Pieter Odendaal. ’n Rap vir die ouer garde – repliek op Heilna du Plooy

Professor Du Plooy se gebruik van Mahler se vyfde simfonie as ’n paradigmatiese voorbeeld van die tipe denke wat sy voorstaan spreek boekdele oor haar verstaan van die teenswoordige oomblik. Sy beweer dat daar ’n gebrek is “aan die vermoë om ‘volgehoue’ en gedrae te dink, te wag vir die regte laaste noot, vir die uitgestelde maar absolute voltooiing”. Dit wil voorkom of sy meen dat regte-egte kennisverkryging ’n soort ontginningsproses is waardeur jy stelselmatig dieper delf om sodoende nader aan een of ander geborge diamant-waarheid te beweeg. Hierdie siening van denke as ’n soort skagmynekspedisie is ’n redelik Romantiese een en verraai ook ’n teleologiese verstaan van denke: Ons dink om ’n bestemming te bereik, om ’n absolute waarheid raak te boor.

Hierdie soort epistemologie is nie noodwendig uitgedien nie, maar ek dink tog dat dit broodnodig is om weer te gaan dink oor die bevoorregting van hierdie soort denke bo ’n soort epistemologie van hyperlinking wat danksy die inligtingsontploffing naby die einde van die vorige eeu ontstaan het.

Vir dié van ons wat nooit skooltake aangepak het sonder om die internet te raadpleeg nie, is kennisverkryging van kleins af eerder iets wat soos ’n oopgroefmyn as ’n skagmyn funksioneer: Ons dek ’n veel wyer oppervlak en glo dat jy hierdeur net so baie diamante kan opspoor. Ons sien onsself eerder as wêreldwye handelaars in kennis as outonomiese kontemplatiewe individue. Ons is losgemaak uit ons gelokaliseerde kennis en ons bevind ons in ’n netwerk van veelvoudige kennisse. Ons is ingebed in die wêreldwye eb en vloei van inligting.

Ek is dit eens met Du Plooy dat jongmense die vermoë verloor het om “soos Mahler te dink”, maar dit beteken nie dat ons glad nie meer kan dink nie. Ons omgang met idees verskil bloot radikaal van mense wat ouer is as die internet en hierdie verskil is duidelik sigbaar in kulturele verskynsels soos rap en culture jamming (alhoewel culture jamming, of sogenaamde “guerilla semiotics” reeds voor die kommersialisering van die internet ontstaan het) en internetgebruike soos hyperlinking en gerekenaariseerde kennisenjins soos WolframAlpha. Alhoewel sommige mense dalk dink dat hyperlinking niks meer as ’n blote tydverdryf is nie, dink ek dat dit veel eerder ’n vorm van verkennende denke is. Om te swerf van een webwerf na ’n ander is om ’n kopreis te onderneem. Toegegee, dit kan baie maklik in ’n soort virtuele kontikitoer ontaard, maar hierdie reise het ook dikwels verbysterende ontdekkings tot gevolg.

Ek stem ook nie saam met Du Plooy se siening dat mense deesdae nie toelaat “dat die lewe deur allerlei diepliggende betekenisse (soos dié wat in gedigte versteek word) verswaar of gekompliseer word nie.” Hierdie ingesteldheid teenoor “dieperliggende betekenisse” is glo simptomaties van ons globale verbruikerskultuur en die gepaardgaande gejaag na wind. Ek dink egter dat baie jongmense baie goed verstaan hoe die verbruikerskultuur besig is om met ons koppe te smokkel. Ons verstaan hoe die taal van bemarking werk. Ons is van kleins af al blootgestel aan die feit dat “tekens” ingespan word om hul referent(e) aantrekliker of anders te laat voorkom as wat dit regtig is.

Ek onthou hoe ek as tiener dikwels tydens middagete voor die televisie gesit en infomercials kyk het – nie omdat ek my kop met gemors wou volstop nie, maar omdat dit my gefassineer het hoe mense produkte bemark. Deur infomercials te kyk, leer jy ook hoe die retorika funksioneer; jy sien hoe taal gebruik word om onderliggende begeertes te beïnvloed, om die werklikheid in neon-kleure oor te verf. Ons is goed opgevoed in die kuns van oorreding en om hierdie rede is ons van kindsdag af hiperbewus van taal as ’n kragtige tekensisteem wat voortdurend besig is om ons sensoriese ervaring te beïnvloed.

