
Op haar weblog Kijken skryf Nicole Montagne ‘n interessante stuk oor naakfoto’s van bekende figure op die internet. In hoofsaak handel dit oor ‘n steelfoto wat in die 1950s deur die Amerikaanse skrywer Nelson Algren van Simone de Beauvoir geneem het terwyl sy in die badkamer besig was met dit wat dames meestal mee besig is wanneer hulle voor die badkamerspieël staan. (Dit was tydens De Beauvoir se besoek aan hom in Chicago.)
Tereg wys Montagne daarop dat naakfoto’s van bekendes niks ongewoon is nie, maar dat daar in bykans alle gevalle ‘n ‘boodskap’ of konteks is wat oorgedra word; iets waarmee hulle hulself dan as’t ware ‘klee’ aangesien die konteks ‘n mate van verwydering bring tussen foto en kyker. Daarteenoor, toe die Franse blad Le Nouvel Observateur enkele maande gelede hierdie foto van De Beauvoir op hul voorblad gebruik, is De Beauvoir, volgens Montagne volledig naak weergegee aangesien daar geen ‘boodskap’ of ‘konteks’ by betrokke is nie.
Montagne plaas haar weersin ook binne tydsbestel: “In die tijd (1950s) was het nog niet gangbaar dat schrijvers of kunstenaars zich naakt lieten fotograferen. Dat gebeurde natuurlijk wel, maar het was allemaal nog niet zo aan de orde van de dag. Nu is het ‘gewoner’. Want wie hebben we wel niet allemaal naakt gezien? Een hele rij actrices en zangeressen natuurlijk, met name in de Playboy. Maar ook schrijvers als Ilja Leonard Pfeijffer, Jan Wolkers, Heleen van Royen en Kristien Hemmerechts. Ze staan op covers van tijdschriften of op het omslag van hun eigen boek.”

Oor Kristien Hemmerechts, weduwee van die Vlaamse digter Herman de Coninck, se naakfoto het sy die volgende te sê: “Kristien Hemmerechts ten slotte, maakte de cover van Vrij Nederland onveilig toen zij naakt poseerde achter haar pamflet De man, zijn penis en het mes. Terwijl zij enkele jaren eerder in haar blootje het omslag van het Nieuw Wereld Tijdschrift nog sierde, teneinde de mensen te laten nadenken over hun obsessie met bloot […] Maar alles bij elkaar is dat toch ander bloot. Dat is een bloot met een statement, bloot met een missie […] De foto van Simone de Beauvoir daarentegen, die heeft geen enkele boodschap. Die is gewoon genomen door Nelson Algren, waarschijnlijk omdat hij dacht ‘knip, ik heb je’. En die foto is later per ongeluk in de publiciteit gekomen, althans niet voor de publiciteit gemaakt. “
En is tans voluit op die internet beskikbaar.
Die etiese aspekte wat hiermee vervleg lê, is enorm, maar op ‘n manier herinner dit tog ook aan wat Roland Barthes in sy essay oor striptease gesê het: “Woman is desexualised at the very moment when she is stripped naked […] Thus we see the professionals of striptease wrap themselves in the miraculous ease which constantly clothes them, makes them remote, gives them the icy indifference […]: their science clothes them like a garment.” (Uit: “Striptease“, in Mythologies, 1955: Vintage Press)
Maar wat van iemand wat sonder haar medewete afgeneem word en dan word dié foto vir geen ander rede gebruik nie as dat dit ‘n naakfoto is van een van die mees ikoniese (dog omstrede) figure in onlangse tye? En watter verweer bestaan daar teen sodanige uitbuiting wat geen ander doelwit voor oë het as beter verkope nie?
Miskien is dit juis dié berekendheid wat naak staan op die omslag van Le Nouvel Observateur en nié De Beauvoir nie.
Nietemin, vir jou leesplesier vanoggend volg T.T. Cloete se toepaslike vers “Marilyn Monroe foto in blou“, waarin daar ‘n pertinente verwysing na Simone de Beauvoir in voorkom, hier onder.
***
Gister is Heilna du Plooy se resensie van T.T. Cloete se nuutste bundel, Onversagdig, geplaas. En dan het Leon Retief ook sy blog oor die waarneming van voëls in Saskatchewan geplaas. En in die Brieweboks is daar ‘n spesiale uitnodiging wat van Leon de Kock ontvang is na die volgende InZync poësie-voorlesing by die AmaZink-restaurant in Kayamandi buite Stellenbosch.
Pure leesplesier; so, geniet dit alles.
Mooi bly.
LE
Marilyn Monroe foto in blou
een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – PIERRE KEMP
dikskaamtelik skrylings sit Marilyn Monroe
in ‘n volstrek
leë blou
ruim vertrek
die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ‘n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel
asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy ‘n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ‘n gekoesterde soet kriewelige wond
vir die nakende detail in die bygesprek
– met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek
deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot
wat gloei onder die valsegte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit
vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar
oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie
© TT Cloete (Angelliera. Tafelberg, Kaapstad. 1980.)