
Groot opgewondenheid heers tans in die krieketwêreld nadat die nuwe krieketembleem vir die verdroogde Proteas verlede week bekend gemaak is. Die debat rondom die uitgediende protea as embleem vir die sukkelende nasionale krieketspan het sy aanloop gehad toe Mickey Arthur, die voormalige nasionale afrigter, kort na die soveelste onsuksesvolle wêreldtoernooi gewag gemaak het van die sielkundige gedierte genaamd ‘verstikking’ op hul skouers: “The monkey’s almost become a gorilla now,” het hy na bewering gesê, “and until we win an ICC event it’s always going to be there I’m afraid.”
Craig Matthews, voormalige krieketspeler en -afrigter se reaksie hierop was egter kort en bondig: “I don’t think we choked this time. We never played well enough to choke.”
Volgens ‘n sielkundige, wat verkies om anoniem te bly, is vrees vir mislukking die voor die hand liggende verduideliking vir die Proteas se voortslepende gesukkelry in amptelike wêreldtoernooi. “Dit kom daarop neer dat jy jouself té ernstig opneem en selfs beter ag as wat jy in der waarheid is. Dit het tot gevolg dat jy jou deurentyd moet ‘bewys’; gevolglik word daar van meet af reeds op die uitslag gekonsentreer in plaas daarvan dat op die proses gekonsentreer word. Trouens, om 100% te wil verbeter met iets – onthou hul suksesratio tot dusver is nul – is dit ‘n bykans onmoontlike taak. Maar, indien jy 100 dinge kan identifiseer om net 1% beter te doen, is die saak gewonne.”
Maar, nou ja. Met sowel die Nasionale afrigter as kaptein wat sedert die IKK se wêreldbekerreeks in Indië hul onderskeie poste vakant verklaar het, het die IKK die geleentheid gesien om dieselfde smaaklose ertjies met ‘n nuwe etiket te bemark. (Re-branding noerm hulle dit in besigheidstaal.) ‘n Kommissie van ondersoek is gelas en na etlike vergaderings is daar besluit om hul innerlike demone kaalvuis te konfronteer en die artisjok as Krieket-embleem in die plek van die gebruiklike protea te aanvaar; iets wat in die lig van die self-fulfilling prophecy, waarna die anonieme sielkundige hierbo verwys het, netjies systap. “It has been decided that we should endeavour to shed all negativity about the Proteas after their dismal performance at the World Cup,” het ‘n woordvoerder van die SAKR aan XBox360 South African Community gesê. “Therefore the logo will be changed. The idea is to try and connect with the public again and gain back their confidence. The Protea will no longer appear in the Protea logo, but will rather be replaced with the Artichoke, a symbol which the public will no doubt accept … At its very best the protea remains representative of a very small part of our floral heritage. It is a flawed symbol of national unity and do not deserve to be seen as such. The artichoke is far better in this regard because life itself is like eating artichokes; you have got to go through so much to get so little.”
Op Facebook was die reaksie eweneens blitsig en verwoestend: “These things are just plain annoying. After all the trouble you go to, you get about as much actual ‘food’ out of eating an artichoke as you would from licking 30 or 40 postage stamps. Have the shrimp cocktail instead,” het ene Miss Piggy kwytgeraak. “I’m afraid that they’ll never be vegetables – even artichokes have hearts,” het ene Amélie Poulain van haar laat hoor.
Nou mag jy jouself afvra wat de drommel het krieket nou met die digkuns te make; afgesien daarvan dat daar nogal ‘n hele paar pertinente lewenslesse in bogenoemde opgesluit lê. Die feit is egter dat die artisjok reeds seder HJ Pieterse se bundel, Die Burg van Hertog Bloubaard, in 2000, ‘n onaantasbare plek in ons digkuns beklee. Of dit egter gesien moet word as ‘n liefdesverklaring jeens die new look artisjokke is egter te betwyfel.
Nietemin, geniet die vers; dit bied immers veel meer plesier hier op die blou Maandag as wat enige brousel krieket ooit sal kan. (Terloops, dit word met die vriendelike vergunning van die digter geplaas. So hou op wôrrie oor die toepaslikheid daarvan.)
***
Sedert Vrydag het daar twee nuwe bydraes tot Wisselkaarten bygekom. Luuk Gruwez ‘n bespreking geplaas van Leonrad Nolens se mees onlangse digbundel, terwyl Stefaan Goossens vertel van die vyfde Nag van die Poësie. (Met ‘n agternakyk na die geskiedenis daarvan.) Fassinerende leesstof, inderdaad. En dan het Pieter Odendaal eweneens ‘n besonderse bydrae gelewer oor die liefde aan die hand van ‘n Philip Larkin-vers.
Geniet die week …
LE
Artisjok
Laatnag vleg ‘n skielike ritseling
My stadig los
Uit swaar arms van my geliefde,
Donker suster van my dood.
Dou sak heeltemal te vroeg vanjaar
Op my grasperk en plante neer.
Takke en blare ril nog waarskuwend
As ek deur die wind na my groentetuin beur.
My flitslig skok die grootste plant
Wat haar lang, silwergrys blare vou,
Ritselend toe, dig
Om die geheime, pers, glinsterende vrug.
Raak my aan, asseblief,
Raak my nie nou al aan nie.
Uit hierdie bitter grond gebore
Tussen windhande wat my wil klief.
Ek vou die stingels versigtig weg,
Pluk ‘n paar blare en proe,
Huiwerig om my tong,
Donkergroen, suursoet parfuum van die nag.
Net een maal het ek jou so sien lê
Ná ‘n laatnagmaal van artisjok.
Jou hande was lig oor jou borste gevou,
Jou bene terughoudend gekruis.
Laag vir laag het ek jou afgeskil
Met ‘n versigtige, moedelose tong,
Tot by die diep, geheime, bitter vrug
Wat weer terugtrek tussen jou dye.
Deur strelende hande van jou geliefde,
Jou lokkende suster van die slaap
Kon ek hoor: raak my aan, asseblief,
Raak my nooit meer aan nie;
te lig om ‘n groen hart finaal te klief.
© H.J. Pieterse (uit: Die burg van hertog Bloubaard, Tafelberg, 2000)