Ons verstaan baie goed hoe tekens gebruik word om versteekte intensies te insinueer sonder om dit te sê. Showing, not telling, soos die skryfskool-truïsme lui. Beteken dit dan dat advertensies en poësie dieselfde soort handelinge met tekens verrig? Sowel die een as die ander gebruik tog signifiers om sogenaamde “dieper betekenisse” oor te dra, betekenisse wat nie op die oppervlak teenwoordig is nie. Sowel billboards as gedigte probeer om die werklikheid te beskryf/oop te skryf/ toe te skryf. Vir maatskappye gaan dit egter oor winste, terwyl digters (so hoop ek) probeer om dit wat om hulle aangaan, verbysterend te vertaal. Omdat ons van kleins af bewus is van die tekenspel wat die media met ons speel, het ons ook ’n voorliefde vir taalverskynsels soos woordspelings, klankeffekte, herhaling en akrobatiese woordtoertjies.

Hierdie ingesteldheid teenoor taal verklaar deels waarom baie Afrikaanse jongmense mal is oor iemand soos Jack Parow. Parow is duidelik besig om met signifiers te juggle. Sy goëlery sluit nie net verbale verwysings na kultuurobjekte in nie, maar betrek ook visuele tekens soos klere en musiekvideo’s om die huidige kulturele klimaat te beskryf en te satiriseer:

Jy’s ou nuus, ek kom met rou beats
Jy lê en wag, ek gaan soek iets
Jy’s ice tea, ek’s witblits
Jy’s lite bier, ek’s spirits
Jy’s die ou met die new fresh look
Ek’s die ou met die Pep Stores broek
Ek watch jou, jy koekeloer oukes
jy forward nog Vernon Koekemoer jokes
Ek’s fantasties, jy’s spasties
Ek vat aan poppies, jy raak aan klein kids
Jy’s Tim Voster, ek’s Chris Edwards
Jy’s innie bosse, ek rol innie vet shit
Jy’s boring soos liedjies ommie kampvuur
my styl slick sneak suutjies soos ’n vampier
jou styl kak sag soos ’n pink marshmallow
meisies skree vir net “one night in parow”

© Jack Parow. Uittreksel uit “Cooler as ekke”.

Ek dink dat Henry Louis Gates Jr. se bespreking van die term “signifyin(g)” ons kan help om verder sin te maak van wat Jack Parow besig is om te doen. In “The Signifyin(g) Monkey” wys Gates hoe African American taalgebruik juis meer ingestel is op die akoestiese signifier en maniere om dit te manipuleer met behulp van die ritme en kadense van taal. Annel Pieterse skryf in ’n onlangse e-pos die volgende oor wat Gates met “signifyin(g)” bedoel:

Hy wys hoe slawe teenstrydige form gebruik het om content te verdoesel, hoe hulle kodes uit[ge]werk [het] om inligting aan mekaar oor te dra, baie soos wat Achille Mbembe wys dat dieselfde tipe ding in African cultural forms gebeur in sy ‘On the Postcolony’.

As voorbeeld van “signifyin(g)” bespreek Gates die woordspeletjie dozens: “Black people play dozens like white people bly scrabble”. Basies kom dozens daarop neer dat twee spelers kyk wie mekaar die lelikste kan slegsê, kan “uithaal”. Ek vermoed dat Jack Parow se “Cooler as ekke” ’n prototipe van ’n Afrikaanse dozens is en dat ons toenemend meer voorbeelde hiervan in Afrikaans gaan sien. Dozens is ’n manier waarop jou identiteit voortdurend gekontesteer word – jy word voortdurend uitgedaag om jouself te herkonseptualiseer. Hierom dink ek dat mense soos Jack Parow belangrike bydraes maak om ’n kultuur te satiriseer en te herverbeel wat ongemaklik probeer nesskop tussen ’n globale verbruikerskultuur en ’n uitgediende, problematiese Afrikanerkultuur. Die Antwoord, Bittereinder en Olinosterfant speel soortgelyke tekenspeletjies in hul musiek. Die punt wat ek probeer maak, is dat ons jongelinge nie onsensitief teenoor gesofistikeerde aanwendings van taal staan nie, maar dat ons met ’n heel ander ingesteldheid na taal kyk as die generasies voor ons. Hierdie kunstenaars is presies die tipe mense waarna Du Plooy op soek is: jongmense wat deur inligting kan “sif en [dit kan] uitsoek en herrangskik sodat daar ook iets nuuts kan kom, al is dit [“]net[”] ’n kreatiewe rekonfigurasie”.

