‘n Adagietto vir die milleniums
Die kognitiewe paradigma wat deesdae so sterk figureer in soveel verskillende wetenskappe, maak ‘n mens opnuut attent daarop dat jy funsioneer en dink soos wat jy geprogrammeer is. Daar is eenvoudig bepaalde raamwerke of rame van kennis wat van kleins af aangeleer is en waarin ‘n mens nuwe ervaring inpas. Jy verstaan en reageer deur dinge met hierdie raamwerke in verband te bring. So ook is daar handelingpatrone, skripte wat letterlik soos draaiboeke werk, waarvolgens jy jou gedra en waarvolgens jy ander mense se gedrag beoordeel en verstaan. Dit is dan ook belangrik om te onthou dat taal ‘n groot rol speel in die manier waarop mens dink en verstaan en ook in die manier waarop jy die werklikheid ervaar en beoordeel omdat die argief van menslike herinnering (so word beweer) grootliks ‘n talige formaat het.
Die idee is nie heeltemal nuut nie. Net in die twintigste eeu het die semiotiek al gepraat van die reëls en kodes wat lewe en begrip en veral taal en kommunikasie op talle maniere bepaal en Lacan het al gesê die onbewuste is gestruktureer soos taal. In ander ouer denke is daar vir baie lank in die Westerse kulture aanvaar dat ‘n mens se lewensuitkyk en jou gedrag, byvoorbeeld jou vermoë om trauma te kan verwerk en om betekenis te kan gee aan lyding, berus op die basiese prinsipiële denke waarmee jy geprogrammeer is (vir party mense is dit hulle geloof). Spesifiek hierteenoor het die Marxiste gestel dat jy nie die lewe ervaar en beoordeel volgens hierdie onderliggende denkpatrone nie, maar dat jou denke en basiese uitkyk juis deur die werklikhede van jou lewe bepaal word, deur die feit of jy kos het of nie het nie en ‘n dak oor jou kop het of nie het nie. Wat die bron van die programmering dan ook al is, dat dit daar is en aan die werk is, is blykbaar so. In watter paradigma mens ookal dink, moet jy dus aanvaar dat daar ‘n sterk verband is tussen die manier waarop jy dink en die manier waarop jy funksioneer in die werklikheid.
Dit is verder logies dat hierdie rame en skripte met verloop van tyd verander soos deur die werklikhede van elke opeenvolgende hede bepaal, en dit is waaroor ek dit vandag het.
Mense wat tans, in die vroeë een en twintigste eeu, met jong mense werk, weet baie goed dat hiedie generasie se koderings en programmerings anders is as die van mense wat tussen 1950 en 1980 van die vorige eeu gebore is. Dosente stuur vir mekaar artikels aan wat gaan oor navorsing wat hierdie generasie beskryf. Hulle staan bekend as generasie Y (na aanleiding van die tanga se skuins en vertikale bandjies oor die lae rug wat bo die hipster se band uitsteek), die Net-generasie, die “NeXt-generation”, die milleniumgenerasie of die milleniums. Ons moet hierdie mense verstaan voordat ons effektief vir hulle kan klasgee soos wat ons trouens nog altyd moes onthou dat ‘n eerstejaarstudent oor ongeveer 18 jaar lewe en dus ongeveer oor 14-15 jaar se herinnering beskik waarmee hulle die wêreld moet verstaan. Dit skok my steeds telkens opnuut as ek agterkom dat studente die verlede slegs ken uit kontemporêre mediarekonstruksies en dat die totale gebrek aan skakering en diepgang wat die Suid-Afrikaanse mediadekking kenmerk, hulle basiese programmering bepaal en beperk.
Begryp my goed, dis baie interessante studente hierdie, maar mens moet ook die groep nader kwalifiseer. Dit gaan oor ‘n deursneegroep jong mense in ontwikkelde lande soos Brittanje, Europa en die VSA, maar hier in Suid-Afrika het ons hulle ook. Dit is die groep wat kom uit middelklas of gegoede huise, met ‘n relatief goeie hoërskoolopleiding, mense wat in staat is om universiteit toe te kan gaan, ongeag ras en ander Suid-Afrikaanse omstandighede. My argument hier gaan nie oor agtergeblewe jong mense en die spesifieke onderrigprobleme van Suid-Afrika nie, maar juis oor die internasionale tendense wat op grond van die mediaverbindinge oor die wêreld heen inderwaarheid veel meer mense beïnvloed as wat waarskynlik vermoed word.
