle rolle om.
Andries, ek het daai doccie, Sociology as a Contact Sport, of Sociology as a Martial Art, ook gesien. Dit het onderstreep wat ek van hom hou, maar ook wat hom problematies maak. Op ‘n keer probeer hy ‘n klomp jeugdiges, van Arabiese afkoms as ek reg onthou, wysmaak dat hy en die sosiologie meer van hulle situasie af weet as hulle self… Ek dink nie dis heeltemal hoe ‘n sosiale wetenskaplike by plaaslike social movements betrokke moet raak nie!!
Ek bewonder nogal Bourdieu se student, Loic Wacquant, se werk. Die etnografiese studie oor sy boks-ervaring in Chicago is fassinerend. Weet nie of hy ook so ‘n akademiese magsvraat is as Bourdieu nie.
PS. Jy is sekerlik reg oor die staat. Ek self weet van sulke dinge maar min; en ek is idealisties: glo nog steeds die Kubaanse revolusie gaan ‘n sukses wees. Binnekort, binnekort!
Ek sal bitter graag wil hoor van jou stryery met Bourdieu, Breyten. Klink na ‘n goeie storie. Ek kry ook altyd die indruk, selfs net uit sy prosa, dat Bourdieu ‘n knorrige tipe was; en ‘n regte ou sisteem- en empire-bouer.
Nogtans dink ek hy het ‘n spul waardevolle goed gedoen. Benewens dat sy Distinction ‘n monumentale stuk werk was, en ‘n noodsaaklike ’empiriese’ korrektief op die soms alte ‘teoretiese’ benaderings deur sy tydgenote in die filosofie en literere teorie, is sy begrippe soos ‘habitus’, ‘simboliese geweld’ en ander nog steeds die moeite werd om soms in te span.
Sy essays in die boek “Language and Symbolic Power” is verder beslis nog belangrike leesstof vir mense wat oor taal en veeltaligheid dink.
http://www.businessday.co.za/articles/Content.aspx?id=140007
Oor Aurora.
Breyten, ek het jare gelede so amper-amper by ‘n Landbankprojek betrokke geraak. Dis was inderdaad nogal kosbaar om op Helena Dolny se boekrak “Capital” langs ‘n handboek oor “Bank Management” te sien staan. Ek neem aan die boeke is saam met haar verwyder. Ek weet nie wat in die plek daarvan op die rak gesit is nie. Te oordeel aan wat met die Landbank gebeur het, seker niks nie.
Daar’s ‘n skreeusnaakse doccie oor Pierre Bourdieu (die titel is iets soos “Sosiologie as kontaksport”, maar in Frans). Daarin sien ‘n mens die man se konsternasie as hy met ware sosiale bewegings te doen kry. Ek het die Franse poststrukturaliste se krapperigheid eers kon voel toe ek sy kollegas oor sy invloed (ysterhand) in die Franse akademie hoor praat het in een van die CNRS se kantiens (wat beter kos oor die toonbank stoot as van die eetplekke in Fronsjhoek).
Op ‘n ernstiger noot oor state. Ek dink ek stem saam oor grensposte, maar ek sukkel om anargisties te dink as ander staatsinstellings nie hul werk doen nie. Soos om mynmaatskappye verantwoordelik te hou vir wat hulle aan die omgewing en werkers doen. (Neem maar Aurora se R1m aan die ANC, terwyl die myn nie hul werkers betaal nie en opgehou het om suurwater uit te pomp.) En dan die kwessie van Shell in die Karoo. Dalk kan ons Nederlandse kollegas help met geraas oor Shell? Sonder ‘n vorm van staat sal maatskappye met privaatweermagte die belangrikste vorm van regering in Afrika bly (VOC, Rhodes se British South Africa Company – nou net met nuwe name).
(Verskoon my onsamehangende gedagtes – dis tussen klasgee en merkwerk.)
Andries, ook Etienne Balibar het onlangs ‘n boekie oor Marx gepubliseer. Ek hou nogal van Balibar. Hy het ‘n boek essays met die titel, “We, the people of Europe?” Dit toon heelwat ooreenkomste met Ivor Chipkin se argumente in “Do South Africans Exist?” Ek dink Chipkin se boek is gans te min in die Afrikaanse media bespreek. Ek het dit baie interessant gevind.
Selfs in die sielkunde, selfs, is Marx ‘n groeipunt; wel, ten minste in die kritiese kantlyne. Soos jy weet het die sielkunde hoofstroom enige maatskaplike en historiese bewussyn lankal vir ‘n pot lensiesop verkoop. Die volgende Marxism and Psychology kongres is volgende jaar in die Chiapas streek in Mexiko — Marxis of te not, my tasse is gepak!! Ek en Subkommandant Marcos sal ‘n chilly dare doen.
