Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
24 May 201117 May 2011

Andries Bezuidenhout. Orrels wat gorrel, honde wat steun

Baie mense weet van die dorpie Nieu-Bethesda danksy Helen Martins, die vrou van die Uilhuis en die onderwerp van Athol Fugard se toneelstuk The Road to Mecca. Die toneelstuk is later verfilm met Kathy Bates en Fugard persoonlik in van die rolle. Fugard speel die rol van die dominee, Marius Beyleveld.

Die dorp is in 1875 aangelê op Uitkyk, plaas van die Pienaarfamilie. Boere in die omgewing was moeg om tot op Graaff-Reinet te moet reis om kerk by te woon. ʼn Kerk is gestig en later, in 1880, ʼn munisipaliteit. Belasting moes aan beide entiteite betaal word, wat tot aansienlike spanning gelei het. Die kerkgebou is in 1905 in gebruik geneem.

Na die depressie in 1930, en waarskynlik weens die feit dat die dorp so afgeleë is, het dit begin verval. Die meer onlangse herlewing in toerisme is waarskynlik te danke aan Helen Martins en haar helper Koos Malgas se sementstandbeelde, asook Fugard se uitbeelding daarvan. Die einste Helen Martins wat eens deur die gemeenskap verwerp is.

Deesdae is daar ʼn teerpad van die hoofpad af tot by die dorp, wat toerisme verder bevorder en dit makliker vir mense van Nieu-Bethesda maak om by die hospitaal en Graaf-Reinet se winkels uit te kom.

Soos op baie ander Suid-Afrikaanse dorpe, was daar gedwonge verskuiwings om die dorp op rassegrondslag te skei. Gevolglik bestaan Nieu-Bethesda uit drie dele – die dorp, Pienaarsig en Sonderwater. Die dorp is waar die NG Kerk is, omring deur ʼn aantal gerestoureerde Karoohuise en meer onlangse bouwerk. Dis waar die meeste toeriste kom.

Teen ʼn heuwel wat op die dorp uitkyk, is Pienaarsig. Die naam verwys letterlik daarna dat die mense van Pienaarsig vir die Pienaars se plaas kyk. Mense wat as “kleurling” geklassifiseer is volgens die destydse Bevolkingsregistrasiewet, het hier gewoon. Hier onder is ʼn foto van die dorp gesien vanuit Pienaarsig. ʼn Mens kan die kerk se toring sien.

Dan is daar Sonderwater. Dis so genoem omdat dit letterlik sonder water is. Ook meestal sonder son, veral in die winter, waar dit in die koppies se skaduwee bibber. Dis waar mense wat as “Bantoe” geklassifiseer is, gewoon het, meestal Xhosasprekendes. Hier onder is ʼn foto van Sonderwater, gesien vanaf Pienaarsig.

In Sonderwater is Antie Evelyn se huis, waar jy Sondagmiddagetes kan gaan eet. Ander etes ook; ʼn mens moet net bel om vooraf te bespreek. Dis outentieke Boerekos uit die Karoo.

Ek het die dorp al ʼn hele paar keer besoek, onder andere om tyd te kry vir skryf. Ek het my digbundel Retoer hier afgerond. Ek hou nog altyd van die kerkgebou, maar het dit nog nooit van binne gesien nie. Met ons mees onlangse besoek, vir ʼn troue, het ons die geleentheid gebruik om na ʼn koor uit Bloemfontein te gaan luister. Hulle sing ʼn stuk van J.S. Bach, asook sekulêre musiekstukke.

In die kerk se ingangsportaal staan ʼn lykswa – letterlik ʼn wa – een wat deur perde getrek word.

Legende wil dit hê dat die wa aan ʼn museum in Graaff-Reinet geskenk is, maar dat die dorp dit weer teruggevra het toe een van die Pienaar-patriarge oorlede is. Perde is gevind, maar was helaas nie opgelei om die wa met waardige grasie voort te sleep nie. Konsternasie het losgebars toe hulle op ʼn wilde galop met die kis en al lostrek.

Ek hou van die vloerteëls in die ingangsportaal, hier gesien van die balkon se trappe af.

