Desmond Painter. Na afloop van nog ‘n semester

Gutenberg Drukpers

Gutenberg Drukpers

Dit voel soos ‘n hergeboorte: die voorgraadse lesings is verby, die merkwerk is gedoen, die predikaatpunte is op die sisteem gelaai… Skielik is dit weer moontlik om die dae sinvol te beplan, om tyd te maak vir dinge soos lees.

Ek lees Fanon vir ‘n referaat wat ek volgende maand by ‘n teoretiese sielkunde kongres in Griekeland moet lewer; ek lees Ian Hacking en Lev Vygotsky vir ‘n projek oor die historisiteit van sielkundige konsepte waarby ek betrokke is; ek lees oor ontwikkelinge in kwalitatiewe navorsingsmetodologie vir ‘n boekprojek waaraan ek en twee kollegas werk; en ek lees nuwe Afrikaanse digbundels. (Ek het ook Philip Roth se teleurstellende The Humbling gelees, maar dis ‘n ander storie.)

Tussen die sistematiese lees deur haal ek nou en dan ‘n arbitrêre boek van die rak en lees ‘n bladsy of twee bloot vir die lekker daarvan. En nadat ek die afgelope twee weke deur ongeveer 450 tweedejaarsopstelle geworstel het, is feitlik alles lekker. Ek verlustig my in volsinne en paragrawe, in logiese betoog, in kreatiwiteit, in korrekte spel- en stelwyses. Gisteraand val my oog op Deleuze & Guattari se Anti-Oedipus. Ek slaan die boek oop, ironies genoeg by die volgende sinne: “Writing has never been capitalism’s thing. Capitalism is profoundly illiterate. The death of writing is like the death of God or the death of the father: the thing was settled a long time ago, although the news of the event is slow to reach us, and there survives in us the memory of extinct signs which we still write.”

Waarom is die akademici, woordwerkers en ideesmouse altyd die laastes om uit te vind?! Ek leer so baie by my studente.

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Desmond Painter. Na afloop van nog ‘n semester”

  1. Leon Retief :

    Capitalism is profoundly illiterate. Mmmja. Ek is nie bevoeg om ‘n opinie uit te spreek oor baie van die dinge wat hierdie twee here bespreek het nie, maar ek was darem eens op ‘n tyd ‘n wetenskaplike wat werklike navorsing gedoen het, in internasionale joernale publiseer het en so min of meer kontak probeer behou het, nie net met my voormalige vakgebied nie maar ook met die natuurwetenskappe oor die algemeen. Te oordeel aan Deleuze en Guattari se uitsprake oor die natuurwetenskappe moet ek wonder of mens hulle ander opinies hoegenaamd ernstig moet opneem

  2. Wysneus :

    Leon, dis snert.

  3. Desmond :

    Leon, ek doen nou nie “werklike navorsing” nie, en ek is ook nie ‘n kenner van Deleuze nie, maar benewens sy werk met Guattari het Deleuze ‘n reeks hoogs kreatiewe en insiggewende boeke geskryf oor Spinoza, Nietzsche, Hume en ander. En ek dink in elk geval uitsprake soos die van Wysneus, wat ‘n filosoof se hele oeuvre (sonder argument of inagneming van wat ander skrywers al met daardie denker se werk vermag het) sommer so met “dis snert” afmaak is lui en arrogant. (En nee, ‘dis postmodernisties’ of ‘dis Frans’ is nie intelligente argumente nie. En ja, soos almal anders het Deleuze in sy lewe swak bladsye en artikels ook geskryf.)

    Willem Anker se Siegfried sou nie sonder D&G se invloed geskryf gewees het nie; en Anker se PhD (goed, dis dalk ook nie “werklike navorsing” nie!) maak op uitstekende wyse van D&G gebruik om oa Breyten Breytenbach en Alexander Strachan se werk te lees (terloops, D&G verwys nogal na BB in A Thousand Plateaus; en BB se politieke denke oorvleuel nogal op heelwat plekke met die van Deleuze — daar is dieselfde fokus op wording, beweeglikheid, die nomadiese, ens; iemand kan dalk eendag “navorsing” oor die ooreenkomste en verskille tussen die twee doen…).

    Hulle werk oor Kafka en oor ‘minderheidsletterkunde’ is ook beslis die moeite werd — veral vir mense wat werk oor die Afrikaanse literatuur.

    ‘n Mens lees nie gedigte asof dit essays is nie, filosofie asof dit natuurwetenskappe is nie; en sommige tekste dring boonop aan op ‘n unieke leesstrategie. D&G se twee tekste oor Kapitalisme en Skisofrenie is sulke tekste; en as mens hulle reg benader is hulle propvol “tools” waarmee mens anders kan begin dink, nie net oor die letterkunde en die kunste nie (Deleuze verlos ‘n mens van sekere Hegeliaanse en Freudiaanse “denkgewoontes”, onder meer), maar ook oor die politiek. (JM Coetzee se Michael K is een teks wat hom beslis leen tot ‘n “Deleuziaanse” lees; so ook daardie dokumenter van Werner Herzog, Grizzly Man dink ek is die naam — “becoming animal”.)

