Louis Esterhuizen. My laaste Nuuswekker

Tjailatyd

Tjailatyd

Vreemd hoe bepaalde terloopse insigte of aanhalings lewenslank ‘n beduidende invloed op ‘n mens se lewe kan hê. So onthou ek die opmerking wat ‘n spokerige vent in die vergeetlike film Field of dreams aan die Kevin Costner-karakter gemaak het, baie helder: “If you built it, they will come,” het die gedaante gesê en toe bou die arme man ‘n sagtebalbaan in sy mielielande en al die gestorwe sagtebalspelers kom en speel sagtebalwedstryde in die maanlig ten aanskoue van hom en sy geliefdes. Nog só ‘n bepalende aanhaling in my lewe was nog altyd die Poolse digter, Zbigniew Herbert, se opmerking dat ‘n volk die digters verdien wat hy kry.

Albei dié aanhalings was vir my en Marlise tong-in-die-kies-motiverings met ons besluit in 2005 om te midde van heelwat skeptici, ‘n jaarlikse fees vir die Afrikaanse digkuns te reël. So ook met hierdie webblad enkele jare later.

Aangesien die meelewende welwillendheid van alle rolspelers in die Afrikaanse digkuns noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van so ‘n projek, was ons aanvanklike voorneme dan juis dat dié webblad as ‘n kollektiewe inisiatief moet funksioneer waarby soveel belanghebbendes as moontlik betrek word terwyl ons (meer spesifiek Marlise) die webruimte vir hulle instandhou. Baie gou het ons egter besef dat dit ‘n totaal onrealistiese en idealistiese verwagting is; té veel mense het hierdie ruimte gesien as die geleentheid om óú persoonlike geskille in die openbaar te besleg. Die gevolg was dat ons noodgedwonge ons toetrede as “redaksie” tot die webblad moes maak ter wille van die goeie orde en handhawing van aanvaarbare standaarde; in dié mate dat dit mettertyd ‘n alles oorheersende teenwoordigheid in ons lewens geword het tot die punt waar die sluk op die bottel wat vereis word, te veel was om te sluk. Veral as daar (soms) ‘n bietjie modderige water saam met die mondspoel kom.

Nietemin, in ‘n poging om te bepaal wat die werklike belang van die webblad is, het ons die afgelope maande met etlike belanghebbendes gesels en die terugvoer was so oorweldigend positief dat ons na heelwat ‘hand-in-eie-boesem-gedoentes’ besluit het om wél voort te gaan met die webblad, maar dan in ‘n gewysigde (en minder tydrowende) formaat wat oor die volgende paar dae duideliker sal word.

Die volgende punte is daarom van belang:

  • Daar word teruggekeer na ons aanvanklike idealisme van die webblad as kollektiewe onderneming. Vandaar die toevoeging van “Binneblik” waarmee heelwat meer bloggers toegang tot die webblad gegee sal word ter aanvulling van die reeds bestaande ‘vaste bloggers’. (Laasgenoemde sal ook by “Binneblik” verskyn, maar al hul bydraes sal onder hul name by “Bloglaaie” bymekaar gehou word.
  • Alle ander vaste inhoud (soos byvoorbeeld nuwe gedigte, vertalings, onderhoude, artikels, essays en resensies), wat tot dusver via ‘n indeksblad gelaai moes word, sal mettertyd ook na ‘n blogrol omgeskakel word. Iets wat heelwat tyd vir ons webmeester sal bespaar …
  • Ook is bepaalde individue wat ‘n bewese belang by die webblad het, genader om as ‘advieskomitee’ te funksioneer en te help met die verkryging van nuwe (vaste) inhoud vir die blad. (Terloops, dit sluit ook groter skakeling met – en betrokkenheid van – ons kollega’s in die Lae Lande in; soos jy waarskynlik reeds by Nuwe Gedigte bespeur het.)
  • Nog ‘n verandering is dat die hoofblad mettertyd na ‘n blogrol waarop alle nuwe bydraes outomaties sal verskyn, verander sal word. Ook dít sal heelwat tyd bespaar aangesien elke blikvanger tans opgestel en ‘gelaai’ moet word.
  • Daarom, met al bogenoemde in gedagte, is dit duidelik dat ons rol as ‘redaksie’ en meer spesifiek my funksie as ‘inhoudsbestuurder’ nou oorbodig is, aangesien die advieskomitee hierdie funksie(s) voortaan sal verrig.
  • Ook my daaglikse “Nuuswekkers” sal dus gestaak word; vandaar dat hierdie my laaste plasing onder dié banier is. Die webmeester sal my egter wel as blogger registreer en met dié vergunning sal ek vanaf volgende week voortgaan om stukke te plaas na gelang van tyd en behoefte. Maar dit sal geskied volgens die óú weermagbevel van: Op jou eie teiken … in jou eie tyd … Vuur!!! Nogtans sal ek die trant en fokus daarvan probeer behou soos wat dit die geval was met die 540 Nuuswekkers wat ek daagliks sedert 1 Mei 2009 geplaas het.