Generasie Y is selfversekerd, baie sosiaal en kommunikatief en diskusseer graag in die klas. Hulle is tegnologies slim en gesofistikeerd, hulle is sukses-georiënteerd, geïnteresseerd in sosiale en menslike kwessies en groepbewus. Hulle is wel minder goed geskool wat lees en skryf betref – hulle lees min en het ‘n klein verwysingsveld wat boeke betref, veral spelling is laag op die prioriteitslys en die lys van prestasies. Die groep studente wat universiteite in 2009 bereik het, is dié wat uitkomsgebaseerde onderrig gekry het en wat werklik baie aandag moet gee aan lees-en skryfvaardighede om akademies goed te kan presteer.
Hierdie jong mense is volgens studies dikwels ongeduldig om ‘n resultaat te kry, hulle is veeleisend en vra baie aandag, hulle raak maklik gestres of “uitgestres”. Verder is hulle op uiterlike dinge gesteld (soos klere van bepaalde “brands”) en hulle is ook nogal materialisties.
Hierdie studente is nie minder intelligent as enige ander generasie nie, en vanselfsprekend is daar baie uitsonderinge na alle kante. Tog stem navorsers oor die basiese profiel saam. Interessant genoeg, is die milleniums nie baie rebels nie, hou van struktuur en verwag ook goed-gestruktureerde onderrig van dosente. Hulle sien egter dosente as mense wat ‘n diens verskaf (ook dalk as sukkels wat tevrede is met min geld!). Diensverskaffing moet effektief en beskikbaar wees − hulle is immers verbruikers en hulle betaal daarvoor.
Waarby ek wil uitkom, is dat hierdie jong mense in uitvergrote mate eienskappe vertoon wat ook die denkpatrone van kontemporêre moderne gemeenskappe kenmerk. As ‘n mens tot jou verstomming agterkom dat dieselfde studente wat in klasbesprekings vinnig kan reageer, entoesiasties kan saampraat en ook sterk menings oor sake het, sukkel om ‘n ordentlike sin te konstrueer en totaal oorweldig voel as hulle ‘n langer samehangende argument moet ontwikkel, weet jy jy het met ‘n groter verskynsel te doen as ‘n onvermoë by bepaalde studente. Die vaardighede wat nodig is om na te dink, om ‘n saak metodies uit te pluis, kernargumente uit te soek en te isoleer en met sorg ‘n nuwe eie argument op te bou met aandag aan skakering en detail, ontbreek tot ‘n groot mate. Baie studente kan hierdie dinge gewoon nie doen nie. Hulle leer dit wel en daar is dosente wat gewoon aanhou werk tot hierdie vaardighede ingeoefen is. Maar enigeen wat taalversorging doen, weet dat studente in vakke waar nie in besonder aandag gegee word aan hierdie vaardighede nie, verskriklik sleg en deurmekaar en slordig skryf (taalversorgers behoort baie ekstra grade te kry want die hoeveelheid lapwerk kan maklik meer word as dit wat vir versorging aangebied is).
Mense beskik deesdae oor baie kennis, maar dit is oppervlakkige en byna toevallige kennis – hulle weet van dinge, hulle ken veel minder. Inligting is oorvloediglik beskikbaar en almal weet hoe om dit te versamel, maar kan hulle sif en uitsoek en herrangskik sodat daar ook iets nuuts kan kom, al is dit net ‘n kreatiewe rekonfigurasie? Almal is gaande oor vernuwing en soek dit hier en daar en oral en tog is daar ‘n veroppervlakkiging van kennis omdat mense tevrede is met ‘n vae idee van dinge en nie dieper wil delf nie. Dit het ook met ‘n tydsbesef te make. Lewens is oorvol en daar is nie tyd om idees te bebroei of uit te broei nie. Daar is ook ‘n ongeduld met en ‘n gebrek aan waardering vir ander soorte kennis merkbaar.