    Om die waarheid te s^e, D&G het ‘n “uncanny” sintuig gehad vir hoe politieke subjektiwiteit en kollektiewe strategiee in die era van die internet en sosiale media sou verander (en nog kan verander).

    Miskien moet ‘n mens natuurwetenskaplikes se werk begin beoordeel op grond van die akkuraatheid en intelligensie van hulle uitsprake oor sosiale kwessies, die kunste en letterkunde?! Self vind ek dit interessanter om te sien watter nut ek uit tekste kan kry, eerder as om goed op grond van vooroordele en irrelvante kriteria te verdoem.

    En wat die aanhaling betref: ‘n mens besef dit daagliks aan moderne universiteite. Benewens dat studente in ‘n beeldgedomineerde w^ereld leef, beskou skole en universiteite hulle belangrikste taak immers nie meer as die produsering van ‘n ‘geletterde’ subjek nie (ek bedoel nie net een wat kan lees en skryf nie, maar een wat deur ‘n proses van Bildung ‘ingeskryf’ word by ‘n soort tekstuele tradisie), maar ‘n subjek met verhandelbare ‘skills’. ‘n Mens met markwaarde.

    Net ‘n entjie verder skryf D&G (ek het nie die boek by my nie, so verskoonm maar) dat ons era post-Gutenberg is; dat die kulturele bestendiging van die boek sal meegee voor ‘n tekstualiteit van vloei en vervaging. Twitter, sms, internet ‘chat’ en kindle sou hulle laat glimlag het.

  4. Leon Retief :

    Desmond, ek is seker jy doen “werklike” navorsing, net op ‘n ander vakgebied as myne. Wat ek probeer sê het, en dalk nie baie duidelik nie, is dat ek dink ek het ‘n goeie idee van waaroor die natuurwetenskappe “gaan” en dat D&G se uitsprake (of dan die wat ek gelees het) die teiken heeltemal mis. Ek is heeltemal bereid om toe te gee dat hulle wel waardevolle dinge geskryf het oor ander onderwerpe, maar oor die natuurwetenskappe beslis nie – soos ek genoem het, ek is nie bevoeg om oor daardie ander geskrifte ‘n opinie te gee nie.
    Ding is net, en dis nou maar seker ‘n swak punt van my, ek het ‘n broertjie dood aan filosowe met geen kennis en nog minder insig van natuurwetenskappe, wat daaroor eiertjies te lê het. Ek het onlangs “Lake Views” gelees, ‘n bundel essays deur Steven Weinberg aan wie die Nobelprys vir fisika so paar jaar gelede toegeken is en hy maak die baie goeie stelling dat die hele verloop van die natuurwetenskape presies dieselfde daar sou uitgesien het as daar nooit so ‘n gedierte soos ‘n filosoof van die natuurwetenskappe was nie – per slot van rekening, geen navorser gaan sit en dink “Hmmmm… die filosowe van die natuurwetenskappe seg sus en so, dus moet ek my navorsing op hierdie en daardie manier aanpak” nie. So vergewe my assbelief maar my stekie :-).
    Ek vermoed jou tong was stewig in jou kies toe jy geskryf het dat mens natuurwetenskaplikes se werk moet beoordeel na gelang van hul uitsprake oor sosiale kwessies, die kunste edm. Geen wetenskaplike wat al sy varkies op hok het gaan bv musiek of leterkunde beoordeel uit die oogpunt van chemie of geologie nie, D&G het as filosowe uitsprake gelewer oor die natuurwetenskappe (wat hulle natuurlik heeltemal geregtig is om te doen) maar dit is duidelik dat hulle die kluts so ietwat kwyt was.

    Ek’s bevrees jy is reg oor wat tans by universiteite aangaan, waar studente soos blikkieskos geproduseer word om aan die aanvraag van “die mark” te voldoen – van werklike opvoeding in die breer sin van die woord is daar van min of geen sprake nie, of so lyk dit vir my. Dit mag wel die gevolg van kapitalisme wees (of nie) maar 100 jaar gelede, toe studente wel nog sodanige opvoeding kon kry, was dit ook maar onder ‘n kapitalistiese sisteem.

    Laastens, dankie vir jou opmerking oor die onderhoud met Sorestad. Ek het nogal ‘n sagte plekkie vir die omie.

  5. Leon, my tong was darem meeste van die tyd in my kies… Ek wil D&G nie soseer verdedig nie (beslis nie in die konteks van empiriese navorsing in ENIGE veld nie) maar ek het al genoeg goed in die estetika, die etiek en die politiek gelees wat deur hulle beinvloed is, en wat nogal fassinerend is, vir my om hulle nie as snert aqf te maak nie. (Ek het ook al nonsens gelees, natuurlik; in ‘n soort geaffekteerde, obskure culture studies idioom wat my ook soms erg irriteer. En D&G se eie uitsprake oor skisofrenie is (soos RD Laing s’n) soms ook gewoon verkeerd.)