“Alles, ook mense, is wat jy sien, mense hanteer wat hulle sien,” meen Du Plooy. Baie van die jongmense wat ek ken, verstaan egter (ten minste implisiet) hoe rekenaarkode werk, naamlik dat daar een of ander onsigbare logika aan die werk is wat alle rekenaaraktiwiteit fundeer. Hoewel ons almal nie noodwendig die sintaksis van hierdie taal verstaan nie, weet ons steeds dat daar een of ander vorm van gekoördineerde kommunikasie agter die skerm aangaan: Ons is dus nie volslae onbewus van enigiets buiten die skerm nie. In ’n onlangse blog bespreek Daniel Roux rekenaartaal en die moontlike interaksie tussen die logika van rekenaartaal en die logika van sosialisering, ’n strukturalistiese benadering wat help om sin te maak van ’n sosiale fenomeen soos Facebook. Roux blameer ook die akademie vir die gebrek aan gesofistikeerde navorsing oor die manier waarop inligtingsnetwerke besig is om ons sosiale netwerke te beïnvloed en vice versa.

Ek is nie besig om te beweer dat alles goed en wel is nie. Ons lewe in ’n tyd met verskeie psigoses, iets waarvoor ons seker grootliks laat-kapitalisme kan blameer. My punt is net dat ons darem nie hande in die hare hoef te staan terwyl ons die verbrokkeling van kritiese engagement betreur nie. Ons het met die opkoms van die internet ’n tydruimtelike kopskuif betree en ons het pas begin om sin te maak van die maniere waarop hierdie kopskuif besig is om ons konsepsie van onsself en van die wêreld te verander. Wees ons tog genadig, ons probeer sin maak van ’n erg deurmekaar en komplekse wêreld.

#

My dank aan Annel Pieterse en Marius Swart wat gehelp het met die konseptualisering en redigering van my bloginskrywing.

Bookmark and Share

35 Kommentare op “Pieter Odendaal. ’n Rap vir die ouer garde – repliek op Heilna du Plooy”

  1. Desmond Painter :

    “Ons sien onsself eerder as wêreldwye handelaars in kennis as outonomiese kontemplatiewe individue. Ons is losgemaak uit ons gelokaliseerde kennis…” O jirrrre!! Pieter, jy moet vir Stellenbosch Universiteit begin infomercials skryf!! Ek verwonder my al klaar aan die retoriek 🙂

    Ek dink die hoo-ha oor hyperlinking en sosiale netwerke in “Theory” kringe is ‘n bietjie oordrewe. Sommiges probeer selfs voorgee dat dit Facebook, eerder as werklike, tyd- en plekgebonde maatskaplike bewegings is wat die rewolusionere gebeure in Noord-Afrika tot gevolg gehad het… (Kyk hoe magtig is Facebook!!!!) Dis die probleem met ‘n alte gemaklike gelykstelling van die genre van advertensies, intellektuele diskoers en letterkunde: mens sal op die ou end enige ding glo. En sou dit nie hoeka nuttig wees vir die “Theory” mongers nie: skielik het hulle weer ‘n greep (en ‘n soort monopolie!) oor “the social” wat hulle dekades terug al verloor het; skielik is HULLE patrone van interaksie en deelname, hulle sosialiteit, weer die paradigma.

    En wat Jack Parow betref: ek het gehou van sy album, en vind hom soms snaaks, maar die intellektuele gewig wat sommiges sy werk gee is vir my vreemd. En onkrities ook; amper tot die absurde toe. Ek sien hy was nou die aand op Top Billing. Ek wonder nogal oor die maklike manier waarop hy deur veral ‘n Engelse gehoor “embrace” word. Miskien is dit op die ou end hoe “die Afrikaner” post-apartheid aanvaarbaar gemaak kan word vir bourgeois konsumpsie: vloekend, gemoedelik, effe bar, relatief apolities (behalwe vir ‘n feelgood rainbowism) en on-intellektueel?