Waarby ek met hierdie verskriklike lang omweg wil uitkom, is juis hierdie gebrek aan ‘n inklinasie vir refleksie, vir besinning, nadenke, selfondersoek, vir binnedenke en veral vir ‘n lewenswyse wat hierdie dinge moontlik maak. Almal sê hulle wil rustiger wees, hulle wil meer ervaar en minder jaag, maar baie min mense kry dit reg om hulle lewens grondig te verander. ‘n Verlangsaming van die lewe bhyk bykans onmoontlik te wees as jy nie ‘n kluisenaar wil word nie.
Op waarskynlik die presies teenoorstaande ander pool van ons huidige lewenspatroon, staan iets soos die (baie bekende) Adagietto uit Mahler se Vyfde Simfonie. Hierdie beweging word dikwels alleen gespeel buite verband met die simfonie waarvan dit deel vorm. Dit het ook in besonder bekend geword as die temamusiek van Visconti se filmweergawe van Death in Venice met Dirk Bogarde in die hoofrol. Die popularisering van die stuk musiek met die besonder mooi slepende melodie het tot verskillende interpretasies gelei en daarin het die assosiasies van die doodstematiek van Death in Venice in resente dekades ‘n belangrike rol gespeel. Op grond van die gebruik van die musiek in die film word soms aanvaar dat die musiek primêr te make het met ‘n melankoliese en desperate romantiese smagting na iets onbereikbaars, tot die doodsveragtende toe. Die melankoliese siening van die musiek het daartoe gelei dat die Adagietto al hoe stadiger gespeel is in uitvoerings. In vroeë uitvoerings waarby Mahler self betrokke was, het die beweging 7 minute geduur, maar selfs in die Amsterdamse Concertgebouw, wat beroemd is vir uitstekende uitvoerings van Mahler se werk, het sommige dirigente die stuk al tot 14 minute uitgerek. Die opname wat ek het, duur 11minue en 36 sekondes.
Die dirigent Willem Mengelberg wat saam met Mahler self gewerk het, het in sy kopie van die partituur aantekeninge geskryf, wat daarop dui dat die musiek geskryf is as ‘n liefdesgeskenk aan Alma, die vrou vir wie Mahler so lief was, maar wat ook Kokoshka se Windsbruid was en wat Mahler later vir nog ‘n ander genie verlaat het. Mahler het ‘n gedig geskryf wat in die note van die melodie pas of het note geskryf vir die woorde van die liefdesgedig (niemand weet blykbaar wat eerste was nie). Volgens hierdie inligting is die musiek veel ligter, met ‘n toonaard wat eerder te make het met teerheid as met melankolie, met liefdesverlange eerder as met desperaatheid.
Wat vir my argument belangrik is, is dat hierdie stuk musiek verskillende interpretasies kan deurstaan, dit selfs fasiliteer of ontlok en dit kan verduur en oorleef. Dit gaan dus nie net oor die betekenis vir ‘n bepaalde luisteraar nie, maar juis om die estetiese hantering en die estetiese duursaamheid van die musikale stof. Daar is ‘n intense samehang tussen die note, die musikale frases en die melodie as geheel, daar is ‘n noodwendigheid in die binding tussen melodie en die verskillende instrumente in die orkestrasie. Die musiek as ‘n geheelervaring bly meevoerend. Of dit in 7 minute of in 14 deurgespeel word, verander ook nie wesenlik aan die langsame en durende ontwikkeling en komplisering van die melodie en die melodiese en instrumentale variasies en permutasies nie. Veral die uitgerekte modulasie van die slotkadans laat die luisteraar sy asem ophou.