Breyten, die goed wat jy hier bo oor skryf is vir my die meer interessante dimensie van die hedendaagse Europese politiek. Ek het altyd gedink daar is, wat gesprekke hier in SA oor nasionalisteit, identiteit, gemeenskap, diversiteit, ens., beter aansluiting te vind hierby (konseptueel, strategies) as by die meer statiese (soos in onbeweeglike, maar ook staatsgeorienteerde) kategoriee van en diskoerse oor ‘multikulturalisme’. Die Charles Taylor-tipe goed. (Charles Taylor, die Kanadese filosoof, natuurlik; nie die besonbrilde strong man uit Afrika nie!)
Jislaaik! Julle mense lees darem vir Afrika! (En dan besef ek weer hoe bevoorreg mens is om sommer so by ‘n boekwinkel te kan binneloop en alles wat jou hart na smag daar kry; ek is tans in Parys.) Van Oubaard Marx gepraat: julle weet seker dat Derrida teen die einde ook weer baie daar besoek gaan aflê het. Bourdieu het eintlik nooit daardie huis verlaat nie. Hy was in lewe ‘n ou knorpot en altyd besig met die een of ander ‘groupuscule’. Ons het by geleentheid groot baklei opgetel in Lissabon. Maar dis ‘n ander storie.
My ondergrondse handler, self gesoog in ‘n Joods-Egiptiese bankiersfamilie, het altyd beweer Marxiste maak die beste bankiers uit.
Desmond, dis opvallend die mate waartoe die fenomeen van verskuiwing of vlugtelingskap simptomaties geword het van nuwe samelewingspatrone. (Benjamin het na die gang-bestaan van die vlugteling – l.w. nie meer die banneling nie – wat in grensgebiede woon in afwagting op ‘n passaat verwys as “naakte lewe.”)
Hierdie ‘marginale wêreld’ (tussenwêreld?) groei eksponensieel. In 1950 was daar wêreldwyd 1 miljoen vlugtelinge in kampe of wag-areas; teenswoordig is daar reeds 12 miljoen. En die areas van inkamping, afkamping, bekamping ontwikkel ‘n eie geskiedenis van beweging, afwagting, transaksies, verkenning en oorlewing. Lojaliteite, medehulp, hoe om met die gevestigde magte “daar buite” om te gaan, skep nuwe patrone van saambestaan. Die ongewensdes, onwelkomes, onbegeerdes is nou nie meer ballinge nie maar migrante met herkenbare gedeelde kulturele eienskappe. Die nuwe smeltkroes moet tog langsamerhand ‘n bevraagtekening word van bestaande begrippe van staatsaanhorigheid, patriotisme, wettig en onwettig, politieke uiting en verteenwoordiging. Die marge (kantstrook, speelruimte), soos dikwels in die geskiedenis, word die teelaarde vir uitdaging van die bestaande orde.
Jare gelede was ek saam met Derrida en Bourdieu in ‘n komitee van wyle die Wêreldparlement vir skrywers wat ‘n nuwe kosmopolitiek soos van toepassing op die ‘ongedokumenteerdes’ moes probeer bedink. Moeisaam was dit. Lomp. Swaar van die filosofie. Toe eendag, op besoek aan ‘n voorstad van Parys, kom ons af op die doodnormale en praktiese maniere waarop vlugtelinge mekaar opvang, herberg en help, en sonder om verskille te maak tussen kulture of oorsprong. Sedertdien, ook in veel groter verband, besef ek al hoe meer dat ‘n alternatiewe wêreld reeds bestaan – gebaseer op parallelle ekonomiese en sosiale en selfs administratiewe gebruike en netwerke: praktiese maniere om oor die weg te kom en mekaar te help. Derrida, soos jy weet, was teen die einde al hoe meer gefassineer deur begrippe en praktyke van gasvryheid.
Wat pynlik duidelik was is dat die teoretisering en getrompetter van intellektuele miskien een dissident se vel kan red, maar dat die volk op veel groter skaal mekaar onder die drade deurhelp. Die staat is ‘n las, ‘n oorlas en ‘n laspos. Met sy grensposte nogal!
Om saamgelees te word met die verskynsel van beveiligde woon-areas, afgesperde gebiede, Sperrgebieten, groter kampongs? Soos in SA waar administratiewe verval en sosiale chaos lei tot die skepping van outonome, byna selfversorgende ‘eilande’ van welvaart en kleinburgerlikheid. Wat impliseer dit vir die groter staatsbestel?
Ja, die ontwrigting in Libië het toe skielik derduisende ingekampte vlugtelinge, meeste van suid van die Sahara, ontset. Dit was nogal iets om te aanskou toe hulle skielik aan die grens met Tunisië opgedaag het, en hoe almal daarop aanspraak gemaak het dat hulle gewettigde gasarbeiders was!
