Pieter Odendaal. MOJO-week (of, hoe om teen apatie te veg)

Ek en my vriende het die afgelope ruk vreeslik gal gebraak rondom bottels wyn oor die onwilligheid van die meeste van ons medestudente om oor warm onderwerpe te debatteer. Dink byvoorbeeld aan studente se onwilligheid om oor rasseverhoudings in vakke soos Engels, Geskiedenis en Sosiologie te praat. Hierdie onwilligheid gaan dikwels met apatie en onkundigheid gepaard, alhoewel sommige studente ook geïrriteerd is met die wyse waarop hulle gedwing word om op ’n hiper-teoretiese manier oor onderwerpe soos ras, gender en klas te besin. Ek het self ook al op hierdie einste blog beswaar hierteen gemaak. Verder dien ons komplekse onlangse geskiedenis dikwels as ’n buffer vir die openbare bespreking van kontroversiële onderwerpe omdat apartheid ’n stilblykultuur (veral onder Afrikaanssprekendes) gekweek het.

Een van my vriende, Lweendo Hamukoma, deel my irritasie met die dikwels abstrakte hantering van ras as een of ander binêre Derrideaanse hiërargie en daarom het ek die storie wat sy my nou die dag in die trein op pad Kalkbaai toe vertel het aangrypend gevind. Sy was in ’n sosiologieklas op Rhodes waar die studente gevra is om persoonlike verhale oor rasseverhoudings met mekaar te deel. Lweendo vertel toe dat ’n Indiërmeisie gepraat het oor die swart vriendin met wie sy ’n koshuiskamer gedeel het. Die swart vriendin het die Indiërmeisie glo gevra om haar hare te kam, en die Indiërmeisie het vertel hoe sy, borsel in die hand, skielik besef het dat sy nog nooit aan ’n swart persoon se hare gevat het nie. Sy het ook onthou hoe haar ma haar altyd gewaarsku het oor hoe vuil swartmense se hare is, maar sy het haarself reggeruk en haar herinner dat sy lief is vir haar vriendin en versigtig haar hare begin kam. Later het sy die Jik onder die wasbak opgespoor en gehuil terwyl sy haar hande herhaaldelik met die Jik gewas het.

Ek en Lweendo praat toe oor die wydverspreide en diverse probleme wat steeds rondom rasseverhoudings bestaan en dat hierdie probleme aangevuur word omdat ons óf daaroor stilbly (dis mos makliker om te swyg as om jou eie vooroordele en onkundigheid bloot te lê), óf omdat ons dit in terme van dooie denkers se abstraksies probeer uitpluis. Wat ons nodig het, is ’n publieke platform waar studente vry en veilig voel om hul diepste vooroordele (of dit nou oor ras, gender, godsdiens of seksualiteit gaan) met hul medestudente te deel en openlik daaroor te gesels.

Lweendo se storie het my en Gina King (’n meestersgraadstudent in Geskiedenis) aangepor om met ’n weeklange, kampuswye veldtog vorendag te kom wat presies ten doel het om so ’n publieke platform te skep. Die voorgestelde week staan as MOJO-week bekend (’n akroniem vir Maak Oop Jou Oë) en ons beoog om die week aan die begin van volgende jaar te laat plaasvind. (Die onlangse afskaling van JOOL het ’n gunstige gaping geskep vir die implementering van MOJO-week en ons het reeds met verskeie studenteliggame besprekings gevoer en hul ondersteuning ontvang.)

MOJO se logo

Bykans twintig jaar na die eerste demokratiese verkiesing is dit hoog tyd om ons rol as studente in die nuwe Suid-Afrika te herevalueer. Die reënboognasie is toe nié so veelkleurig soos wat ons gehoop het nie en ons sit met ‘n hele reeks probleme wat ons sélf sal moet tekkel. Hierom is dit noodsaaklik om ’n kultuur van kritiese denke, sosiale bewustheid en verdraagsaamheid onder jong Suid-Afrikaners te kweek. Ons ontstellende gebrek aan belangstelling in die huidige politieke en sosiale klimaat noodsaak die mobilisering van studente sodat ons in kontemporêre kwessies kan engage.

Die doel van MOJO-week sal nie wees om studente in een of ander ideologiese rigting te dwing nie en ons het geen spesifieke agenda nie. Die idee is eerder om ’n kritiese bewustheid onder studente te kweek en geleenthede te skep waar ons kan leer om onsself beter te verstaan omdat ons die komplekse reeks emosies, ideale en opinies wat ons hier laat beland het, grondig bevraagteken het. Hopelik kan hierdie week ook dien as ’n katalisator vir die skep van ’n kampuskultuur wat verdraagsaamheid, aanvaarding en die waardering van verskille as ideale voorhou.