Die styl van hierdie musiek is vir my te beskryf met die woord “volgehoue”, ‘n woord wat vir my verskillende betekenisse sou kon insluit soos durend, volhardend, kontinu, deurlopend, gedrae, langsaam, duursaam. Daardie slotfrase is ‘n lang sin waarin die note in die gebroke slotakkoord een vir een in ‘n soort uitgerekte modulasie laer skuif, die verskillende “stemme” in die akkoord om die beurt (ek gebruik my eie beskyrwende woorde wat waarskynlik nie musikologies korrek is nie, maar dit gaan immers om die musikale ervaring as sodanig). Dit is asof die sopraanstem die verskuiwende modulasie begin en dan volg die basnote en middelklanke om in en saam met die verskuiwende kadans al laer en laer te moduleer. Uiteindelik is die note in die slotakkoord soos ‘n onvoltooide kadans en dan moet die twee laaste basnote “skuif” om die voltooide dominantakkoord te laat realiseer. Die luisteraar se asem raak amper op soos wat jy wag vir daardie laaste noot om in plek te kom. Ek dink soms, al ken ek die musiek hoe goed, “Was dit nou die laaste noot? Is dit nie dalk klaar nie, nie dalk verby op die onvoltooide akkoord nie?” En dan kom die slotnoot soos ‘n absolute voltooiing in die dominant van die werk as geheel, ‘n verademing waarvoor jy lank moes wag, die harmonie en balans waarvoor daar gewag móét word.
Nou is dit die vermoë wat mense van ons tyd nie meer het nie, mense kan nie meer uithou nie, kan nie wag nie want meestal hoef hulle nie te wag nie. Daar is ‘n gebrek aan die vermoë om so “volgehoue” en gedrae te dink, te wag vir die regte laaste noot, vir die uitgestelde maar absolute voltooiing. Mense het ander vaardighede, spoed, effektiwiteit, afhandelingsvermoëns, daadkragtigheid. Mense is pragmaties en laat nie toe dat die lewe deur allerlei diepliggende betekenisse (soos dié wat in gedigte versteek word) verswaar of gekompliseer word nie. Alles, ook mense, is wat jy sien, mense hanteer wat hulle sien.
Dalk het ons tyd iets verloor omdat ons nie meer soos Mahler kan dink nie, omdat ons nie in lang sinne, in lang asemteue kan lewe nie. Miskien, heelwaarskynlik, verander die tydsklimaat of Zeitgeist eendag of dalk binnekort weer en kan ons weer so dink omdat dit mode geword het, omdat iets in die lug mense moeg gemaak het vir spoed en effektiwiteit en hulle weer behoefte het aan gedraenheid en volgehouenheid. Dit is soos die geskiedenis verloop, niks bly dieselfde nie, nie die goeie dinge nie en ook gelukkig nie die slegter dinge nie.
Intussen, en dit is wonderlike van die menslike bestaan, is daar die kunste, wat vir ons ontelbare ander maniere van dink en beleef bewaar. Al verstaan ‘n eerstejaarstudent in 2011 nie Mahler se volgehoue musikale sinne nie en al kan hierdie student (aanvanklik) nie ‘n soortgelyke lang gedagte dink en dit in ‘n lang sin weergee nie, bewaar Mahler se musiek die patroon. Soos wat Homeros se lang uitgerekte vergelykings sy wye en komplekse assosiasievermoë vir ons bewaar, soos wat T.S. Eliot en James Joyce se ingewikkelde modernistiese werk ‘n spesifieke soort intellektuele denke bewaar, soos wat Van Wyk Louw se werk die (vergeefse) strewe na geestelike suiwerheid bewaar en soos wat Martinus Nijhoff en Opperman se gestaltepoësie die vermoë tot verskuiling van die self agter wonderlike kultureel-gelade gestaltes bewaar. En soos wat kontemporêre digters weer die huidige denkpatrone vir die nageslagte vir bewaring opteken.
Vir wat dit werd is, dit is darem nie elke persoon uit die internet-generasie wat nie ‘n benul het hoe om volgehou te dink nie. By die konservatoriums van meeste universiteite word Mahler nog met oorgawe aangehang. My gunsteling is Haitink se interprestasie.
