Nou kyk, daar is min dinge wat lekkerder ruik as ‘n boek vars van die drukker af. Dit weet ons almal. Daarom was dit sekerlik net ‘n kwessie van tyd voordat iemand die winswaarde van dié feit sou wou ontgin … En wie anders as Karl Lagerfeld, die ikoniese modefat van wie dit al gesê is dat net sy liefde vir boeke sy welbekende passie vir die modewêreld oorskadu.
Volgens ‘n berig op Knak.be se webtuiste, beslaan Lagerfeld se boekversameling meer as 300 000 titels. Dan is hy boonop glo nie net versamelaar nie, maar ook uitgewer en eienaar van die boekwinkel 7L in Parys; met ‘n volgende winkel wat reeds vir New York beplan word.
Nou wil dit egter voorkom asof Lagerfeld só meegevoer is met sy boekpassie dat hy nou ook ‘n parfuum, genaamd Paper Passion gaan bemark. Dié parfuum, wat sal ruik soos ‘n pasgedrukte boek, word deur die Berlynse parfumeerder, Geza Schön, ontwikkel en sal in ‘n boekvorm verpak word.
Sjoe, wat’s volgende? Vroeër het ons al berig oor die boek as modieuse handsak en nou dít?!
Opwindende tye, inderdaad. En watter beter gedig is daar as DJ Opperman se “Sproeireën” vanoggend? (Vervang gerus die toepaslike woorde met ‘boek’. Dan maak alles sin. Of wat praat ek nou?)
***
In navolging op MM Walters se nuwe digbundel het ons vertalings van sy verse na Duits ontvang vanaf Robert Schall. Dit kan in die vertaalkamers gelees word. Andries Bezuidenhout het eweneens ‘n besonderse aanhaling van Manuel Vázquez Montalbán geplaas. By Wisselkaarten is daar nuwe beydraes deur Edwin Fagel, oor ‘Constellaties’ en Chris Coolsma oor hul onlangse besoek aan London; meer spesifiek oor Billy Collins se siening van Whistler en Goya se skilderkuns.
Geniet dit alles.
Mooi bly.
Sproeireën
My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
As ek ‘n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met nartjies om my heen
weet ek hoe dat ‘n vrou kan troos.
O my nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
© DJ Opperman (Uit: Brink, AP. 2008. Groot Verseboek. Tafelberg)
Jy noem hierbo dat Karl Lagerfeld o.a. ook uitgewer is, Louis. Pas lees ek die volgende raak op WWD.EyeScoop se webblad:
PEN AND PAPER: Karl Lagerfeld is about to share a treasure trove: the complete writings of Friedrich Nietzsche, as the 19th-century German philosopher wanted them published. Lagerfeld and Gerhard Steidl plan to publish them in fall 2012, printing only 3,000 copies of the 12-volume set. “Nietzsche’s Nietzsche” will show the typeset writings along with all his hand-corrected manuscripts. Lagerfeld showed off photocopies of a few original pages, with dense blocks of small handwriting — some words underlined, others stricken and overwritten — on sheets of pale yellow paper. ‘It’s very easy to read if you understand this type of German,’ he said. ‘I would love to publish it in English, but it would take five to seven years to translate it.’
Skakel: http://www.wwd.com/eyescoop/fashion-scoops/on-the-hunt-pen-and-paper-capital-moves-3607328?full=true
Een van die aakligste dinge wat ek nog gesien het was in ‘n restaurant in Hengelo. Knus en vriendelike atmosfeer. Die mure van vloer tot plafon volgepak met boeke. Ek stap nader om te kyk – klassieke titels, verskillende tale, ook nuwe uitgawes, regte boeke. Toe van naderby: al die boeke was in die lengte deurgesny, dus halwe boeke met die rugkante na die kyker, daar slegs as muurversiering. Die boek as décor.
Daai laaste sin is vir my die beste ding uit The Road, en dalk die sleutel tot die hele storie.
Dis dan die boek se doodsklok. ‘n Parfuum om mense te herinneer dat dit eens daar was. Uit “The Road”: “Years later he’d stood in the charred ruins of a library where blackened books lay in a pool of water. Shelves tipped over. Some rage at the lies arranged in their thousands row on row. He picked up one of the books and thumbed trough the heavy bloated pages. He’d not have thought the value of the smallest thing predicated on a world to come.”
Nogal vindingryk. Ek sal beslis die parfuum Paper Passion wil koop, Louis.
my nooi is in ‘n boek,
my ouma in papier,
daar’s iemand … iemand in ‘n geur,
daar’s ‘n vrou in elke gier!
Groete