 

Ek en Marlise is van mening dat hierdie aanpassings nie net daartoe gaan bydrae dat die werkslading meer hanteerbaar sal wees nie, maar dat die beginsel van mede-eienaarskap tot ‘n meer omvattende en verteenwoordigende blad gaan lei. Die bedoeling met hierdie webblad was immers nooit om dit as ‘n ‘moms en pops’-blad met ‘n ‘local-is-lekker-flavour’ (soos ‘n bepaalde kommentator dit gestel het), te bedryf nie.

En, omrede die webblad voortaan as ‘n kollektiewe onderneming deur digters en ander belanghebbendes bedryf gaan word, sal dit uiteraard presies wees wat die digkuns verdien; met watter vonkel en vratte ook al daardeur tentoongestel mag word.

By wyse van laaste groet plaas ek graag die gedig wat Breyten Breytenbach gestuur het in reaksie op ‘n bepaalde gesprek onderaan hierdie Nuuswekker. Eintlik verwoord dit presies (en beter) wat ek hierbo probeer verduidelik het.

***

Vanoggend fokus ek graag jou aandag op ‘n wonderlike inisiatief wat Marlies Taljard geneem het. In die 3de aflewering van haar reeks oor Beeld en Teks het sy naamlik ‘n onderhoud met Heilna du Plooy gevoer oor die ontstaansgeskiedenis van dier gedig “Chiaroscuro“. By Nuwe Gedigte is daar verder ook bydraes deur twee digters uit die Lae Lande: Jan Theuninck met sy treffende gedigte en Delphine Lecompte oor wie ek reeds in ‘n vorige Nuuswekker berig het.

Ten slotte – die onderhoud wat Amanda Lourens gevoer het met Marlise Joubert oor haar pasverskene bundel, Splintervlerk.

En daarmee, vir oulaas, geniet die naweek wat op hande is in die mate wat dit gegun word. Ek hervat my bydraes (hopelik) volgende week aan die blogkant van sake.

Mooi bly.

LE

 

die digters se manifes van meelewing

 