@Leon: Valery Gergiev se lewendige opname van nr 5, met die LSO, het pas lofsange by Gramophone uitgelok. Ek verkies oor die algemeen die jonger EMI-Rattle bo die DG-Rattle, maar ek het nog nie daarby uitgekom om sy Mahler-stel aan te skaf nie. Baie mense rave ook oor die Abbado-stel. Maar ek het nie genoeg geld vir al die boksies nie…
@Wysneus – hehe, ek hou van jou beskrywing van Bernstein se Beethoven! Vir ‘n hedendaagse korrektief (vir mense wat nog in die mark is vir meer opnames van Beethoven se simfoniee) hoef mens myns insiens nie verder te soek as Osmo Vanska en sy Minnesota-orkes se opnames nie. Ek was gelukkig genoeg om hulle laasjaar tydens die BBC Proms in die Royal Albert Hall die 9de simfonie te hoor speel. Lean and mean — geen melodrama nie, maar ook nie te klinies nie. Die ateljeeopnames (by BIS) is ook fantasties. OK dis my advertensie vir die dag.
@Desmond – Ja, het die Chailly-opname wel al gehoor maar het die aand te veel wyn gedrink en onthou nie veel nie. My geliefkoosde eietydse Mahleriaan is Simon Rattle.
@Wysneus – dit wil my voorkom asof die tuisskool beweging in die VSA merendeels deur ultrakonserwatiewe ouers gedoen word. Of hulle nou ‘n ordentlike opvoeding kry weet ek nie – hulle sal beslis leer spel, wiskunde doen en so aan, en seker ook Shakespeare lees (hoop ek) maar die basis van tuisskool daar is uiterste konserwatisme. Of so lyk dit vir my van hierdie kant van die grens.
Leon, Bernstein doen Beethoven met netsoveel soetsappige feelgoodery. Die Noodlot met ‘n lollipop.
Heilna, ek dink die groeiende Amerikaanse tuisskoolbeweging is ‘n reaksie (dalk oorreaksie) op wat jy beskryf. Veral sogenaamde klassieke opvoeding. Jy sal dalk Dorothy Sayers se essay oor The Lost Tools of Learning, wat ‘n grondteks vir klassieke opvoeders is, geniet. (http://www.gbt.org/text/sayers.html)
Leon, ek sit en luister nou juis (nav hierdie inskrywing!) na Mahler se 5de. Ek het Riccardo Chailly se uitstekende 12-CD Decca stel: Germaanse gewigtigheid ontmoet Italiaanse dramatiese flair, so iets. Chailly en die Royal Concertgebouw Orchestra neem 10 minute en 18 sekondes om die Adagietto te voltooi. Sehr Langsam. Net die regte pas vir my.
Heilna jy is reg oor omtrent als, net een opmerking oor hoe Mahler se adagietto dikwels vermink word – ek dink die verrotting het al begin met Bernstein se 1961-opname van hierdie werk, toe hy 11 minute geneem het om die beweging te voltooi. (Dalk is dit die opname wat jy het?) Nietemin, die fliek het seker ook bygedra tot baie hedendaagse interpretasies hiervan… 14 minute…juggg, ek weet nie of ek dit wil hoor nie!
‘n Uitstekende blog, Heilna, & ook iets waaroor ek onlangs met ‘n kollega gesels het. Te midde van die oordaad, ooraanbod van informasie het die internet & die nuwe media juis oppervlakkigheid & ‘n nuwe soort ongeletterdheid in die hand gewerk. Onkunde oor eie vakgebied &/of studieveld, & wat die mees demoraliserende vir my persoonlik is in die alledaagse kontak wat baie teksgedrewe is, die gebrek aan taal- & spelvermoë. En ek verwys nie hier na internet-sleng of sms-taal nie.
Heilna, dankie vir ‘n aangrypende blog. Iets wat jou tot nadenke DWING. Laat my onverwags aan Van Wyk Louw se gedig “Renboot” dink. Die hele kwessie van hoe vinniger jy beweeg, hoe vlakker lê jy in die water …
RENBOOT
My boot skiet rasend oor die see,
die vrees vlieg soos ‘n wit voël mee:
moet hy nie sink as hy gaan staan?
(iets donkers gryp-gryp onderaan).
My vaart is wankel ewewig
tussen swart see en hoë lig.