Die kerk se orrel, op die balkon, is nog een van daardie orrels wat met pompe werk. Klaarblyklik is daar ʼn skietlood wat aantoon wanneer die masjien die optimale lugdruk het. As die skietlood val, klink dit asof die orrel gorrel in plaas van blaas.

Die koormeester – voorheen van Graaff-Reinet – vertel aan die koor hoe hulle jare gelede ʼn kooruitvoering in die Nieu-Bethesda kerk sou kom hou. Dis maande voor die tyd beplan. Die dag voor die opvoering is daar toe ʼn oproep met die nuus dat die orrelpomper – ʼn ene Blom – in die tronk in Graaff-Reinet sit weens beweerde veediefstal. Niemand anders weet hom om die orrel reg op te pomp nie. Netnou gorrel dit in plaas van blaas. Die dominee van Graaff-Reinet is terstond polisiestasie toe om Blom op parool uit die tronk te kry. Die opvoering kon voortgaan.

Vandag is daar ʼn hele paar mense wat na die uitvoering kom luister. Die koor het met ʼn bus aangekom. Eintlik gaan hulle Graaff-Reinet toe vir ʼn uitvoering met die Pase. Hulle is verbaas oor hoeveel mense opgedaag het. Ek sien ʼn hele paar van die gaste wat van reg oor die wêreld ingevlieg het vir die troue. Die bruid se ma is ook daar, die skilder Peggy Delport. ʼn Hond lê by die voete van die mense wat voor my sit. Die kerk het mooi loodglasvensters. In Edwardiaanse styl is dit minder uitvoerig as kerke wat vroeër gebou is.

In die kerk self hang pragtige gaslampkandelare aan staalplafonne.

Die koor staan op verskillende plekke in die kerk om van die wonderlike akoestiek gebruik te maak. Eers voor in die kerk, met klavierbegeleiding. Dan op die balkon om die geleentheid te gebruik om saam met die orrel te kan sing.

Ongelukkig is die akoestiek ook goed as die hond kreun en ek sukkel om ʼn lagbui te beheer. Ek dink aan van Herman Charles Bosman se stories, veral “Bekkersdal marathon,” die insident met Psalm 119 (ek dink dis daardie lang een).

Orrels wat gorrel, honde wat steun,
gaslampe in kandelare daar bo,
begrafnisperde wat baldadig dreun,
ʼn koor met Bach in ʼn kerk in die Karoo –
buite ʼn land wat beskonke kreun
onder die gewig van alles vantevore.

ʼn Onvolmaakte, maar toepaslike ervaring van geestelikheid met Paasfees 2011. Aan die einde kom staan die koor tussen die kerkbanke en sing ʼn seënbede in Zoeloe.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Jelleke Wierenga. ’n Reis uit die tyd

1e kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Orrels wat gorrel, honde wat steun”

  1. Anita says:
    26 May 2011 at 08:49

    Dankie Andries vir hierdie interessante stuk geskiedenis oor ‘n dorpie waar ek jare gelede ‘n paar keer besoek het. Die foto’s is pragtig!Ek verlang nou sommer weer terug na daardie tydlose wêreld.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius
  • Resensie: "aalmoes vir die bootman" (Andries de Beer)

Nuutste bydraes

  • Charl-Pierre Naudé. Mymering
  • Joan Hambidge. Borges, Sheila Cussons en Johann de Lange
  • Persverklaring: Groot poësieprys ter ere van Breyten Breytenbach
  • Gerard Scharn. Portret van van Monika Pon-Su-San door Vladimir Tretchikoff
  • 100 Duitse Bestes: Else Lasker-Schüler (1869-1945)

Nuutste kommentaar

  1. Celesté Fritze on Celesté Fritze. Vergetedal16 May 2025

    Barbara, ek waardeer jou terugvoer

  2. Celesté Fritze on Celesté Fritze. Vergetedal16 May 2025

    Dankie vir die tyd en die waardering, Ena.

  3. Jacobus Swart on Jacobus Swart. Franz Kafka15 May 2025

    Beste mnr. Scharn Ek waardeer u kommentaar. Dankie dat u my werk gelees het.

  4. Dietloff Van der Berg on Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)14 May 2025

    Baie dankie Joan Hambidge vir die fyn lees en die hoog gewaardeerde slotsom.

  5. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d