Desmond, ek’s klaar met Hobsbawm se eerste hoofstuk. Sy take is (nog!) een wat Marxisme van Leninisme (hoe om sosialisme in ‘n agterlike ekonomie te bou) wil losmaak, as dit relevant wil wees vir die volgende eeu. Hy noem dat iemand soos George Soros bv. Marx herevalueer, n.a.v. die petalje met die globale ekonomie – as ontleding van hoe kapitalisme werk, nie noodwendig vir ‘n program nie. M.a.w. nie-Marxiste lees nou Marx. (Maar mense herlees Adam Smith ook, wat hy nie noem nie.) Tog vreemd hoeveel nou weer oor Marx geskryf word. David Harvey se lesings oor “Capital” is ook onlangs gepubliseer. (Ek hoop David Macey pak iets groter oor Bourdieu aan – soos ‘n biografie.)
Andries — ek het die Zizek volume gesien en bestel; en onlangs begin lees aan Badiou se onlangse klein rooi boekie oor kommunisme. Ek vergeet vir ‘n oomblik die titel. The Coomunist Hypothesis? Klink nou verkeerd op die oor. Badiou is ‘n bietjie moeilik vir my. (En ja, David Macey: ek het sy Fanon en Foucault biografiee gelees; albei uitstekend. Die vertalings is net so belangrik. Onlangs het ek sy vertalings van Bourdieu se ‘strydstukke’, Firing Back, weer gelees.)
Hobsbawm se nuutste het ek in die lughawe se Exclusives gesien, maar die hardeband is te duur; ek moet wag!! Hobsbawm is darem merk-blerrie-waardig. Hoe oud is die man? 90? Ek is ‘n groot aanhanger van hom: veral omdat hy, benewens sy belangrike boeke oor die geskiedenis van die Weste, oor bandiete en oor revolusionere, ook essays en boeke oor musiek geskryf het… Veral oor jazz.
Anders as baie kommentators, wat hom verkwalik oor hy ‘kommunisme’ nooit afgesweer het nie, bewonder ek nogal sy beginselvastheid oor hierdie kwessie… Maar dalk is dit net ek; ek romantiseer die soort goed ‘n bietjie, ek weet. Iemand moet!
Terloops, Desmond, oor David Macey: Dankie tog vir iemand soos hy! Hy’t uitstekende biografie” van bv. Foucault en Fanon geskryf, heel toeganklik vir Francovrotte soos ek.
NS. Ek lees op die oomblik “Listen to This” – het dit uiteindelik by Boekehuis in Aucklandpark opgespoor. Oor ons vorige gesprek oor utopiese denke – ook Hobsbawm se nuwe toom oor Marxisme en ‘n boek waarvan Zizek een van die redakteurs is: “The Idea of Communism” – hoofstukke deur Eagleton, J-L Nancy, Negri, ens. Ek weet die “left” organiseer nie juis op die oomblik nie, maar hulle skryf darem! My arme kredietkaart. As die Boekehuis nie sluit nie, moet ek darem deel van die krediet daarvoor kry.
Hallo Breyten. Ek het onlangs kennis gemaak met Abdelmalek Sayad se boek The Suffering of the Immigrant (uit Frans vertaal deur David Macey en van ‘n voorwoord voorsien deur Pierre Bourdieu). Hier is dit op Amazon: http://www.amazon.com/Suffering-Immigrant-Abdelmalek-Sayad/dp/0745626432 (Toevallig sien ek ook nou hierdie een op Amazon: How to Be French: Nationality in the Making since 1789, deur Patrick Weil.)
Ek het die stukkie hierbo ‘n hele paar jaar gelede op uitnodiging van Johann Rossouw vir Vrye Afrikaan geskryf — toe Vrye Afrikaan nog net as ‘n soort elektroniese nuusbrief beskikbaar was. Ek het dit toevallig gister weer raakgeloop, en besluit om dit hier te plaas (‘n tweede, ewe kortstondige lewe!): niks het immers nog verander nie. Die kriminalisering van beweging en andersheid gaan voort; die grenswagte bly sinies hulle werk doen; en die nuwe kampe bly vol (wat is die PC woord? Wagkamers, dalk?!).
Ek wonder wat sal word van die geprivatiseerde ‘wagkamers’ in Libie en elders as Gadaffi sou val? Dit is darem lekker as mens jou buurman se wetteloosheid en ongeregtigheid vir jou eie duistere doeleindes kan aanwend, terwyl mens hom in die openbaar vir daardie einste wetteloosheid en ongeregtigheid kritiseer!!
Dankie namens hulle, Desmond – al die naamloses.