Andries Bezuidenhout. Slaptjips, gedigte en ‘n ruskans

Ek weet ek is een van die minder pligsgetroue bloggers op die oomblik. Na ʼn konfessie moet ʼn mens seker verskonings soek. Ek is pootuit, hoofsaaklik omdat dit nogal uitputtend is om vir eerstejaars klas te gee. Gelukkig is daar nou ʼn blaaskans, wat ek gaan gebuik om ʼn paar myle meer op die dieseltrok se klok te sit.

Eers Krugerwildtuin toe. Dis ʼn ou familietradisie wat al van my grootouers se tyd af kom. En my suster het kom kuier uit Australië – so die wildtuin moet dit wees.

Daarna jaag ek terug Gauteng toe om saam met die band (die Brixton Moord en Roof Orkes), Valiant Swart, Bacchus Nel en ʼn hele paar ander musikante net buite Tarlton op te tree – by die “Slapchips en Champagne Dagfees” (Die naam kom uit ʼn liriek van Valiant). Faceboekers kan hier inloer, as hulle volgende Sondag lus is vir uitspan voor ʼn rock ‘n roll verhoog.

Daarna Nieu Bethesda toe vir ʼn troue en uitspan op ʼn Karooplaas. Lekker.

Verlede jaar het ek hier geskryf oor ʼn poësiegeleentheid by Steak & Ale – “Ek sê, Ziyawa, it’s happening,” is dit genoem. Dis deur ene Abjater Ronkedoor aanmekaargeslaan, saam met Yabadaka Shamah en ʼn paar ander mense. Lees hier meer daaroor. Die tweede beloofde geleentheid word nou vir Saterdag, 14 Mei, by Club Santorini in Mamelodi beplan. Faceboekers kan ook reeds iets meer daaroor lees – hier. Ek sal later meer besonderhede hier kom plak.

Vir eers klok ek uit.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Slaptjips, gedigte en ‘n ruskans”

  1. Desmond Painter :

    Lekker rus en speel. Ek voel soos jy voel: pootuit, vuisvoos, running on empty. In my geval is die verskoning tweedejaarsklasse en akademiese skryfprojekte wat laat is, of net nie op dreef wil kom nie. Maar binnekort is weer gereeld, soos mense wat heeldag All Bran eet!

  2. Philip de Vos :

    “Minder pligsgetrou” klnink vir my effens na sarkasme. Is dit om die ander bloggers ‘n bietjie skuldig te laat voel?

  3. Andries Bezuidenhout :

    Philip, geen sarkasme bedoel nie. Elkeen dans op sy/haar eie ritme.

  •