‘n Besonderse inisiatief van deBuren, ‘n organisasie wat nogal sterk aan ons eie ATKV herinner, is die Literaire Pleidooi waarvolgens die publiek stem ten gunste van ‘n gestorwe digter se permanente opname in die Letterkundige Museum te Den Haag. Volgens die berig op deBuren se webblad word ‘n honderd Lae Landse digters in Het Pantheon by wyse van ‘n permanente uitstalling vereer.
Die pleidooi vir vanjaar se opname het enkele weke gelede in Antwerp plaasgevind en is deur die Letterenhuis in Antwerpen, het Vlaams-Nederlands Huis deBuren en die Letterkundig Museum in Den Haag gereël. Die twee kandidate vir opname was J.A. Dèr Mouw (1863-1919) en Herman de Coninck (1944-1997). Pleidooie ten gunste van Dèr Mouw is deur Hans van den Bergh en Anton Korteweg gelewer en vir De Coninck was Piet Piryns en Delphine Lecompte die motiveerders.
Na ‘n hewige debat in ‘n stampvol saal in Antwerp se Letterenhuis het die publiek met 142 stemme teen 25 ten gunste van Herman de Coninck se opname in Het Pantheon gestem. Maar, volgens ene Edith de Gilde, wat ‘n kommentaar by deBuren se aankondiging geplaas het, was Dèr Mouw se neerlaag ‘n eerbare een: “In een zaal vol Antwerpenaren was er voor Dèr Mouw alleen eer te behalen, geen overwinning. En die werd behaald. Ruimschoots. Het was een fraaie nederlaag.”
Nou ja, toe. Jan Pollet is egter van mening dat dit Piet Piryns se vurige pleidooi was wat die publiek ten gunste van De Coninck laat besluit het: “Als de gedichten van Herman de Coninck vandaag nog altijd gelezen worden, is dat omdat ze een geheim in zich dragen dat intrigeert en blijft intrigeren. Het zijn oefeningen in doodgaan. En net daarom was poëzie voor Herman de Coninck een primaire levensbehoefte – ‘een liturgie ter viering van het feit dat er geen hiernamaals is, een taalritueel om desondanks het verlangen in ere te houden naar al wat meer is dan hier en nu. Want zonder dat verlangen zou het nog veel erger zijn.’,” het Piryns onder andere gesê.
Die pleitstukke kan op deBuren se webblad gelees word.
As leestoegif, vanoggend ‘n gedig van Herman de Coninck soos dit deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is, onderaan. En kyk sommer ook weer na Yves T’Sjoen se insiggewende essay oor Herman de Coninck en die besonderse band wat dié digter met Suid-Afrika gehad het.
***
Verlede Saterdag is As die woorde begin droom, ‘n versamelbundel uit Wilhelm Knobel se gedigte, in Stellenbosch bekend gestel. Ampie Coetzee het die woord gevoer. Sy oorskouing van hierdie besonderse digkuns is gister geplaas.
Geniet dit.
LE
Denkend aan vroeëre gedigte
Ons was jonk, ons het die taal
soos ‘n perd bestyg en uitdagend
oor die velde gery, lasso’s
van woorde geslinger na alles
wat ons wou verower. O,
dit was dolle roekelose ritte. Wees tog
maar versigtig, het die kritici agter ons aan geroep.
En saans het die taal nog gestaan en natril,
op stal in ‘n gedig, runnikend
van heimwee na die maan
en na die verste betekenisse.
© Herman de Coninck (Uit: Die lenige liefde, Protea Boekhuis, 2009)