    Of is hy regtig so ‘n progressiewe kulturele figuur?

  2. Wysneus :

    Jy’s Mahler, ek’s Jack Parrow.

    Oraait, as jy wil.

  3. Desmond, ek is self nie ‘n vreeslike Jack Parow fan nie, maar ek dink tog dat ‘n mens kan sin maak van wat hy besig is om te doen deur in terme van “dozens” daarna te kyk. Ek het juis die woord “prototipe” gebruik omdat ek hoop dat daar binnekort beter weergawes van dieselfde soort ding op die horison gaan verskyn. Het jy al van Olinosterfant gehoor? Hulle bestaan uit ‘n DJ, ‘n rapper en ‘n meisie wat besig is met haar Meesters in opera by UCT. Sy sing byvoorbeeld “Hoor jy my stem?” terwyl die rapper kommentaar lewer oor wat dit is om wit en jonk en Afrikaans te wees.

    Ag, en die billboards en gedigte vergelyking was sommer om so ‘n bietjie aspris te wees. Ek dink dis belangrik om die idee van poësie as een of ander quasi-godsdiens wat ‘n stilte teen die elektroniese, geldgedrewe storms daarbuite kan bied so ‘n bietjie te ondermyn.

  4. Desmond Painter :

    Pieter, dit was ‘n prettige inskrywing, en jy laat ‘n mens dink. Ek het gemengde gevoelens: aan die een kant dink ek mens kan te negatief wees oor die brave new hyperlinked world; die oongelooflike kreatiewe ruimtes wat dit oopmaak miskyk. Aan die ander kant dink ek mens kan te opgewonde raak daaroor. Soms dink ek die stadige lees van ‘n baie dik boek, die deeglike bemeestering van ‘n kennisterrein, is deesdae nogal ‘n radikale ding om te doen… (En ek dink daar is ‘n groot verskil tussen inligting en kennis.)

    Ek probeer maar provokatief wees oor Parow. Ek dink mens kan hom op baie maniere “lees”. Wat die “herverbeelding” van Afrikaans betref dink ek David Kramer is na 30 jaar nogsteeds koning.

  5. Jamie Lourens :

    Genade, maar julle intellektuele kan darem hoogdrawend skryf.

  6. Die digotomie tussen die “brave new hyperlinked world” en “die dik boek” is snert. Teks is teks. Hanlon’s razor is eerder hier van toepassing: “Never attribute to malice that which is adequately explained by stupidity.”

    As jy die Ander van die kuberruim maak, is dit niemand anders as jou eie skuld nie.

  7. Desmond Painter :

    Johan Swarts, wat presies bedoel jy? Watter digotomie? Teks? Ek het probeer reageer op ‘n meningsverskil tussen Pieter Odendaal en Heilna du Plooy, en ek sien meriete in beide se skrywes. Teks is dalk teks, maar die blote feit dat Pieter gevoel het om te reageer, en dat hy kan verwys na ‘n “tydruimtelike kopskuif”, beteken dat daar WEL verskille is wat die moeite werd is om te bespreek en krities te evalueer.

    Maar moenie worry nie, ek skryf nie jou reaksie hierbo toe aan malice nie.

  8. My reaksie spruit uit frustrasie. Skrywes soos Heilna s’n getuig eenvoudig van onkunde. Onkunde oor die geskiedenis en veral onkunde oor ‘n betrokke tegnologie wat dikwels geensins verstaan word nie.

    Wanneer ‘n mens veralgemenings soos “mense kan nie meer uithou nie, kan nie wag nie want meestal hoef hulle nie te wag nie” moet raaklees, kan jy nie anders as om omgekrap te raak nie. Dis eenvoudig onsin. Maar ek’s nie lus om op die internet te baklei nie. Lees tog eerder hierdie stuk uit die New York Times: http://www.nytimes.com/2010/11/21/magazine/21FOB-medium-t.html

  9. Ek dink die hoo-ha oor hyperlinking en sosiale netwerke in “Theory” kringe is ‘n bietjie oordrewe.

    Spyker op die kop. Dis rudimentêre idees.