    Wat ‘ongeletterdheid’ betref: dit sou inderdaad te kru wees (en betekenisloos) om dit aan ‘kapitalisme’ as sulks toe te skryf — maar dalk wel aan ‘n soort (vir my) obsene marklogika; asof daar niks anders as die mark is om aan te dink nie. Die sosiaal-demokratiese kapitalistiese state van die na-oorlogse tydvak het inderdaad groot bestee aan opvoeding, die kunste, basiese navorsing; maar dalk gaan ons nou ‘n era in waar daar nie eintlik meer soveel belang by ‘die individu’ in daardie sin is nie, eerder in ‘n soort modul^ere ‘skills package’ wat dan dmv ‘life long learning’ soos ‘n rekenaar elke nou en dan ge-‘upgrade’ kan word…

    Wat my laat dink het: dalk is my ‘ongeletterde’ studente meer in voeling met die werklikheid as hulle boekerige dosent… Nogtans druip ek hulle as hulle werkstukke in sms-taal inhandig… 🙂

  6. Leon Retief :

    Desmond – is jy nou ernstig? Handig sommige studente waaragtig werkstukke in SMS-taal in?

  7. Andries Bezuidenhout :

    wtf? 4sur Leon! Hle spel ni mee op xul ni! lol!

  8. Wysneus :

    Lui en arrogant?! Ons almal weet waarvoor daardie woorde kode is. Dis omdat ek swart is, né?

    Ek laat jou weet daar het ure se werk gegaan in die afkoking van Dolce & Gabbana se onbekookte a priori aksioom rakende die ongeletterdheid van sogenaamde kapitalisme tot ‘n enkele raak woord: snert.

    Eers wou ek ‘n lys opstel van skrywers in losweg ‘kapitalistiese’ stelsels (in ag genome dat eiendom en handel die skandwoord voorafgaan). Die lys was lank, vreeslik lank, beginnende met Sophocles, eindigende met Desmond Painter, en insluitende Rousseau, Marx, Hegel, Dolce, en Gabbana. Maar toe besef ek dat mens nie feitevrye wensdenkery met feite kan bestry nie. Die waarheid is immers ‘n sosiale konstruksie. Vandaar my eie waarheid (wat toevallig klop met die werklike werklikheid, maar dit is nie tersake nie).

    Om voldoende skril te kontrasteer met die bewustelik paradoksale vae grootwoordelikheid van pseudo-Freudiane en Kritiese Teoriste, moes dit kort, helder en kragtig wees. Nonsens – nie germaans genoeg nie. Onsin – een lettergreep te veel. Snert – perfek!

    Sien, mens moet nooit die drie-woord-kommentaar vlak kyk nie.

  9. Desmond Painter :

    Leon, as hulle maar so koherent soos Andries sms-taal geskryf het! Maar nee, 80% van die opstelle wat ek lees kan omtrent net slaag as ‘n mens jou taalstandaarde heeltemal oorboord gooi. Ek oordryf nie: taalvaardigheid, skryfvaardigheid, en so aan, is regtig sleg.

    Wysneus kan nou maar kom met ‘n lys skrywers wat onder kapitalisme presteer het: dit is juis daardie soort prestasies, en die soort opleiding en opvoeding wat mens eers as ononderhandelbaar beskou het, wat dit so duidelik maak dat iets aan die verander is. D&G het op ‘n manier ‘profeties’ gepraat oor ‘n veranderende kulturele landskap waarin die waarde van die boek, geleterdheid en so aan drasties ingekort word. Ek dink nie so ver uit nie.

    Wysneus se begeerte om ‘n monolitiese ding, ‘kapitalisme’ (volgens hom klaarblyklik ‘n stelsel wat sedert die Grieke tot nou dieselfde gebly het!!!) te verdedig teen gewaande ‘sosialistiese’ aanslag maak hom dalk blind vir die verdomming van ‘n markbefoeterde waardestelsel. Die kapitalisme het oor die laaste 30 jaar natuurlik drasities verander, en nou nie juis ten goede nie — ten minste nie wat betref die volhoubaarheid van openbare dienste, universiteite, die kunste en so aan nie. Deesdae is ons weer wolwe vir mekaar, en ongeletterd daarby.

    Net vandag hoor ek my departement gaan vir die honeursklas ‘n ‘workshop’ reel — in navorsingsmetodologie? in wetenskapsfilosofie? in skryfvaardighede? Nee. In ‘personal branding’… DIS die ‘kapitalisme’ waarteen ek dit het, nie Wysneus se reg om polities vry te wees en ryk te word nie.

  •