ons is die digters / ons gun mekaar die vryheid van denke

en verbeelding / ons kyk die een na die ander

se woordeworstelinge soos kleuters wat Noag se arkeologie

met modelleerklei boetseer / en ons

is bly elkeen oor die vrug van die ander

se hande / ons is die digters / ons het gróót

medeklinkende harte wat belangeloos

opgaan in die liefde / ons is nie jaloers

of nydig nie / ons voel nooit afgeskeep nie /

ons oordeel en veroordeel nie / ons

probeer mekaar nie bewimpel met ekkerigsotiese

kontsepte van die Empaaier nie / nóg

sal ons ‘n ander ooit vergiftig met wierook

of in die kánondonder stuur /

ons is die digters / geringskattend

as woord is te tongbeduiwelend om ooit

vars en viets in ‘n vers lê gemaak te word 

en ons ken nie van liemaak of vermakerigheid nie /

ons baklei immers nie vir krummels

van die baas se tafel nie / kyk, ons loer nooit af

en aap nooit na nie / ons is die digters / ons koer

wedersydse bewondering soos vredesduiwe /

buitendien: ons weet al ons lettergrype is torinkies

van as en sandkasteeltjies in die land / en óns

brandkerse in die wind van geskiedenis / daarom

is ons monde welluidend van meelewing /

want ons is die digters / broers en susters /

so waarom sou ons mekaar ook ooit

            in die oond wil steek?

 

© Breyten Breytenbach. Mei 2011

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Louis Esterhuizen. My laaste Nuuswekker”

  1. Leon Retief :

    Jou laaste nuuswekker? Ag nee fok Louis! Ek hou net mooi niks daarvan nie! Jy moet onthou dat doodgewone plebeiane (as dit nou die regte Afrikaanse woord is) soos ek baie put uit wat jy skryf, des te meer omdat ek A) tot ‘n groot mate afgesny is van die SA digkuns-toneel en jy my toegang gee tot wat daar aangaan, nie net mbt SA nie maar ook internasionaal B) omdat jy telkens stof tot nadenke verskaf wat ek nie elders sou kon kry nie.

    Dit lyk asof SA digters jou heelwat probleme gegee het – so what? Ignoreer die kleinlikheid, digkuns is meer werd as mense se ego’s. So asseblief, groot asseblief – doe zo voort!

  2. Louis :

    Geen rede tot kommer nie, Leon. Ek beoog om voort te gaan met presies dieselfde skryfsels as tot nou; net elders op die blad. Die voordeel daaraan is dat ek selfs twéé stukke per dag sal kan lewer (indien die tyd/geleentheid daartoe gunstig is) en géén vir twee weke (indien die tyd/geleentheid minder gunstig is).
    Ek moet erken dat dit nogal ‘n vreemde ervaring was om gisteraand rustig onder die komberse te lê en lees in plaas daarvan om te spartel met ‘n Nuuswekker wat vanoggend moes opgaan …
    Jou slotopmerking is agter ‘n ander gedierte. Dit gaan nie soseer oor die konflik of konfrontasie nie; veeleer die feit dat ek gedwing word in ‘n posisie/rol waarmee ek nie gemaklik is nie. Gestel byvoorbeeld ‘n dispuut of konfrontasie ontstaan tussen A en B. Aangesien ek (na alle waarskynlikheid) met albei bevriend is en ook albei se deelname aan die webblad wil behou, wil ek nie kant kies nie. (Trouens, KAN ek ook nie kant kies nie, omrede ek nie oor die akademiese en kritiese vermoëns beskik waarmee soveel ander deelnemers aan hierdie webblad klaarblyklik beskik nie.)
    En dié ‘draadsittery’ word my verkwalik. Uiteindelik gaan dit nie oor of ek bôls het of nie; dit gaan oor die dikte van my vel. En op sy beste is dié maar aan die dunnerige kant.
    Ek hoop dat jy verstaan en dat jy ten spyte van my terugstaan sal voortgaan met die kragtige bydraes wat jy tot die webblad lewer. Soos die onderhoud met George Sorestad wat gisteraand geplaas is. Skitterend gedoen!
    Met waardering,
    Louis

  3. Lewies Botha :

    540 nuuswekkers, ononderbroke, ‘n nuwe elke weeksdag, voorwaar ‘n verbysterende produksie prestasie. Die voorgestelde veranderinge is sinvol om die voortbestaan van die blad te verseker. Ek hoop egter dat Gedigte en Nuwe gedigte dalk nog steeds ge-indeks kan word soos voorheen die geval was(Alfabetiese lys van digters met skakels na al hul gedigte)

  •