  10. Wysneus :

    Dit verg besondere selfvertroue om eenvoudige onkunde oor die geskiedenis toe te skryf aan iemand wat daarvandaan kom. Dit, terloops, nie tegnologie per se nie, is m.i. die oorsaak van die fenomeen wat Heilna beskryf: ‘n industriële opvoedingsisteem met die hoogste doel om goeie selfbeeldjies (verdiend of onverdiend) te kweek. En is dit nie suksesvol nie!

  11. Leon Retief :

    @ Wysneus: Sela. Selfbeeld is alles, daarom is daar (ten minste hier in Kanada) baie jongmense wat graad 12 voltooi en nie kan spel of basiese rekenkunde doen nie. Maar hul selfbeeld is onaantasbaar. ‘n Onderwyser kan nie ‘n skolier 0 gee vir ‘n taak nie, selfs al word daardie taak glad nie ingehandig nie, en niemand mag ‘n graad twee keer druip nie – bevorder sal hy bevorder word, kom wat wil. Dalk daarom dat eerste-generasie immigrantekinders soveel beter vaar op skool as gebore Kanadese en waarom hulle so buitensporig verteenwoordig is by universiteite. Dit wil my voorkom asof elke tweede professor in die natuurwetenskappe/medisyne aan ‘n Kanadese universiteit vanuit die Ooste afkomstig is, so nie van Indië.

    @Desmond: soos jy vind ek meriete in beide Heilna en Pieter se skrywes. Ding met die internet is net dat dit ‘n tweesnydende swaard is – mens kan baie informasie daar kry, maar ook baie, waarskynlik meer, disinformasie wat vir soetkoek opgeeet word. MI is die kern van die “probleem” nie oppervlakke kennis nie maar ‘n gebrek aan kritiese denke, en dit was nog altyd maar daar, by mense van alle ouderdomme.

  12. Desmond Painter :

    Leon en Wysneus), ja, ek stem beslis saam. Ek wil ook net byvoeg, vir Johan, dat as ek verwys na die lees van ‘n “dik boek”, probeer ek nie die boek teenoor die internet staanmaak nie. Ek bedoel eintlik die tydsame, deeglike, kritiese omgang met kennis — hulle kan my metaforiese “dik boek” maar op die internet ook lees.

    Pieter Odendaal sien aspekte van die nuwe “kennisekonomie” (om dit nou so lomp te benoem) raak wat belangrik is. Maar Heilna du Plooy raak insgelyks baie belangrike punte aan. Feit is, en ek dink Pieter en Johan moet dit besef, die meerderheid pas gegradueerdes vandag dink nog soos Mahler, nog soos Pieter Odendaal…

    As die studente wat so met hulle Blackberries sit en speel tydens lesings besig was om kopskuiwe te maak en nuwe epistemologiese terreine te verken, sou ek dit beslis verwelkom. Maar eintlik is hulle besig om outydse nonsens te praat in ‘n konseptueel verarmde taal!!

    Ek veralgemeen natuurlik. Daar is baie uitstekende studente. Hulle is sonder uitsondering mense soos Pieter self: op die bol met nuwe die tegnologie, maar mense wat geleer is om te lees, te skryf, en dus te dink.

  13. Viva, Leon, viva!:
    “MI is die kern van die “probleem” nie oppervlakke kennis nie maar ‘n gebrek aan kritiese denke, en dit was nog altyd maar daar, by mense van alle ouderdomme.”

    Ek dink ook dat dit onregverdig is om informasietegnologie af te maak as die bose vervlakker van denke. Daar is nog altyd diskoerse gewees wat ‘n veilige hawe bied teen die gevare van berekende denke: dink aan die kerk, kolonialisme, victoriaanse fatsoenlikheid, nasionalistiese regerings.

    Wat die internet ‘n tweekantige swaard maak, soos Leon tereg opmerk, is dat dit gebruik kan word om ondeurdagte konformisme sowel as die verbreding van horisonne te bevorder. Ek dink dat die internet egter uniek is in die sin dat dit mense binne sekondes toegang bied tot globale perspektiewe op bykans enige onderwerp.

  14. Sou die kinders wat vandag snert praat tydens lesings nie maar ‘n paar dekades gelede bloot gedagdroom het nie?

  15. (Snert op die Swart Bessies, natuurlik.)