Daar is verskeie voorbeelde van onlangse kampusgebeure wat verraai dat Stellenbosch-studente oor die algemeen onverdraagsaam is teenoor diegene wat “afwyk” van die sosiale norm. Dink byvoorbeeld aan die persepsie van interrassige liefdesverhoudings (iets wat ek al aan my eie lyf gevoel het), die kampus se reaksie na Die Matie-studentekoerant se voorblad van twee soenende mans, die taaldebat, die onthutsende vraag oor of daar nog iets soos “Afrikaners” bestaan (’n vraag wat gereeld op musiekverhoë deur jong Afrikaanse musici gevra word), die dwingende gebrek aan omgewingsbewustheid en die verwonge persepsie van vrouestudente en heteronormatiewe manlikheid op kampus.

MOJO beweer nie dat ons hierdie probleme tjoef-tjaf kan oplos nie, maar ons wil die bul by die horings pak en kritiese gesprekvoering inisieer sodat Stellenbosch-studente ’n nuwe kampuskultuur kan skep wat deur oop dialoogvoering gekenmerk word. Die week sal uit vyf daglange onderwerpe bestaan, naamlik identiteit, seks en seksualiteit, ras, die omgewing en gender. Hierdie onderwerpe sal op verskeie manier aangespreek word, insluitende publieke lesings, werkswinkels, filmvertonings en die oprigting van seepkiste op die Rooiplein waar enigiemand sy/haar sê kan sê.

Ja, goed. Van hierdie idees klink dalk so ’n bietjie vergesog en naïef, maar as ons jongelinge nie goed probeer verander nie, wie sal? Ons kan nie meer stilbly en toekyk hoe historiese vooroordele geperpetueer word omdat niemand betekenisvol daaroor gesels nie. Hou asseblief duimvas dat ons die nodige finansiële ondersteuning en infrastruktuur sal bekom om MOJO-week meer as net ’n mooi idee te maak.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Pieter Odendaal. MOJO-week (of, hoe om teen apatie te veg)”

  1. Soeska :

    Dis voorwaar ‘n baie goeie inisiatief, Pieter! Ek wens julle groot suksesse toe. Oppas net vir die ‘seepkiste’ – hulle is geneig tot vuisgevegte, tamaties en eiers en waatlemoene. Maar miskien is dit ook ‘n wenner… wie weet?

  2. Desmond Painter :

    Hi Pieter. Lekker inisiatief. Ek het tot so drie jaar gelede ‘n Suid-Afrikaane teksboek vir my tweedejaar sosiale sielkunde module gebruik, met lekker hoofstukke in oor goed soos ‘interrassige verhoudings’, ander aspekte van seksualiteit (heteroseksualiteit, lesbisiteit), en ras en identiteit aan die hand van Fanon en Biko. Dit was vir my interessant dat studente, selfs in die groot klasse, baie aktief deelgeneem het aan gesprek; en dat hulle WOU praat oor die goed.’n Mens moes hulle stilmaak om en nou en dan met die klasgee voort te gaan. En alhoewel studente soms moeg word om oor rassisme te praat (die woord word net te veel rondgeslinger in openbare debat) is hulle, nes die res van ons, nog nie uitgepraat oor die kwessie van ras self nie: hoe ons ervarings en omgewings in terme van hardnekkige idees oor ‘ras’ gekleur en beduiwel word. Waar daardie idees vandaan kom. Hoekom hulle so hardnekkig is.

    Die storie oor die harekammery wat jy vertel is pragtig — en natuurlik hartseer. Dit wys mooi dat ras nie net as ‘n ideesisteem of ideologie (voort)bestaan nie, maar dat dit op ‘n affektiewe vlak, dikwels teen mense se beste bedoelinge in, met ons persepsies en ervarings vervleg word. Daardie affektiewe, beliggaamde aspekte van ras en ‘rasseverhoudinge’ (vrees, walging, teenstrydige begeerte, wat ook al; al die dinge wat sosiale ‘grense’ op liggaamlike vlak registreer, as ek dit so kan stel) is nog eintlik maar min aangespreek in SA. Deels omdat die sielkunde meestal fokus op kognitiewe- en gedragsaspekte: stereotipes, houdings, daai soort ding.

    Maar in elk geval, sien uit om te sien waarmee julle vorendag kom!! kan ek julle nie sommer as gassprekers na van my lesings toe ook nooi nie?

  3. Gina King :

    Hey Pieter! Great start to the promotion of MOJO week!
    We now have a facebook fan page, so if anyone is interested please head over and like our page at http://www.facebook.com/pages/MOJO-Week/148485881886601

  •