  16. Insgelyks, as ek ‘n oorvloed opeenvolgende kommentaar verskoon mag word – daar was nog altyd ‘n oorvloed oppervlakkige kennis beskikbaar. Dr Williams se Pienk Pilletjies het soos soetkoek verkoop lank voor die internet kop uitgesteek het. Jarre gelede, toe ons voorvaders in grotte gewoon het, is daar gate in mense se skedels geboor om hulle gesond te probeer maak.

    Die argument oor kritiese denke is natuurlik die oudste een in die boek – en dis ‘n strooipop, om die minste te sê. Pseudo-intellektuele, met hul neuse stewig in die lug geplant, bekla jaar in en jaar uit die sogenaamde verlies aan kritiese denke by jong mense. Voor die internet was dit natuurlik die televisie wat hiervoor geblameer is. Voor die televisie? Film (want mense sou nie meer boeke lees nie!)

    Gaan krap in die geskiedenis – hierdie patroon herhaal sigself tot naarstenstoe.

    Op die keper beskou is die realiteit dat mense meestal nie krities dink om mee te begin nie. Ons was nog altyd maar ‘n spul skape. Om aan te dring dat die internet hiervoor verantwoordelik is, is potsierlik en getuig (soos ek reeds genoem het) van uiterse onkunde oor gedesentraliseerde inligtingsnetwerke.

    People be st00pid.

  17. Marlise :

    Johan, ek dink dit is alles eintlik ‘apartheid’ se skuld…. 😉

  18. 😉

  19. Desmond :

    Johan — jy misverstaan my. Ek stem saam: die studente wat voorheen gedagdroom of onder mekaar gefluister het speel nou games op hulle fone of sms. Tegnologie lei net so min na onafwendbare verval en vervlakking as wat dit onafwendbaar lei tot ‘n nuwe utopie. Die probleem is nie die internet of die tegnologie nie; en ek is seker baie van die beste, mees opwindende denke gebeur vandag in die konteks van nuwe tegnologiee. Ek dink wel Pieter is te vinnig om mense “oud” te noem, en jy om hulle “dom” te noem!

  20. Leon Retief :

    @ Desmond: Sela.
    @ Johan: People be st00pid: sela weereens.

  21. Lewies Botha :

    Dankie Desmond nou kon ek darem ook bykom en verstaan effens waarvan julle praat oor die kontemplatiewe en so aan. Ek is net nou nie so seker of ek nou oud of dom is nie.

  22. Desmond Painter :

    Lewies, synde ‘n Nuwe Stem en ‘n gereelde teenwoordigheid op facebook, is jy, so klink dit vir my, beslis jonk en slim. Ek, egter, hou van Mahler EN Jack Parow, so ek vermoed ek is oud, dom, en boonop nog onkrities ook! En om dit erger te maak, vra maar vir Wysneus, is ek nog ‘n cuppacino kommunis ook, ‘n koffiekroeg revolusioner, en dus reddeloos naief… Ten minste weet ek BB staan nie meer vir Breyten Breytenbach of Bertold Brecht nie, maar vir Blackberrie. Toekoms, hier kom ek!!

  23. Ivan Mocke :

    Jinne, Desmond, en daar dog ek jy IS die toekoms? 🙂

  24. Desmond Painter :

    @Leon: jy sal hierdie artikel in The New Yorker oor die krisis in Amerikaanse ho”er onderwys dalk interessant vind: http://www.newyorker.com/arts/critics/atlarge/2011/06/06/110606crat_atlarge_menand

  25. Desmond Painter :

    Ivan, ek is, ek is! Die vraag is net: die toekoms van WAT?

  26. Jaco Barnard-Naudé :

    @Desmond: Die krisis in Amerikaanse onderwys blyk aaneenlopend te wees. Hannah Arendt het reeds in 1961 hieroor geskryf, lank voor die Internet en die avatar-generasie wat vandag geblameer word vir oppervlakkige denke. Soos Johan Swarts aandui, in die verlede was daar maar altyd ‘n glimmende sondebok wat geblameer is vir die “verval” van volgehoue, kritiese denke. Dalk kan jy vir ons die psigoanalise hiervan uitlê?

  27. Desmond, ek wil net sê dat ek net een keer na ouderdom in my artikel verwys (goed, dis in die titel, maar ek dink in retrospek dat die titel ‘n fout was). Ek het dit geensins teen ouderdom nie – dit gaan nie hier om die verskille tussen oud en jonk nie, alhoewel ek tog ook dink dat hierdie sogenaamde generational gap iets is wat ons by moderniteit geëerf het – as daar konstante vernuwing is, verloor ouer mense makliker tred met hoe die wêreld verander het sedert hulle bene begin verbrokkel het en hulle selle nie meer so vinnig en akkuraat repliseer nie. Konstante vernuwing skep gapings tussen mense (en veral tussen generasies).

    Ek is eerder opgecharge oor ‘n sekere soort onkunde wat mense verabsoluterende stellings laat maak oor “die jeug van vandag” en die gevare van post-Mahleriaanse denke, veral as ek self (miskien naiewelik) juis opgewonde is oor die tipe denke en kommunikasie wat danksy informasietegnologie moontlik is.

    Kyk byvoorbeeld hoe ons besig is om ‘n virtuele debat oor die beperkinge en moontlikhede van informasietegnologie op hierdie einste webblad te voer. Kyk ook byvoorbeeld na die hoeveelheid gespesialiseerde en insiggewende tekste wat op hierdie webwerf beskikbaar is. En as iemand ‘n digter noem wat ek nog nie teëgekom het nie, kan ek bloot ‘n nuwe window oopmaak en toegang tot die volgende verkry: ‘n volle biografie, joernaalartikels, besprekings, ‘n lys gepubliseerde werke (met hyperlinks na van die digter se beste werk), ens.

    Die internet word ongelukkig dikwels gebruik om bloot sekere diskoerse te perpetueer, maar ek dink ook dat die internet ingespan kan word om daardie einste diskoerse te ondermyn en te verander.

  28. Desmond Painter :

    @Pieter, jy is reg om opgewonde te wees. Ek dink beslis nie daar is ‘n noodwendige verdomming wat deur die internet aangevuur word nie. Die “krisis” waarna ek verwys het meer te make met die feit dat, hier by ons ten minste, so baie studente onvoorbereid op universiteit beland en dat die universiteite self, met ons groot getalle en so aan, maar sukkel om mense ordentlik op te voed / op te lei. Dit het niks met die internet, nuwe moontlikhede van sosialiteit of enige ander tegnologie te doen nie.

    Ek stem ook met jou aam dat ‘n “jeug van vandag” klaaglied ook nie nuttig, of eens waar is nie. Jong mense skryf in elk geval nog dik, gesofistikeerde romans, soos David Mitchell. Hulle selfs skryf nog Mahleriaanse simfoniee. En terloops, simfonieorkeste, soliste en dirigente word by die jaar al hoe jonger: Mahler self word dus lewendig gehou deur jonger mense (en natuurlik, Mahler is vir ons ‘n werklikheid en ‘n verwysingspunt grootliks omdat toegang tot sy musiek eers deur die langspeelplaat en later deur CD en downloads moontlik gemaak is… Gister en vandag word nie so maklik geskei nie.)

    Ek weet nie of ‘n generasiegaping noodwendig is nie; maar ek weet wel dat ‘n mens jou tyd onnostalgies in die o”e moet probeer kyk. Miskien is jy reg: dit is dalk makliker vir jonger mense om dit te doen, maar dit is sekerlik nie altyd die geval nie. Maar hoe ook al, ek dink die debat het bietjie ontspoor toe dit oor die internet begin handel het…

    Ek dink ook nie die teenstelling hoef so skerp te wees nie. Heilna du Plooy haar stuk op die internet gepubliseer. Jy het het in koherente en paragrawe met haar kon argumenteer. Dit lyk my mens sou verloor as jy moes kies tussen Mahler en hiphop, boeke en die internet, diepskryf en verglyskryf.

  29. Lewies Botha :

    Pieter om aan te sluit by jou hierbo. Hier is nou ‘n voorbeeld hoe die nuwe tegnologie ingespan word om poësie in die hande van die boeklose swartbessie generasie (Ouderdom 2 tot 82) te kry. Hier is my antwoorde toe Litnet my gevra het vir raad; Goegel wenke, `n skakel na een van my gunsteling webtuistes, `n skakel na `n gratis toepassing vir jou iPad en iPhone met duisende gedigte (jy kan gedigte soek, lukraak spin, gedigte volgens gemoed, digter ens. Kyk uit vir Ina Roussau se “Eden”) Dan het die artikel soos jy noem skakels na my goeters. Ek wonder soms of die tyd nie ryp is vir ons om die bestaande konsep van “gepubliseerde digter” te moet her defineer nie. Is om `n boek van ink en papier uit gegee deur `n “groot” uitgewer nie dalk uitgedien as lidmaatskap tot “Digter wees”. Dit is nou in die nuwe wereld van tegnologie. Tot miskien so onlangs as `n jaar gelede was daar twyfel oor die e boek. Die e boek is vinnig besig om papier boeke se verkope verby te steek. Kan ons steeds die groei en liefde vir Poësie net aan die papier uitgewers bedryf oorlaat? Ek voel deesdae baie sterk dat my digterlike ambisie NIE meer is om die spreekwoordelike debuut digbundel die lig te laat sien nie. Ek kry al die bevredigend om my skepsels op die webblaaie van vooraanstaande webtuistes soos Versindaba en Litnet te sien of as ek kon soos Breyten `n gedig op die boekeblok te plaas. Ek bedryf my eie webblad en blog. Ek bereik lesers wat ek nooit anders sou nie, nie eens met `n debuut bundel nie. Toegegee as dit nie was vir die Nuwe Stemme 4 in papier nie was ek nog steeds `n woeste digter in die woestyn, maar is die volgende Nuwe Stemme nie dalk `n e boek nie? Ek oorweg dit om eerder net in e boek te debuteer. Dan kan Desmond se studente my diggies op hul swartbessies lees as die lesings bietjie lank raak en die breine bietjie moeg word. Hiers die Litnet skakel;
    http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=104472&cat_id=1927

  30. Desmond Painter :

    Lewies, ek HOOP my studente sit en lees jou gedigte in die klas!! Ek dink jy’s reg: dit gaan al hoe moeiliker word vir ‘n samesteller van ‘n Groot Verseboek, byvoorbeeld, om papierpublikasie te gebruik as toets om te onderskei tussen digter en nie-digter, of tussen professionele en amateurdigter. Ek self sal waarkynlik altyd verkies om prosawerke in gewone boekformaat te lees, maar gedigte? Ek lees al klaar meer gedigte op die skerm as op die blad. Maar daar is plek vir dit alles. Ek dink nogtans jy moet ‘n papierbundel publiseer. Hier’s nog plek op my rak.

  31. Beatrice Russo :

    Ek verbeel my reeds: Die Groot Verseblog, (kostelik verpak in ‘n blikbrein) en moontlik wel weer saamgestel deur Ande P Brink.

  32. Desmond Painter :

    Beatice, jy is net so optimisties soos ek: ek glo bv. dat JC Kannemeyer oor so 50 jaar my biografie gaan aanpak.

  33. Beatrice Russo :

    Jy moet solank alles wat jou oor 50 jaar in die verleentheid kan stel stelsematig begin verbrand. Mens kan nooit te versigtig wees nie – Kannemeyer is baie deeglik.

  34. Desmond Painter :

    Beatrice, ek was dol op etlike van Kannemeyer se biografiee, maar elke keer as die onderwerp van die biografie ‘n boek publiseer sak my hart in my skoene — want dan som Kannemeyer ELKE resensie van daardie boek op!! Dank vader daar gaan by Die Burger, Beeld en Volksblad voortaan net EEN boekeblad wees en nie drie nie… (Maar dink net hoe dik sy JM Coetzee biografie gaan wees! :-))

  35. Marlene van Niekerk :

    Anna-Maria Carusi skryf interessant oor die invloed van die internet, e-leer en die kuberruimte op die ontwikkeling van eietydse filosofie. Die internet is nie net ‘n filosofie-enjin nie, maar ook ‘n poësie-enjin, die mees vrugbare vrye assosiasie-masjien wat daar kan wees vir ‘n digter! Sien hier!
    http://papers.ssrn.com/sol3/papers.cfm?abstract_id=1505970

  •